
Woman washing deur Edgar Degas: Wikipedia
Sou ék? I
Sou ék, as ek háár sou sien bad
met haar priemende borste en slanke hande;
met haar donkerbruin koepel uitdagend nat –
terwyl haar man dapper veg in verre lande;
sou ék nie moord pleeg om haar te verower nie
ek, met sonde besmet nog voor ek gebore was
sou ék hom nie vervolg het soos ’n moorddadige rower nie
ek, onnadenkende mens wat vir ewig verlore was.
En as die profeet sou skreeu: “Jý is die man!”
Sou ek dan, met oë wit van vrees
van my troon afgesteier het
en wéér by God gaan pleit, as dit enigsins kan
om nogeens witter as sneeu te wees
en wat sou gebeur het as God dan geweier het?
Sou ék? II
Sou ék, as ék ʼn vrou so hoog sien bad
met gladde bors, wit nek en slanke hand;
met donker bult uitdagend, druppend nat
terwyl haar man moet veg in verre land;
sou ék nie moord wou pleeg om haar te kry
ek, voor geboorte reeds bevlek, vervloek?
Sou ék hom dan na voor beveel en hy
ook wreed moes sterf terwyl ek haar besoek?
En ás ʼn man van God vir mý sou skreeu:
“Jy’t haar gesteel, sy was haar man se lam!” –
sou ék, bevrees, soos ʼn gewonde leeu
terug moes deins van God se helder vlam –
en sou ek smeek en pleit en dit gebeur:
dat God, te moeg, Sy rug op my sou keer?


Kommentaar
Baie mooi Jannie... Ek weet nie of N.P. van Wyk Louw dit nav Koning Dawid en Batseba se Bybel verhaal geskryf het nie ... En of dit uit n persoonlike konteks/ervaring is nie... Dit bly egter nietemin aangrypend.