Soft rebellion-resensie: opvoerkuns as ’n vorm van teer weerstand

  • 0

  • Dianne du Toit Albertze skryf oor ’n andersoortige en interaktiewe naweek van teater wat onlangs in Kaapstad plaasgevind het.

Klank, kleur en beweging vleg saam en voer gehoorlede mee. Hier verdof die grense van konvensionele teater, wat vir party gewoonlik in ’n donker teater met afstand tussen kykers en optreders is. Daardie afstand word hier oortree en toeskouers word uitgenooi om saam te voel en soms ook deel te neem. Want hier is als tasbaar en eg, dit pols daarvan, en geen kyker word onaangeraak gelaat nie.

.......
Cheryl Traub Adler en Garth Erasmus skop die program af met die interaktiewe stuk, genaamd Erase / mark / hold, waarin Adler ’n verfdoek bo die Masambe-teater by Baxter oopvlek en gehoorlede aanmoedig om deel te neem deur verskeie mediums van verf, doek, kruit en water te gebruik om saam kuns te maak.
........

Cheryl Traub Adler en Garth Erasmus skop die program af met die interaktiewe stuk, genaamd Erase / mark / hold, waarin Adler ’n verfdoek bo die Masambe-teater by Baxter oopvlek en gehoorlede aanmoedig om deel te neem deur verskeie mediums van verf, doek, kruit en water te gebruik om saam kuns te maak. Dit alles terwyl Erasmus die vertoning begelei met sy kenmerkende ryk en emotiewe saxofoonklanke. Aanvanklik is kykers huiwerig om deel te neem, maar as hul eers deelneem, verdwyn die ongemak en kom daar ’n oer-kinderlikheid in elkeen uit om te speel. Wat uniek is van die kunswerk, is dat daar reeds ’n laag werk op die verfdoek is waaroor daar geskets word, meestal vry en abstrak, en wanneer Adler ten laaste skottels water gebruik om dit “skoon” te was, bly daar steeds iets agter. Dit wek vele idees op rondom die titel wat woorde soos uitvee en merk insluit – twee teenstrydige woorde wat saamkom, en die een wat hier die ander een aanvul. Kan ons ooit regtig enige iets net uitvee of verwyder? Bly daar nie maar tog altyd iets agter nie? Al is dit net ’n herinnering.

Volgende is ons binnetoe genooi om Nomandla Vilakazi se The exhibition binne die teater te ervaar. Vilakazi is ’n afgestudeerde MA-student aan die Universiteit Kaapstad waar sy gefokus het op die historiese figuur Sarah Baartman. Haar vertoning was deels kreatiewe dokumentêr, sowel as vertolking. Ons ontmoet ’n figuur in Kim Kardashian-geïnspireerde mode, met ’n noupassende swart sequin-rok, wat vorentoe stap met brandende Impepo en aanhoudend probeer, soos Kardashian gemaak het, om ’n glas sjampanje op haar agterstewe te balanseer; hier net met ’n glas water. Die glas/beker bly omval en moet van voor af opgevul en gebalanseer word. ’n Metafoor vir die aanhoudende geweld, stigmatisering en trauma wat siklies word. Vilakazi is ’n sterk performer en behou regdeur die aandag. En nes die genre, is sy hoogs tasbaar. Ons sweet en swoeg saam met haar. En wanneer sy weer glimlag deur die pyn en elemente van kabaret na vore bring, vermaak sy ook. ’n Unieke en kontemporêre blik op ’n ervaring wat persoonlik, sowel as universeel is.

Zizi Onkabetse Masizana se vertoning, getiteld Vroulikheid, het weer gekyk na ’n gesamentlike lens op Afrikaner-vrouwees, sowel as ’n herverbeelding van die Nigeriese musieklegende Fela Kuti se vroue, met sy musiek wat speel terwyl hul beweegkuns en dans inspan. ’n Vertoning met baie potensiaal. Pragtige kostuums, maskers en ’n stel wat ’n futuristiese blik werp op kenmerkende goed, soos boervroukappies en -rokke, sowel as ’n soort ossewa. Dit word egter nie genoeg ingespan nie. Masizana is te haastig om van die masker en kostuum ontslae te raak om te transformeer van boervrou na Kuti-bruid. Die transisie is ongeloofwaardig en benodig nog aandag. Later word dit eentonig sonder enige nodige kommentaar of strukturele progressie. Masizana kan daarby baat om terug na konsepontwikkeling te keer en meer vlakke na haar vertoning te bring.

Volgende was Simamkele Mentyisi en Sange Mpambani se evokatiewe Nkanyezi kaSililo: initiation, wat reg voor die Baxter se ingang afgespeel het. Twee optreders, Mentyisi en Mpambani, sowel as ’n musikant op tromme. Dit alles terwyl verskeie LGBTQIA+ slagoffers se stories, sowel as stories van oorwinning en genesing van die kunstenaars se eie ervaring opgeneem en gespeel is oor die luidsprekers. Hier is ’n natuurlike samevloei van spraak en fisieke teater wat dien as sterk visuele simboliek. Nkanyezi kaSililo: initiation is ’n goeie voorbeeld van opvoerkuns wat weldeurdag is. ’n Vertoning wat uitdaag, sowel as uitnooi.

Die aand is afgesluit met Amogelang Pila Ditlhale en Thato Ditlhale se Reimagination of Blackness: re-narrating perceptions. Die film volg ’n jong swart persoon wie se reis van geboorte tot volwassenheid op abstrakte en minimalistiese wyse uitgebeeld word. Kleurryke en skeppende kostuums, als omring deur moeder natuur. ’n Speelse tog bedrieglik eenvoudige kortfilm met digte subteks en wat kommentaar op die leefervaring van persone van kleur lewer. Moet egter nie verwag om liniêre narratief hier te kry nie; dit is, soos die res van die kollektiewe, fragmentêr, soms metafisies en beeldryk.

Soms is kuns nie net wat ons sien of hoor nie, maar ook wat dit by ons ontlok – geestelik of in ons verbeeldings. Carin Bester se Soft rebellion is ’n speelgrond vir die vrydenkende en ’n plek van besinning, asook ’n veilige hawe vir protes in al haar wonderlike glorie.

  • Soft rebellion het van 11 tot 13 Desember 2025 by die Masambe Baxter Teater vertoon.

Persverklaring: Working Title Live Art Weekends bied aan Soft rebellion

In ’n wêreld gedesensitiseer deur aanhoudende ongeregtigheid, nooi Soft rebellion kunstenaars uit om teerheid as weerstand te ondersoek. Hierdie Live Art Weekend vra vir werk wat geweld transformeer, wat skoonheid kies, nie as ornament nie, maar as ’n bewysstuk van oorlewing.

Ons is op soek na ’n rebellie wat ontlok. Werk wat vra: Hoe kyk ons anders as ons weier om brutaliteit met nog brutaliteit te veg? Dit is sagtheid, nie as swakheid, maar as strategie.

Kurator: Carin Bester

Tydsduur: 90 mins
Geen o/16

Kunstenaars:

Amogelang Pila Ditlhale en Thato Ditlhale – Reimagination of Blackness: re-narrating perceptions 
Cheryl Traub Adler en Garth Erasmus – Erase / mark / hold
Nomandla Vilakazi – The exhibition
Simamkele Mentyisi en Sange Mpambani – Nkanyezi kaSililo: initiation
Zizi Onkabetse Masizana – Vroulikheid

Lees ook:

Vannie wal, af: ’n teaterresensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top