
Soe rond ommie bos
Veronique Jephtas
Protea Boekhuis
ISBN: 9781485312246
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.
Daar het nou alreeds ’n hele aantal deeglike besprekings verskyn in verband met die digbundel Soe rond ommie bos, sowel in Afrikaans as in Kaaps, tot so ’n mate dat ek amper voel dat alles van belang reeds gesê is, en dit ook deur mense wat veel meer bekwaam is om oor poësie te kan oordeel as wat ek ooit sal wees. Waar ek dus my eie indrukke formuleer, is dit amper onafwendbaar dat heelwat van wat reeds deur andere geskryf is, moontlik herhaal sal word, net in my eie woorde. Daar word gevolglik darem ook liberaal na van daardie skrywes verwys. Ek skryf veral ook met die veronderstelling dat die leser nog grootliks onbewus is van hierdie digbundel, soos wat ek aanneem die meeste mense nog is.
Soe rond ommie bos is Jephtas se debuut as digter, en het in 2021 verskyn. Of die biografiese besonderhede van skrywers belangrik is, is ’n saak waaroor filosowe boeke en nogmaals boeke kan skryf, en dit inderdaad ook doen. In ’n onderhoud met Jephtas op LitNet[i] antwoord die skrywer op die vraag of die bundel biografies is: “Te veel.” Dit dwing mens gevolglik tot ’n mate om die verse teen die agtergrond van Jephtas se biografiese besonderhede te lees, of mens dit nou as volkome gepas beskou of nie. Jephtas word beskryf as ’n “skrywer, aktivis, digter” asook ’n “regisseur en aktrise van die Paarl”, en die boek is ’n “kreatiewe voortsetting van ’n ryk tradisie protespoësie in Afrikaans”. Die deurlopende versugting in die bundel is “’n gemeenskap wat vry is van gesprekke wat rondom die bos loop”. Die feit dat sy ’n lid van die sogenaamde born-free-generasie is, met ander woorde Suid-Afrikaners wat gebore is na die eerste demokratiese verkiesing in 1994, word ook as ’n belangrike biografiese feit beskou.
........
Kaaps het deesdae al ’n eie woordeboek en die Bybel word ook in Kaaps vertaal. Dit wil selfs voorkom of die toekoms van Kaaps dalk meer rooskleurig lyk as dié van Afrikaans self.
.........
Dit is nie ’n baie dik bundel nie en beslaan maar 58 bladsye. Die boek is in drie afdelings verdeel: “mettie wysheid wat nawete bring”, “issie ’n cycle nie, is life” en “hie rukkie ding”. Die bundel word beskryf as “Afrikaans”, maar dit is in Kaaps geskryf. Oor die verhouding tussen Kaaps en Afrikaans merk Jephtas in die reeds vermelde onderhoud op: “Ek dink dit kan dalk gesien word as variante van mekaar… Maa tog issit Afrikaans, en ammel moet hulle panties relax.” Daar word vandag al meer en meer in Kaaps gepubliseer, dermate dat mens die gebruik van Kaaps nie meer net as ’n daad van verset kan tipeer nie[ii] – Kaaps is besig om ’n welverdiende staanplek in te neem in die skryfkuns. Kaaps het deesdae al ’n eie woordeboek en die Bybel word ook in Kaaps vertaal. Dit wil selfs voorkom of die toekoms van Kaaps dalk meer rooskleurig lyk as dié van Afrikaans self.[iii] In sy resensie op LitNet plaas Jitsvinger veral die klem op die tematiek van die afwesige vaderfiguur, alkoholisme en toksiese manlikheid, wat alles ’n sentrale rol in die verse speel.[iv] Die bundel wemel ook van verse wat die onderwerp van voortdurende wit-op-swart-rassisme onder die loep neem. Die digter Nathan Trantraal plaas ook veral die tematiek van die bundel onder die vergrootglas in sy bespreking daarvan, waarin hy die versigtige kritiek uitspreek dat die bundel ’n gebrek ly weens die “afwesigheid van irony en dieper reflection”.[v]
Daar is ook elders kritiek teen die lang aanhaling waarmee die bundel open.[vi] Ek is daarmee eens en die aanhaling kom wel ietwat geforseerd voor.
My oorwegende gevoel oor die bundel is egter besonder positief. Soe rond ommie bos is ’n belangrike bydrae tot die feministiese digkuns, wat veral ook van belang is omdat dit die ervaringe van die jonger generasie reflekteer en uit daardie perspektief geskryf is. Daar is veral een vers wat vir my iets van die gees van die ganse bundel reflekteer, en dit is “Cyril, raak wys” (Jephtas is bekend vir haar kritiek teen president Ramaphosa). In die vers word die biologiese proses van menstruasie met die gepaardgaande “pep talk oorie birds ennie bees” en die vermaning om “versigtig” te moet wees getransponeer op die geestesklimaat van die land Suid-Afrika. Dié uiters treffende vers voltrek dan met die volgende reëls:
ek wensie land wil grootraak
en ophou op hoeke staan en dagga roek
om high te wôd om alles te vegiet
ek wensie land wil besef haa poes gan elke maand bloei.
Die krag van die verse in Soe rond ommie bos is veral gesetel in die tematiek, wat oorloop van die woede en frustrasie van ’n jong generasie wat nie meer tevrede is met enige reënboognasieretoriek nie.
.........
Die krag van die verse in Soe rond ommie bos is veral gesetel in die tematiek, wat oorloop van die woede en frustrasie van ’n jong generasie wat nie meer tevrede is met enige reënboognasieretoriek nie.
.........
Laasgenoemde word veral vergestalt deur die vers “mandela se legacy”, waar met die voortdurende euwel van alkoholmisbruik geworstel word. Die bundel word tereg as ’n “opwindende” debuut beskryf. Wat die temas van die verse betref, is die bundel meer as bevredigend. Groter variasie in die skryfstyl sou wel veel daartoe kon bygedra het om die teks selfs nog interessanter te maak, en ’n mens hoop van harte dat daar nog baie gedigte van hierdie skrywer in die verskiet le.
[i] Die onderhoud kan gelees word by https://www.litnet.co.za/onderhoud-soe-rond-ommie-bos-deur-veronique-jephtas, 21.06.2021, afgelaai op 25.08.2021.
[ii] In ’n bespreking deur Andréa Müller word die teenoorgestelde van my standpunt hieroor gehuldig en beredeneer: sien “Veronique Jephtas praat nie ommie bos nie”, https://klyntji.com/joernaal/2021/4/24/veronique-jephtas-soe-rond-ommie-bos, 24.04.2021; afgelaai op 25.08.2021.
[iii] Sien byvoorbeeld Q Williams, Kaaps is the future of Afrikaans, https://www.litnet.co.za/kaaps-is-the-future-of-afrikaans, 30.03.2021; afgelaai op 25.07.2021.
[iv] Jitsvinger, Soe rond ommie bos deur Veronique Jephtas: ’n resensie, https://www.litnet.co.za/soe-rond-ommie-bos-deur-veronique-jephtas-n-resensie, 13.07.2021; afgelaai op 25.08.2021.
[v] N Trantaal, Jephtas nie bang om yt te staanie. https://www.netwerk24.com/Vermaak?Boeke/jephtas-nie-bang-om-yt-te-staanie-20210326, 28.03.2021; afgelaai op 25.08.2021.
[vi] N Bennet, Resensie: Soe rond ommie bos (Veronique Jephtas). https://versindaba.co.za/2021/03/21/resensie-soe-rond-ommie-bas-veronique-jephtas, 21.03.2021; afgelaai op 25.08.2021.


