Só kan Pentekostaliste die mag van ideologie breek

  • 2

Pieter GR de Villiers voer ’n gesprek met Marius Nel oor sy Godsdienswetenskappe-artikel, “Charles Parham, William Seymour en Suid-Afrikaanse pentekostalistiese rassisme” wat in LitNet Akademies verskyn het. 

Charles Parham en William Seymour (Foto’s verskaf)

....................

Waarom het jy dit nodig gevind om juis nou die artikel te skryf?

Marius Nel (Foto: verskaf)

Die waarneming dat voorvalle van wit op swart en swart op wit rassisme toeneem, word deur onlangse navorsing ondersteun. Die oorverdowende stilte wat Pentekostalistiese denominasies en groepe se reaksie op rassistiese voorvalle kenmerk, duur ook voort. Ek behoort aan die “wit” kerk binne die AGS (alhoewel ek uitmuntende kerkvriende oor rasgrense het en dikwels AGS-gemeentes besoek wat aan die “ander” kerke in die AGS behoort, en ook daar bedien). My vermoede is dat die stilte verband hou met ongemaklike skuldgevoelens oor die verlede, asook die huidige oorheersende situasie in “wit” AGS-gemeentes, wat grotendeels inderdaad slegs uit wit lidmate bestaan. Dit het as motivering vir my gedien.

Hoe het jy self oor rasseskeiding gedink? Het daar groei in jou denke plaasgevind?

Groei het daar vir seker plaasgevind. Ek het in ’n “blanke” huis grootgeword waar my ouers die praktyk van hulle onderskeie familie- asook vriendekringe gevolg het wat neerhalend na mense van ander kleure verwys het. Eers tydens my teologiese studies is ek met die onregverdigheid van so ’n stereotipering van mense op rassegronde, asook met mense van ander rasse op dieselfde vlak as ek gekonfronteer. ’n Boek van die Ou-Testamentikus Ferdinand Deist, oor die klippies in sy kerkskoen wat die lewe vir hom moeilik maak, was die eerste van verskeie teologiese werke wat my gewete aangewakker het.

André P Brink (Foto: Seamus Kearney)

As kranige leser het ek ook tyd gevind om Afrikaanse literatuur te lees, en André P Brink het ’n aandeel daarin gehad om my kop te verruim. Intussen het ek ’n beroep na ’n gemeente aanvaar waar ek dikwels met plaasboere en fabriekswerkers te doen gekry het, en ek het al meer die patrone van rassistiese denke kon onderskei. Terselfdertyd het ek ook ervaar watter emosionele reaksie dit ontlok wanneer ’n mens jou oor onregverdige diskriminasie uitspreek.

Was jy altyd so krities oor jou kerklike tradisie? Wat sou jy vandag anders wou doen?

Akademiese studie het talle voordele vir my ingehou. Dit het my oë oopgemaak vir ander maniere om na die evangelie te kyk en oor die Bybel te dink. Verskillende Skrifbeskouings het duidelik getoon hoekom verskillende tradisies en denominasies bestaan. Akademiese studie leer jou egter ook om krities te raak, om vrae te stel en geen gesaghebbende verklarings te aanvaar sonder om dit te bevraagteken nie. Mettertyd het ek raakgesien dat my kerk, waarvoor ek lief is, op eg menslike wyse vol foute en tekortkominge is. Want die kerk bestaan nie as ’n instelling nie, maar deur die gesig van mense wat nie konsekwent hulle gebrokenheid weggesteek kry nie.

Wat ek anders sou wou doen, is om in die openbaar sterker standpunt oor rassevraagstukke en my kerk se hantering daarvan in te neem. Wat my daarvan weerhou het en my terug laat deins het, was die besef van wat die konsekwensies sou wees, van marginalisering en verguising.

Het jy al voorheen jou gedagtes oor die vloek van rassisme in jou geloofsgemeenskap met gehore gedeel en, indien wel, wat was die reaksie daarop? Het jy verder ook nog enige reaksie gehad op jou artikel hier op LitNet? Indien wel, watter soort reaksies was daar?

Soos wat die klimaat verander het rondom die tagtiger- en negentigerjare van die vorige eeu, het rassekwessies al meer op die agenda van die kerk beland en die duidelike verskille hieroor geïllustreer. Dit het makliker geword om hieroor te praat, maar die prys was dat ’n mens dikwels gestereotipeer is. My ondervinding was dat daar ’n groeiende groep Afrikaanssprekende wit mense was wie se koppe begin oopgaan het, maar dat die radikale element behoue gebly het en, trouens, vanaf die negentigerjare al verder radikaal geskuif het.

Ek het vanuit my eie kerk heelwat reaksie op die artikel gekry wat in alle gevalle positief was, van lidmate en pastore wat meen dat die boodskap tydig is dat die kerk sy verknogtheid aan moedertaal moet heroorweeg in die lig van sy huidige praktyk.

Behoudende lidmate van kerke is besonder sensitief oor die verlede en hou nie daarvan as kerke erken dat hulle deel gehad het aan apartheid en aan die bevordering van rassistiese denke nie. Of hulle redeneer dat apartheid nie so erg was nie, of dat die apartheidstyd in elk geval beter was as die huidige bedeling. Ek verneem selfs dat ’n geestelike leier onlangs by ’n Senekal-byeenkoms openlik beweer het dat die plaasmoorde straf is vir die afskaffing van apartheid. Daar is seker verskillende houdinge oor apartheid en rassisme in jou geloofsgemeenskap, wat wissel van kru rassisties tot meer verlig. Dit lyk uit die artikel of jy pessimisties is oor die rassistiese houding en denke van Pentekostaliste? Hoe oordeel jy oor mense wat dink dat baie Afrikaanssprekende groepe, indien nie die meeste nie, ’n welwillendheid teenoor ander groepe en rasse het en verlang om in vrede met ander te leef en dat keiharde rassisme net by randgroepe voorkom? Leiers van die boeregemeenskap was byvoorbeeld baie krities oor die tweede byeenkoms in Senekal waar bikers en verregse groepe betoog het. Dit was opvallend dat die deelnemers verskil het van dié by die eerste betoging. Of dink jy daar is baie mense wat omgee vir ander terwyl hulle onder die oppervlak tog diep deur rassisme beïnvloed is?

Ek het nie navorsing ter hande om dit te bewys nie, maar ek meen dat die meerderheid wit mense in Suid-Afrika nie rassisties ingestem is nie. Dit is die geval in die dele van die kerk waaraan ek blootgestel word. Dit is waar dat daar kru rassiste is wat neerhalend na mense van ander rasse verwys en selfs haatspraak in die proses gebruik. Ek is egter nie negatief hieroor nie; een van die redes is dat die eenwording van die AGS in 1996 ons aan mekaar blootgestel het. Daar vind byeenkomste plaas waar mense oor rasgrense bymekaarkom – die kerk se meerdere vergaderings en konferensies sluit alle rasse in.

Ek dink ook dat die tyd om dié rede reg is om die saak oor huidige praktyke op die agenda te plaas, van “wit” gemeentes wat oorheersend of eksklusief wit is, en te besin oor ons motiewe in die lig van die nuwe Suid-Afrika. Ek moet daarmee saam erken dat die politieke en ekonomiese situasie in die land vir die afgelope tien jaar ’n negatiewe rol speel, omdat ’n mens al meer die argument hoor dat Suid-Afrika nou die Afrika-pad geloop het na staatskaping, korrupsie en misdaad, en verval in die morele vesel van die gemeenskap.

Jou artikel illustreer die verskriklike invloed van kolonialisme op kerke wanneer jy skryf hoe Parham deur sy koloniale superieurdenke geargumenteer het vir die oppergesag van die wit ras, vir die minderwaardigheid van ander rasse en vir die onbekeerbaarheid van rasse wat nie tot wit groepe behoort nie. Parham is duidelik nie ’n uitsondering nie, soos blyk uit jou artikel en die feit dat vele ander in sy tyd rassisme uitgeleef en bevorder het. Ondenkbaar en diep steurend is vandag vir ons dat Parham aktief met die uiters gevaarlike Ku Klux Klan-beweging meegeleef en -gewerk het. Hier sien ’n mens hoe politieke vooroordele van destyds die interpretasie van die Bybel en die struktuur van die kerk bepaal het – soos later in die apartheidstyd ook sou gebeur het. Hierdie houdings het uiteraard in alle geloofsgemeenskappe in moderne Westerse lande onder invloed van koloniale denke prominent gefunksioneer. Dit is ’n tydige waarskuwing dat kerke maklik op sleeptou geneem kan word deur ideologieë wat gewild in die samelewing is. ’n Mens kan sulke voorbeelde in ons tyd opnoem: die manier waarop sommige gelowiges xenofobiese houdings inneem, akute kwessies soos klimaatsveranderinge ignoreer, genderdiskriminasie belaglik maak en, in ons land, korrupte maghebbers beskerm. Dit konfronteer ’n mens oor die verhouding van kerke tot sosiale verskynsels en tendense. Hoe kan geloofsgemeenskappe aan die greep van ideologieë ontkom en verhinder dat hulle die boodskap van die evangelie verdraai of verloën?

’n Belangrike deel van die probleem wat in die vraagstelling geskets is, hou verband met die feit dat die Pentekostalistiese beweging gekenmerk word deur die deelname van konserwatiewe mense. Dit sluit nie die neo-Pentekostalistiese groepe noodwendig in nie. Dat dit so is, word goed geïllustreer deur Afrikaanssprekende Pentekostaliste, insluitende die AGS, wat oorwegend die 1933/1953-hersiene uitgawe van die Afrikaanse vertaling gebruik, naas die 1611-King James-vertaling. Alhoewel die vroeë Pentekostalistiese beweging se Skrifbeskouing nie fundamentalisties-literalisties was nie, het Pentekostaliste se soeke na aanvaarding om aan hulle sektestatus te ontkom tot samewerking met en nabootsing van die konserwatiewe Protestantse elemente gelei.

Konserwatiewe mense kry dikwels swaar om vrede met die veranderende en nuwe te maak, en die “nuwe” Suid-Afrika is dikwels vir hulle ’n uitdaging wat swaar afsluk.

Die oplossing is dat die unieke van die Pentekostalistiese beweging herontdek moet word. Dit behels dat die Bybel nie woord vir woord en vers vir vers as die Woord van God gesien word wat as’t ware in Bybelse skrywers se ore gefluister is nie. Die gesag in die kerk lê nie primêr in die Bybel nie, maar in God wat Hom deur sy Gees openbaar. Voor die Bybel God se woorde word wat ’n direkte toepassing op ons situasie het, is dit nodig dat Hy Homself openbaar. Hy doen dit primêr en in die meeste gevalle wanneer die Bybel gelowige en biddend gelees en oordink word.

Pentekostaliste leer egter dat die Gees Jesus Christus ook op ander maniere kan openbaar. Solank ons die Bybel op dieselfde manier gaan bly lees, gaan ons standpunte oor kritieke sake (soos LGBTIQ+-mense se deelname aan die kerk) op dieselfde wyse beredeneer en grondves. Wat nodig is, is dat Pentekostaliste die hart van God oor mense hoor klop. Dit alleen kan die mag van ideologie deurbreek, wanneer God se Gees ons insig gee en gesindheid (gees) verander.

Dink jy daar was iets goeds aan kolonialisme?

Om enigiets goed aan kolonialisme toe te skryf is byna krimineel, gegewe die feit dat Europeërs oor die jare nie minder nie as twaalf en ’n half miljoen Afrikane as slawe gevang, in die haglikste omstandighede denkbaar op skepe, soos diere in hokke, weggevoer het om as produkte of vee te verkoop. Dit ontken ook die enorme skade wat oor jare aan miljoene Afrikane (insluitende Suid-Afrikaners) se lewens aangerig is deur gedwonge segregasie en delegering van mense van ander rasse tot minderwaardige onderwys, gesondheid, behuising, infrastruktuur, en so meer. Ja, kolonialisme het enkele positiewe kenmerke van “beskawing” saamgebring, maar daar was ook talle negatiewe kenmerke, soos ’n waardestelsel wat Afrikaïese tradisies kom verdring het.

Dit is opvallend dat daar tog ook vurige teenstanders van apartheid was in geloofsgemeenskappe wat apartheid gekoester het. Dink maar aan Beyers Naudé en Nico Smith as ’n paar van die prominente teenstanders van apartheid, terwyl Allan Boesak ’n leidende rol vanuit die VGK (destyds die Sendingkerk) gespeel het. Net so was Frank Chikane uit die AGS ’n besonder prominente teenstander van die apartheidsideologie wat ’n bitter hoë prys vir sy verset betaal het. Pen asseblief ’n paar gedagtes neer waarom iemand soos Chikane so radikaal kon wees in sy totale verwerping? Wat het hom gedryf en hoe het hy oor die kerk se rassistiese verlede gedink? Wat dink jy het hierdie fel teenstanders van apartheid werklik gemotiveer en gedryf tot hul teenkanting? En waarom kon hulle so ongeïntimideerd hul verset volhou? Wat dink jy dryf sulke profete?

Beyers Naudé, Breyten Breytenbach en Sampie Terreblanche (Foto: verskaf)

 Soos genoem, kenmerk konserwatisme Pentekostaliste. Daarmee saam het Pentekostalisme ook van sy oorsprong ’n spiritualiteit gehad wat anderwêrelds is en klem plaas op sosiale en selfs ekonomiese afsondering van die wêreld, asook heiliging (of heiligmaking, soos talle verkeerdelik daarna verwys), wat ’n praktyk insluit waar die gelowige deur vas en gebed en ernstige Bybelstudie poog om ’n lewenstyl te reflekteer wat Christus sou kenmerk.

“Blanke” kerkleiers het ook toentertyd “swart” mense geleer om nie polities betrokke te raak nie, iets wat vanuit die anderwêreldse spiritualiteit gemotiveer is. Daar was uitsonderings. Nico Horn was ’n vroeë en briljante stem in die AGS, maar sy beroep in 1988 na Windhoek het hom permanent uit sirkulasie gehaal.

Chikane het waarskynlik baie agting van mense in sy “kerk”-groepering geniet wat danksy die effektiwiteit van die destydse Veiligheidspolisie en intelligensienetwerke dit nie hardop geverbaliseer het nie. Chikane het die prys betaal; na hy geweier het om hom uit politiek te hou, is hy as AGS-pastoor geskors. Alhoewel Chikane radikaal was, het hy niegewelddadige verset teen apartheid voorgestaan, nog ’n tradisie uit die vroeë Pentekostalistiese tradisie wat mettertyd, in die AGS sedert die vyftigerjare, versaak is.

Allan Boesak (Foto: verskaf)

Die AGS het later selfs weermagkapelane gehad en die wit leierskap het sonder uitsondering hulle waardering vir die destydse NP-regering se inisiatiewe getoon.

Onderskat ons nie die welwillendheid van groot getalle mense in kerke teenoor ander mense nie?

Die NG Kerk se onlangse sinodale geskiedenis toon dalk die groot afstand tussen ’n deel van die kerkleierskap (en teoloë) en groot getalle lidmate. So ’n afstand kan maklik in die AGS gedemonstreer word deur die kloof te beskryf wat tussen lidmate (en die meeste pastore) en akademiese teoloë bestaan. Die pentekostalistiese tradisie is gebore uit ’n sterk anti-intellektualistiese drang, gegewe dat hulle gemeen het dat die “latter rain” (wat met die Geesdoop ingelui is en begelei is deur spreke in tale) die gevestigde kerke verby sou gegaan het vanweë hulle teologiese bedrewenheid ten koste van toewyding aan God. Alhoewel ek nie bewus van empiriese navorsing hieroor in die AGS is nie, meen ek tog dat talle mense, indien nie die meerderheid nie, deur welwillendheid en meelewing met ander mense gedryf word.

Kerke vra vergifnis teenoor die slagoffers van apartheid. Waarom is dit dat sommige stemme steeds verontwaardig is dat mense nie genoeg verskoning vra nie?

Dit hou verband daarmee dat ons steeds meestal met “mekaar” praat en nie na die “ander” luister nie. Daarom verstaan ons wit lidmate nie veel van die belewenis van swart mense, insluitende gemeentes, nie. Talle is inwoners van plakkerskampe en nedersettings met klein huise waar hulle aan armoede en swak higiëniese omstandighede blootgestel is. Hulle gemeentes is dikwels so arm dat die pastoor slegs bokant die broodlyn oorleef. Baie van hulle jongmense is werkloos en dikwels kwaad omdat die ouer geslag nie op hulle regte aangedring het in die oorgang na die nuwe Suid-Afrika nie. Jongmense se bitterheid hou verband met die gebrek aan grond- en ekonomiese hervorming in die land sodat hulle slagoffers van ’n gaping tussen ryk en arm is wat duidelik al groter word.

As die “wit” kerk meer sou luister, sal hulle waarskynlik ophou vra hoeveel keer ons nog apologie moet aanteken en iets begin doen aan die haglike lewensomstandighede van die meerderheid mense in ons land. Die voorwaarde vir vrede in Suid-Afrika hou verband met geregtigheid wat sigbaar veranderings in mense se lewensituasie veroorsaak.

Hoe oordeel jy oor ’n jong geslag uit die bevoorregte groep van die verlede wat sê hulle het niks om voor verskoning te vra nie?

Ek is jammer vir hulle, want hulle het nog nooit besef watter verskil dit maak om in ’n histories-bevoordeelde (dit beteken, bevoordeel ten koste van miljoene ander) wit huis gebore te word waar jou ouers ’n deeglike skool- en beroepsopleiding geniet het, en soms ook tersiêre opleiding, en dat dit ten koste van ander geskied het nie. Hulle het nog nie gaan rondstap waar mense tussen menslike afval bly nie, waar ’n gesin van tien of vyftien met een broodwinner se (dikwels karige) salaris oorleef, en bereken wat dit beteken in terme van jou kanse in die lewe indien jy daar gebore sou word.

Hoe dink jy oor die stelling dat kerke nie vir hul lidmate vergifnis gevra het dat kerklike vergaderings en kerkleiers hul lidmate mislei het en apartheid verdedig het?

Ek kan slegs namens die AGS praat wat voor die destydse Waarheid-en-versoeningskommissie apologie aangeteken en skuld erken het. Die “wit” AGS het amptelik sy skuld erken, maar ek redeneer dat as dit tot op grondvlak deurgewerk het, kerklike praktyk anders sou gelyk het.

Sommige mense vra nou dat mense wat verskoning vra vir apartheid, moet bewys dat hulle opreg is deur ’n proses van vergoeding vir slagoffers van apartheid te ondersteun en te bevorder. Eers as hulle mense konkreet mense vergoed, sal dit die egtheid van hul verskoning wys. Hoe dink jy daaroor?

Ek stem daarmee saam. Ek besef dat die kwessie van vergoeding vir die slagoffers van apartheid van die tafel gehaal is om die samesprekings te red wat uiteindelik in die vestiging van die nuwe Suid-Afrika gerealiseer het. Om net te praat is egter maklik, en wanneer ’n mens sê jy is jammer oor wat jy gedoen het, maar weier om enigsins verantwoordelikheid vir die skade te dra wat jou optrede veroorsaak het, is daar rede om oor jou opregtheid te twyfel. Selfs al sou dit slegs beperkte vergoeding as ’n “token” van opregtheid impliseer, is dit my eerlike gedagte dat dit reeds ’n ent sou vorder om die kloof wat tussen wit en swart bestaan, te oorbrug.

Wat sou jy dink is effektiewe maniere om mense van rassistiese denke te oortuig en hulle te help om dit te oorkom?

Die mees effektiewe wyse wat die praktyk vir my gewys het, is om kleiner groepe (soos selgroepe) byeen te bring wat gereeld saamkuier, om die beurt in die onderskeie woonbuurte. Die doel is dat mense Bybelstudie hou, maar sterk klem val ook op sosiale saamwees. So iets stel jou bloot aan die “ander” (dalk is daar nog ’n paar wit mense wat moet uitvind dat mense van ’n ander kleur dieselfde as hulle voel en reageer op opstandige en dwalende kinders, dieselfde sorge as hulle het, en so meer).

Die blootstelling aan mekaar en mekaar se wêrelde breek stereotiperings af (by alle deelnemers, van alle rasse), lei tot die sluiting van vriendskappe en vennootskappe waar mense in mekaar se moeilike omstandighede betrokke raak.

 

Lees Marius Nel se Godsdienswetenskappe-artikel in LitNet Akademies, “Charles Parham, William Seymour en Suid-Afrikaanse pentekostalistiese rassisme”, hier:

Charles Parham, William Seymour en Suid-Afrikaanse pentekostalistiese rassisme 

 

  • 2

Kommentaar

  • Daniel Cloete

    Meer stemme soos dié is nodig. Ook uit ander groepe. Mense wat versoening en geregtigheid preek. Die een Kan Nie sonder die Ander bestaan nie. Sterkte.

  • My geslag, 84 jaar, se rassisme het met moedersmelk gekom. Eers ontkenning, aanvaarding en belydenis het met ‘n rowwe pad gekom.Christina Landman meld dat vergifnis nie op aanvraag beskikbaar en goedkoop is nie. Miskien moet ‘n geslag of twee verloop ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top