Smaakmakers 2026: Dit smaak my ons ken nie altyd die kriteria nie

  • 8

Verlede jaar het die Smaakmaker-toekenning vir Boeke vir my meer beteken as wat ek ooit in woorde kan beskryf. Dit het gevoel soos ’n bevestiging dat die tyd, liefde en bedoeling agter wat ek vir Afrikaanse boeke en skrywers probeer doen, raakgesien is – en daarvoor sal ek altyd dankbaar wees.

Maar vanoggend sit ek met ’n ander gevoel. Nie bitterheid nie. Eerder nadenke. ’n Vraag wat my nie wil los nie.

Dit smaak my ons vra te min: Wat is die kriteria? Nie net van gisteraand se “Boeke”-kategorie nie, maar rakende kompetisies oor die algemeen.

Gee my kans om te verduidelik. Dit is ’n interaktiewe skrywe hierdie, so ek het nodig dat jy ’n pen en papier nader hark en self probeer. Moenie verder lees as jy nie gaan saam speel nie.

Ek het al jare lank in my beroep ’n eenvoudige oefening wat ek doen met leerders, bestuurders en selfs uitvoerende hoofde.

Ek sê vir hulle, en nou sê ek vir jou: Vat ’n pen. Teken ’n kat.

Dis al. Geen verdere instruksies nie. Ek wag vir jou wat hier lees. Teken jou kat. Bêre jou pen en lees verder.

Mense het hulle katte geteken. Groot katte, klein katte, snaakse katte, stokmannetjiekatte. Party het ’n roeping gemis in die kunste en ander het die harde waarheid geleer dat hulle dalk nie moet help met hulle kinders se huiswerk nie.

En dan wys ek vir hulle mý kat.

My kat is groot. Oordrewe groot. Sy boude lê die hele bladsy vol. Hy het snorbaarde en ’n tong. Hy het nie oë en ’n neus nie, lyk dalk nie perfek nie, maar jy kan sien dis ’n kat. Dis al wat saak maak. En hy het ’n naam: Fluffy.

En dan wys ek vir hulle die tabel.

Trek nou jou eie kat nader en beantwoord die volgende vraag: Behalwe die feit dat ek vir jou gevra het om ’n kat te teken, het ek vir jou enige ander kriteria gegee vir wat ek presies wou hê? Ja of nee.

Kom ons merk jou kat. Jy mag nie verneuk nie, hoor!

Klik hier om bostaande tabel te vergroot

Ore. Voete. Grootte. Besonderhede. ’n Naam. Dis wat ek wou hê.

En skielik verander alles.

Mense begin lag. Dan begin hulle tel.

Party kry drie uit tien. Party ses. Party nul.

En nou vra ek die vraag wat alles verander? As jy hierdie kriteria vooraf gehad het, sou jy beter gevaar het?

Natuurlik sou jy.

Want dis wat kriteria doen. Dit maak die spel eerlik. Dit vul grys areas waar ons nie seker is nie. Jy het dit, of jy het dit nie. So maklik is dit!

Deur my hele loopbaan het ek nog nooit ’n rol, ’n projek of ’n einde-van-die-evaluasie aangepak sonder om een vraag te vra nie: Wat is die maatstaf? Hoe lyk sukses vir jou? Hoe lyk mislukking deur die lens waarmee jy my gaan evalueer? 

Ek hou nie van vae antwoorde nie. Nie “doen jou beste” nie. Ek hou van werklike en meetbare kriteria.

Selfs as onderwyser het ek dit elke dag gedoen. As ek ’n opstel gevra het, het elke leerder ’n tabel vooraf gekry, want nie almal kan spel nie en nie almal is taalvaardig nie. Maar as jy ’n begin, middel en einde het, as jy jouself kan uitdruk, dan moet jy erkenning kry daarvoor. Jy sal dalk nie so goed vaar in jou grammatikatoets oormôre nie, maar ek gee vir jou kreatiewe skryfkuns. Om kreatief te wees. Nie om ’n spelling bee te wen nie.

Regverdigheid lê nie in perfeksie nie. Dit lê in duidelikheid.

En dalk is dit hoekom hierdie onderwerp my al jare lank so na aan die hart lê.

Ons leef in ’n wêreld waar ons dikwels instap in dinge sonder om te weet wat die maatstaf is. In werk. In skole. In kompetisies. In gesinne. Selfs in gesondheid.

Wat beteken “vaar goed”?

Wat beteken “sukses”?

Wat beteken “Jy het dit reggekry”?

As jy vir ’n kind sê: “Maak jou kamer skoon”, maar jy wys nooit hoe “skoon” lyk nie, hoe moet hy weet hy het geslaag?

As jy ’n dieet volg, maar jy weet nie wat die teiken is nie, hoe weet jy jy is op pad?

As jy oefen, maar nooit ’n maatband in die begin om jou middel trek nie, hoe vier jy jou sukses?

Kriteria is nie beperkings nie. Kriteria is respek. Respek vir mense se tyd. Respek vir hul moeite en respek vir hul hoop. As jy vir iemand sê wat die reëls is, gee jy vir hulle ’n regverdige kans.

Om duidelik te wees: Hierdie skrywe is nie ’n aanval op enige individu nie. Ek gun elke wenner van enige kompetisie hul oomblik in die son. Ek weet hoe dit voel om jou naam te hoor. Ek weet hoe groot daardie erkenning kan wees.

Maar ek dink ook aan die groter prentjie:

Aan mense wat bou sonder geraas.

Wat gemeenskappe dra.

Wat hulself gee vir iets groter as hul eie naam.

Ek dink persoonlik nie Anschen Conradie, Elna van der Merwe, Leonie van Rensburg, Phyllis Green en Trisa Hugo kry naastenby die nodige erkenning vir wat hulle onbaatsugtig vir die boekbedryf doen nie.

So ek wonder: As ons almal vooraf die rubriek gehad het ... sou ons anders deelgeneem het? Anders gestem het? Anders gehoop het?

Want uiteindelik kom alles vir my terug na daardie eenvoudige oefening.

Die kat.

As jy weet hoe die kat lyk wat in iemand se kop is, kan jy dit teken.

As jy nie weet nie, teken jy in die donker.

So ek is opreg nuuskierig.

Hoe het jóú kat gevaar?

Tel jou punte. Wees eerlik. Moenie verneuk nie! 😄

En as jy wil, los jou telling in die kommentaar.

En miskien, net miskien, kan ons almal saam begin om een eenvoudige vraag ’n bietjie meer te vra – by die huis, by die werk, in kompetisies, en in die wêreld: Wat is die kriteria?

Lees ook:

Elders gesien: Smaakmaker van die jaar

Elders gesien: Tafelpote saag

  • 8

Kommentaar

  • Etrecia van der Merwe

    Ek’t nie die kat geteken nie - ek was te nuuskierig om verder te lees. Maar ek as onderwyser soek ook 'n maatstaf, 'n riglyn. Dieselfde met skryfkompetisies - wat word beoordeel? Wat kry aandag? Wat is die hooffokus?
    Op die ou einde wil ons almal net 'n kans hê en daarom stel ons onsself bloot en neem deel. Maar duidelike kriteria is nodig vir regverdige beoordeling, nie net 'n buitensporige aantal volgers nie.
    Want klein botteltjies bevat ook groot gif.

  • Daniel, soos gewoonlik het jy die langste spyker en swaarste hamer in die hand, want jy wil jou boodskap laat tel! En dit tel, vir seker! Ons soek nog net die kop.
    Toemaar, het dit gekry!

  • Julio Agrella

    En dit is die kat in die hoenderhok, dat niemand klaarblyklik weet wat die kriteria is nie. Ons kan katterig wees oor wie uiteindelik gekies is, en hartseer (soos ek), want soveel van my vriende is oor die hoof gesien.
    Die kaas is beslis geskuif, en ek wonder of die muise dit betyds genoeg gaan agterkom.

  • Petra Pienaar-Nel

    Van al die benoemdes is dit Leonie van Rensburg wat sonder enige twyfel die meeste doen vir die bevordering en bewusmaking van boeke. Dat sy nie hiervoor erkenning gekry het nie, spreek boekdele van Netwerk24 se sogenaamde "waardes" en begrip van relevansie.

  • Marion Erskine

    6 is nie sleg nie. Maar nou dat jy die kriteria ken, kan jy maklik 10 kry. Dis die punt.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top