
Prent: Moondance op Pixabay
- Daniel Lötter skryf elders op Facebook die volgende. Die inskrywing word met sy toestemming op LitNet geplaas.
CJ Langenhoven het lank gelede ’n kostelike skets geskryf oor ’n tafel wat wankelmoedig gestaan het. Hy besluit toe om die drie langer pote korter te saag om dit weer waterpas te kry. Wat toe nie so goed werk nie, want toe is die tafel nog meer lendelam. Dus saag hy nog ’n paar stukke af. Uiteinde van die storie lê die tafelblad plat op die grond en al die pote is aan flenters gesaag.
Vir my is die Afrikaanse boekebedryf ’n heerlike, gesellige ou tafel waarby almal kan aansit en ’n feesmaal van ons kulturele erfenis geniet. En die vier pote van die tafel is: Die skrywer, die uitgewer, die resensente en smaakmakers (wat ’n vreemde woord! Ek verkies eerder: Beïnvloeder) en die lesers. As een van hierdie vier pote afgesaag word, kantel die tafel en die sop beland in jou skoot.
........
Ek is lankal bekommerd oor ’n sagery aan ons tafelpote.
........
Ek is lankal bekommerd oor ’n sagery aan ons tafelpote. Daar is min vergoeding en min erkenning in die bedryf en daarom is dit ’n geweldige groot eer wanneer toekennings gemaak word. Vir skrywers is dit ’n groot eer wanneer jou werk erken word, vir resensente en beïnvloeders nie minder nie. Veral hierdie mense staan hulle tyd en energie daaraan af om boeke te lees en ontleed en aan te beveel. Om positiewe kritiek te lewer en dikwels namens die skrywers en uitgewers klappe daarvoor te kry.
Nie lank gelede nie is daar ’n paar lelike klappe na Marion Erskine toe uitgedeel oor sy aanbevelings. Briljante mense soos Anschen Conradie, Analize Viljoen, Trisa Hugo, Stefaans Coetzee, Jonathan Amid, Jannes Erasmus, Ilse Salzwedel, Leonie van Rensburg en nog baie ander doen uitstekende en onbaatsugtige werk, waarvoor ek net gewoon nooit sal kans sien nie! Nie met die vlak van venyn wat hulle dikwels moet aanhoor nie. Dit is mense wat toekennings en vermelding verdien.
En die kriteria vir sulke toekennings behoort, logies gesproke, op meriete en uitnemendheid te geskied. Ek glo dit geld ook vir skrywers. Wanneer skrywers inskryf vir skryfkompetisies of genomineer word vir toekennings; uitgenooi word om deel te neem aan feeste of paneelgesprekke, dan moet dit mos berus op die kwaliteit en uitnemendheid van daardie skrywer se werk. Anders kompromiteer ons op die gehalte en integriteit van ons kulturele nalatenskap.
Dit is lankal ou nuus dat ons grootste uitgewersmaatskappye, net soos ons TV-kanale, nou aan buitelandse firma’s behoort. Dit is organisasies wat, te verstane, fokus op wat winsgewend is en gevolglik ook ook wetgewing in ag moet neem; wetgewing wat op vele vlakke besig is om ons samelewing lelik te knyp. Maar dit is ’n gevaarlike ding, want toenemend begin dit lyk asof die klein Afrikaanse skrywers/boeke/lesers/beïnvloeders-gemeenskap aan die agterspeen moet begin suig.
Ek het oor die afgelope maande van heelwat skrywers persoonlik gehoor: “Ek gaan gewoon nie meer inskryf vir kompetisies nie of ek gaan gewoon nie meer benoemings vir toekennings aanvaar nie, want daar is nou skielik allerhande ander kriteria wat gebruik word om die wenners te bepaal. Ek gaan myself nie so laat verneder nie.”
Kortliks (en hierdie is MY woorde en MY siening, ek praat nie namens iemand anders nie): as toekennings gemaak word behoort uitnemendheid en prestasie die enigste kriteria te wees. Nie ras, geslag, openbare gevolg, getal volgelinge op die sosiale media en sulke nonsens nie. Die prosesse moet mos deursigtig en betroubaar te wees.
Gisteraand se toekenning van die Netwerk 24 Afrikaanse Smaakmaker 2026 was, op die minste, vreemd. Daar is mense soos Anschen en Trisa wat genomineer is. Smaakmakers wat weekliks ure spandeer om skrywers se nuwe werke te lees en dit te bespreek. Wat kilometers ver ry om skrywers te ondersteun by boekgesprekke. Wat alles doen wat hulle kan om skrywers van Afrikaanse boeke te inspireer, sonder om vergoeding daarvoor te vra.
Die toekenning word bekend gemaak en almal kyk met geligte wenkbroue na mekaar! Wie is hierdie persoon? Klim op die sosiale media om te gaan kyk. Nie een enkele woord oor enige ander skrywer se werk nie, net oor sy eie gedigte en waar dit te koop is!
As daar dan opmerkings gemaak word soos: “O, maar jy kan jouself nomineer en soveel keer vir jouself stem as wat jy wil”, dan trek my maag op ’n knop. (En verstaan asseblief goed, ek maak dit nie noodwendig van toepassing op hierdie geval nie! Ek weet nie wat die proses van toekenning en die kriteria was nie.)
Al wat ek weet is: Wanneer die mense wat een van die vier tafelpote is, dan sê: “Ek stap nou weg. Ek doen dit nie verder nie. Ek aanvaar nie weer ’n benoeming nie. Ek skryf nie weer in nie. Ek laat my nie weer verneder nie”, dan raak ek bang, want dan saag ons ’n tafelpoot af en dit gaan ons op die duur bitter suur bekom!
Maar dit is nou maar my beskeie mening. Dalk verstaan ek weer totaal verkeerd.
Lees ook:


Kommentaar
Uitstekende uiteensetting! Mag die boeketafel nog lank staan. Al wikkel hy nog 'n bietjie. Moet ‘seblief nie dat dié sagery die oorhand kry nie,
Langste spyker, swaarste hamer…