Sluipmoordenaars en huursoldate: ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Ek weet nie van jou nie, maar die boeke op my leesrak word jaarliks meer as waarvoor ek tyd het. Die groot uitdaging is om in Desember en vroeg Januarie uit die 50 plus boeke te kies, die res gaan ongelees na ons tweedehandse boekwinkel. Ek hou van enigiets wat ’n patroon vorm. Byvoorbeeld: vier boeke met Black in die titel (The black echo – Michael Connelly, Black evening – David Morrell, Black heart – Mike Nicol en Black 13 – Adam Hamdy) en twee boeke met James as skrywer. Op die laaste James skryf Lee Child: “Jed Walker is right there in Reacher’s rear-view mirror.” Dit begin ’n nuwe reeks, want Child skryf op Nick Petrie se Burning bright: “Lots of characters get compared to my own Jack Reacher, but Peter Ash is the real deal.”

Gedurende die “dooie seisoen” in die uitgewersbedryf, lees ek hoofsaaklik boeke wat ek geniet, maar wurm ook ’n paar onbekende kandidate in. Om nuwe skrywers vir die nuwe jaar te identifiseer. Vroeër jare het ek ’n skrywer met potensiaal ’n tweede kans gegee, deesdae moet die eerste boek sy plek vir die toekoms verseker. Elke boek kry dan ook ’n stertoekenning, en daaruit kies ek net ’n paar wat op my “wil lees”-lys verskyn.

Ek is egter meer genadig met ’n bekende skrywer, omdat hy/sy hom-/haarself aan my bewys het.

Die agtergrond is belangrik, want dit beïnvloed my leeservaring.

Skrywer: James Byrne
Titel: The gatekeeper
Uitgewer: Headline
ISBN: 978 1 4722 8820 2

James Byrne se The gatekeeper se lofpsalms word onder andere deur Gregg Hurwitz, Mark Greaney en Nelson DeMille besing. Die skrywer se 20 jaar ondervinding in joernalistiek het sonder twyfel bygedra om Desmond “Dez” Limerick in ’n reeks te omskep. Die opvolgboek, Deadlock, is vanjaar uitgegee.

Google verklaar die sterk debuut. Byrne is die skuilnaam van ’n skrywer wat alreeds nege ander boeke onder ander name uitgegee het. Ek het ongelukkig nie moeite gedoen om te kyk wie nie. Jy mag dalk anders voel na die lees van hierdie boek, maar ek is op ’n stadium waar ek eerder probeer om op datum te bly met my huidige reekse voor ek nuwes aanskaf. Selfs met my gunstelingskrywers begin ek selde ’n nuwe reeks. Indien ek wel ’n nuwe reeks begin, moet dit uitsonderlik wees.

Dit voel vir my of die skrywer te hard probeer om sy karakter bo die ander karakters in die genre uit te laat staan. Byrne staan ook met sy een voet stewig in die internasionale, politieke genre geanker, terwyl hy met sy ander voet in krimigrond ronddans. Dit werk nogal vir my, aangesien Jaco Wolmarans dit met sy Tex-reeks bemeester het. Maar Wolmarans het die standaard hemelhoog gestel, Byrne voldoen nie vir my hieraan nie.

Die afgetrede huursoldaat herinner aan Lee Child se Jack Reacher. Hy toer met sy baskitaar deur Amerika. ’n Kort proloog skets sy agtergrond, maar dit is na my insiens te min. Daar is ’n komplot – en ek moet bieg, al glo ek nie in samesweringsteorieë nie, is ek mal oor ’n goeie komplot. Dit, en nie die karakter nie, het my aan die lees gehou.

Die hotel waarin Petra Alexandris, die dogter van ’n militêre kontrakteur, bly, word aangeval. Hy is toevallig naby genoeg om te verhoed dat sy ontvoer word. Saam probeer hulle die geheime komplot ontmasker.

Skrywer: James Brabazon
Titel: The break line
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 978-0-718-18955-6

In James Brabazon se memoir, My friend the mercenary, skryf hy onder andere oor sy vriendskap met die Suid-Afrikaanse huursoldaat, Niek du Toit. Dit het Brabazon onder my aandag gebring. Ek was verheug om te verneem dat hy sy hand aan fiksie gewaag het.

Resensente is dit eens dat sy debuut, The break line, met Joseph Conrad se Heart of darkness vergelyk kan word. Dit herinner ook aan Frederick Forsyth se Dogs of war.

Hierdie boek gee vir ons ’n persoonlike blik in die psige van ’n sluipmoordenaar. Max McLean word opgelei as ’n sluipmoordenaar vir die Britse regering omdat hy opdragte uitvoer sonder om vrae te vra, selfs as hy iemand moet doodmaak. Hy word as ’n wettige, gesonde psigopaat geklassifiseer. Ek kan nie help om te wonder hoeveel van die BSBS, Vlakplaas en ander moordeenhede se operateurs onder dieselfde kategorie sou val nie.

Dit is veral sy sienswyse vroeg in die boek (bl. 10) van “I don’t like killing anyone” wat my aandag trek. Sluipmoordenaars word gewoonlik as emosielose, koelbloedige moordenaars uitgebeeld. Elke keer as jy iemand doodmaak, word jy minder mens en meer monster. Jy leef lewenslank daarmee saam. Op bladsy 11 erken Max: “To kill at point blank, to feel a last breath on you as the light gutters out of their eyes – that is something: something to live with for ever ...”

Max is bestem om by Raven Hill se bevelvoerder, Frank Knight, die leisels oor te neem, maar vir die eerste keer voer hy nie ’n opdrag uit nie. Sy redenasie om te verduidelik hoekom nie, is insiggewend tot sy karakterisering. Tot op hede het hy baie mense doodgemaak: vir sy bevelvoerder, sy manskappe, sy land, maar nooit vir homself nie. Die een keer wanneer hy iemand vir homself móét doodmaak, doen hy dit nie. Dit veroorsaak dat hy in onguns by sy bevelvoerders verval. Hy kry egter nog ’n kans om sy betroubaarheid te bewys.

Brabazon ondersoek in The break line temas soos plig teenoor gewete en lojaliteit teenoor verraad.

Wat wil jy meer weet om die boek te lees voordat jy dit gaan koop? Wil jy nie hierdie reis self ontdek ongeag waar die oorlog woed, of ongeag die plot nie?

Wanneer ek in Januarie begin leesstof aankoop, gaan Brabazon se naam heel bo staan.

Skrywer: Nick Petrie
Titel: Burning bright
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9780399174575

Alhoewel Lee Child self Petrie se Peter Ash as die ware Jakob beskryf, sal ek hom nie met Jason Bourne vergelyk nie. Inteendeel, hierdie stelling het nou al ’n cliché geword.

Maak egter seker dat jy reeds met vakansie is voordat jy die boek begin, want dit gaan jou dadelik intrek. Die skrywer CJ Box som Petrie se debuut, The drifter, op as “nonstop action at a machine gun pace” – Burning bright volg in sy voetspore. Gaan loer gerus hoeveel pryse The drifter ingepalm het. Ek was so beïndruk met die skryfstyl, karakter en plot, dat ek vir my twee opvolgboeke gekoop het, en ek’s ernstig op soek na die debuut.

Net soos Child se Jack Reacher en Byrne se Dez het Peter ’n weermagagtergrond. En net soos in Byrne se The gatekeeper is daar ’n mooi meisie om te red en ’n komplot om te ontmasker. Maar waar Dez tydens konflik as ’n doodkalm dude voorgestel word, vlug Peter vir ’n beer. En so kruis sy pad met dié van June Cassidy, of soos hy haar noem, Riot Grrrl. O, beide Dez en Peter ontmoet die “dames in distress” in California. Maar waar Byrne in The gatekeeper na die verregses kyk, het Petrie die tema in The drifter ondersoek.

Daar is humor te midde van konflik wat ek nie as geloofwaardig beskou nie, maar dit gaan my nie keer om nog van sy boeke te lees nie. Ek lees mos vir ontspanning, anders het ek ’n niefiksieboek gelees.

Skrywer: Matt Hilton
Titel: Judgement & wrath
Uitgewer: Hodder & Stoughton
ISBN: 978 0 340 97825 2

Matt Hilton se Judgement & wrath het nie my aanbevelingslys gehaal nie, maar verdien wel eervolle vermelding. Hy was my derde Lee Child-tipe boek gedurende die vakansie, en dalk net een te veel. Sou ek anders gevoel het as ek net hom die vakansie gelees het?

Joe Hunter is nie ’n polisieman nie, nog minder ’n bounty hunter (of hitman) – soos hy homself aan die begin van hoofstuk 2 voorstel. Maar soos sy van sê, hy jag mense. Hy hou nie van boelies nie en hou nog minder van mans wat vroue aanrand.

Judgement & wrath volg Dead men’s dust op en – ek het gou ge-google – vorm deel van ’n lang reeks. Dit het sonder twyfel een van die mees spanningsvolle openings wat al geskryf is. As ek vinnig moet dink, kan ek net aan Chris Carter dink wat sielkunde so vinnig inspan om vooraf vrees op te bou.

Ek lees selde boeke waarin die hoofkarakter something Hunter of Keller (vir Killer) is. Dit het sonder twyfel in die begin gewerk, maar nou voel ek dat as ’n skrywer nie aan ’n meer kreatiewe naam kan dink om dieselfde boodskap oor te dra nie, is ek bygelowig oor hoeveel cliché daar tussen die voor- en agterblad gaan opduik. Dink aan Robert Hunter (Chris Carter), Dylan Hunter (Robert Bidinotto), Nathaniel Hunter (James Byron Huggins), ensovoort. Nietemin, as jy op Google sou vra: books similar to Lee Child, hoop ek Hilton se naam verskyn vroeg in die soektog.

Lees ook:

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top