Slavery in the late antique world, 150–700 CE deur Chris L de Wet, Maijastina Kahlos en Ville Vuolanto (redakteurs): ’n resensie

  • 0

Agtergrondfoto: https://pixabay.com/photos/chains-feet-sand-bondage-prison-19176/; boekomslag: https://www.amazon.com/Slavery-Late-Antique-World-150/dp/1108476228

Chris L de Wet, Maijastina Kahlos en Ville Vuolanto (reds.). 2022. Slavery in the Late Antique World, 150–700 CE. Cambridge: Cambridge University Press.

Die bydraes in hierdie boek fokus op die ideologiese, morele, kulturele en simboliese aspekte van slawerny in die Laat Antieke wêreld (150–700 nC) met die doel om aan te dui dat slawerny in hierdie era ’n komplekse en polimorfe verskynsel was en beslissend deur kultuur en geografiese faktore beïnvloed is. Die bydraes spruit voort uit die XXIV Finnish Symposium on Late Antiquity – Slavery in Late Antiquity wat in November 2016 by die Universiteit van Helsinki gehou is. Chris L de Wet, Marianne Bjelland Kartzow en Marja Vierros het by dié geleentheid as die hoofsprekers opgetree. In dié boek word die Laat Antieke wêreld in navolging van Peter Brown as die tydperk vanaf 150 tot 700 nC gedateer en word daar doelbewus aangesluit by ’n onlangse ontwikkeling waarvolgens Laat Antieke studies as ’n selfstandige dissipline beskou word en die vroeëre fokus op Europa en die Mediterreense gebied doelbewus verbreed word om ander gebiede soos Afrika, Iran, Arabië, China, Indië en Asië in te sluit. Die sleutelbegrippe wat die bydraes kenmerk, is die verandering en kompleksiteit wat hierdie era gekenmerk het.

.............
In die eerste afdeling val die klem op die morele en simboliese waardes van slawerny. In die eerste hoofstuk bespreek Pieter JJ Botha eienaars en slawe in vroeg-Christelike diskoers. Botha toon oortuigend aan hoe gelowiges daartoe bygedra het dat die tipiese Romeinse praktyke van slawerny in stand gehou is, dat die houding teenoor slawe nooit werklik verander het nie en dat die lot van slawe eintlik nie regtig verbeter het nie.
..................

In die eerste afdeling val die klem op die morele en simboliese waardes van slawerny. In die eerste hoofstuk bespreek Pieter JJ Botha eienaars en slawe in vroeg-Christelike diskoers. Botha toon oortuigend aan hoe gelowiges daartoe bygedra het dat die tipiese Romeinse praktyke van slawerny in stand gehou is, dat die houding teenoor slawe nooit werklik verander het nie en dat die lot van slawe eintlik nie regtig verbeter het nie. Botha betoog ook dat die geweld wat met hierdie instelling gepaard gegaan het, nie bloot te doen gehad het met die mate waartoe mense benadeel is nie, maar veral met die manier waarop dit uitdrukking gegee het aan mag en legitimiteit. In die tweede hoofstuk vestig Ilaria LE Ramelli die aandag op die verband tussen asketisme en geregtigheid in die Christendom en Judaïsme. Ramelli bespreek interessante voorbeelde van mense/egpare wat hulle slawe vrygestel het en van hulle besittings afstand gedoen en die opbrengs aan die armes geskenk het toe hulle askete geword het, asook die optrede van monastieke groepe wat slawe vrygestel het wat by hulle aangesluit het. Vir hierdie persone/groepe het asketisme dus om meer as bloot selfbeheer gegaan. Dit het ook om geregtigheid gegaan; asketisme het gevolglik die onthouding van die onderdrukking van ander mense ingesluit. Arkadiy Avdokhin se bydrae fokus op ’n onderwerp wat, sover ek kennis dra, nog min aandag van akademici gekry het, naamlik die manier waarop Christus in Griekse homilieë en liedere in die vyfde en sesde eeue as ’n bevryder van skuldbinding aan die Satan uitgebeeld is. In hierdie tekste word Paulus se beeld van gelowiges as God se slawe verder ontwikkel om Christus as ’n “goeie rower” uit te beeld wat mense van hulle skuld en geestelike slawerny aan die Satan bevry het. In hierdie verband word Christus byvoorbeeld uitgebeeld as die vernietiger van die skulddokumente waardeur mense aan die Satan verslaaf was. Interessant genoeg het hierdie perspektiewe egter ook gelei tot die ontwikkeling van idees rondom ’n soort hemelse burokrasie waardeur gelowiges in diens van Christus uitgebeeld word! In die laaste hoofstuk in hierdie afdeling bespreek Maijastina Kahlos die verband tussen etnisiteit en slawerny in die Laat Romeinse era. Kahlos stel spesifiek ondersoek in na die manier waarop Christelike en nie-Christelike skrywers besin het oor die verslawing van mense van buite die Romeinse Ryk (die sogenaamde “barbare”). In beide gevalle het etnisiteit ’n belangrike rol gespeel in die wyse waarop die stereotipering van slawe plaasgevind het. In die geval van Christelike skrywers het die Ou-Testamentiese verhale van Esau en Gam ook ’n belangrike rol gespeel om slawe te stereotipeer.

..............
Die tweede afdeling handel oor slawerny, kulturele diskoerse en identiteit en bevat ook vier hoofstukke. Die eerste bydrae kom van Chris L de Wet. De Wet ontleed ’n Siriese verhaal uit die vyfde eeu getiteld Die lewe van Eufemia en die Goot. Die verhaal vertel hoe Eufemia gemanipuleer word om met ’n onbekende Gotiese offisier te trou. De Wet fokus op die diskursiewe dinamiek in hierdie verhaal: hoe diskoerse oor kulturele identiteit, etnisiteit, reg, oorlog, moraliteit en asketisme oorvleuel en die komplekse dinamiek wat rondom slawerny, ontheemding en asketisme in Sirië en Mesopotamië sigbaar word.
..................

Die tweede afdeling handel oor slawerny, kulturele diskoerse en identiteit en bevat ook vier hoofstukke. Die eerste bydrae kom van Chris L de Wet. De Wet ontleed ’n Siriese verhaal uit die vyfde eeu getiteld Die lewe van Eufemia en die Goot. Die verhaal vertel hoe Eufemia gemanipuleer word om met ’n onbekende Gotiese offisier te trou. De Wet fokus op die diskursiewe dinamiek in hierdie verhaal: hoe diskoerse oor kulturele identiteit, etnisiteit, reg, oorlog, moraliteit en asketisme oorvleuel en die komplekse dinamiek wat rondom slawerny, ontheemding en asketisme in Sirië en Mesopotamië sigbaar word. In die volgende bydrae vra Catherine Hezser wat Joods was omtrent Joodse slawerny in die Laat Antieke era. Hezser toon aan dat Joodse slawe-eienaars dikwels hulle slawe “bekeer” het en daarna gewoonlik probeer verhoed het dat hulle aan nie-Joodse eienaars verkoop word. Rabbi’s het eienaars ook gereeld gewaarsku teen geweld en die seksuele misbruik van slawe. Hoewel die vrykoping van Joodse slawe aangemoedig is, het dit nie op groot skaal gebeur nie en is dit gewoonlik beperk tot slawe wat werklik toegewyd aan die Joodse geloof was. Christine Luckritz Marquis skenk aandag aan slawe in die vroeg-Christelike Egiptiese monastiek, spesifiek hoe hulle in die werke van Paulus van Tamma en Shenoute van Atripe uitgebeeld word. Luckritz Marquis toon aan hoe moeilik dit is om hierdie tema na te speur, onder andere omdat daar so ’n groot verskeidenheid van terme in Kopties en Grieks vir slawe was en omdat daar nie altyd ’n duidelike onderskeid getref is tussen arm mense, slawe en monnike nie. Nietemin, as ’n mens tussen die reëls lees, lyk dit of van die kloosters self van slawe gebruik gemaak het. In die laaste bydrae in hierdie afdeling skenk Uiran Gebara da Silva aandag aan slawerny in Romeinse Gallië in die vierde en vyfde eeu. Da Silva toon aan dat slawerny ’n normale verskynsel in die platteland van Gallië was; nie net onder die elite nie, maar ook onder mense uit die middelklas en selfs onder kleinboere. Da Silva argumenteer ook dat die wyse waarop slawerny in hierdie geval toegepas is, verskil het van die manier waarop dit in ander dele van die Romeinse Ryk gebeur het.

...............
Die derde afdeling handel oor slawerny, sosiale geskiedenis en papirologiese en epigrafiese bronne en bestaan uit drie bydraes. Marja Vierros ondersoek slawerny in sesde-eeuse Palestina in die lig van papirologiese bronne, spesifiek die Petra papiri wat onlangs gepubliseer is.
..............

Die derde afdeling handel oor slawerny, sosiale geskiedenis en papirologiese en epigrafiese bronne en bestaan uit drie bydraes. Marja Vierros ondersoek slawerny in sesde-eeuse Palestina in die lig van papirologiese bronne, spesifiek die Petra papiri wat onlangs gepubliseer is. Vierros wys dat die inligting wat ’n mens hieruit kry, nie eenduidig is nie. Nietemin word slawe in ongeveer 10% van die papiri genoem, is hulle as eiendom hanteer (wat byvoorbeeld vererf kon word) en is daar ook verwysing na die vrystelling van (sommige) slawe. Die oorsprong van die slawe is onduidelik, maar die name van slawe is moontlik ’n aanduiding van hulle Semitiese en Griekse herkoms. April Pudsey en Ville Vuolanto bespreek die ervaring van slawekinders in Romeinse Egipte. Vir hierdie ondersoek het hulle 7 500 gepubliseerde papiri gefynkam. In hierdie bydrae bied hulle nie net ’n goeie oorsig van hoe kinderslawerny gefunksioneer het nie, maar bespreek hulle ook verskillende individuele gevalle wat ’n mens direk met hierdie tragiese verskynsel konfronteer. In die laaste bydrae in hierdie afdeling skenk Mariana Bodnaruk aandag aan die inligting wat epigrafiese bronne vanaf 260 tot die sesde eeu oor slawerny in die Laat Antieke wêreld lewer. Bodnaruk bied ’n oorsig van ’n groot aantal bronne: wetlike en sensusinskripsies, eervolle en votiewe toewydings, verwysings na slawe en vrygelate slawe in grafinskripsies en slaafhalsbande. Sy beklemtoon veral die interseksionele ongelykheid wat uit die oorsig blyk en betoog dat slawe se ervaring van ras en geslag grootliks beïnvloed is deur ’n sosiale klasverhouding waarin ’n mens se sosiale klas as ’n fundamentele as van onderdrukking gefunksioneer het.

...........
Die laaste afdeling handel oor die sosiale en godsdienstige geskiedenisse van slawerny aan die grense van die Ryk en verder.
............

Die laaste afdeling handel oor die sosiale en godsdienstige geskiedenisse van slawerny aan die grense van die Ryk en verder. Die eerste bydrae kom van Noel Lenski en handel oor slawerny onder die Wes-Gote. Die koninkryk van die Visigote het geduur vanaf 418 tot 720; tot en met 508 was hulle hoofstad in Gallië, maar daarna het dit na Spanje verskuif. Lenski toon aan dat slawerny ’n groot rol in hierdie koninkryk gespeel het en dat dit ’n hoogtepunt in die vyfde en sesde eeu bereik het, juis die era toe slawerny in die Romeinse Ryk begin plek maak het vir effens ligter vorme van onderdrukking. Die slawe in die Wes-Gotiese koninkryk is ook baie strenger hanteer as in die Romeinse Ryk. In die volgende hoofstuk bespreek Judith Evans Grubbs die sosiale en godsdienstige wisselvallighede in die lewe van die Briton Patricius, wat deesdae as die Heilige Patrick bekend staan. Gedurende die vyfde eeu is hy in Brittanje deur seerowers ontvoer en in Ierland verslaaf. Sy latere weergawes van sy ses jaar in slawerny, sy ontsnapping en sy terugkeer na Ierland om die evangelie daar verkondig, word deur Grubbs ondersoek en sy toon aan hoe Patricius se tyd as slaaf ’n invloed gehad het op die manier hoe hy homself gesien het en die houding wat hy later teenoor slawe ingeneem het. In die laaste hoofstuk ondersoek Ilkka Lindstedt die interpretasie van Quran 52:24, waarin daar na hemelse diensknegte verwys word. Lindstedt wys daarop dat latere uitleggers van die Quran hierdie verwysing op verskillende maniere verstaan het, maar dat dit in die laat Middeleeue geïnterpreteer is as ’n verwysing na slawe wat gelowiges in die hiernamaals sou dien. Sommige uitleggers van die Qumran het dit selfs as ’n verwysing na eunugs verstaan.

Bogenoemde kort oorsig behoort vir lesers ’n greep op die kerninhoud van die boek te gee, maar dit laat nie werklik reg geskied aan die magdom nuwe insigte en belangrike perspektiewe wat hierdie boek bied nie. Om dit regtig te waardeer, moet dit in die geheel gelees word. My oorheersende indruk van die boek is dat dit ’n uitstaande bydrae tot ons kennis van slawerny in die Laat Antieke wêreld maak – ’n onderwerp wat nog nie genoeg aandag van navorsers gekry het nie. Die boek bied uiters belangrike nuwe insigte oor die manier waarop slawerny in hierdie tyd gefunksioneer het en slaag beslis daarin om die kompleksiteit van slawerny in hierdie era aan die lig te bring, asook die immer veranderende aard van hierdie tragiese sosiale instelling. Ek beveel die boek dus sonder enige voorbehoud aan vir mense wat belangstel in hierdie tydvak, en selfs vir mense wat nie akademici is nie, maar wel in die geskiedenis belangstel.

  • DF Tolmie, Universiteit van die Vrystaat

Lees ook:

Elders gesien: Vandag is 1 Desember

Uit die argief: Die vrystelling van slawe

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top