
Foto van Amanda de Lange en die dam by Bona Bona: verskaf en verskyn met toestemming
Amanda de Lange vertel vir Naomi Meyer van ’n slypskoolgeleentheid - ’n skrywersretreat - wat binnekort plaasvind.
Amanda, vertel asseblief vir ons lesers van jou agtergrond. Wie is jy en waarom maak skrywers en skryfwerk vir jou saak?
Ek was vir 30 jaar ’n joernalis by onder meer Huisgenoot en Beeld en was ook die stigtersredakteur van die ouerskaptydskrif Baba en Kleuter.
Skryf is maar deel van my lewe. My eerste boek, ’n nie-fiksiewerk (Suurlemoenseisoen: herbou jou lewe in 52 weke), het in 2019 by Lux Verbi verskyn. My debuutroman verskyn in Februarie 2027 by Penguin Random House.
Toe ek in 2014 die joernalistiek verlaat het, het ek as spesialis-lewensafrigter (master coach) gekwalifiseer. As deel van my praktyk, bied ek ’n mentorskapprogram vir ontluikende skrywers aan. Ek is in die sonderlinge posisie dat ek nie net met ’n skrywer se talent kan werk nie, maar ook toegerus is om hulle te help om ander hindernisse te oorkom.
In die ses jaar waarin ek skrywers mentor het ek op ’n paar juwele afgekom met onervare skrywers wat werklike talent toon en ook wonderlike stories het om te vertel. Ek dink dis ’n voorreg en ’n eer om te help om daardie stories te ontwikkel.
Ek hoor jy bied ’n skrywersretreat in die middel van die winter aan. Wie is die skrywers wat by die geleentheid optree?
Die retreat is van 2–4 Julie by Bona Bona Wildplaas op Wolmaransstad. Ons is baie gelukkig om vir Leon van Nierop en Carla van der Spuy as fasiliteerders by die retreat te hê.
........
Die retreat is van 2–4 Julie by Bona Bona Wildplaas op Wolmaransstad. Ons is baie gelukkig om vir Leon van Nierop en Carla van der Spuy as fasiliteerders by die retreat te hê.
........
Wat ’n voorreg gaan dit nie vir die skrywers wees om vir drie dae lank onbeperkte toegang tot hierdie twee ongelooflik kundige skrywers se kennis te hê nie!
Wat kan mense by die retreat verwag? Waar is dit, wat is die kostes en wat is alles ingesluit?
Een van die bonuspunte van dié retreat is dat daar net plek is vir 10 mense. Daar sal dus meer as genoeg geleentheid vir elkeen wees om individuele aandag van die fasiliteerders te ontvang.
Daar is ook ses meestersessies (twee per dag) wat aangebied word deur die drie fasiliteerders. Elke dag maak voorsiening vir toegewyde skryftyd. Al die fasiliteerders sal ook deurentyd beskikbaar wees vir geselsies, vrae en kreatiewe gesprekke.
Die pakket – ’n ongelooflike R4750 – sluit in twee nagte se verblyf by Bona Bona se luukse vyfster-boskamp. Alle etes is ingesluit, asook ’n heerlike wildrit as bonus.
Voeg daarby luilekker kuiers om ’n langtafel saam met ander skrywers en die fasiliteerders – wat kan dan nou lekkerder as dit wees?
Wat is die verdere praktiese reëlings as mense daaraan wil deelneem? Wie kan hulle kontak en hoe tref mens verdere reëlings?
Alle deelnemers is verantwoordelik vir hul eie vervoer na en van die lodge. Belangstellendes kan Amanda de Lange kontak by 082 491 5308 of ’n e-pos stuur aan amanda@amandadelange.co.za.
Daar is net twee plekke oor – so gou spring as jy wil deelneem.
Dis nie die eerste keer dat so ’n retreat aangebied word nie, of is dit? Dalk kan jy ’n suksesstorie of terugvoer van ’n vorige geleentheid met ons lesers deel.
Dit is ons eerste retreat. Ons het die vorige twee jaar baie suksesvolle digtersweke aangebied – digters kan uitsien na die derde een in Augustus vanjaar.
Ek glo ons gaan wonderlike terugvoer hê ná die tyd. Daar is ook ’n verrassing of twee wat op die deelnemers wag waaroor ons nog nie kan praat nie.
Lees ook:

