Skrywersonderhoud: Bun Booyens oor 50 jaar met Fred

  • 0

Naomi Meyer gesels met Bun Booyens oor 50 jaar met Fred, Fred Mouton se beste spotprente.

Titel: 50 jaar met Fred, Fred Mouton se beste spotprente
Samesteller: Bun Booyens
Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781868429721

Hallo Bun, ons is aan die begin van ’n nuwe dekade en ek dink dis gepas om ook terug te kyk ─ ek kyk na die boek wat jy saamgestel het: 50 jaar met Fred, Fred Mouton se beste spotprente. Wat was vir jou die hoofdoel van hierdie boek?

Dit het eintlik nie as ’n boek begin nie. Ek wou aanvanklik net so veel as moontlik van Fred se oorspronklike prente skandeer sodat dit digitaal behoue kan bly, want baie van Die Burger se vorige twee spotprentkunstenaars se oorspronklike sketse het oor die dekades verlore geraak. DC Boonzaier, die koerant se eerste kunstenaar, het byvoorbeeld baie van sy sketse verkoop. Ek het toe ’n stuk of vierduisend van Fred se sketse laat skandeer en geïndekseer. Dit het ’n goeie ses maande geneem en toe dit klaar was, het ek gedog ek kan nou maar net sowel deurdruk en ’n boek saamstel.

As ’n mens probeer om ’n strookprent-geskiedenis van die land oor die afgelope vyf dekades saam te stel, waar begin ’n mens se navorsing? Hoe weet mens wat om te vat en wat om te los, wat om in te sluit en wat om uit te laat? Die geskiedenis is immers ’n onderwerp wat voortdurend herbekyk en as 't ware oorgeskryf word. Wat is die belangrikste gebeure? Of handel dit oor wat word die beste of op die mees gevatte wyse uitgebeeld?

Ek het begin met Fred se eerste sketse vir Die Burger, sodat ek kon sien hoe sy styl oor die jare verander het. Maar op die ou end was dit moeilik om die prente vir die boek te kies. Ek is tans besig om ’n seleksie vir ’n Fred-uitstalling by die Woordfees saam te stel en kyk weer deur alles en daar is waarskynlik genoeg goeie prente vir nog twee of drie boeke. Ek het maar net probeer om die vloei van die nuusgebeure min of meer te behou. Dit is wel makliker om ’n spotprentboek saam te stel as ’n konvensionele geskiedenisboek, want spotprente is in hul wese nie objektief of gebalanseerd nie. ’n Goeie spotprent is altyd effens moedswillig en impulsief. Net ’n enkele ding word elke dag geteken. Dis amper soos ’n koorspennetjie waarmee jy meet wat op daardie spesifieke dag voor op mense se gemoed is. Saam gesien vorm dit dan ’n eiesoortige storielyn.

Vanuit jou eie perspektief en omvangryke betrokkenheid by die koerantwese: wat het vir jou verander aan spotprente oor die jare en wat het dieselfde gebly, as mens so ’n vraag kan beantwoord?

Interessante vraag. Fred het onder sewe van die tien redakteurs in Die Burger se geskiedenis gewerk en jy kan beslis elk van hulle se hand in sy sketse sien. Jy kan ook die skadu van Die Burger se twee vorige spotprenttekenaars sien. Elders in die wêreld is bobbejane of ape byvoorbeeld ’n simbool van onnoselheid. By Die Burger het die bobbejaan van meet af in 1915 ’n verhewe status gekry. In Boonzaier se sketse was die bobbejaan die simbool van Suid-Afrika self – ’n werfbobbejan, vasgeketting en verneder deur Brittanje. Plattelanders kon hulself weer herken in TO Honiball se bobbejaanfamilie, Adoons-hulle. Wat het oor die jare verander? Die politieke situasie onder pres Zuma het geverg dat Suid-Afrikaanse spotprente meer onbeskof raak. Aan die einde van sy bewind was daar geen simpatie of genade oor nie.

Was daar spotprente van Fred Mouton wat vir jou uitgestaan het of wat jy dadelik onthou het terwyl jy met hierdie projek besig was?

Ek onthou ’n hele klomp uit my kinderdae. Dit wys jou net hoe sterk visuele indruk ’n spotprent kan laat. Die beste prente bly dié wat so ondubbelsinnig is dat geen woorde nodig is nie. Dit gesê, Fred is ook fyn met woordspeling.

Wat is die belang van spotprente in die joernalistiek, dink jy? Dink jy dat ek oorvereenvoudig om te meen dit was ’n vroeë voorloper tot multimedia-aanbiedings: video's, en ander aanlyn-inhoud?

’n Spotprent is ’n hoogs doeltreffende politieke wapen, soms ’n knuppel, soms ’n skalpel. Reeds in 1916 is daar in Die Burger geskryf van “die haas onweerstaanbare mag van ’n spotprent”. Politici is gewoond aan konflik, trouens vir hulle is dit dikwels ’n middel tot ’n doel, maar hulle is diep ongemaklik daarmee om die skyf van spot te wees. Hulle is liggeraak en kwesbaar daarvoor. Kyk maar na hoeveel miljoene rande se lastereise Jacob Zuma teen Zapiro ingestel het. Hy kon dit nie verdra dat iemand die spot met hom dryf nie. Ek dink Suid-Afrika se spotprenttekenaars het ’n baie groot bydrae gelewer om van Zuma ontslae te raak. Dit is ook moeiliker om ’n spotprentkunstenaar aan laster skuldig te bevind as ’n skrywende joernalis, dus skep visuele satire ’n bietjie meer beweegruimte. Die tweede deel van jou vraag: Ek dink nie spotprente was ’n voorloper van die digitale milieu nie. Dit het wel twee, drie eeue hand aan hand met die geskrewe joernalistiek geloop. Fotografie is waarskynlik eerder die voorouer van die hedendaagse digitale media.


 

Kom luister by die Toyota US Woordfees na die gesprek "50 Jaar met Fred", met Bun Booyens as gesprekleier,  Tony Leon en ander: Vrydag, 13 Maart om 18:15 in die Boektent.

 


 

Toyota US Woordfees 2020: volledige program

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top