Skrikbeeld staar uit die toekomsspieël: ’n lesersindruk van Water deur Hein Griesel

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Water
Skrywer: Hein Griesel
Uitgewer: Naledi
ISBN: 978-1-067235-01-7

...
Dié tragiese omgewing is die Suid-Afrikaanse platteland.
...

’n Opbloei in Afrikaanse spekulatiewe distopiese toekomsfiksie het die afgelope 10 jaar ontstaan. Werke wat aandag getrek het, was Horrelpoot (2006) deur Eben Venter, Wonderboom (2015) deur Lien Botha, Koors (2016) deur Deon Meyer, Stof (2018) deur Alettie van den Heever, Kraak (2018) deur Rouxnette Meiring, In ’n land sonder voëls (2020) deur Harry Kalmer, Skepsel (2020) deur Willem Anker en Simoelégri (2020) deur Jaco Fouché.

Water, kortverhale met deurlopende tematiek van onafwendbare apokaliptiese rampspoed in Suid-Afrika, deur Hein Griesel, is die nuutste toevoeging tot hierdie klein dog verbeeldingryke korpus.

Die omslag, ontwerp deur Ethan Nieuwenhuizen, wat oor die voor- en agterblad strek, dien as lokmiddel én waarskuwing. Die dramatiese kombinasie van swart en die kleur van vuur prikkel belangstelling, maar die kopbeen waaroor ’n slang kronkel, skedels en doodsbeendere verstrooi oor dorre gebarste grond, met dooie bome in die agtergrond, dien as voorafskaduwing van nagmerrieverhale. Die gloeiende rooi kol in die leë oogkas resoneer met die “duiwelse” rooi oog in die stikdonkerte wat “genadeloos” na Jan staar en hom tot raserny dryf in “Die huis van stilte” (39–41).

Die eerstepersoonsverteller in die eerste verhaal, “Water: Met ’n Mercedes kom jy ver”, trek lesers met sy persoonlike belewenis van desperate défaitisme in sy verhaal en in die verhale van karakters in die stories wat volg, in. Wonder bo wonder oorleef hierdie karakter vir ’n ruk, lesers leer hom ken as Jan, en in die laaste verhaal is hy, steeds in doodsgevaar, weer aan die woord.

Redes vir die lewensvernietigende ekologiese ramp is skynbaar die gevolg van sosiopolitieke misstappe wat gelei het tot kataklismiese “grondgrype” en “moord” (9), gewelddadige plaasmoorde (34– 5), plundering en brandstigting (20) (wat herinner aan die gewelddadige protes en wettelose strooptogte in Julie 2021 in veral Gauteng en KwaZulu-Natal) en morele agteruitgang.

In die almal-teen-almal-wêreld van Water is verwysings na diere wat met die dood geassosieer word, opvallend. Die verswakte spreker in die eerste verhaal rol sy dogter se lyk onder ’n verlate Mercedes in sodat aasvoëls en hiënas haar nie vreet nie (10), en die karakter in die slotverhaal ontkom ter nouer nood aan leeus wat hom jag (59–60).

Hiermee saam hang “verdierliking” van die mens, gereduseer tot “aasdier”. Die eerstepersoonsverteller in die eerste verhaal verwys na “my pens” (9), “my bek” (10), “vreet” (10). Sy sterwende vrou se mond is “soos ’n vrekkende vis wat suig na water op droë sand” (10).

Karakters ervaar hulself as wolwe. Wolwe-instink en -gedrag neem besit van die karakter in “Toe kom die wolf”; hy eien die “bekende gedrog” in die spieël as homself (23), en dit word sterk gesuggereer dat hy hom gewend het tot kannibalisme – die uiterste vorm van primitiewe verdierliking. In “Die kosmiese pofadder” dra die huisbewoner ’n wolfmasker, en vertel hoe die “kosmiese pofadder” (die Melkweg) hom gepik het en ’n kranksinnige wolf daarna sy wese betrek het (62). Hy “huil soos ’n waansinnige vir die maan” en bestorm kwylend sy besoeker met ’n byl met die doel om hom te vermoor en te eet. ’n Dramatiese wending volg wat by die leser weer die beeld van die krullende slang om die kopbeen van die voorplat sal oproep. Die “wolfkannibaal” van “Toe kom die wolf” en “Die kosmiese pofadder” is waarskynlik dieselfde persoon.

Die verkragter in “Ek soek die boer” dreig die uitgeteerde vrou: “Lê stil of ek eet jou kind sodra ek met jou klaar is” (13). “Aandete” en “Sappig” vorm saam ’n gruwelverhaal oor kannibalisme (16–21).

Die verhale is deurspek van ironie – waar diskrepansie tussen die verwagte en die werklike as verhaalstrategie aangewend word (Pretorius 1992:190).

So byvoorbeeld is ’n Mercedes simbolies van welvaart en gerief, maar die Mercedes in “Water: Met ’n Mercedes kom jy ver” en “Ek soek die boer” is verlate en nutteloos en word metafories van die morbiede landskap en karakters wat wegsink in ellende. Met die verlate motor sal niemand ver kom nie en die goue kaart en R2 000 kontant wat die hoofkarakter in die Mercedes vind, is van geen waarde in ’n gedegenereerde en gedehidreerde wêreld nie. Die ironie van die titel “Sappig” – die (mensvleis-) biltong is droog, taai, sout en allesbehalwe “sappig” –  beklemtoon dat Petru, soos ander karakters, van menslikheid en moraliteit, ontdaan is (19–21).

In “Offerhande” ontstaan ’n jukstaponering van teenstrydighede – Klara, wat haarself wou opoffer as slagoffer om die aandag te vestig op wrede plaasmoorde, ruil rolle met haar aanvallers as sy een doodskiet en die ander een op vlug slaan en die kameras wat die aanval moes vasvang, af was.

Jan, wat in meer as een verhaal opduik, roep in sy sterwensangs God aan (9, 14), maar sy smeking is sonder hoop op goddelike verlossing, en nihilisties. Tog bly daar ’n versugting na ’n hiernamaals – die “boer” in “Ek soek die boer” word metafories vir God en ’n salige ryk met water en kos in oorvloed. Genis in “Dead-end dreams” vereenselwig homself met Satan: Hy noem homself “Prins van Duisternis”, “Lucifer”, “evil”, maar soos God het “die duiwel nie sy kant van die deal gehou nie” en “[n]ou is hy in die hel” (24–5). Vloeke is eweneens wanhoopskrete wat karakters uit magteloosheid uiter.

Deur die sintuiglike te betrek word die beelding van ’n verskrompelende milieu versterk – banke, ongewaste lywe en lyke “stink” (10, 18, 30, 43, 61, 63) en ruik “vrot” (13, 42, 43, 60). Proe as sintuig word betrek deur karakters se gewaarwording van hul monde – droog, of hulle ervaar ’n slegte smaak (9, 10, 20, 22) of ruik of proe bloed (23, 41). Petru se stelling “Ek moet sê, als van haar proe lekker” (19) dui oënskynlik op Karen se tuisnywerheidterte, maar sinspeel op ‘n vermoede dat Karen een van Petru se kannibalismeslagoffers was. Oë is ’n herhalende motief: die sterwende Sarah se “mooi, bruin oë” word “glasig” (11); die verkragter gluur sy “prooi” aan met “lewelose geel oë” (13); en Petru se “koel, blou oë” weerspieël haar ysige genot in kannibalismemoord. Die wolfkannibaalmoordenaar is ’n “monster met rooi oë” (23); en Genis/Lucifer het “rooi babelas blou oë omsirkel met swart maskara” (24).

’n Herhalende motief is die messe, vuurwapens en byle waarmee karakters hulself verdedig, ander aanval met antropofagie as doel of om mee selfdood te pleeg (11, 13, 18, 35, 37, 40, 42, 55, 60).

Musiek word intertekstueel betrek. Genis, hoogs geïrriteerd deur Juanita du Plessis-treffers, se lewe het ontaard in ’n “vrot” “mengelmoes” (26). Hy het ’n voorliefde vir “metal”: Sy voormalige band, Nightmares of Nuclear Dreams, “was ’n voorbode”  van ’n wêreld wat “uitmekaar geval het” (24). Trouens, die hele bundel het ’n gevoel van “heavy metal”, gekenmerk deur kras stemme, harde tromme en aggressiewe,  verwronge elektriesekitaargeluide. Jan, in benewelde toestand langs die Mercedes, hoor die liedjie “Zombie” (1991) (aanvanklik verban deur die BBC weens die gewelddadige aard daarvan) (42) – daar word  na “Zombies” verwys – “die dood wat nader kruip” (43); die uitgemergelde vrou in “Ek soek die boer” “lyk meer na ’n zombie as na ’n mens” (12).

Tydens ’n makabere ritueel in “Wit dag” word ’n jong, swanger meisie onder toejuiging van opgesweepte toeskouers geoffer as simbool dat iets teruggegee word aan “Moeder Aarde” wie se “bloed uitgesuig” is (28).

In “Die Ewige Lewe-polis”, wat afspeel in 2999, versinnebeeld Johan Faber, wie se wetlik voorafbepaalde doodsdag aangebreek het, liggelowigheid – hy word bedrieg deur ’n opportunistiese verkoopsman wat goedgelowiges in ’n sotteparadys mislei (44–9). In ’n andersins vertroebelde boek sluip hier ’n stukkie humor in: Bloemfontein is ’n speelplek vir rykes aan die “Vrystaatse kus” en Hollywood is in “Mpumalanga” (46).

Meer as een verrassende wending wag in “Die eksperiment” (50–8).

Die sterk slotsinne van die verhale in Water is dikwels “oop slotte” wat lesers noop om hulle eie afleidings te maak.

Water, wat grootliks in ’n “nabye toekoms” afspeel, lewer skerp sosiale kommentaar op lesers se huidige wêreld waar brutale sosiopolitieke skendings toeneem wat kan lei tot ’n woesteny waar die mees basiese lewensmiddele, soos kos en water, onbekombaar gaan wees. Dié tragiese omgewing is die Suid-Afrikaanse platteland.

Die laaste (stukkie) verhaal betrek lesers direk: Die agtergrond en eerste reëls van ’n verhaal word gegee, en lesers moet dan self verder hul eie storie skep – ’n interessante, eksperimentele wyse om die bundel mee af te sluit.

Die bundel kon gebaat het by sterker redigering – “vinnig” is verkeerd gespel (44, 59); “kamers” in die laaste reël van die eerste verhaal moes dalk “krane” gelees het (dit word egter gesuggereer dat die man se selfdoodpoging misluk het en hy beland in ’n begrafnisondernemer-“kamer”). In die laaste reël op bl 61 het ’n oortollige “s” ingeglip.

Water lees maklik, maar dis moeilik verteerbaar, gemik op lesers wat hul verdiep in fiksie wat hulle uitdaag, wat hulle noop om verder te dink en te redeneer as net die milieu en storielyne van ’n fiksiewerk en wat die moed het om in ’n spieël te kyk waar die reeds dikwels ontnugterende hede in die toekoms nog verder verwring word en versomber. Wees dus gewaarsku: As jy in dié spieël kyk, staar ’n horribile dictu- skedelgruwelbeeld met ’n gloeiende kol in ’n hol oogkas dalk terug.

Hopelik het Hein Griesel met dié bundel kortverhale “spiere opgewarm” vir verdere bespiegelende, “sê nou maar net”-fiksie, wat hom ten volle tussen skrywers van Afrikaanse spekulatiewe fiksie sal posisioneer.

Bibliografie

Cloete, TT (red). 1992. Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM-Literêr.

Du Plessis, J. S j. Lirieke: Mengelmoeskardoes. Genius. https://genius.com/Juanita-du-plessis-mengelmoeskardoes-lyrics.

Lamb, G. 2021. Why have South Africans been on a looting rampage? Research offers insights. The Conversation, 15 Julie 2021. https://theconversation.com/why-have-south-africans-been-on-a-looting-rampage-research-offers-insights-164571.

Pretorius, R. 1992. Ironie. In Cloete (red) 1992, 190–2.

Savage, M. 2018. The tragedy that inspired Zombie – The Cranberries' biggest hit. BBC. https://www.bbc.com/news/entertainment-arts-42702781.

Walsher, R. 2025. Heavy metal. Britannica. https://www.britannica.com/art/heavy-metal-music.

Lees ook:

Apokaliptiek en veerkragtigheid

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: ’n onderhoud met Chantal Delsol oor die apokalips

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: in gesprek met René Girard oor die apokalips van ons tyd

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top