
Skermgreep: YouTube
- Leon van Nierop skryf ’n gereelde filmrubriek vir LitNet.
The roses
7/10
In teaters
Met Olivia Coleman en Benedict Cumberbatch
Regisseur: Jay Roach
Die grens tussen haat en liefde is so dun soos ’n lemmetjie. Miskien is daar tog iets soos liefde met gevoel, maar dit kan gou in spookasem met lemmetjies in ontaard.
Dit som miskien hierdie donker-komiese en selfs tragiese swart komedie op met sy wortels diep in ’n liefde met duimspykers in, asook haat vol skrapnel tussen die pogings tot kommunikasie.
Soos in Edward Albee se Who’s afraid of Virginia Woolf? en Danny de Vito se The war of the roses van 1989 word woorde soos koeëls uit ’n mauser op mekaar afgevuur, of selfs bokhael wat die slagoffer op verskeie teer plekkies tref soos die stukkies versprei.
Een van die grootste probleme wat die huwelik kan tref, is om in ’n gemaksone te beland. Verveling of apatie tree dikwels teen om en by sewe jaar in. ’n Egpaar sien mekaar as meubelstukke wat gepoleer moet word. Maar dan gebruik die egpaar skuurpapier om daardie houtoppervlakke (dun menslike velle) skoon te skuur, veral oor wonde. En hulle doen dit al laggende.
Selfs ’n huweliksberader werk nie, want die sielkundige wat Ivy en Theo Rose (met die ironiese vanne!) besoek, verklaar onomwonde dat sy hulle nie kan help nie.
“Maar is dit nie ’n bietjie onprofessioneel nie?” roep hulle gebelgd uit, maar sy slaan die deur moedeloos in hul gesigte toe. Nee, daar is geen salf om aan te smeer behalwe aambeiroom nie.
Aanvanklik lyk die probleempies soos klein jakkalsies wat die huwelikswingerd takel. Maar die jakkalse se tandjies raak al hoe skerper, die woorde smelt tussen die lipstiek oor die vokale, en bitter vinnig spoeg die egpaar die vokale na mekaar uit dat die suur spat. Konsonante huiwer nog melodieus in die lug. Vokale is die grofgeskut. Woorde wat op vokale eindig, soos “haattttt” of “swaappp” weerklink deur die stilte sodat die spoeg uit geskokte oë gevee moet word.
........
Op ’n vreemde manier is daar egter tog ’n klein stekie liefde tussen die beledigings. Dit is eintlik ’n masochistiese manier om te verklaar dat hulle mekaar steeds bemin ten spyte van die nare aantygings. Maar hierna raak hulle venynig en potskuurderwreed. Selfs regte koeëls vlieg later deur die lug.
........
Op ’n vreemde manier is daar egter tog ’n klein stekie liefde tussen die beledigings. Dit is eintlik ’n masochistiese manier om te verklaar dat hulle mekaar steeds bemin ten spyte van die nare aantygings. Maar hierna raak hulle venynig en potskuurderwreed. Selfs regte koeëls vlieg later deur die lug.
Die draaiboekskrywer, Tony McNamara, ondersoek waar die antagonisme tussen die rooskleurige kaartjies, minsame liefdesverklarings en die gewone gesprekke en planne vir die restaurant begin deurskemer. Maar ook hoekom hierdie twee, nes Martha en George in Who’s afraid of Virginia Woolf?, mekaar soos krygers van die woord met wreedaardige subteks takel.
Soms is daar vloektaal, maar fliekgangers is al so gepantser teen enige denkbare vierletterwoord dat die f- en c-woorde eintlik na halfgebakte liefdesverklarings tydens ’n maansverduistering klink. Wat hier gebeur, is dat hulle mekaar opnuut ontdek en eintlik die gruwelbeledigings (soos dat Ivy glad nie eers agterkom indien sy en Theo seksueel verkeer nie) skewe liefdesverklarings word. “Kom ons kyk of jy daarop kan verbeter, skat!” lê in die subteks.
Indien die volgende handgranaat ’n rukkie neem om te ontplof, wil-wil ’n verwronge liefde deurskemer. Hulle haat dit al hoe meer om mekaar lief te hê en probeer desperaat om nuwe vuur in die huwelik te blaas wat besig is om te blus. Maar dit klink of Oppenheimer besig is om ’n atoombom tussen hulle te vervaardig. Die vraag is: Wie gaan die bom in die hande kry?
Hulle is só reg vir mekaar, maar te verlief om aanvanklik deur sulke kleinighede soos beledigings ontspoor te word. Maar dan raak die prys hoër. Ivy wil die huis hê waaraan Theo as argitek so hard geswoeg het, en die kosbesigheid waaraan Ivy so hard gewerk het, kom ook in die gedrang. Die ironiese titel van die visrestaurant ontgaan ’n mens ook nie: We’ve Got Crabs.
Hierdie twee gebruik seekatte, lewende garnale, krewe en krappe om mekaar te teister. Hierdie kinderagtigheid kan nog as pynlike speletjies afgemaak word, maar wanneer prokureurs begin eise stel wat aan hulle sakke raak, word dit ernstig.
........
Terwyl jy lag, voel dit of jy ’n bord Daisy de Melcker insluk. Dis lag met ’n kreun en ’n geskokte uitroep. Hierdie rolprent is een groot bloosplesiertjie (guilty pleasure). Die lag bly nooit ver agter die skok nie.
........
Om die oorlog verder te ontleed sal toekomstige verrassings skaad. Fliekgangers moet maar self gaan ervaar wat gebeur.
Daar is twee swak plekke. Natuurlik is Benedict Cumberbatch en Olivia Coleman, wat ook die vervaardigers is, se spel uit die boonste rakke. Maar ’n ambivalente vriendin, oorspeel deur Kate McKinnon, wat dikwels te groot raak vir die rolle wat sy speel, en ’n selfbewuste Allison Janney as Ivy se prokureur, probeer telkens die kollig steel. Veral Janney, hoewel briljant, raak net te selfbewus. Sy trek neushare sonder ’n haartangetjie uit.
Terwyl jy lag, voel dit of jy ’n bord Daisy de Melcker insluk. Dis lag met ’n kreun en ’n geskokte uitroep. Hierdie rolprent is een groot bloosplesiertjie (guilty pleasure). Die lag bly nooit ver agter die skok nie.
Hoe meer die twee baklei, hoe liewer raak hulle vir mekaar.
Jy sal harder lag as ’n boor wat ’n teerpad probeer lap.
Kyk die lokprent hier: