
Skermgreep: YouTube
- Leon van Nierop skryf ’n gereelde film- en TV-rubriek vir LitNet.
Frankenstein (Netflix)
Met Oscar Isaac en Jacob Elordi
Regisseur: Guillermo del Toro
Na beraming is daar al ongeveer 49 films, TV-reekse en sogenaamde spin-offs van die Frankenstein-verhaal gemaak, om nie te praat van die groot hoeveelheid stories/films wat indirek daardeur beïnvloed is en verwerkings van die skeppingstema is nie.
Die bekendste Frankensteins is James Whale se legendariese gotiese weergawe in 1931, (“It’s alive!”); baie later die komiese gespot daarmee, Young Frankenstein (1974) deur Mel Brooks; die Kenneth Branagh-weergawe in 1994 met Robert de Niro as die monster; ’n 2004-weergawe; ’n TV-reeks in 2004; die sagte porno-hervertel van die verhaal wat Flesh for Frankenstein in 1973 gedoop is, met onder andere Paul Morrissey wat as skrywer/regisseur betrokke was; en I, Frankenstein in 2014 deur Stuart Beattie. Daar was selfs al ’n 1910-weergawe, ’n stilrolprent deur J Searle Dawley.
Die storie het, soos deur die eeue heen, mense bly fassineer en is telkens in ’n ander, dikwels meer groteske en misbruikte gedaante herskep.
Daar was selde nog so ’n deeglike, menslike, empatiese en realistiese weergawe soos Del Toro s’n, wetenskaplik verantwoord en met verduidelikings van hoe die wese gemaak is en hoe daar lewe in hom geblaas is, wat naastenby aanvaarbaar is of oortuig. En hierdie een spreek van ootmoed, navorsing, simpatie, filosofie oor die aard van menswees en ’n deeglike ontleding oor die verskil tussen lewe en dood. Dit verklaar onomwonde dat sommige mense (“wesens”) na die dood smag, maar nooit daardie “luukse” van verlossing sal ervaar nie. Die lewe kan erger as die dood wees.
En dit is waaroor hierdie Netflix-weergawe gaan. Oor ’n wese, of dan kreatuur, wat deur ’n selfsugtige, narsistiese dokter-wetenskaplike (Jason Isaac) geskep is sonder om behoorlik aan die gevolge van sy daad te dink. ’n Mens kan nie probeer God speel en met Sy skepping peuter nie, want die foute en probleme wat gedurende die menslike en geobsedeerde skeppingsproses ingesluip het, waarvan ’n ewige lewe een is, was skaars in die dokter-wetenskaplike se gedagtes. Die selfsugtige wetenskaplike se eksperiment en obsessie oor die mag oor lewe en dood het sy gedagtes gekaap.
’n Groot deel van hierdie meesterlike nuwe weergawe verduidelik die diaboliese proses van skeppingswaansin, maar betrek hierna die wese wat hoegenaamd nie die Grand Guignol of vorige gotiese weergawes se oordrewe gruwelmonster naboots nie. Dit wat soms soos ’n mummie uitgebeeld is met stokstywe arms, ’n skroef in die nek en dooie oë, waar die monster gedwing is om mense te vermoor. Dit bloot ter wille van ’n gepronk met spesiale effekte of wins by die loket.
Hierdie kreatuur of wese (gespeel deur Jacob Elordi) is van die begin af ’n tragiese figuur waarin die mens herkenbaar is wat sy eie liggaam self saam met Del Toro se nuuskierige kamera ontdek, maar vinnig besef dat emosies nie deel van sy skepper se selfsugtige motiverings was nie. Al waarna hy nou soek, aanvanklik vasgeketting, is aanvaarding, selfs liefde. En natuurlik ’n pa wat hom versorg en liefde gee.
Maar die dokter se eie pa (Charles Dance) het hom met ’n lat deur die gesig geraps indien hy foute maak, dus het die dokter permanente geestelike letsels in die proses opgedoen en haal hy sy wrok nou op sy “kind” uit.
Dit is in hierdie botsing waar die genialiteit van Guillermo del Toro se visie lê. Die mens as skepper, of dan, ’n pa wat volkome beheer oor sy kind het sonder inagneming van die gevolge van sy daad.
Dis presies dieselfde fout wat die dokter se pa gemaak het. Want die kreatuur is ’n skepping waarmee die dokter God eintlik troef. En wanneer die “monster”, soos hy ook genoem word, teen sy meester draai, vind daar ’n titaniese stryd plaas waar vergiffenis, dit wat die dokter nooit vir sy pa kon gee nie, nou ter sprake kom. Vergiffenis maak ’n ewige verdoemde lewe soms draagliker.
Dit beeld ook die dokter se kranksinnige wandade en die gevolge van sy magsbeheptheid uitstekend uit. Ook sy poging om die meisie op wie hy verlief geraak het, uitstekend gespeel deur Mia Goth, te beïndruk. Want die teenoorgestelde vind ironies genoeg plaas. Sy raak verlief op die wese, toon begrip en empatie vir hom as lewende entiteit en skaar haar aan sy kant, wat ’n ekstra dimensie na die tragiek bring na ’n wese wat bestaan maar nooit daar wou gewees het nie. Veral omdat liefde ’n emosie is wat hom nooit gegun is nie. Ook waaraan die dokter in sy selfsug nooit gedink het nie.
’n Lewe sonder liefde is erger as om die aarde te bewandel en te kan asemhaal.
Die dokter het ’n halwe wese geskep wat miskien kon funksioneer en loop, maar nie andersins uitdrukking kon gee aan wat hier binne-in hom kook nie. Hy dien as ’n pronkstuk vir die wetenskap en hoe ver dit al gevorder het. Dit is hierna dat die monster hande uitruk en op ’n skip beland waar hy vasgeketting en gevange gehou word om die wêreld van hom te beskerm, terwyl hý eintlik van die wêreld en wraaksugtige mense beskut moet word.
........
Visueel is Frankenstein weergaloos.
........
Visueel is Frankenstein weergaloos. Del Toro, bekend vir onder andere Crimson Peak en Hell Boy, is nie ’n groot voorstander van blote spesiale effekte nie, daarom is elke stel in die rolprent deur stelbouers ontwerp en onder Del Toro se toesig gebou – selfs die rare kasteel van die wetenskaplike. Ook die reuse-skip wat in die sneeu vasval, en die interieure ontwerpe van die vertrekke en natuurlik die duiwelslaboratorium.
Die detail in die laboratorium is so fyn deur die produksie-ontwerper uitgevoer dat ’n mens verdwaal raak tussen die realistiese buisies, drade en toerusting wat lewe in die kreatuur blaas. En natuurlik die weerligtoring wat die dokter eiehandig opsit. ’n Soort dodelike toring van Babel.
Jacob Elordi is uitmuntend as ’n wese wat die ene sigbare spiere is, met elke liggaamsdeel wat aan hom bygewerk is se snymerke sigbaar soos ’n stuk vleis in ’n slaghuis. Maar dit is die kreatuur se gesigsuitdrukkings, die melancholie in sy oë, die hartseer trek om sy mond wat meer karakter aan die wese gee, veral in Elordi se uitbeelding. Selde tevore is ’n karakter, wat meestal in rolprente as ’n karikatuur uitgebeeld is, só merkwaardig en menslik herskep. Dit teenoor Oscar Isaac as die dokter wat dikwels emosioneel buite beheer raak, teenoor die (grootliks) doodse kalmte van sy skepping. Die toneel waar ’n blinde die kreatuur as doodgewone mens aanvaar is ’n hoogtepunt.
Dit is jammer dat ’n mens nie hierdie manjifieke rolprent op die grootskerm kan sien nie, want die rolprent is te groot vir die Netflix-televisieskerm. Selfs die weergalose klankontwerp en musiek ondersteun elke beweging, nuanse en verandering wat plaasvind.
Frankenstein in Guillermo del Toro se veilige hande is ongetwyfeld die mees sorgsame en briljante weergawe van Mary Shelley se onsterflike roman van meer as 200 jaar gelede. Uitmuntend. Hier kom Oscars!
Kyk die lokprent:

