Skei of bly – die impak van hoë konflik in langtermynverhoudings

  • 2

Simon Berger op Unsplash

Die feesgety is vir baie mense ’n tyd van samekoms. Vir sommiges is dit ’n tyd van vreugde. Vir andere beklemtoon gesins- of familiegeleenthede die klowe wat bestaan. In hierdie artikel skryf Louis Awerbuck, na aanleiding van ’n onlangse akademiese artikel, oor hoëkonflikverhoudings en egskeiding.

Carien Zeeman en Sufran Smith se LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel "Sosiale merkers van hoëkonflikegskeidings waarby kinders betrokke is" van 19 November 2023 het betrekking.

Die navorsers poog om merkers aan te dui wat kan help identifiseer of ouers ná hulle egskeiding sal kan saamwerk in die beste belang van hul kinders. Sommige ouers se gedrag tydens die huwelik, asook gedurende die egskeidingsproses, voldoen soms aan sekere merkers van aanhoudende, intense konflik, en word gevolglik as hoëkonflikegskeidings beskou. Hoëkonflikegskeidings voorspel onheil vir die kinders se emosionele lot. Die hoofrede hiervoor is dat die meeste "hoëkonflikouers" eenvoudig volhard met hulle antagonistiese en konflikbelaaide gedrag teenoor mekaar nadat hulle geskei het. Natuurlik sal die meeste van die nuutgeskeides voorhou dat hulle slegs die kinders wil beskerm en geensins hul eie behoeftes wil laat geld nie, maar daar word geraam dat ’n skrikwekkende 10% tot 20% van egskeidings aan die merkers van hoëkonflikegskeidings voldoen.

Die verdere ongelukkige tameletjie aangaande die beëindiging van huwelike is dat ook egskeidings wat nie as hoëkonflikegskeidings kwalifiseer nie, gewoonlik met ’n goeie skoot konflik gepaard gaan. Daar bestaan nie presiese navorsing hieroor nie, maar met die beduidend hoë voorkoms van egskeidings wêreldwyd en in Suid-Afrika (tussen 40% en 50%) sou mens aanneem dat die beëindiging van ’n veel groter persentasie as 20% van huwelike (of langtermynverhoudings) vooraf met volgehoue, of ’n hoë vlak van konflik gepaard gegaan het. Ons verwys nie eers hier na egpare wat nie skei nie, en wie se huwelike dus die statistiek ontglip. Vele egpare en lewensmaats kom nie tot skei nie, of kán eenvoudig nie skei nie, maar leef as alternatief in chroniese konflik met mekaar. Die tragiese werklikheid is dus dat die meeste langtermynverhoudings of huwelike uiteindelik vir die meeste mense nie goed uitwerk nie, waarvan die grootste oorsaak chroniese, onopgeloste konflik tussen verhoudingsmaats blyk te wees.

...........
Die tragiese werklikheid is dus dat die meeste langtermynverhoudings of huwelike uiteindelik vir die meeste mense nie goed uitwerk nie, waarvan die grootste oorsaak chroniese, onopgeloste konflik tussen verhoudingsmaats blyk te wees.
...............

Die negatiewe invloed van ouerlike konflik op kinders is teen dié tyd goed nagevors en dit is welbekend dat die mees verpletterende effek van ’n egskeiding op die kinders gesetel is in die ouers se voortdurende aggressiewe gegrom vir mekaar. Ten minste kan kinders hopelik ’n groter mate van vrede ervaar as “hoëkonflikouers” uiteindelik uitmekaar gaan, maar wat van die aanhoudende argumente, koue oorloë, bitsigheid en geskel wat kinders moet deurmaak in huise van hoëkonflikouers wat verkies om nie die egskeidingsprokureur te besoek nie? Kinders wat jaar na jaar te midde van volgehoue ouerlike konflik moet leef, ervaar oor die algemeen chroniese emosionele stres en ontwikkel gereeld ’n chroniese veg-of-vlug-reaksie, dit wat in kliniese terme algemene angssteuring genoem word. Akademiese onderprestasie en ’n gesukkel om gesonde maats by die skool te maak is ’n verdere bekende uitvloeisel van ’n ouerhuis wat gevul is met emosionele kilheid en venynigheid. Dit is ’n neerdrukkende nagevorste feit dat kinders wat grootgeword het met volgehoue ouerlike konflik, geneig is om soortgelyke gedragspatrone in hulle volwasse liefdesverhoudings voort te sit. Chroniese konflik tussen huweliksmaats kan gevolglik vir ’n groot persentasie van mense ’n sirkulêre oorsaak-en-gevolg-monster word wat aanhoudend woedende babas baar.

............
Soms raak die argument "Ons hou uit ter wille van die kinders" dus dun gesmeer, en lei die hoë voorkoms van konflik in huwelike tot die tergende vraag oor watter benadering éintlik die kinders se heil die beste beskerm. Om in voortdurende konflik te moet leef ter wille van hulle sogenaamde beste belang, of om eerder vreedsaam in twee huise groot te word?
.............

Soms raak die argument "Ons hou uit ter wille van die kinders" dus dun gesmeer, en lei die hoë voorkoms van konflik in huwelike tot die tergende vraag oor watter benadering éintlik die kinders se heil die beste beskerm. Om in voortdurende konflik te moet leef ter wille van hulle sogenaamde beste belang, of om eerder vreedsaam in twee huise groot te word? Uiteraard kan mens verstaan dat vele mense eerder in onaangename huwelike sal bly ter wille van die kinders. Niemand trou tog om te skei nie. Egskeiding is ’n groot stap, en ’n proses waar beide partye meestal verloor, op ’n praktiese sowel as ’n emosionele vlak. ’n Swetterjoel faktore kom ter sprake uit protes die oomblik wanneer daar gedink word aan skei. Godsdienstige en/of morele besware speel soms ’n groot rol. Gereeld is die finansiële implikasies van ’n egskeiding op die kinders van so ’n aard dat dit amper nie moontlik is om te skei nie. Verder blyk die versugting na die ideaal van ’n "kerngesin" (twee ouers en hul kinders onder een dak) ’n groot motiveerder vir mense te wees om nie uitmekaar te gaan nie. Dit ten spyte daarvan dat die begrip eintlik geruime tyd nie meer van krag nie, en dat daar tans meer saamgestelde gesinne bestaan as die tradisionele "kerngesin" van ’n paar dekades gelede.

Daar is ook die meer selfgesentreerde motiverings, of alibi’s, wat algemeen voorgehou word onder die dekmantel van die kinders se welsyn. Al slaap ons lankal nie meer in een bed nie, al skinder ons van mekaar by ons aparte vriende, en al kan ons mekaar se aangesigte nie verdra nie – is skei nie ’n opsie nie. Egskeiding word amper as ’n persoonlike mislukking ervaar deur sommige mense. Soms is dit so eenvoudig soos individue wat gewoon nie alleen wil wees nie, nie bereid is om in ’n kleiner, ongeriefliker huis te woon nie, of bloot nie die sosiale stigma en marginalisering wil deurmaak nie. In sommige gevalle is daar geldige (meestal praktiese) argumente vir waarom dit beter is vir kinders om eerder in permanente hoëkonflikhuishoudings groot te word as dat ouers skei. Al is dit eg menslik, en al is dit gewoonlik nie doelbewus nie, is dit telkemale die ouers wat op vele vlakke nie regtig bereid is om ’n enkelbestaan te voer nie, en gevolglik verbete vasklou aan die “dit-is-beter-vir-die-kinders”-teorie as om die nare werklikheid te erken.

...............
Die nare werklikheid is dat daar meestal nie ’n goeie argument te voer is ter ondersteuning daarvan dat ouers liewer in chroniese hoëkonflikhuwelike/-verhoudings moet bly ter wille van die kinders nie. Indien ouers sou verkies om week na week met mekaar te veg dat die hare waai onder een dak, is die nare werklikheid verder dat dit dan heimlik oor die ouers se belang gaan, en nie in die beste belang van die kinders soos wat luidkeels voorgehou word nie.
................

Die nare werklikheid is dat daar meestal nie ’n goeie argument te voer is ter ondersteuning daarvan dat ouers liewer in chroniese hoëkonflikhuwelike/-verhoudings moet bly ter wille van die kinders nie. Indien ouers sou verkies om week na week met mekaar te veg dat die hare waai onder een dak, is die nare werklikheid verder dat dit dan heimlik oor die ouers se belang gaan, en nie in die beste belang van die kinders soos wat luidkeels voorgehou word nie.

Lees ook:

Sosiale merkers van hoëkonflikegskeidings waarby kinders betrokke is

Everyone's Guide to Divorce and Separation, Bertus Preller

  • 2

Kommentaar

  • Elize Doherty

    Waar kan ek die boek "Everyone's guide to divorce and separation" deur Bertus Preller kry?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top