Everyone's Guide to Divorce and Separation, Bertus Preller

  • 0

Boektitel: Everyone's Guide to Divorce and Separation
Outeur: Bertus Preller
Uitgewer: Random House Struik
ISBN: 9781770225299

Ons leef vandag in ‘n wêreld van toenemende vloeibaarheid en pluraliteit op die vlak van persoonlike verhoudings. Die een dag besluit jy en jou beste vriend nog om lewenskoste te beperk deur ‘n woonstel te deel en die volgende dag word die platoniese vriendskap iets meer en julle woon voortaan saam as man en vrou. Of man en man. ‘n Paar jaar later besluit julle om te trou. As julle ‘n eendersgeslagtelike verhouding bedryf, moet julle deur die hekke van die Wet op Burgerlike Verbintenisse, 2006, toegang verkry tot die twyfelagtige groener gras van die huwelik. Heteroseksuele saamwoners het ‘n addisionele (en meer konvensionele) wet beskikbaar waarvolgens hulle in die huwelik kan tree – die Huwelikswet van die Jaar van Onse Heer 1961. As julle byvoorbeeld in Tamboerskloof saamwoon en besluit die huwelik is nie wat julle en ander eende van julle dam wil hê nie, hoef julle nie te trou om die verbintenis regtens erken te kry nie: die 2006-Wet maak voorsiening vir ‘n burgerlike vennootskap wat presies dieselfde gevolge as ‘n huwelik het.

Ek het al hierdie dinge geweet voordat ek hierdie uiters leesbare en akkurate boek onder die oë gehad het, omdat ek vir ‘n regsfakulteit werk en self betrokke was by die totstandkoming van die 2006-Wet. Vir diegene wat tans in ‘n saamwonery van een of ander aard verkeer, dit oorweeg om een of ander Groot Stap (insluitend skeiding van tafel en bed) te doen en nié in die regsberoep werk of betroubare vriende daarin (skaars spesie) het nie, kan ek Everyone’s Guide to Divorce and Separation aanbeveel.

Die titel is ondeurdag. Hoewel die regstema van geregtelike skeiding prominent daarin bespreek word, soos die titel aandui, handel groot gedeeltes daarvan oor die regsgevolge van die totstandkoming van ‘n huwelik of ander permanente saamwoonverhouding. Selfs die gevolge van die totstandkoming van die ouwêreldse “verlowing” (en wat die lô sê oor die verloofring wanneer jy dit in sy gesig terugsmyt) word met erns bespreek. En as lobola deel was van jou huweliksonderhandelinge en jy is getroud ingevolge die Wet op Erkenning van Gewoonteregtelike Huwelike, sal jy interessante dinge lees oor hoe om te verhoed dat jou man se aanhoudende trouery jou nie finansieel benadeel nie.

‘n Groot gedeelte van die boek handel oor die onwillekeurige partye tot ‘n saamwoonverhouding: die kinders. Daar is ‘n omvattende bespreking van wat die verantwoordelikhede teenoor kinders in ‘n gesin is – veral wanneer die ouers se saamwoonverhouding tot ‘n einde kom en ook in gevalle waar Ma en Pa eens saamgewoon, of ten minste saam verkeer, het, maar by geboorte van die kind reeds aanbeweeg het. Die boek stel dit in hierdie konteks direk en duidelik: die kind(ers) sit met die gebakte pere van julle mislukte verhouding sonder dat hulle daarvoor gevra het. Die allerminste wat julle kan doen, is alles in julle vermoë ten einde te verseker dat hulle so onbeskadig as moontlik uit die puin van julle verhouding tree.

Bostaande is maar een rede waarom die skrywer (‘n prokureur) daarvoor pleit dat egskeidings nie in litigasie behoort te eindig nie. Daar is merendeels slegs verloorders in ‘n bestrede egskeiding, en té dikwels, waar kinders betrokke is, is dit húlle wat as pionne in die vuilspel gebruik word en die meeste verloor.

Benewens ‘n omvattende verduideliking van die egskeidingsproses bevat die boek ook heelwat praktiese wenke vir mense wat deur so ‘n proses moet gaan (waartydens gesinsgeweld nie uitgesluit word nie, daarom die hoofstuk oor laasgenoemde). Dit het my lank geneem om die bul by die horings te pak en hierdie boek te lees, want egskeiding is nooit ‘n aangename onderwerp om oor te dink of te lees nie – ons dink veel eerder aan die feeste van die huweliksdag. Maar as jy jou in ‘n skeidingsituasie bevind (en nie in die regsberoep werk of daarin bevriend is nie), moet jy jou, soos vir enige stryd, hoe gemoedelik ook al, bewapen. En Preller se boek is ‘n sterk wapen. Kry dit.

Jaco Barnard-Naudé is professor in regsfilosofie aan die Universiteit van Kaapstad.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top