Dit is Kasper se laaste kans hierdie. Tyna spuit die hok vandag met buitengewone drif skoon. Nog een keer sal sy ekstra hard probeer om die verhouding te herstel. Net dié keer.
“Ma gaan ’n bietjie oorboord,” sê James toe hy die soveelste keer verby haar swembad toe stap.
“Ek weet, ek wil dit graag ekstra skoon hê. Die voëlfluisteraar kom dié week.”
“Dit klink creepy, Ma. Sê eerder ‘bird whisperer’.” James lyk geïnteresseerd. “Ma weet Kasper gaan vir daai ou álles vertel.” Hy maak kamma-aanhalingstekens met sy vingers.
“Miskien moet die waarheid maar sy loop neem, James.”
“Hy gaan vir seker vertel hoe Ma hom helder oordag met die kombers toegooi as hy skree, tot Ma se bui bedaar. En hoe Ma hom vir daardie kort tennis-outjie wou gee.”
“Wat my betref kan hy vir hom vertel wanneer laas ek in die kerk ook was,” sê Tyna.
James kyk lank na haar voor hy met sy nat voete stap tot in die sonkamer, waar Kasper op die stoel se leuning wag vir sy hok. Hy tel die papegaai op tot teen sy bors, bak sy regterhand oor die voël se rug en streel die vere tot sy ogies toetrek. Voor hy hom terugsit, fluister hy in Kasper se oor: “Good luck daarmee, Ma.”
Tyna moet haar bedwing om nie dadelik oop te maak toe Ferdie de Waal die klokkie lui nie. Sy staan eers net ’n ruk stil, dan maak sy oop. Hy is ’n donker rank van ’n man. Sy oë sit diep en naby mekaar. Sy verstaan nou hoekom die voëlboere hom Valk noem.
“Daar’s niks wat daai ou nie in ’n voël se oë kan sien nie,” was iemand se kommentaar. Ander het sy stem en “aura” aangeprys. Hoe dit ook al sy, hierdie man mag vir Kasper weer laat onthou hoe verknog hy eenmaal aan haar was.
“Net ’n glas water, asseblief,” keer Ferdie voor Tyna die bakkie neute kan neersit. Hy haal ’n lêer uit sy leertas en gaan sit op die stoel naaste aan die tafel. Hy wag dat Tyna tot rus kom, dan leun hy vooroor. “Ek wil jou gerusstel. Onkunde ten opsigte van voëls as troeteldiere is universeel. Ek gaan jou nie verveel met statistiek nie.”
Tyna weet waarop die gesprek afstuur.
“Niemand hou daarvan om oor die dinge te praat nie,” gaan hy voort, “maar om ’n papegaai te hê, verg verantwoordelikheid. Net vir interessantheid: Was jy bewus van die lewensduur van ’n ringnek toe jy hom destyds gekoop het?”
Haar skouers voel skielik nog swaarder. “Nee. Ek was ook nie bewus daarvan dat tieners in monsters verander ná vyftien nie. Nog minder dat my man op veertig ander weivelde sou kies nie. Ek was maar redelik naïef oor ’n paar dinge.” Haar gesig gloei oor haar voorbarigheid.
“Ek verstaan. Alles is nie altyd konkreet en voorspelbaar nie, jy’s reg.”
“Ekskuus. Dit was totaal onnodig,” sê Tyna vinnig.
“In die haak. Kom ons begin by die probleme waarvoor ons oplossings het.” Ferdie blaai tot by haar navraag in die lêer op sy skoot.
Hy hou die brief ver voor hom en lees die sinne in rooi onderstreep: “Kasper is handgrootgemaak. Ek is sy primêre versorger. Hy kon vrylik beweeg in die huis en is saans toegemaak. Hy het verdwyn voor hy twee jaar oud was. Ek vermoed hy het afgedwaal agter die stemme van die kinders aan by die trampolien.
“Sy lang stertveer in die tuin, die silhoeët van die bure se kat op die muur, het my twee en twee bymekaar laat sit. Hy kon nie vlieg nie. Sy een vlerk was geknip. Na maande van kennisgewings en navrae het ek moed verloor dat Kasper nog leef. ’n Jaar en ’n half later het ’n oproep van die plaaslike haarkapper my geskok én verras …”
Ferdie sit die brief neer en kyk na Tyna. “Nou is dit eers my en Kasper se beurt.”
Sy stap vooruit tot in die sitkamer waar die papegaai tjoepstil op sy hok sit.
Hy sit daar asof botter nie in sy bek kan smelt nie, dink Tyna en trek die deur agter haar toe.
Vandag verg dit inspanning om haar gewone dagtake af te handel. Sy bly wonder hoe hy dit regkry om te hoor wat vir Kasper pla. As sy net kan skelm kyk wat hy doen. Tyna knip die gedagte kort. Haar wange vlam weer oor vanoggend se verleentheid.
Die ure rek. James kom al amper van die skool af. Sy kan haar voorstel hoe vermakerig hy sy insette sal deel. Die besluit om Ferdie se hulp in te roep voel nou vir haar na ’n fout.
Tyna maak ’n koppie rooibostee met heuning.
Sy wip toe sy Ferdie se stem agter haar hoor. Hy gaan oorkant haar sit en haal sy potlood uit. “Vertel my van daardie oproep.”
Sy vou haar hande en begin vertel: “In die Karoodorpe ken almal mekaar. Die haarkapper is soos die nuusashoop. Daar is min wat mense nié uitblaker in die ure wat hulle daar sit nie. Die kliënt het haar vertel van die papegaai wat ’n jaar en half terug by hulle aangeloop gekom het. Sy was skynbaar onbewus van die soektog na hom. Hy was swak en honger en verwaarloos. Later het hy die naam Kasper, in verskillende intonasies, herhaaldelik bly sê.
“Riekie was oortuig dis ons papegaai. Sy het twee ure se gesprek met die kliënt in vyf minute oor die foon afgerammel. Dit was die bure in die verste hoek. Ons erwe oorvleuel net met een hoekpaal. Daar was ’n hok met nog voëls buite, maar Kasper was blykbaar binne gehou omdat hy kon praat. En hy was nooit uitgehaal nie, want hy het die vrou gebyt toe sy hom wou optel. Bid jou aan …
“Ek het die foon neergesit, my kinders geroep en aanhou hardloop tot voor hulle huis.”
“Jy besef dat Kasper julle elke dag kon hoor?” sê Ferdie. Tyna frons. “Hy kon nie meeding met die papegaaie se geraas buite nie, daarom het hy die woorde herhaal wat jy hom geleer het. Om te wys dat hy deel is van julle trop. Maak dit vir jou sin?”
“Absoluut.”
“Gaan voort,” sê Ferdie en leun weer terug.
“Die vrou het oopgemaak voor ek kon klop. Sy het gehoor hoe die kinders Kasper se naam uitroep. Haar dogter het hom voordeur toe gebring.” Tyna sluk. “Kasper in die kleine hokkie met geen stok of ruimte om eers om te draai nie. Ek het my vuis deur die hekkie gedruk. Hy het soos ’n klein voëltjie in die holte van my hand kom lê. Vir lank het hy so gebly, sonder om een sekond op te hou met praat.
“Daarna was hy stil. Vir maande. Hy het soos ’n vlermuis aan die bokant van sy hok gehang. Drie maande later kon hy weer op ’n stokkie sit. Nog later het hy begin praat. Hy wou niks van my weet nie. Net die kinders en huishulp kon naby hom kom. Toe kom die egskeiding. Groter verlies … vir hom, vir ons almal.” Tyna stoei teen die emosie.
“Deernis, die een ding wat ons as spesie bly ontwyk,” sê Ferdie asof dit eerder ’n gedagte moes wees.
Tyna kyk op.
“Ek is jammer oor die trauma wat julle as gesin moet hanteer. Julle almal, Kasper ook. Dit sal tyd neem, maar moenie moed opgee nie,” sê hy. “Kasper wil jou vergewe, maar hy wag dat jy hom daarvoor vra.”
“Jy bedoel ek moet jammer sê omdat ek ophou soek het na hom?”
“Ja. En dat hy in sulke omstandighede moes bly. Hy voel verraai, want hy kon julle hoor.”
“Ek dink ek verstaan,” sê sy.
“Mense onderskat diere se oordeel dikwels. Jy was sy naelstring. Vir hom begin en eindig alles weer by jou. Begryp jy?”
“Wanneer vra ek om verskoning?”
“Jy sal weet,” sê Ferdie.
Tyna trek die gordyne in die eetkamer wyd oop. Die winter byt al minder soggens. ’n Vreemde beweging trek haar aandag in Kasper se hok. Vir ’n oomblik dink sy hy is nie daar nie. Sy kyk weer.
Dan sien sy dit. Kasper hang soos ’n vlermuis wiegend bo in sy hok. Koue sweet loop by haar armholtes af. Dis nou; dís die tyd waarvan Ferdie gepraat het. Die oomblik waarin sy sal wéét …
Tyna stap stadig nader totdat sy Kasper se ronde onderstebo ogies kan sien. Sy buk.
James leun teen die kosyn. Tyna laat sak haar boek en kyk op.
“Kasper is nou anders, Ma,” sê hy en kom sit langs haar op die bed.
“Hy is ja, uiteindelik.”
“Well done daarmee, Ma …” Hy sit sy arm onbeholpe om haar skouer. “Jammer dat ek vir Ma onnodig gas gee, partykeer.”
“Dis oukei, James.” Sy rus haar kop teen sy skouer. Nou eers voel sy hoe lig sewentig maal sewe keer is.
Lees ’n kort onderhoud met Marianne Vorster-Meyer oor “Sewentig maal sewe” hier:
Korona-kortverhaalfees: Marianne Vorster-Meyer oor "Sewentig maal sewe"
Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

