Seeperde: ’n skrywersonderhoud

  • 0

Seeperde
Naomi Meyer
Pan Macmillan South Africa
ISBN: 9781776252978

Anschen Conradie vra vir Naomi Meyer oor Naomi se jongste boek, Seeperde. 

Naomi, hoe heerlik om ’n roman vir die jonges met my gunstelingdiere in die hoofrol te kon lees! Het jy gedink, toe jy in 2021 die Stalmaats-onderhoud met Jaco Jacobs / Lize Roux gedoen het, dat die skoen in die toekoms aan ’n ander voet sou wees?

Hallo Anschen, en dankie vir jou belangstelling. Ek sal nie probeer om in Jaco Jacobs se skoene te klim nie – veral nie sy atletiekskoene nie. Hy’s veels te fiks! Ek en my dogter (sy het enkele dae gelede 13 jaar oud geword) het heerlik aan die Stalmaats-boeke gelees en ook stapels van sy ander boeke. Ons het ook baie boeke van ander kinder- en jeugboekskrywers gelees, en daarom het ek teen die tyd dat ek Seeperde begin skryf het, ’n goeie idee gehad van watter soort boeke binne hierdie genre gepubliseer word. Maar op die ou end skryf mens met jou eie stem en jou eie styl.

Vertel asseblief van jou eie reis met perde. Ek sien dat jy Kirsty Wandrag bedank vir alles wat sy vir beide jou en Maja, jou dogter, van perde leer. Ry jy self, of het jy in die verlede? Hoe het Maja by perde betrokke geraak?

Maja is waar my eie reis met perde ook begin het. Ek is lief vir diere en plante, maar het nie voorheen self perd gery nie. ’n Paar jaar gelede het ’n maat van Maja hier kom kuier en hulle het met Lego Friends en perde gespeel. Die maat ry perd en Maja het baie meer in perde belanggestel as wat ek gedink het sy sou. Ons het eenkeer naby haar laerskool na die perde gaan kyk by die perdeskool waar sy nou les neem. Ek het gedink sy gaan dalk bang wees vir die intimiderend groot perde (sy was nege of tien), maar sy wou dadelik op die perd se rug klim. Toe sy eers opgeklim en ’n ent gery het, het haar perdryafrigter omgedraai en vir my geknipoog. “You have a problem,” het sy gesê. Maja neem sedertdien les en ek het self baie van perde geleer. Kirsty het al dikwels my vrae oor perde beantwoord. Ek en Maja het ook al in Fisherhaven na die wilde perde gaan kyk. Ons het naby Kleinmond gaan perd ry en daar het ek ook vir die afrigters oor sake gevra waaroor ek onseker was. So om my huiswerk oor perde te doen het spontaan gebeur en dit was pret! Ek dink perde is wonderlike diere. En hulle is terapeuties daarby. Mense wat lief is vir perde, vergeet van die res van die wêreld as hulle op hul lieflingperd se rug is. Ek het dit met my eie oë gesien.

Jou vorige roman vir die jeug, Ruik jy die filmster?, se protagonis, Carmen, was 15 jaar oud. In Seeperde is Stella 12. Waarom jou besluit om vir jonger lesers te skryf?

Dit was maar weer te danke aan Maja. Johannes, my seun, is nou amper 17. Hy lees regtig baie verskillende boeke. Maja het ’n paar jaar gelede nog nie baie self gelees nie (net gretig aangehoor as ek vir haar voorgelees het), maar dit was op die ou end nie my eie boek wat haar aan die lees gekry het nie. Dit is ’n kwessie van die regte boek op die regte tyd en daar is so baie lekker Afrikaanse kinderboeke wat verskyn dat mens maar net in die biblioteek of boekwinkel kan gaan kyk en iewers sal die regte boek sy opwagting maak. Maar waarom ek hierdie boek vir lesers van so ongeveer 12 geskryf het? Dis omdat ek baie gelees het en met my kind gepraat en haar en haar maats se manier van praat en belangstellings afgeluister het.

...........
Maar waarom ek hierdie boek vir lesers van so ongeveer 12 geskryf het? Dis omdat ek baie gelees het en met my kind gepraat en haar en haar maats se manier van praat en belangstellings afgeluister het.
.............

Seeperde se omslag, beide die voorbladillustrasie en die lokteks op die agterplat, skep die indruk van grootoog verwondering en kinderlike naïwiteit, tog ondersoek die teks temas soos boeliegedrag en egskeiding. Hoe het jy die balans tussen die volwassene-temas en die onskuld van jong kinders gehandhaaf?

Seeperde is (hopelik) ’n lekkerleesboek en ’n kinderboek! Ek het nie probeer om temas te ondersoek nie; ek het ’n tema gekies wat my en my dogter geïnspireer het – naamlik perde. Ek dink ook dat ervarings soos van kinders wat ander kinders afknou en soms boelie, deel is van kinders se verwysingsraamwerk en lewenservaring. Ek het eintlik maar net ’n storie probeer skryf waarin kinders van daardie ouderdom hulleself sal kan herken. ’n Storie wat hulle sal kan laat ontvlug, daarby. Na ’n ander plek toe vat. Soos ’n boek veronderstel is om te doen. Ek het nie regtig gedink hoe ek tussen volwassene-temas en onskuldige temas vir kinders moes onderskei nie. 

Is dit nodig dat kinder- en jongvolwassenefiksie “lesse” moet insluit?

My uitgewer, Miemie du Plessis, gee doelbewus boeke uit wat kinders inlok met lekker lees eerder as boeke wat kinders doelbewus iets leer. (Om te lees en lekker te lees is opvoedkundig al is dit lekker! Dit stimuleer die brein!) ’n Boek vir kinders het ’n verantwoordelikheid tov ’n morele kode. Ek dink dit moenie in die gedaante van ’n les plaasvind nie, want kinders ruik dit ’n myl ver. En wat is nou prettig daaraan? Maar ’n kinderboek moet ook herkenbare protagoniste en antagoniste hê, hoewel albei soorte karakters grys kante het. Anders is dit ook onrealisties. Hoofsaaklik is die storie waaroor dit gaan. Wat is die raaisel om op te los, die sogenaamde quest? Ek dink dis waaragter ’n kind, net soos ’n volwassene, aanlees.

.........
Wat is die raaisel om op te los, die sogenaamde quest? Ek dink dis waaragter ’n kind, net soos ’n volwassene, aanlees.
............

Stella voel aanvanklik dat Billy ’n towerperd is, omdat hy al haar probleme laat verdwyn. Later besef sy dat hy haar dalk eerder in staat gestel het om die towerkrag in haarself te ontdek. Dit herinner my aan die Toni Robinson-aanhaling: “Horses change lives. They give our young people confidence and self-esteem. They provide peace and tranquility to troubled souls, they give us hope.” Het jy dit ooit self ervaar?

Ek dink een van my antwoorde hier bo beantwoord iets van hierdie vraag. Hoe meer ek van perde uitvind, hoe meer hou ek van hulle. Ek moet erken dat baie diere hierdie rol in mense se lewens kan speel. Dink hoe belangrik is ’n hond of ’n kat vir die meeste van ons. Hulle is soos ’n lid van die gesin! Ek dink enigeen wat lief is vir diere sal iets verstaan van wat my hoofkarakter vir haar perd voel.

Dit bekommer die perdewêreld dikwels dat perde geromantiseer word – dink maar aan My little pony. Jou teks wys egter duidelik op die feite: Die onderhoud van perde is duur; hulle word siek en veeartse word benodig. Het jy doelbewus hierdie realiteit ingewerk?

Dis ’n storie met perde, so dinge wat met perde gebeur, gebeur met die perde in my storie. Ek het ’n verantwoordelikheid as skrywer om iets lekkers te skryf wat die kinders hopelik sal laat lees, maar ook iets realisties genoeg. Ja, perde is fantasties. Ja, perde word ook siek en kos baie geld. Mens kan nie oor perde skryf en dit nie in gedagte hou nie. Die storie gaan lesers ook doodgewoon laat ontvlug, of hulle nou self perd ry, of nie.

Seeperde is voltooi tydens ’n skrywersresidensie in Paulet House, Somerset-Oos. Vertel asseblief meer?

Ek het die voorreg gehad om verlede jaar in Somerset-Oos te kon gaan skryf. Ek was drie weke lank op ’n Jakes Gerwel PEN Afrikaans-skrywersresidensie. Ek het ’n eerste weergawe van ’n volwasseneroman daar voltooi, en die eerste twee dae van die residensie gebruik om te gaan sit en uit-ein-de-lik Seeperde af te handel en af te rond, soos ek nie by die huis kon regkry nie. Ek is baie dankbaar vir daardie heerlike skryftyd. Wat ’n luukse.

Musiek en ritme, alhoewel nóú aansluitend by ruiterkuns, is tog ook ’n afsonderlike tema en speel eweneens ’n groot rol in die teks. Hoekom het jy op die djembe besluit? Speel jy self?

Oor musiek is ek self nog meer passievol as oor perde. Ek speel viool. My seun ook, en my dogter klavier. Ek speel in twee orkeste in die omgewing – die Stellenbosse Stadsorkes en die Wynlande Filharmoniese Orkes – en ek geniet dit ontsettend baie. Hoe die djembe die storie ingalop het? Die ritme daarvan. Die ooreenkoms met die geluid van perdehoewe. Ek het ’n dromgroep in Langa, buite Kaapstad, hoor speel ’n ruk gelede en ook een aand by ’n musiekkonsert by die laerskool gehoor hoe ’n dromgroep speel. Dis toe ek besef het: Dit is die instrument vir my storie. Dis die klank van die boek. Ek het die musiekonderwysers wat die dromgroep afrig, ’n paar vrae gevra. Hulle het al my vrae geduldig beantwoord. Die lekkerte van een van die bekendstellings van die boek was dat daar kinders was wat djembe’s kom speel het en dit was ’n natuurlike manier om die mense in die boekwinkel na hierdie tema te laat luister en hulle daarvan te kon vertel.

Jy sê: “Dié boek is vir Maja.” Wat is Maja se terugvoer?

Sy het dit gelees toe die boek gepubliseer is. Ek het dit vir haar gegee laatmiddag toe dit hier aankom, en die volgende middag, toe ek haar by die skool gaan haal, het sy in die motor geklim en gesê dat sy die boek die oggend in die skool klaar gelees het. Haar terugvoer was positief en ek was verlig. Kinders is krities en mens se eie kinders nog meer as ander!

Lees ook:

Seeperde deur Naomi Meyer: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top