#SAS4_2015: 'n Nuwe Afrikaanse paradigma?

  • 1
gunther_pakendorff650

Gunther Pakendorf en Hein Willemse (foto: Naomi Bruwer)

Kyk na 'n fotoblad van die #SAS4_2015.

Lees Bettina Wyngaard se indrukke van #SAS4_2015. 

Gunther Pakendorf se indrukke van die Swart Afrikaanse Skrywersimposium (#SAS4_2015), UWK, 1–3 Oktober 2015:

In 1985 het skrywers in Afrikaans wat hulleself bewus en selfversekerd "swart" noem, die eerste keer byeengekom om ‘n gemeenskaplike forum tot stand te bring waar hulle hulle saak kon stel, gedagtes kon uitruil en ‘n soort agenda vir verdere aksie kon bedink. Hierdie eerste mylpaal is tien jaar later opgevolg deur die nou legendariese "reis na Paternoster".[i] Daar was weliswaar ‘n verdere byeenkoms in 2005, maar die pas afgelope vierde simposium van hierdie aard by die Universiteit van Wes-Kaapland het gepoog om veral by die Paternoster-gesprekke aan te sluit en in ‘n sekere sin ‘n bestekopname te maak van die huidige stand van swart Afrikaanse literatuur en "die stem, al dan nie, van swart sprekers in die diskoers van Afrikaans", soos die program dit stel. Die geleentheid is gereël deur die Departement Afrikaans-Nederlands van UWK, met Steward van Wyk aan die roer van sake.

Deelnemers, sprekers en gaste was dan ook hoofsaaklik persone wat hulle met die destydse strewe vereenselwig; trouens ‘n redelike aantal van die oorspronklike rolspelers by die Paternoster-beraad het die rigting en inhoud van hierdie simposium met hulle aanwesigheid en insette bepaal. Dít was weliswaar ‘n samebindende element en het kontinuïteit met vroeër gesprekke aan die besprekings verleen, maar dit het tog aan die ander kant die ongelukkige gevolg gehad dat ‘n werklik indringende, kritiese gesprek net nie tot stand gekom het nie. Die aangekondigde tema van die byeenkoms, die vraag of ‘n nuwe Afrikaanse paradigma ontstaan het of in die vooruitsig gestel kan word en wat dit sou behels, het geen aandag ontvang nie, en ‘n mens is met die indruk gelaat dat daar maar min gevorder is met van die sentrale kwessies van twintig jaar gelede.

Die term swart byvoorbeeld, wat destyds deur onder andere Patrick Petersen en Adam Small nadruklik en met oortuiging aan bod gebring en teen skeptici se besware verdedig is, blyk nou eintlik nog meer problematies te wees. Veral die twee hoofsprekers van hierdie simposium, Hein Willemse van die Universiteit Pretoria en die digter Adam Small, het met beslistheid betoog dat die woord steeds geldigheid besit en dat dit trouens nie na ras verwys nie, maar eerder as "’n ideologiese markering van verset teen marginalisering" begryp behoort te word, soos Small dit stel. Volgens Willemse is swart ‘n politieke benoeming, ‘n self-toe-eiening deur lede van ‘n gemeenskap aan wie name histories telkens deur magshebbers van buite gegee is om hulle as ondergeskiktes te brandmerk en "mak te maak". Vir hom word die geldigheid van dié term bevestig deur die dikwels afkeurende reaksie van (veral) blanke literatore, wie se "rondvallery" met die terminologie – veral die gebruik van sulke onaanvaarbare beskrywings soos "skrywers van kleur" – afdoende bewys lewer van hulle ongemaklikheid met die hele tema. Dit kom volgens hom weer op ‘n ontkenning van die plek en bydrae van swart skrywers neer, ‘n houding wat ook in die literatuurgeskiedskrywing neerslag vind. Interessant dat Willemse hier die onvoltooide program uit die struggle-dae nogeens ophaal en daardeur aantoon hoe bewonderenswaardig van dié ideale is – en hoe dit reeds haas histories geword het.

Want hierdie standpunte is in wese reeds in 1995 geopper, en inderdaad kom die begrip swart ‘n lang pad, van die Amerikaanse burgerregtebeweging van die jare sestig van die vorige eeu via die swartbewussynstroming in Suid-Afrika tot die groot opstande ná 1976. Heel tereg wys Adam Small dan ook na die seminale bydraes van persone soos Stokely Carmichael, Malcolm X en Martin Luther King, asook dié van Steve Biko, as voorbeelde en rolmodelle van ‘n alternatiewe benadering tot identiteitspolitiek in die "bruin" gemeenskap, wat ironies genoeg aantoon dat hierdie term effe afgeleef is. (In die VSA is black American byvoorbeeld tot ‘n groot mate reeds deur African American vervang.)

Die kulturele, ideologiese en politieke hegemonie van die wit Afrikaanse establishment is insgelyks grotendeels iets van die verlede en Afrikaans se funksie as die "taal van die verdrukker" – asook die gebruik van hierdie polemiese benoeming in die politieke stryd – is uitgedien.

Wat is die plek van "swart bewussyn" dan in die teenswoordige politieke diskoers? En wie dra die grootste verantwoordelikheid vir die marginalisering van "swart" skrywers vandag? Die hedendaagse stryd gaan teen geweld, armoede en korrupsie, soos Hein Willemse dit duidelik stel, asook teen die "etniese chauvinisme" van die heersende party. Die ATKV se Danny Titus het trouens ook in sy bydrae tot die paneelbespreking oor identiteitskonstrukte krities na die ANC se rasidentiteitsbeleid en regstellende aksie verwys. Skrywers het dus ‘n nuwe opdrag: om die weerloses te verdedig in hul stryd om menswaardigheid en om te help om vir die verdruktes ‘n stem te vind. Ook Adam Small praat met deernis oor die uitdagings vir skrywers deur die "breë gesig van armoede en geweld" in die Wes-Kaap. Is dìt dan die "nuwe paradigma"? Hier sou daar inderdaad ryke stof vir ‘n kritiese besinning gewees het.

Dan is daar Kaaps. Adam Small, deesdae die éminence grise van die Afrikaanse letterkunde, verwys met trots daarna dat Kaaps die enigste vernuwing in Afrikaans verteenwoordig, veral as die taal van armoede en die verstotenes. Verskeie sprekers en lede van die gehoor het die betekenis van Kaaps beklemtoon, en Pieter Odendaal van die Universiteit Stellenbosch het selfs ‘n sterk pleidooi gelewer ten gunste van ‘n transformasie van "Afrikaanse kultuurgoedere" en ‘n herstandaardisering van Afrikaans. (Terloops, ook hierdie argument is nie juis nuut nie.) Dit blyk ‘n uiters emosionele tema te wees en hier was daar geen ruimte vir enige kritiese betragting nie. Interessant genoeg word Kaaps onmiskenbaar met die ras van sy sprekers geïdentifiseer, sonder dat daar erkenning gegee word aan die feit dat ‘n groot persentasie van bruin sprekers van Afrikaans nié Kaaps praat nie, en dat ras in die hele gebied van Worcester tot bo in die noorde juis nié ‘n onderskeidende faktor onder die sprekers van Afrikaans is nie: bruin en wit praat dieselfde variëteit. En indien Kaaps dan Standaardafrikaans gaan vervang, gaan dit nie weer tot ‘n hegemonie onder ‘n ander vaandel lei nie? Vir die waarnemer van buite was dit by die simposium nietemin opmerklik dat elke spreker sy of haar standpunt of betoog in suiwer Standaardafrikaans gelewer het.

Dit was vir my verder opvallend dat daar, afgesien van ‘n paar terloopse opmerkings, deurgaans ‘n groot stilte geheers het ten opsigte van Engels. Menige spreker het daarop gewys dat Afrikaans deur meer "swart" mense as deur wittes gepraat word, ‘n feit wat eweneens in 1995 al te berde gebring is. Maar net een spreker het, so te sê tussen hakies, genoem dat baie "swart" sprekers van Afrikaans verkies om Engels met hulle kinders te praat en hulle na Engelsmedium skole te stuur, veral wanneer die ouers ‘n sekere sosio-ekonomiese status bereik het.

Daar is meermale – hier, maar ook al by ander geleenthede – gekla oor die feit dat die kinders van die Vlakte moeite ervaar met Standaardafrikaans in die klaskamer en dat die onderrigtaal aangepas behoort te word, ook wat die inhoud van die voorgeskrewe werke betref. Waarom word dieselfde beswaar dan nie teen Engels geopper nie? Shakespeare en Wordsworth is tog sekerlik nie toegankliker vir hierdie leerlinge as Van Wyk Louw of Elisabeth Eybers nie. Of gaan dit hier dalk eerder om die hondjie as om die halsbandjie?

Ook die verwyt met betrekking tot marginalisering en afskepery van "swart" skrywers en hulle werk deur byvoorbeeld Afrikaanse media, uitgewerye en die Akademie, hoe geregverdig dit ook al mag wees, klink heel anders wanneer ‘n mens na die behandeling deur hulle Engelstalige eweknieë kyk. Dan besef ‘n mens hoe baie deur "wit" Afrikaanse instansies gedoen is, en gedoen word, en hoe ver ‘n "swart" Afrikaanse kultuur juis met hulp en ondersteuning deur hierdie instansies én individue gevorder het. Hierdie simposium is byvoorbeeld deur die Dagbreek Trust en die ATKV geborg. En waar staan sprekers en skrywers van "swart" Afrikaans wanneer dit by werklik omstrede aangeleenthede gaan, soos die skynbare aanslag deur regeringsinstansies en politici op Afrikaans by histories Afrikaanse universiteite, die afskeep van die taal by die openbare uitsaaier of die verdringing van Afrikaans op amptelike vlak in oorwegend Afrikaanstalige provinsies?

Hierdie kritiese waarnemings ten spyt was die gees by die simposium oor die algemeen positief en bevestigend. ‘n Mens kry die indruk dat die bruin gemeenskap nie heeltemal ontevrede is met die vordering van sy belange en sy kultuur sedert 1994 nie. By talle sprekers, en veral onder jonger mense, kon ‘n mens ‘n optimisme, selfs entoesiasme, oor die lewenskragtigheid van Afrikaans bespeur. Menige bydraer het oor haar trots en liefde vir Afrikaans gepraat. Die Afrikaanse gospelsanger Simon Seekoei, die groot man met die groot stem en die wonderlike humorsin, het die gehoor uitgenooi om na Kimberley te kom en te hoor hoe algar, bruin en swart en wit, Afrikaans praat. Daar sal jy nie hoor dat Afrikaans aan’t uitsterf is nie; inteendeel!

Daar is min gesanik oor diskriminasie, en die bekende slagoffermentaliteit van die verlede was meesal afwesig. Dit was Adam Small wat goedkeurend opgemerk het dat apartheid – die woord – en sy konnotasies nie op die program verskyn het nie. En die twee sprekers wat met mening onder wit sprekers van Afrikaans ingeklim het, was interessant genoeg albei self wit sprekers van Afrikaans.

Daar was sterk menings wat by herhaling die diversiteit van Afrikaans se sprekers, sy vele variëteite en die inklusiewe aard van sy gemeenskap beklemtoon het – "Afrikaans oor grense heen", soos Danny Titus dit stel. Ook Rapport se Waldimar Pelser praat van pluralisme binne "Suid-Afrikaner-wees"; die term Afrikaner, sê hy, moet so ruim gemaak word soos ons demografie. Antjie Krog het dit betreur dat wit Afrikaners nog nie hierby aangesluit het nie en het ‘n sterk pleidooi daarvoor gelewer dat "jy jou moet wegdraai van wit" en ‘n nuwe Suid-Afrikanerskap moet nastreef, sonder mag, soos ‘n swart vrou, "’n mindere meerderheid". Lê die nuwe paradigma dalk hier?

"Ons" gemeenskap en "ons" stories, ook tradisies en verhale uit toeka se dae, het baie aandag ontvang. Iemand soos Danny Titus voel sterk dat ons moet praat oor ons slaweherkoms en Khoi-agtergrond, "waar van Riebeeck nie ‘n plek het nie". Hierdie mening het groot aanklank gevind.

Menswaardigheid was ‘n deurlopende tema. Elias P Nel, die koning van die rieldans, wil met sy verhale menswaardigheid aan sy lesers teruggee, net soos met die riel, wat hy "‘n Godlooflike ervaring" noem. Bettina Wyngaard glo dat dit "ons" roeping is om "swart" karakters en hulle wêreld weer te gee, terwyl die blinde Zane Eckleton se motivering om te skryf is om "waardige bruin mense" te verteenwoordig. Ook Adam Small beklemtoon die waarde van "ware menslikheid" – dis soos Jesus se koms na die aarde, waardeur God nader aan die mens beweeg het.

Die media, veral koerante, het onder kritiek deurgeloop omdat verskeie sprekers van mening was dat die groot maatskappye te veel invloed uitoefen, dat redaksionele beleid telkens wit belange (en wit kapitaal) bevorder en beskerm, terwyl daar (veels te) min aandag aan die lewens en omstandighede van bruin mense gegee word.

Ongelukkig het die simposium in sy geheel nog grotendeels rondom konvensionele kategorieë gewentel en ietwat te min tyd aan alternatiewe gegee (ook alternatiewe denkwyses). Nogtans het die paneel oor nuwe media en die plek van selfpublikasies nuwe rigtings vir vernuwing en selfhulp aangedui: selfpublikasie "is the way to go", aldus Diana Ferrus. Michelle Linnert, hoofverslaggewer by TygerBurger het daarop gewys dat Afrikaans binne die globale elektroniese wêreld ‘n klein en onbenullige speler is en dat die kommersiële magte teen Afrikaans is. Nietemin skryf sy in Afrikaans, "want dit is in my bloed".

Met die nuwe media en die rol van rap en hip-hop-musiek, waarmee die simposium afgesluit het, is daar moontlik tog nuwe rigtings en ander horisonne vir Afrikaans en sy sprekers.

 

[i] Gedokumenteer in die bundel Die Reis na Paternoster. ‘n Verslag van die tweede swart Afrikaanse skrywersimposium gehou op Paternoster vanaf 29 September tot 1 Oktober 1995, met redakteurs Hein Willemse, Marion Hattingh, Steward van Wyk en Pieter Conradie.  Bellville: Universiteit van Wes-Kaapland, 1997.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Frederick J Smith( skrywer)

    Swel ek weer vanaand van trots...trots op ons taal, trots op ons mense, en veral op mense wat so sinvol, opbouend, en vernuwend na ons pragtige moedertaal omsien.
    Baie geluk, en baie dankie vir die prag werk wat julle verrig ...
    Bravo vir Afrikaans, ons moedertaal, ons hartstaal ...
    Bravo vir mense soos julle, ons taalleiers ... XXX

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top