Dit is met skok en ontsteltenis dat die SAOU kennis geneem het van die Gautengse Departement van Onderwys (GDO) se besluit om meer as 130 geadverteerde bevorderingsvakatures te onttrek. Hierdie stap word geneem omdat daar na bewering nie vir hierdie poste in die 2027 poste voorsieningsnorme beplan is nie.
’n Interne memorandum (82 van 2026 November) dui aan dat poste wat reeds op 27 Julie 2026 geadverteer is, nou onttrek word. Hierdie poste is geoormerk vir skoolbestuur in die vorm van departements- en adjunkhoofposte. Die implikasie hiervan is dat skoolbestuurspanne steeds met ongevulde poste gekonfronteer word, wat ’n finansiële las op skole plaas om hierdie poste intern te vul en te befonds.
Die skole in Gauteng is herhaaldelik vir die versuim van die Departement gestraf en moes ouers uiteindelik vir die finansiële wanbestuur intree. Voorbeelde hiervan is dat skole gedurende 2026 sonder die nodige personeel en bestuurskapasiteit moes funksioneer, ten spyte daarvan dat hulle ingevolge hul goedgekeurde postevoorsiening vir hierdie poste gekwalifiseer het. Hierdie situasie het ontstaan omdat die GDO versuim het om hierdie poste betyds te vul.
Daarmee saam word skole ook in 2027 benadeel omdat dieselfde poste wat geadverteer is nou onttrek word gebaseer op die sogenaamde postevoorsiening (2027) wat nie meer voorsiening maak nie. Wat besonder kommerwekkend is, is dat die oorgrote meerderheid hierdie poste bestuursposte is. Hierdie poste is vir noodsaaklik vir doeltreffende kurrikulumbestuur, gehalteversekering, professionele ondersteuning van opvoeders en die lewering van kwaliteit opvoeding in skole. Die onttrekking daarvan plaas verdere druk op reeds oorbelaste bestuurspanne en opvoeders, terwyl dit ook die bevorderingsgeleenthede van verdienstelike opvoeders beperk. Die welstand van onderwysers word verder hierdeur benadeel.
Volgens die SAOU is hierdie optrede uiters onbillik en onaanvaarbaar. As dit saam met ander aksies van die GDO soos die laat of wanbetaling van skole se norme en standaarde gelees word, is dit net ’n verdere aanduiding van die GDO se gebrekkige beplanning en administratiewe bestuur, wat tekenend is van die gebrek aan verantwoordbaarheid op hierdie vlak.
Die SAOU dring daarop aan dat die GDO, hierdie besluit om geadverteerde poste te onttrek, dringend heroorweeg. Dit is noodsaaklik dat rekenskap gegee word oor die redes waarom die poste nie ingevolge die 2026-postevoorsiening gevul is nie. Dit is ook van kardinale belang dat billike oorgangsmaatreëls ingestel word om te verseker dat skole en opvoeders nie verder deur die Departement se administratiewe versuim benadeel word nie. Dit kan slegs gebeur as die GDO verantwoordelikheid aanvaar vir tydige beplanning, advertering en vulling van vakante poste.
Skole behoort nie die prys vir departementele onbevoegdheid te betaal nie. Die Departement se swak beplanning mag nie die norm word waarvolgens skole bestuur moet word nie. Die leerders in Gauteng kan nie die hoogste prys vir administratiewe versuim betaal, omdat hulle aan substandaard onderwys blootgestel word, weens wanbestuur nie.
Die SAOU wys daarop dat daar aanspreeklikheid en deursigtigheid van Provinsiale Onderwysdepartemente vereis sal word om te verseker dat gemiddeldheid nie die norm word nie.
Lees ook:


