Interskole bring jaarliks die Bolandse dorp Paarl tot stilstand wanneer duisende mense op dié dorp toesak.
“Die grootste van sy soort in die wêreld!” So word die interskoolweek tussen Paarl Gimnasium en Boishaai en Girls’ High, oftewel Hoër Jongenskool Paarl en Hoër Meisieskool Paarl beskryf. Sportwedstryde oor bykans alle dissiplines word gespeel. Selfs bome in die strate word versier – blou en wit vir Boishaai en Girls’ High; maroen, groen en goud vir Gimmies.
Dit is veral die kragmeting tussen die seuns van die eerste rugbyspanne wat die gemoedere hoog laat loop, en vriende en familie se ondersteuning verdeel en laat kant kies. Vir dié week is dit alles of niks en hierdie wedstryd is nie net ’n toonvenster van talent nie, maar ’n voorsmaak van die toekoms van Springbokrugby.
Rugby of niks, ’n dokumentêre reeks van agt episodes

Bekroonde skrywer en filmmaker, Stefan Enslin gesels graag oor die reeks wat op 1 Januarie op kykNET (DStv-kanaal 144) begin het, met ’n nuwe episode elke Woensdagaand vir agt weke.
In die reeks word daar gekyk na die gees van hierdie legendariese skoolrugbywedstryde en Enslin sê dat hierdie reeks meer as net ’n dokumentêr oor skolerugby is: “Dit is ’n viering van tradisie, trots en die verrassende stories agter een van die mees ikoniese sportwedstryde ter wêreld, en dit is op ’n vlak wat niemand kan verstaan tot jy daar was om dit self te sien nie.”
Enslin is opgewonde om met dié reeks skolerugby op ’n nuwe vlak met die wêreld te deel en sê: “Kykers kan ’n reeks van verskillende emosies verwag.”

Die agt episodes verken onder meer wat dit verg om vir die eerste span van Gimmies of Boishaai uit te draf, wat daardie trui vir die seuns beteken, en waar geloof en toewyding inpas. Die laaste twee episodes fokus nie net op die wedstryd van 2024 nie, maar kyk ook na wat ná die kragmeting gebeur en hoe die spanne die wen of verloor hanteer.
Rugby en lewenslesse
Die reeks kyk na hoe karakter gebou word; hoe persoonlike uitdagings in die oë gekyk en die hoof gebied word; die lewenslesse wat op en van die veld geleer word; en bied ’n unieke blik agter die skerms. Die produksiespan van Rugby of niks het die twee skole se voorbereiding vir die interskole oor ’n rugbyseisoentydperk van sewe maande gevolg. Die reeks vertel van die bouproses tot die groot dag op Faure-stadion – en onthul hoe professioneel skolerugby geword het.

Die reeks beklemtoon ook die ryk erfenis van spelers wat deur hierdie interskooltradisie gevorm is. Kykers kan verwag om legendariese spelers soos Kobus Wiese, Balie Swart, Jean de Villiers, Marius Joubert, Schalk Burger, Handré Pollard, Corné Krige, Frans Malherbe, Mannetjies Roux en selfs die akteur Edwin van der Walt, wat as onderkaptein vir die eerste span gespeel het vir die voormalige Springbokspeler Frans Malherbe, te siene te kry in die reeks. Dié bekendes en afrigters deel hulle herinneringe.
Vir Enslin was die lekkerste deel van sy rol as vervaardiger om die vlak waarop skolerugby presteer te kon vertoon en sê skolerugby “is besig om ontsettend groot te raak en al hoe meer toeskouers stroom skolestadions toe om die vermaak van skolerugby te ervaar en geniet”.
As vervaardiger het Enslin baie lief geraak vir beide die skole en sê: “Hierdie is twee fenomenale skole; hulle dien die Here, speel vir die Here en mekaar, maar ook vir iets groters, wetende dat legendes voorheen in daardie truie gespeel het.”
Enslin vertel voorts dat daar tot 25 000 toeskouers opdaag om die wedstryde by te woon en skerts dat provinsiale rugby se paviljoene aan die leeg loop is en skolerugby beslis een van die oorsake is.
“Toeskouers stroom om skolerugby te ondersteun.”
100 jaar oue tradisie en trane
Hierdie geskiedkundige interskoolkragmetings is amptelik in 1929 tot stand gebring. Die enigste onderbrekings van hierdie jaarlikse byeenkoms was in 1928, 2020 en 2021.
Wen of verloor, daar word gehuil. “Dié wat wen, huil en dié wat verloor, huil ook,” aldus Pieter Rossouw, hoofafrigter Paarl Gimnasium.
Enslin sê hy was stomgeslaan deur die vlak van die kompetisie en sê jy kan dit nie verstaan totdat jy dit self ervaar nie. “Ek het nie geweet hoe groot hierdie interskole tussen Paarl Gimnasium en Hoër Jongenskool Paarl is nie. Hier word harde skolerugby gespeel.”
Enslin noem ook dat die punteverskil tussen die skole oor die afgelope eeu met drie punte verskil, ’n bewys dat hierdie “harde skolerugby is”.
Wat in 2024 gebeur het, sal kykers tydens die agt episode van Rugby of niks kan sien.
Ter afsluiting
Kykers kan uitsien na vermaak, maar sal ook die snesies kan nader trek! “Daar is oomblikke waarin kykers baie hard gaan huil ook.”
Die gehalte van die premierliga en talent wat voortspruit uit skoolrugbyspelers, maak hierdie vervaardiger opgewonde, en hy waarsku die res van die wêreld dat die Springbokspan vir die toekoms een van hoë gehalte sal wees.
“Ek kan nie wag tot 1 Januarie wanneer ons oor ’n tydperk van agt weke al hierdie mense bekendstel aan die hele Suid-Afrika nie,” sê Enslin ter afsluiting en waarborg dat kykers nie teleurgesteld sal wees wanneer hulle die reeks kyk nie.
“As ’n mens kyk na die vlak van hierdie seuns op hierdie stadium, is dit ’n goeie aanduiding van hoe gesond Suid-Afrikaanse Springbokrugby vir die toekoms is, en die res van die wêreld kan maar bekommerd wees oor die Springbokspan vir ten minste die volgende 20 jaar!”
Rugby of niks het 1 Januarie 2025 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook:
Rassie, stories oor rugby en die lewe deur Rassie Erasmus, saam met David O’Sullivan: ’n onderhoud

