#ROSACon2020 – Romance writers Organisation of South Africa se eerste aanlyn konferensie

  • 0

……….

“Begin met aksie en wys altyd karakter.” – Candace Havens

……….

2020 was die jaar van kansellasies. Boekfeeste, bekendstellings en konferensies, sowel as persoonlike geleenthede soos verjaarsdagpartytjies, troue of selfs kuiers moes weens die COVID-19-pandemie af- of uitgestel word.  

Die geleenthede het later na digitale platforms verskuif, en uit die moeilike situasie is nuwe geleenthede gebore. Ek sien elke jaar uit na #ROSACon – Romance writers Organisation of South Africa se jaarlikse konferensie, vanjaar 20–26 Oktober 2020. Dit is ’n goeie geleentheid om van die beste Suid-Afrikaanse romanseskrywers te ontmoet en by hulle te leer.

Foto: Canva.com

In die verlede was #ROSACon altyd oor die Erfenisnaweek gehou. Vir my was dit twee/drie intense dae van leer, lag en susterskap – en nadat die wêreld vanjaar tot stilstand gedwing is, was dit besonders nodig.

Jaarliks stap ek na elke konferensie met ’n vol notaboek en tonne inspirasie weg. #ROSACon2020 is aanlyn gehou, met ’n daaglikse tema. Die aanlyn konferensie was ’n uitstekende geleentheid – bywoners kon by van die beste internasionale romanseskrywers leer hoe om hul skryfkuns te verbeter. Die bywoners was ook van verskeie lande soos Wallis, Australië, England, Nieu-Seeland, Turkye en Maleisië.

Ek het die konferensie vir drie dae bygewoon en het vanaf dag een met die beste kennis en inspirasie weggestap.

Dag 1 begin met romantiese komedie en eindig met Julia Quinn

Die oggend van dag 1 het begin met voorleggings aan One More Chapter, ’n digitale imprint van HarperCollins UK, en ’n skryf “sprint” om skrywers produktief te kry. Romy Sommer, ’n medestigter van ROSA, het saam met die nuwe voorsitter Dorothy Ewels, die konferensie geopen.  

Dorothy Ewels en Romy Sommer open #ROSACon op 20 Oktober 2020.

Die Britse Sri Lankaanse skrywer Rhoda Baxter het ’n in-diepte aanbieding oor romantiese komedie gelewer. Rhoda, wat ook vrouefiksie onder haar regte naam, Jeevani Charika, skryf, het vertel oor die verskillende metodes om in ’n romantiese komedie te skryf of humor in jou verhaal in te werk.

“Humor kan dikwels gebruik word om die spanning te verlig. Die algemeenste metode is die rule of three: ’n situasie word opgestel, dit word deur ’n tweede gebeurtenis versterk en dan is daar ’n onverwagse resultaat. Die humor lê in die onverwagse,” het sy raad gegee.

Die eerste spreker van die konferensie, Rhoda Baxter. Romy modereer.

’n Voormalige Harlequin-uitgewer, Joanne Grant, se uitstekende aanbieding het die delikate verhouding tussen die skrywer en uitgewer onder die loep geneem. Volgens haar is professionalisme die wagwoord aan beide kante.  

“Wat is pynappelbier?” het sy gevra toe bywoners praat oor die Suid-Afrikaanse COVID-19-beperkings wat die verkoop van drank verbied het. England is tans in kwarantyn, en Joanne wou uit pure nuuskierigheid meer weet.   

……….

“Jy kan nie almal tevrede stel nie. Elke skrywer moet besef daar sal iemand wees wat nie beïndruk is met jou skryfwerk nie. Aanvaar dit en beweeg aan.” –  Julia Quinn

……….

Die skrywer en Entangled-uitgewer, Candace Havens, se aanbieding het gefokus op die tien elemente wat jou verhaal nodig het om ’n topverkoper te wees. “Meeste stories begin nie op die regte plek nie,” is haar mening. “Begin met aksie en wys altyd karakter.”  

Volgens Havens moet skrywers hul storie eenvoudig hou, maar daar moet altyd ’n onverwagse wending wees. “Jy moet jou storie in een sin vertel, maar jou wending moet uniek en slim wees.”

Die historiese romanseskrywer, Julia Quinn, het die hoofrede gelewer en gepraat oor hoe om kritiek te hanteer. Met humor het sy die raad gedeel wat die grootste bydrae tot haar skryfloopbaan gelewer het: “Jy kan nie almal tevrede stel nie. Elke skrywer moet besef daar sal iemand wees wat nie beïndruk is met jou skryfwerk nie. Aanvaar dit en beweeg aan.”

Wanneer jy dit besef, sê sy, is jy vry van verwagtinge en kan jy die storie skryf wat jy moet skryf.

Julia Quinn lewer die hoofrede op dag 1.

Julia het ook gesels oor haar Bridgerton-reeks wat deur Shonda Rhimes in ’n Netflix-reeks omskep word. “Dis mal om te sien hoeveel mense – honderde – is betrokke by iets wat eers net in jou kop bestaan het,” het sy oor haar besoek aan die stel vertel. (Bridgerton word op Kersdag op Netflix bekendgestel.)

Dag 3 – tradisionele uitgewerswese

Dag drie se tema was tradisionele uitgewerswese en om 10:00 kon bywoners afsonderlik met Madri Victor van LAPA Uitgewers oor hul manuskripte gesels.

Die formele aanbiedings het om 13:30 begin met Carly Burne en Charlotte Ellis, uitgewers van Harlequin, wat ’n kort oorsig van hul reekse, en die voorleggingsvereistes gegee het. “Wanneer die lewe moeilik is, is romanses vuurwarm,” het Carly gespot.

Izak de Vries en Lisa Immelman, assistent-uitgewer by LAPA, het gefokus op die bemarking. Izak se lekker gesprek het gefokus op die belangrikheid vir skrywers om hulself te bemark. “Wees soos Coca Cola – wees oral!” was sy raad aan skrywers.

……….

“Daar is ’n greintjie waarheid in elke stereotipe, maar onthou, dis net ’n greintjie.” –  Zee Monodee

……….

“Jý is jou geheime wapen,” het Lisa tydens haar sessie gesê. “Lesers wil meer van die skrywers weet en onthou, consistency is key.” Sy het praktiese wenke gegee oor hoe en waar skrywers sosiale mediaplasings kan skep soos op Canva.com, Biteable vir videos en Hootsuite om jou sosiale mediaplatforms te bestuur.  

Sinclair Sawhney van Tule Uitgewers het gesels oor hul ervaring van die Amerikaanse boekmark en volgens haar het dit nie tydens die pandemie afgeneem nie. Tule verkoop ook graag skrywers se werke aan produksiemaatskappye, wat dit dan in flieks omskep. Wat is die geheim van ’n goeie fliek? ’n Unieke storie.

“Jy wil die persoon wees wat iets skep wat nie voorheen geskryf is nie. Want ek sal dit as uitgewer wil hê en ander ook.” Sy het ook skrywers aangemoedig om, voor hul begin skryf, te vra: wat is die karakters se emosionele reis? En laastens voel sy skrywers moet belangrike gebeure in die boek in ongewone ruimtes laat afspeel.

Die groot trekpleister van die dag was die Nieu-Seelandse skrywer, Nalini Singh. Sy het vroeg opgestaan om ’n klas aan te bied oor hoe om reekse te skryf. Sy reken “connectivity is key,” want dit verseker dat die leser die karakters van boek tot boek wil volg.

“Wees versigtig dat jou hele oeuvre nie uit een reeks bestaan nie. As die lesers verlief raak op die wêreld en karakters, sal hulle mal daaroor wees. Maar indien hulle dit haat, het jy niks anders om hulle te bied nie.”

Nalini Singh praat oor reeks en Vash Karuppa is die moderator.

Nalini sê ook skrywers moet weet waarheen hulle gaan met die reeks en hulle moet onkonsekwentheid of ’n ongeloofwaardige slot verhoed. “Skryf iets waaroor jy passievol voel,” was haar raad. “Vra jouself af: Kan jy miljoene woorde met hierdie karakters spandeer?”

Dag 5 – ’n dag van skryfvaardighede

En net toe ek dink die konferensie kon nie beter word nie, was dag vyf ’n uitstekende skool van skryfvaardighede (writing craft). Saterdagoggend het Elsa Winckler ’n fantastiese aanbieding gelewer oor hoekom “liefde” nie die doelwit van ’n liefdesverhaal behoort te wees nie? “Liefde is die uitkoms, dit is nie die doelwit nie,” het sy gesê.

Die tweede sessie was getitled “Moving beyond the boundaries of stereotypes” met Vash Karuppa, Zee Monodee en Didem Tali. “Vir baie lank was die persepsie dat romanseskrywers stereotipes versterk en bemark. Ek wou dit verander,” het Vash Karuppa van Suid-Afrika verduidelik waarom sy begin romanses skryf het.

Die skrywers het die komplekse gesprek met grasie en kundigheid hanteer. Volgens die Indiese Mauritius-skrywer, Zee Monodee, gaan diversiteit nie net oor ras en kultuur nie, maar ook diverse persoonlikhede. “Daar is ’n greintjie waarheid in elke stereotipe, maar onthou, dis net ’n greintjie,” het sy oor stereotipes gesê

“Vordering gebeur in literatuur, voor dit in regte lewe gebeur,” het die Turkyse skrywer Didem Tali gesê. Sy het gepraat oor die invloed wat ’n storie oor ’n transgender-karakter op dié gemeenskap gehad het. “In Turkye is transgender-vroue dikwels slagoffers van haatmisdade. Hulle kan nie skool voltooi nie, word sekswerkers en word dikwels deur hul kliënte vermoor,” het sy vertel en aan skrywers gesê dat hulle kritici moet ignoreer wat sê hulle skryf fluff. “Hierdie jaar het ons die belangrikheid van fluff geleer.”

Die Amerikaanse skrywer Shirley Jump het ’n uitstekende werkswinkel oor tonele en vervolgtonele (sequels) aangebied. Sy het praktiese wenke gegee oor hoe om ’n goeie toneel te bou. “Elke toneel moet sy eie doelwit hê en dit moet by die storie se doelwit aansluit.”

Jane Friedman het die dag afgesluit deur te praat oor angs. Volgens haar is daar drie soorte angs – klein, statusgedrewe en eksistensieel– wat skrywers ervaar. “Sukses hang af van hoe jy jou angs hanteer.”   

Die aand was die ROSA-toekenningsgeleentheid – die Strelitzia-prys, en Imbali-prys vir die beste Afrikaans en Engelse romanse is toegeken. Die Strelitzia-toekenning word jaarliks aan die beste ongepubliseerde romanse toegeken, en Marianne Lomberg se Through your eyes het met die prys weggestap. Die Imbali-pryse is aan Storm van liefde deur René van Zyl en Not quite a rogue deur Tanya Wilde toegeken.

Dit was een van die beste webinaarkonferensie wat ek bygewoon het, en ek kan nie wag vir die 2021-konferensie nie.

Lees ook 

"As unique as braaivleis and pap" – an interview about ROSA

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top