Rooibos is lekker, maar dit is geen wondermiddel

  • 1

..........

Lees ook die LitNet Akademies (Natuurwetenskappe)-artikel oor rooibostee deur Sanja Potgieter-Vermaak en Herman Potgieter: “Nadelige spoorelemente in tee en kruietees: die geval van rooibostee versus ander kommersiële tees en kruietees” (2014).

..........

Rooibos is een van daardie plante wat in Suider-Afrika byna mitiese status verkry het. Dit help glo vir byna alles, maar hokaai eers, skryf Elsabé Brits.

Vele aansprake word gemaak oor die helende kragte van rooibos (Aspalathus linearis). Dit beskerm glo die hartspier, help teen spanningshoofpyn, verlaag hoë bloeddruk en beskerm teen tipe 2-diabetes en vetsug. Daar word selfs aansprake oor kanker gemaak. Dit is maar van die aansprake wat gemaak word.

Dit is byna te goed om waar te wees – en dit is juis die probleem wanneer een produk blyk om vir alle kwale te help. Dit is selde die geval, maar sulke aansprake word gereeld in naturopatie en die voedselaanvullingsbedryf gemaak – die tipiese produkte wat in gesondheidswinkels te koop is.

Wat is in rooibos? Rooibos is nie eintlik ’n tee nie, eerder ’n kruie-aftreksel wat jy kan drink. Dit is ’n besemagtige plant van die familie Fabaceae wat peulplante, ertjies en boontjies insluit. Dié fynbosplant is endemies aan die Cederbergarea en ’n radius van sowat 150 km.

Die plant wat die meeste mense drink, is egter rooi, terwyl hy in sy natuurlike en oorspronklike vorm groen is. Die rooibos wat mense meestal geniet, die een wat so lekker smaak en ruik, is gefermenteer omdat die groen weergawe hoegenaamd nie so lekker is nie. Dit lê in die son om te fermenteer en word dan rooi.

Die antioksidant aspalatien kom in rooibos voor, maar in ’n baie hoër konsentrasie in die groen rooibos. Die plant bevat ook flavonoïede en polifenols, beide bio-aktiewe agente, wat in ander navorsing verbind word met anti-inflammatoriese werkings en wat kanker kan teenwerk en die hart kan beskerm. Die onderliggende meganismes van hoe dit werk en hoe dit aangewend kan word, is egter nog hoegenaamd nie bekend nie.

Die meerderheid van die navorsing wat oor rooibos gedoen word, word in vitro op rotte en sellyne gedoen. Wat in ’n proefbuis en selkulture gemeet word, kan nie na die liggaam geëkstrapoleer word nie, juis omdat dit dalk nie biobeskikbaar in die menslike liggaam is nie, want hoe word dit opgeneem, indien wel? En hoeveel van die aktiewe bestanddeel het jy nodig?

Byna enigiets kan in ’n petribakkie of proefbuis gedoen word. Maar sodra dit in jou liggaam is, is dit ’n heel ander storie, al is die selle in die bakkie dié van mense. Jou liggaam prosesseer dit dalk anders. Die rooibos doen dalk iets aan die kankerselle in die bakkie, maar hoeveel rooibos is gebruik? Of indien ’n rot ’n koppie tee oor ’n paar dae inkry en jy swaai dit om na ’n mens, hoeveel liter is dit?

Jy moet dalk 20 koppies groen rooibos drink om ’n effek te kry. Kan ’n aktiewe bestanddeel onttrek word om ’n pil te maak? En, indien wel, hoeveel milligram sal jy moet inneem vir enige effek? Kan jou liggaam dit opneem?

Dit is bekend dat rooibos help om jou eetlus aan te wakker, en omdat dit nie kafeïen bevat nie, kan vroue wat swanger is of borsvoed dit drink, asook babas en kleuters (om hulle tande te beskerm, moet hulle dit sonder suiker drink).

Van die navorsers se hipoteses is dat dit onder meer vetsug kan bestry deur bloedsuikervlakke te verlaag, soos hulle met rotte reggekry het. Maar die hoop is ook dat vetselle in rotte sal reageer op groen rooibos, omdat dit sal help met inflammasie en oksidatiewe stres. (Antioksidante verlaag moontlik oksidatiewe stres.) Daar is nog ’n ver pad om te loop.

Talle van die studies se bevindings is voorlopig of bevestig eintlik net dat rooibos ’n antioksidant is, maar vir die wilde aansprake wat veral deur die Rooibosraad (wat baie van die studies borg) en selfs CANSA gemaak word, veral oor kanker en die hart, is daar nie klinkklare bewyse nie. Hoe die beperkte bevindings vertaal en na mense oorgedra kan word, is nog baie onseker.

Enige mediese intervensie is net so goed soos die biomerkers wat hy het en die biobeskikbaarheid van die produk. Aansprake oor kanker – seker die een siekte wat die meeste vrees by mense inboesem – behoort altyd met die grootste omsigtigheid hanteer te word, omdat vals hoop en beloftes aan etiek raak.

Duidelik bewese empiriese wetenskap en groot kliniese studies in mense moet daaraan gekoppel word, anders dra wetenskaplikes self by tot die mitiese status van ’n wondermiddel wat dit dalk nie is nie.

Een aspek van rooibos is dat waar en hoe dit geplant is, en wat die toestand van die grond, water en temperatuur is, sy chemiese samestelling beïnvloed. Wanneer jy dus ’n pakkie tee koop, selfs al is dit groen, het jy nie ’n idee hoeveel antioksidante daarin is nie, selfs al koop jy ’n voedingsaanvulling wat van ’n ekstrak gemaak is. Elke plant verskil.

Die Khoisan, wat eerste dié plant gebruik het, veral om velkwale op te los, het nou ’n ooreenkoms bereik waarin hulle 1,5% van die plaashekprys van rooibos en heuningbos sal ontvang.

Dit was die botanis Carl Thunberg wat eerste in 1772 rooibos by die Khoisan raakgesien het. Hy het gesien hoe hulle dit teen die berghange gaan sny, in bondels gerol en ook in die son gelos het om te fermenteer. Mense aan die Kaap het gou lief geraak vir dié kruietee omdat swarttee duur was.

Volgens Rooibos Beperk het Benjamin Ginsberg, ’n Russiese immigrant, in 1904 rooibos by boere in die Cederberg begin koop. Hy het uit ’n familie gekom wat bekend was met teehandel en het met verskeie eksperimente in fermentasie begin. Een van die struikelblokke was egter dat dit moeilik was om die sade ontkiem te kry.

In 1930 het Pieter le Fras Nortier, ’n mediese dokter en botanis, daarin geslaag om dit op sy plaas Klein Kliphuis in Clanwilliam te kweek. Dit was steeds moeilik om die klein sade in die hande te kry. Hy het sade by ’n Khoivrou gekoop – sy het gesien miere dra die sade aan, en sy het die miernes oopgebreek en baie gevind.

Die plant met sy geel blomme maak ’n peul met een saadjie daarin. Dit is deel van die Kaapse blommeryk se fynbos; so ook boegoe.

Nortier het boere geleer hoe om die sade te plant en te kweek. Vir baie lank was rooibossaad tot £80 per pond werd – van die duurste ter wêreld. Daarna het die bedryf vlerke gekry. Vandag word die sade tydens die sifproses gevind.

Rooibos is nie bewys as ’n geneesmiddel of kuur nie, en dit val dalk eerder in die welstandkategorie as in die klas van kliniese geneeskunde. Maar dit is verfrissend, lekker om te drink en dit doen beslis nie skade nie. En dit is trots Suid-Afrikaans.

Bronne:

 

Lees ook

Rooibos, erfenissimbool

Die geveg virrie “rooi goud”

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top