Die geveg virrie “rooi goud”

  • 1

Op 16 Januarie het Suid-Afrika en die wêreld “Rooibosdag” gevier. Nou volgens die advertensie word dit in Clanwilliam gehou, ’n dorpie innie Wes-Kaap bekend as die “Rooibos capital of the world”. Verskeie rooiboshandelaars gaan hulle produkte verkoop en sodoende ook die besoeker ’n “authentic” rooibos-ervaring gee. Besoekers word dan gevra om ook rooi klere te dra. Hierdie dag, sê die advertensie, was ook gekies omdat dit dieselfde dag as die verjaarsdag is van ene Benjamin Ginsberg, ook genoem “vader van kommersiële rooibostee” in Clanwilliam. Maar wat jy nêrens sal kry in die bietjie bemarking van hierdie dag nie, is dat sonder ons KhoeSan se kennis van rooibos sal daar nie vandag ’n halfmiljardrand-rooibosindustrie gewees het nie.

Dat hierdie kennis aan Europese setlaars “oorgedra” is, was dit ook dan, soos baie dinge wat ons KhoeSan verloor het, ook net “oorgedra” (of net gevat) aan die Morawiese sendelinge, in 1737 onder leiding van Georg Schmidt, wie genoem sou word die “Apostel van die Khoe”, wie dan ook na sewe jaar uit die land gesmyt sou word, wie dan hierheen gekom het om die Khoe te “bekeer”. Vandag besit die Morawiese Kerk steeds groot stukke grond, nie net waar rooibos groei nie, maar ook waar ons mense bly.

Tog, al in 1727, het die plantkundige Carl Thunberg gepraat van die Khoe wat hierdie drankie geniet. Volgens die verslag wat in 2004 deur die Departement van Omgewingsake gepubliseer is, “Traditional knowledge according to rooibos and honeybush species in South Africa”, is dit duidelik dat ons KhoeSan ongetwyfeld die “traditional knowledge holders” is van rooibos en honeybush en dus aanspraak kan maak op die ekonomiese voordele wat uit die exploitation van die bronne kom. Tog was dit iets wat die rooibosindustrie wou  betwis, maar hoe dan? Soos die verslag dan ook sê: “Wie het tog vir honderde jare die plek bewoon waar rooibos vandag groei?”

En dit remind my aan die woorde “tales of the hunt will continue to glorify the hunter” tot die “hunted” haar of sy eie stories vertel.

Want wat ons tog ook nie hoor nie, is dat as dit nie vir die KhoeSan vrou Trinkie Swartz (sekerlik nie haar regte naam nie) was nie, sou daar vandag geen rooibosindustrie bestaan het nie. Sonder sade kon hulle dan nie rooibos aanplant nie en vroue soos Trinkie het die meeste sade verkoop. Dit het die koloniale toe baie gepla, want hoe is dit moontlik dat sy so baie sade kon gehad het om te verkoop? Maar Trinkie Swartz het, volgens “legende”, op haar maag gelê en gesien hoe miere die sade na hulle miersneste vat, en sy kon toe daar al die sade uithaal.

Hoe hulle dit uit haar uit gekry het, was weer eens stories van koloniale agterbaksheid en uitbuiting. Hulle het haar dronk gemaak en sy het verklap hoe sy die miere gevolg het om die sade te kry. En dit was die begin van die halfmiljardrand-rooibosindustrie. Trinkie Swartz was nooit genoem die moeder van die rooibosindustrie nie, want nie net was sy Khoe nie, maar ook ’n vrou, en die koloniale was nie goedgesind vir nie een van die groepe nie.

Tog is dit niks nuuts dat ons KhoeSan nie erkenning kry vir ons intellektuele eiendom wat gebruik of misbruik was om industrieë te begin nie.

Wie sou tog vir die koloniale gewys het waar om water of //gammi te kry waar hulle wingerde kon plant? Wie sou die boere geleer het om na vee te kyk? Wie het toe alreeds oor duisende jare van veeboerdery kennis besit?

Wie se kennis van see en visvang was instrumental vir die vissersbedryf? Wie kon tog, en kan steeds vandag, die see ruik, die wolke kyk, hulle hande in die seewater sit en weet dat vandag gaan die see “goed wees en sy sal gee”?

Is dit dan per ongeluk dat Sea Harvest in ’n plek soos Saldanhabaai is? Om nie te vergeet dat Saldanhabaai was nie die oorspronklike naam van die plek nie, dat die naam kom van Antonio de Saldanha, ’n Portugese skeepskaptein. En vra ons tog wat dan die oorspronklike naam van Saldanhabaai was?

Ons weet ook dat die oorspronklike inwoners van Saldanhabaai is wie die koloniale sou “Strandlopers” noem. KhoeSan wat vir duisende jare langs die see gewoon het, wie se kos die see was, wat walviskarkasse gebruik het as wonings, wat uitgespoelde walvis in stukkies gesny en begrawe het onder die sand waar seewater dit vir tot drie weke koel sou hou. Is dit nie immers die eerste verkoelingstegnieke nie? En vandag is dit die mense wat ook alles van die snoek sou eet: die kop, die kuite, die oë. Sowaar, omdat my ma eintlik van Graaff-Reinet is, het ek self nog nooit viskop geëet nie, en hierdie jaar gaan ek.

Mense wat tog ook vir duisende jare geglo het dat “die see gee en die see vat”, maar jy moet kyk na haar.

En ons mense by baie van die kusdorpies is onbewus van die geskiedenis. Om nie te vergeet nie van die storie van die rooi stuk metaal wat aan Simon van der Stel gewys was deur ’n KhoeSan-man wat al die pad van die Noord-Kaap af gereis het en ook die “blink klippie” wat later ontdek sou word en genoem sou word diamante?

Is dit ook per toeval dat die klere-industrie haarself sou vestig innie Kaap? Wie was immers die eerste mense wat krale en klere uit skaapvelle kon maak? Wie se hande was dit? Hulle het ons “kleurlinge” genoem, maar hulle het tog geweet dis KhoeSan-vrou-hande wie hier is. Want jy kan die naam op die houer verander, maar die inhoud sal jy tog nooit kan verander nie.

En weer eens, soos in die geval van die rooibosindustrie, wie wou stry en sê dat daar niks geskrewe rekords is nie, moet ons die vraag vra: Wie sou eintlik die land beter ken as die mense wat hier vir duisende jare gewoon het en steeds bewoon, wat glo dat die land en alles wat in dit is, na gekyk moet word, nie net vir ons nie, maar die generasies na ons? Sou ons dan vandag moes renosters beskerm van uitsterwe as ons na die land gekyk het? Sou die swart leeus nog in die Kaap gewees het en sou olifante vandag nog volop in Stellenbosch beweeg het?

Die stories van die San wat eerste ’n ritual sou doen voordat daar gejag sou word om te verseker dat diere so min pyn as moontlik sal verduur en dan kos mooi verdeel en amper alles wat geëet kan word van dier sou eet. Selfde met die Khoe wat nie vee sou slag net omdat hulle kon nie. Ons mense sou liewers neute en ander goed versamel as om diere onnodiglik seer te maak.

Dis juis hoekom die koloniale nie kon verstaan al die vee wat ons mense gehad het en hoe hulle hier aangekom het nie. Sonder ons KhoeSan sal Afrikaans ook nie vandag bestaan het. Dan word gesê dié is opgemaakte stories.

Vandag, soos met rooibos, buxu (boegoe), hoodia, die wynindustrie, die myne, die vissersbedryf, moet gevra word hoe die industrieë eintlik ons KhoeSan se enorme bydrae wil ignoreer, dit steeds wil stry.

Ons mense was en sal nog steeds die //Khore //Hare mense bly, wat in Khoekhoe-taal beteken “wees welkom”. Dis tog nie in ons bloed om nie te deel nie. Ons sal jou tog ons laaste en ons beste gee.

As jy siek is, sal ons jou genees, as jy honger is, sal ons jou gesond maak. Ons is mens van mens, Khoekhoe. En tog was dit tot ons grootste nadeel.

Dit was tog baie interessant om Wupperthal te besoek en te kyk hoe hierdie Morawiese dorpie lyk, amper weggesteek van Suid-Afrika, in die Sederberge. ’n Plek waar tyd amper stilgestaan het, waar ons KhoeSan-mense nog op donkiekarre ry, waar mense hul eie huise bou, hulle eie lappie grond het om kos te groei, waar almal vir almal ken, waar donkies jou wakker maak, sonder straatligte, met kerk as sentraal tot mense se lewe. Goed of sleg en dan die geveg vir die “rooi goud” soos rooibos bekendstaan, en die geveg binne die gemeenskappe en buite.

Tog spot ons toe hoe die drama met die rooibos ’n amazing storielyn vir ’n sepie sal wees.

Wat lê die pad vorentoe vir die rooi goud en die mense wie regtig moet baat by nie net rooibos nie maar ander KhoeSan-medisyne? Nie net die KhoeSan in Suid-Afrika nie, maar ook ons mense in Namibië, Botswana en Zimbabwe?

Kraalbos is dan nou nog ’n KhoeSan-medisyne wat nou by die Universiteit van die Wes-Kaap genavors word.

Ons KhoeSan was ’n paar jaar gelede aangewys as die “traditional knowledge holders” van buxu; ’n “benefit sharing” ooreenkoms was geteken en na al die jare praat niemand dan van waar die betalings is en of industriële kennis wel oorgedra was nie? Dit was immers die bepalings. Hoekom is dit dan in 2018 so maklik om die eerste inwoners van die land te ignoreer?

Die rooibosindustrie onderhandel tans vir dieselfde ooreenkoms en ons kan net hoop dat hierdie keer sal dinge reg gedoen word.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Salomé Malherbe

    Ja, laat reg geskied. Nie net vir een groep nie maar laat die net wyd gegooi word oor elkeen wat hierdie aarde liefhet. Nie net die wat gekom het om te plant en te bou nie, maar ook die wat reeds hier was en sag gewerk het met veld en dier in ons mooi land. Want die liefde vir jou land se wortels lê diep geplant deur God se hand.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top