Rita (JM) Gilfillan (1941–)

  • 2

Foto: Izak de Vries

Sêgoed van JM Gilfillan

In 1990: "Ek is geïntimideer, werklik geïntimideer deur die Afrikaanse literêre wêreld. Dit lyk vir my na ’n ongenaakbare wêreld waarin ek my persoonlik nie graag wil begewe nie." (Beeld, 16 Julie 1990)

In 1990: "Ek hou nie van publisiteit nie. Ek wou graag ’n skuilnaam gebruik vir dié bundel (Van stiltes en stemme), maar ek het geweet dit is totaal vrugteloos; in hierdie land gaan almal tog weet wie die skrywer is." (Beeld, 16 Julie 1990)

In 1997: "Ek skryf, want dis op ’n sekere manier ’n bevestiging van ’n eie identiteit. Dit is natuurlik ook ’n bietjie ontvlugting – en dit laat ’n klein stemmetjie van my blanke Afrikanerskap hoor teen die geweldige oormag in. Ek skryf om orde te bring in dinge wat nie vir my heeltemal wil sin maak nie." (Vrydag)

In 1997: "Durban het deur sy vreemdheid, sy oorweldigende andersheid iets in my losgemaak en my laat skryf. Ek sal altyd met dankbaarheid aan Durban dink. Dis waar ek regtig begin skryf het." (Vrydag)

Oor haar verskuiwing na romanskryf: "Dis seker as gevolg van ’n bietjie meer selfvertroue, want ek het altyd gedink dis baie moeilik om ’n langer teks te skryf, maar nou vind ek dis makliker. Dis baie meer bevredigend om oor ’n aantal bladsye met dieselfde karakters doenig te wees. Mens groei in hulle in. Die kortverhaal eis baie en jy moet telkens ’n nuwe intensiteit vind. Dis moeiliker as met ’n roman." (Vrydag)

Gebore en getoë

Rita (Jacoba Magrieta) Gilfillan is op 29 April 1941 op Ermelo in Mpumalanga gebore, die oudste kind van Hendrik en Lena Eksteen. Haar pa het op die plaas Swartwater in die Ermelo-distrik geboer.

Na Rita is daar twee seuns gebore: Hendrik, twee jaar jonger as sy, en Pieter, vyf jaar na haar. In 1946 is hulle ma, ’n nooi Taljaard, op 28-jarige leeftyd aan hartversaking oorlede. Hierdie gebeurtenis het natuurlik ’n groot invloed op veral die kinders se verdere ontwikkeling gehad. Pieter, wat maar ’n baba was, is dadelik na sy pa se oudste suster toe en daar het hy ’n veilige en geborge tuiste gevind. Ten spyte van die jong wewenaar se pogings om die res van sy gesinnetjie bymekaar te hou, word Hendrik, maar veral Rita, swerwelinge in daardie groot en uitgebreide familie, vertel Rita aan LitNet.

Oor haar vroeë kennismaking met boeke vertel Rita voorts: "In daardie tyd was boeke in boerehuise nog skaars. Ek onthou die Bybel en Uit die Beek, Die Voorligter en Die Landbouweekblad. By my ouma was daar ook Die Huisvrou waarin ek Audrey Blignault se gereelde vertellings oor Amanda en haar huisgesin in Kaapstad behoorlik verslind het. Eendag is eendag, het ek myself beloof, eendag is eendag dat ek ook in Adderleystraat sal stap met die Suidoos wat my rok skep sodat ek net moet keer vir my wickets. Eendag is eendag dat ek daardie Marietjie-kind gaan ontmoet. Op hoërskool was daar ’n klein biblioteek, maar wat ek onthou is die Anne of Green Gables-reeks wat ek by ’n maat te lese kon kry, ek het by een van my tantes ’n hele plank vol Tarzan-boeke ontdek en dit gretig deurgedraf sonder om bewus te wees van die keurige vertaling. As daar niks anders was nie, het ek die fynskrif op die bakpoeierblik gelees. By ander vriende het ek Jane Eyre in ’n kartondoos gevind ’n boek wat ek met eindelose vreugde en herkenning gelees het, seker om verskeie redes.

"Ek was van niks regtig seker nie, maar ek onthou tog dat my peetoom op ’n keer gevra het wat hy vir my kan saambring van die dorp af. Ek het ’n boek gevra, ’n boek met lyntjies, waarin ’n mens kan skryf. Ek was so ontwortel, so pynlik skaam, dat skryf vir my al manier van uitdrukking was, dit meer as dat ek juis enige gevoel van ’n roeping (vir skryf) gehad het. Miskien oor al die oefening in daardie boek met lyntjies, was opstel-skryf later vir my lekker, en tale my geliefkoosde vak."

Rita se skoolloopbaan het op Rooiwal begin, ’n plaasskool in die omgewing waar haar pa geboer het. Sy het daar in ’n koshuis loseer. In daardie tyd het haar pa weer getrou, die plaas verkoop en op Piet Retief gaan bly, waar sy skoolgegaan het. Dit was egter nie vir lank nie, want sy is saam met haar nuwe ma na Springs waar hulle by haar ma se ouer suster en man en kinders gaan bly het.

Van daar af na ’n ander plaasskool, met die naam Transvalia. Oor haar leeservaring in hierdie skooltjie vertel Rita (Insig, Januarie 1998): "Teen die tyd dat ek die volle vreugde van lees ontdek het, was ek ingeskryf by ’n plaasskooltjie met die naam Transvalia. Daar, in een hoek van die klaskamer, het ’n beskeie boekrak gestaan. Stelselmatig het ek ’n pad deur hom gelees van Maasdorp tot by Keurboslaan. Die wonderlike avonture onder insekte en voëls waarvan dr Skaife vertel het, is deur my verslind, sowel as Uncle Tom's cabin en Huckleberry Finn. En toe breek die dag aan dat daar niks meer op die rak was nie, maar wanneer die nag op sy donkerste is, breek die daeraad deur."

"En so daag die boekwa van die Provinsiale Biblioteekdiens daar op. Ek het reeds ’n smaak gehad vir Hendrik Brand se Swart hand en vir alles wat naastenby na mystery en suspense gelyk het. Seker daarom dat ek onmiddellik aangetrokke gevoel het tot ’n boek met die belowende titel Vier ontvoerde vroue. Vir hierdie lojaliteit aan die Afrikaanse taal is ek beloon met ’n uitnodiging om ons onderwyser ná skool te kom spreek. Hy is genoodsaak om die boek te konfiskeer, het hy my meegedeel. Veral vanweë die um dubieuse aard daarvan. Dat hy diep teleurgesteld is in my onnatuurlike belangstelling in sake van ’n um ... onkiese aard, spreek vanself. [...] Vier ontvoerde vroue het deur die onderwyser se ingreep natuurlik ongelees gebly."

Toe die sukkelende skooltjie vou, word die ontwortelde troppie kinders ingeskryf by die Van der Merweskool te Ermelo. "Na hierdie verwarrende begin was dit seker nie vreemd dat ek vir die duur van standerd 4 en 5 in die spesiale klas was nie. In daardie tyd is dit die Aanpassingsklas genoem en onder leiding van liewe meneer Hechter het ek stadigaan begin aanpas by die lewe," vertel Rita aan LitNet.

Dr Nicol, destyds administrateur van die voormalige Transvaal, het ’n praatjie by hulle skool kom gee. Sy boodskap was dat ’n geleentheid dikwels maar een maal kom, en wie dit nie aangryp nie, is dit kwyt. Hierdie woorde het om een of ander rede ’n onuitwisbare indruk op Rita gemaak. Juis toe het die skoolhoof, mnr BS Roberts, ontwerpe vir ’n skoolwapen gevra. Gedagtig aan die boodskap, het Rita besluit om ook in te skryf en daar het haar ontwerp, ’n oop boek waaroor die son opgaan, gewen. "Nie sleg vir iemand uit die Aanpassingsklas nie, dink ek by nabetragting, en hoera vir Driekie Calitz en al die ander minder of meer gestremde klasmaats van 1953–54."

Vanaf die laerskool is Rita na die Hoërskool Ermelo, waar sy vyf gelukkige jare deurgebring het. In die skoolkoshuis, Adriani, het sy waardevolle vriendskappe gesluit en het sy vir die eerste keer geborge en tuis gevoel – veral deur die simpatie en woordelose begrip van mnr CP van der Walt, die koshuisvader en Afrikaans-onderwyser. Sy was bevoorreg om wonderlike onderwysers aan die Hoërskool Ermelo te hê, soos mnr Tönsing wat Duits gegee het, mnr GDS van Heerden, skoolhoof en geskiedenis-onderwyser, mnr Botha vir Wiskunde, mev Bütow vir sang, en nog baie ander. Sy het hokkie gespeel, aan debatte deelgeneem, aan die CSV behoort, en wat die skool ook al bied. Vakansies het Rita saam met maats deurgebring, of by haar grootouers of tantes.

Sy matrikuleer in 1959 aan die Hoërskool Ermelo.

Verdere studie en werk

Na skool is Rita na Pretoria, waar sy in die Staatsbiblioteek gaan werk het. Daar het sy weer wonderlike en inspirerende mense ontmoet, soos die jong mevrou Schoeman wat Rita na haar huis genooi het, waar sy met nuwe idees gekonfronteer is, nuwe skrywers leer ken het en ander kos leer eet het, en dit alles sonder dat sy geweet het dat mevrou Schoeman die suster is van mnr Tönsing, haar eertydse Duits-onderwyser!

Rita het intussen by die Universiteit van Pretoria ingeskryf en begin buitemuurs swot aan ’n BA Biblioteekkunde-graad. Toe die geleentheid hom voordoen, het sy die Staatsbiblioteek verruil vir die Merensky, die universiteitsbiblioteek op die kampus, wat baie voordelig vir haar studies blyk te gewees het. Veral die dosente in biblioteekwese het baie in die biblioteek gewerk en Rita het hulle van nader leer ken. Sy kon dus nie langer lyf wegsteek agter naamloosheid nie.

Waarskynlik deur die aanbeveling van daardie dosente het sy ’n beurstoekenning gekry en is Rita vroeg in 1964 na Amsterdam, waar sy as bibliotekaresse in die Zuid-Afrikaanse Instituut op die Keizersgracht gewerk het en in Utrecht gestudeer het vir ’n verdere diploma in biblioteekwese. Roy Pheiffer het destyds die leerstoel in Afrikaans aan die Universiteit van Amsterdam beklee en sy kantoor was in die Instituut, wat beteken het dat hy en Rita mekaar goed leer ken het.

Nadat sy die diploma verwerf het, het Rita in 1965 in die Amsterdamse Stadsbiblioteek gaan werk voordat sy na Suid-Afrika teruggekeer het om haar pa, wat terminaal siek was, nog te kon groet.

Na haar pa se afsterwe het Rita in 1966 ’n aanstelling in die munisipale biblioteek van Germiston gekry. Gedurende daardie tyd het sy by mev Schoeman van die Staatsbiblioteek in Mtunzini gaan kuier en daar vir Rouston Gilfillan ontmoet, met wie sy in 1967 getroud is. Hy was destyds ’n dosent in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Zoeloeland en sy het in die universiteitsbiblioteek aldaar gaan werk.

Toe Rouston vroeg in die 1970's ’n aanstelling by Ikeys kry, was Rita gelukkig genoeg om in die biblioteek van Barckleyhuis, ’n onderwyskollege in Claremont in die suidelike voorstede van Kaapstad, te gaan werk. Later, toe Rouston na die Universiteit van Stellenbosch verskuif het, het sy van die geleentheid gebruik gemaak om eers ’n honneurs en daarna haar MA-graad in Afrikaans en Nederlands te verwerf.

Dit het daartoe gelei dat sy as dosent by die Universiteit van Durban-Westville aangestel is toe haar man ’n professoraat in Afrikaans aan die Universiteit van Natal aanvaar het. Sy het die pos beklee tot hulle aftrede en terugkeer na Stellenbosch. Hulle het drie kinders: twee dogters en ’n seun.

In 1989 debuteer Rita met die kortverhaalbundel Van stiltes en stemme, waarvoor sy in 1990 die Ou Mutual-prys ontvang. Vir hierdie verhale het sy ook ’n toekenning van die FAK ontvang.

Sy het reeds een maal vantevore, in die sewentigerjare, ’n prys in ’n Sarie-kortverhaalwedstryd gewen. "Ek het die prys gewen en dit het my só laat skrik dat ek vir jare nooit weer iets geskryf het nie," vertel sy aan André le Roux. (Beeld, 16 Julie 1990)

Een van die verhale in Van stiltes en stemme, "My liefste poppie", het in Standpunte verskyn, net onder die voorletters JMG. Die bundel verhale word op die flapteks beskryf bloot as ’n debuut wat "handel oor die uitbeweeg uit een toestand na ’n ander – ’n pynlike proses wat soms tot ontgogeling lei, maar soms ook tot insig en verlossing".

Le Roux beskryf die verhale as "sober, konvensioneel selfs, sonder veel hedendaagse -ismes. Dit kan doelbewus wees, of dalk kies die verhaal sy eie loop."

Rita meen dat dit nie doelbewus is nie; "dit het seker te make met my ouderdom en dat ek uit ’n heel ander, ouderwetse tradisie kom. Maar dit het seker ook daarmee te doen dat ek ’n soort mens is wat buite alle bewegings en strominge wil staan; ek is eintlik ’n baie sterk alleenloper."

Die idioom waarin die verhale in die bundel oor Durban-Westville – "Die Taalles", byvoorbeeld – geskryf is, het ’n meer hedendaagse aanslag en is ook korter. Rita skryf dit toe aan die blootstelling aan hedendaagse jongmense. "En die ander verhale, veral die kinderverhale, het vroeër ontstaan. Daar is drie ouer verhale, 'Agtermiddag van ’n kind' (wat sowat tien jaar vantevore ontstaan het), 'Die troudag' en 'My liefste poppie'.

"Dis tog vir my asof ek nou ... ek het in die eerste plek baie bewus geword van Afrika, van swartmense en van Afrikaans en wat dit vir hulle moet beteken om Afrikaans te móét leer. Daardie verhale het miskien ’n moderner vorm; vandaar miskien ’n breuk in die bundel tussen die ouer, konvensionele verhale en hedendaagse verhale."

Sy het hierdie ou verhale opgediep en besef sy wil ’n bundel skryf waarin alles met alles te doen het. Dit was beplan. "Ek dink ek het ’n baie sterk vormbewustheid, dit wéét ek. Ek is ’n esteet (al werk dit nie in vandag se idioom nie!), maar dit moet vir my reg klink op die oor, die sin moet sy eie ritme hê. Ek dink ek is baie beïnvloed deur Karel Schoeman: ek hou van die ritme wat sy prosa het."

In Beeld (31 Oktober 1989) beskryf AP Grové die bundel as aantreklik "met ’n elftal kortverhale wat inhoudelik en tegnies tot op sekere hoogte met mekaar verband hou. Nie net keer sekere situasies en selfs bepaalde figure hier en daar terug nie, maar dit is gou duidelik dat die skryfster by voorkeur haar stof put uit ’n eietydse werklikheid wat sy eerstehands waargeneem en/of beleef het.

"Al werk sy met karakters, is ’n mens feitlik deurgaans bewus van ’n sterk persoonlike, byna outobiografiese ondertoon. Dit dra by tot die eenheid van die bundel. As hier van eenheid sprake is, wil dit nie sê dat daar nie ook genoeg verskeidenheid is nie. Daar is verhale wat met die werklikhede van die rassesituasie in Suid-Afrika te doen het, verhale wat dit het oor spanning, opstande en die moontlikheid van versoening. Sommige verhale speel af in die klaskamersituasie met die ontoereikende onderrig van byvoorbeeld Afrikaans aan onwillige en wrokkige leerlinge. In 'My liefste poppie' gaan dit oor huwelikspanninge met die kind as lydende party. (...)

"Maar hoe die situasie ook al verskil, diep-in gaan dit oor mede-menslikheid, die moontlikheid of onmoontlikheid van mense om mekaar oor grense van watter aard ook heen te vind. Die verhale wil dus ’n bepaalde insig bring, ’n boodskap, as u wil." Grové het gemeen dat daar nog veel van die skryfster verwag kan word.

Joan Hambidge (Rapport, 15 Oktober 1989) noem Van stiltes en stemme ’n "delikate debuut en dit kan tereg getipeer word as ’n volwasse debuut: nie net vanweë die boeiende spel tussen stilte en kontak nie, maar ook vanweë die feit dat die verhale van lewensinsig én stylbeheersing getuig wat selde by ’n nuweling te vinde is."

Vir Gunther Pakendorf (Die Burger, 9 November 1989) is die verspreiding tussen goeie en minder goeie verhale eweredig. En al is daar ’n onegaligheid is dit ’n debuut wat veel belowe vir die toekoms.

Ook Riana Botha (Volksblad, 25 November 1989) meen dat al die verhale nie ewe geslaagd is nie, maar dat dit ’n belangrike debuut is, asook ’n welkome bydrae tot die Afrikaanse literatuur.

Ena Jansen is die resensent in Vrye Weekblad (3 November 1989) en sy beskryf die elf verhale in Van stiltes en stemme as "pretensieloos, skadeloos, invoelend en met ’n ligte aanslag geskryf. ’n Mineurtoon oorheers en die ontnugteringe en verdriet van Gilfillan se karakters word fyn en meestal sonder smuk aan lesers oorgedra. [...]

"Gilfillan se stories sou meer kon sê as die registers oopgetrek word, die 'oerwoud' betrek word. Wie weet watter stemme nog aan die woord gaan kom."

Rita se volgende bundel kortverhale, Die vrank smaak van frambose, word in 1993 deur Human & Rousseau gepubliseer.

Riana Scheepers skryf in Die Burger (16 November 1993) dat een van die uitstaande kenmerke van die Afrikaanse letterkunde aan die begin van die 1990's die groot aantal vroueskrywers is "wat elk ’n eie skakering by die kleurryke doek van die kortverhaal inweef. Met Die vrank smaak van frambose weef JM Gilfillan die framboos-kleur van melancholie in hierdie wye doek. In bykans al die verhale demonstreer sy die vermoë om die pynlike ervaring as ’n sensuele belewenis uit te beeld. Sy doen dit met die deurleefde wysheid van die volwassene wat geryp is deur die lewe. Wanneer die verteller in die trefferverhaal 'Ariadne spin ’n yarn vir Sheherazade' haar skaamteloos verlustig in die 'vrankerige smaak van vars frambose', herken sy daarin die smaak van die lewe self: 'Die surigheid wat my kieste laat saamtrek, is tegelykertyd vermeng met ’n haas ondraaglike malsheid' (bladsy 68).

"Hierdie uitspraak is van toepassing op die hele bundel, want pyn kan ’n intense vorm van skoonheid wees, en droefnis ’n poort tot nuwe sintuiglike ervaringe. Belangrik in Gilfillan se oeuvre is die gestremde, die liggaamlik verswakte of die eenvoudige van gees wat met insig en deernis geteken word. Veel meer onthutsend as die leef- en denkwêreld van hierdie karakters, is die reaksie van die gemeenskap wat met hulle in aanraking kom. Die mens, ook die swaksinnige of die bejaarde, se universele behoefte aan liefde en aanvaarding lei dikwels in hierdie verhale tot die primêre konflik en spanning waarom die verhaalgegewe gebou word. Ironies: Dit is nie die pretensieuse, welgestelde 'kultuurmens' nie, maar die eenvoudige, die een wat volgens die samelewing net ’n trappie hoër is as die swaksinnige, wat die behoefte in sy medemens raaksien en ’n simpatieke hand uitreik." Scheepers meen dat Rita haar met hierdie bundel as een van die beste kortverhaalskrywers in Afrikaans vestig.

Vir Gretel Wybenga (Beeld, 13 September 1993) is ’n interessante wending in Die vrank smaak van frambose die "meer eksplisiete teenwoordigheid van duidelike postmodernistiese trekke, en dan veral in die twee briljante slotverhale: 'Die wedstrydverhaal' en 'Ariadne spin ’n yarn vir Sheherazade' (wat ’n heerlike titel!).

"Hoewel die flapteks die indruk skep dat die verhale in die bundel minder somber is as dié van sy voorganger, moet die leser tog nie verwag dat 'alle gesukkel' in die meeste tekste 'wonderlik sinvol' word, soos die flapteks beweer nie. Die fiktiewe skryfster in die slotverhaal bely in die nag toe sy haar 'welwillende gasheer se baard oor haar vel voel skuur het' (68): 'Met al my sintuie oop kon ek bevestiging vind dat ek, ten spyte van alles wat so stukkend gebreek het, nog altyd lewe en vir ’n kort wyle ’n toevlug kon vind in die weerloosheid van ’n medemens' (69).

"Die meeste van hierdie verhale vind hul 'toevlug' in die weerloosheid van die mens wat juis so selde weet hóé om te lewe (benewens die een in 'Arme fool' is dié tekste vol arme fools). Veral in die eerste agt verhale (daar is tien) staan die verwondbaarheid van die mens voorop. In die eerste vier is die aartsmoeder as toevlug ’n sentrale gegewe, en dan veral dié 'met doeke laag gebind om hulle voorkoppe en hande gevou oor hulle buike' (14): die swart vrou wat niks het om te verloor nie.

"In 'Die pad na Lusikisiki' en 'Pièta' word die gebrek aan erbarming en egtheid in die wit opset by wyse van kontras juis ontmasker. Dié tema klink ook later onverwags op in 'Die wedstrydverhaal.'

"Oor hierdie bundel, en dan veral die laaste twee verhale, gaan nog baie gesels word. ’n Mens sien met groot verwagting uit na verdere publikasies van die skryfster"

Joan Hambidge (Insig, September 1993) vind die verhale in Die vrank smaak van frambose tegnies goed versorg. "In die briljante slotverhaal, "Ariadne spin ’n yarn vir Sheherazade", weef die verteller ’n reeks indrukke, ervaringe en reisbeskrywings tot ’n weelderige tapisserie wat met elke lees ’n nuwe (ander) interpretasie ontlok.

"Die verhale verval nie in selfbejammering of schmaltz nie vanweë die tegniese beheer van die skrywer. Hiervan lewer die troostelose (en uitsiglose) 'Ik heet Wouter' bewys. In die hande van ’n mindere kon dit ’n uitgesponne gay-relaas geword het. Nou wen die verhaal juis aan interpretasie en gehalte, omdat die leser sélf die drade moet saamtrek.

"Dis nie ’n bundel wat terugval op skoktegnieke óf -onthullings nie; en tog is die leser deurentyd ontredder oor die ’naakte waarhede' van misverstand, uitsigloosheid, eensaamheid." Dit is een kortverhaalbundel, sê Hambidge, wat sy kan aanbeveel.

Vir Marion Hattingh (Karring, Herfs 1995) is dit die ingewikkelde en "besonder sensitiewe registrasie van mense" soos hulle op mekaar en op die wel en wee van die lewe reageer, wat verrassend is. "Die klem val hier op diegene wat ondanks jammerlike omstandighede veredeling vind, of wie se onvaste bestaan binne bundelkonteks op ’n paradoksale wyse na sin uitreik. Hierdie is verhale wat sinisme en relativisme afwys en wat ’n soeke na betekenis as ’n basiese kenmerk van menslikheid belig. Die vrank smaak van frambose is by uitstek ’n bundel waarin vrouekarakters as sterk persoonlikhede funksioneer. Op ’n subtiele wyse lewer al die verhale oor die ontberings van mense teen wie daar op een of ander manier gediskrimineer word, skerp samelewingskritiek en word patriargale konvensies telkens in die gedrang gebring. Dit is opvallend dat wanneer mans wel in enkele verhale in die fokus staan, hulle voorgestel word as bejammerenswaardige figure wat nóg hul adolessente wellus, nóg hul alleenheid en ontnugtering kan verwerk."

In 1995 beweeg Rita weg van die kortverhaal en word haar eerste kort roman of novelle by Human & Rousseau gepubliseer onder die titel Die verhaal van ’n vrou, ’n leeu en ’n hoenderhen.

In Insig (Maart 1996) skryf JP Smuts dat wanneer die leser die eerste keer die novelle onder oë neem, is daar dadelik elemente van Gilfillan se vroeëre werke sigbaar "die problematiek van die sensitiewe maar ontwortelde kind is byvoorbeeld ook in die nuwe werk ’n belangrike gegewe – maar jy voel terselfdertyd die greep is groter, en stilisties is hier met vaster hand geskryf. En dan nie vas in die sin van strakker en meer gestroop nie, maar steeds sonder hinderlike oordaad. Die wyse waarop die taal in hierdie werk gehanteer word, is ’n belangrike pluspunt van Die verhaal van ’n vrou, ’n leeu en ’n hoenderhen. [...]

"Die werk verloop in sewe kort hoofstukke, en ’n enersheid in die struktuur val onmiddellik op. Elke hoofstuk het ’n titel wat begin met die woord Waarin: ('Waarin daar pasta gekook word en ’n meisie haar hande verloor'; 'Waarin ’n besorgde grootmoeder melksnysels voorsit en waarin ’n leeu uit gevangenskap ontsnap') en eindig met ’n resep wat in die loop van die betrokke hoofstuk in die kombuis berei is.

"Sewe is ’n magiese getal wat pas in die sprokiesfeer, en die patroonmatige opbou is eweneens kenmerkend van sprokies.

"Sentraal in die eerste hoofstuk staan Engela Verster, eienares van ’n gastehuis op Stellenbosch. Reeds van die tweede hoofstuk af word egter uitvoerig teruggewerk in die verlede en algaande word ’n beeld opgebou van Engela se ma, Rachel, wat op ’n hoewe naby die Paarl bly. Rachel se lewe het in baie opsigte ’n sprokiespatroon gevolg, maar dan nie in die romantiese sin van die woord nie, maar wel in terme van die gruwelike wat so ’n inherente deel van baie sprokies is. (...)

"Teenoor Rachel wat deur die kodes van die samelewing verkneg is, staan haar dogter Engela, die bevryde vrou wat probleemloos buite die huwelik met ’n man saamleef."

Smuts beskryf Die verhaal van ’n vrou, ’n leeu en ’n hoenderhen as een van die boeiendste, fantasierykste en verrassendste Afrikaanse prosatekste wat gedurende daardie jaar in Afrikaans verskyn het.

Joan Hambidge is die resensent in Die Burger van 13 Desember 1995 en vir haar is Die verhaal van ’n vrou, ’n leeu en ’n hoenderhaan nie net ’n storie nie, maar ’n verslag van die kreatiewe vrou se probleme wanneer sy haar in die diepe, psigiese waters van die kreatiwiteit plaas. Clarissa Pinkola Estés se Women who run with the wolves (1992) is ’n belangrike interteks, met veral die verwysing na die transformasie van die lelike eendjie, die meisie met die afgekapte hande, die ou storieverteller wat langs die vuur sit. Trouens, op ’n plek verwys die verteller ironies genoeg na die feit dat Pinkola Estés se studie nie bestaan het toe sy dit juis bitternodig gehad het nie!

Tom Gouws (Beeld, 29 Januarie 1996) skryf: "Daar is veel in hierdie novelle wat ’n mens beïndruk: die gemaklike vertelstyl, die verbeelding, die knap taalbeheersing, die vermoë om te kan komponeer, wêrelde te integreer, onverwagte dinge naas mekaar te stel. Maar ’n mens vermoed Gilfillan het intertekstualiteit te letterlik opgeneem: dit as ’n produk gebruik en nie as proses nie. Al is daar ’n uitgebreide pleidooi vir 'die plekke waarin die skrywer se hand sigbaar word' in die teks, is dit vir my gevoel ’n té maklike uitweg.

"Die gebeure in die novelle van Gilfillan is gebou op die fassinerende sprokie van die maagd wat haar hande verloor het. Die verteller in die novelle lig die simboliese betekenis van die sprokie soos volg toe: 'Clarissa Pinkola Estés verduidelik dat die meisie haar pad na inisiasie inslaan wanneer sy haar hande verloor. Sy volg nou die weg na dieselva subterránea en die kanse is goed dat sy uit die onderwêreld sal kom met haar psigiese en kreatiewe herstel.'

"Op dieselfde trant word die uitstekende storie 'van ’n vrou, ’n leeu en ’n hoenderhen' deurentyd onderbreek met ’n beterweterige Jungiaans-gerigte verteller wat vir die leser dieptesielkundige en alchemie-toeligtings gee, byvoorbeeld: 'haar ou, hulpelose self moet afsterf voor ’n nuwe self gebore kan word', of: 'Soos die stamper en vysel reeds aandui, is die Baba Yaga ’n oer-vroulike simbool ... Jy verstaan natuurlik dat binne die Jungiaanse sielkunde die stiefmoeder en haar lui dogters simbole is van Wassilissa se eie skadukant.'

"Soos ook in haar kortverhaal 'Ariadne spin ’n yarn vir Sheherazade' in haar vorige bundel, Die vrank smaak van frambose, sal dié novelle handig deur literêre teoretici gebruik kan word om die metafiksionaliteit of uitgebuite narcissisme van die eietydse postmodernistiese prosa uit die wys. 

"Maar vir die gewone leser word dit ’n teksversperring, ’n aangenaalde teoretiese lap wat nie die gate in die teks genoegsaam wegsteek nie. In die sprokie van die maagd wie se hande afgesny is, kan sy net so min met haar gemaakte silwerhande maak as met haar stompies. As sy uiteindelik met deursettingsvermoë aanhou probeer om haar eie identiteit te vind, groei haar hande weer aan. Gilfillan het soveel talent dat sy met groot vrymoedigheid Estés, of ander, se silwerhande kan begrawe. Ek nie kan wag om te sien wat sy kan doen met haar eie, nuutaangegroeide hande nie."

Die verhaal van ’n vrou, ’n leeu en ’n hoenderhen het die derde plek in die Ou Mutual-prys behaal.

Rita vertel aan Hilda Grobler (Vrydag, 1997) dat sy nie ’n bewuste besluit geneem het om ’n roman te skryf nie, maar dat dit lyk asof sy so half onwetend wegbeweeg het van die kortverhaal af.

Sy meen ook dat die kritici haar al skerp gekritiseer het oor die orde wat sy in haar skryfwerk probeer skep. "Hulle sê alles pas altyd mooi netjies, en ek maak mooi oplossinkies. Maar dit was heeltemal anders toe ek Die verhaal van ’n vrou, ’n leeu en ’n hoenderhen geskryf het. Dié was nie ’n verhaal vir orde nie. Dit was gewoonweg ’n uitbarsting van vreugde, die lekker om mens te wees, Afrikaans te wees, vrou te wees, in Durban te wees. Dis ’n boek oor boeke en dit bring ’n huldeblyk aan al die boeke wat ek al gelees het, asook aan al die vreugdes van my lewe."

Die verhaal van ’n vrou, ’n leeu en ’n hoenderhen is in 2008 in ’n tweede uitgawe deur LAPA gepubliseer.

Rita se tweede novelle, Pouoogmot, word in 1997 gepubliseer. Dit gaan oor ’n groep vroue wat in saal 13 van ’n private kliniek lê. Nie net het elke vrou haar eie spesifieke fisieke probleem nie, maar elkeen van hulle het ook ’n diepe swaarkry wat diep binne hulle lê, maar nie so maklik deur die omstanders raakgesien kan word nie, skryf Annemarié van Niekerk in Die Kat van Junie 1998.

"Dit is die nuwe Suid-Afrika – daar is Indiër-, swart en wit vroue saam in een saal en elkeen het haar eie vooroordele en aanpassingsprobleme. Om verveling te besweer, besluit die vroue op ’n storie-uur waartydens elkeen die kans kry om ’n storie oor klere te vertel. Onvermydelik handel elkeen se storie oor haar eie lewe en haar hartsgeheim. En die vertellings begin die historiese agtergrond eggo van die Waarheid-en-Versoeningskommissie waarteen hierdie novelle afspeel.

Van Niekerk beskou Pouoogmot as ’n verhaal wat tot die einde boei, "omdat die stukke storie spannend is en in afwisselende style vertel word. Hoewel daar hier en daar spore is van oordrewe mooi beelding, skend dit nooit die vloei van die novelle nie. Saam met die lees sal elke leser besef dat ons eie hartstories deel is van ’n groter patroon – dat dit nie slegs nodig is dat ons met ons eie stories gekonfronteer word nie, maar dat ons ook na die stories van ander moet luister om bevryding en genesing binne ’n groter konteks te bring."

"Hoewel die proses van roman-skryf ’n belangrike gegewe in Gilfillan se Pouoogmot is, is hierdie roman allermins ’n serebrale oefening," skryf Louise Viljoen (Insig, Maart 1998). "Dit begin naamlik met ’n vrou wat beplan om ’n roman te skryf, gedagtes rondom ’n aanvanklike idee versamel en dit langsamerhand begin orden. Dit wat sy uiteindelik begin skryf, vorm dan die roman-binne-’n-roman wat ons te lees kry. Dit handel oor ’n groep vroue wat saamgegooi is in ’n hospitaalsaal en vir mekaar verhale vertel om hul vrees en verveling te besweer. Hoewel die skrywende vrou erken dat die idee ontleen is aan voorbeelde soos Chaucer se Canterbury Tales, Bocaccio se Decamerone en selfs Calvino se If on a winter's night a traveller, kom die idee binne die konteks van haar roman van suster Precious Mafokeng, terwyl dit die onderwyseres in die groep vroue is wat voorstel dat die stories om ’n bepaalde tema moet sentreer. Saam besluit hulle dan om stories oor klere te vertel."

"Hiermee sluit die roman aan by ’n reeks tekste wat klere en naald- of handwerk gebruik om aspekte van vroulike ervaring uit te beeld. [...]

"Hierdie roman oor vertellende vroue word geraam en op verskillende plekke onderbreek deur gedeeltes wat handel oor die skryfster waardeur dit tot stand kom. Verbande word voortdurend gelê tussen die skryfster se ervaring en elemente in haar verhaal. Haar gekweldheid oor die ontstellende onthullings voor die Waarheidskommissie vind byvoorbeeld neerslag in die karakter Mara Malan wat selfs fisiek siek word oor die dinge in die verhaal oor haar verhouding met die aktivis Freddie Philander wat sy nie die moed het om te vertel nie. Die invloed van die Ooste is ook deurslaggewend vir die skryfster. Soos die twee borde wat ’n vriendin vir haar gemaak het, verteenwoordigend is van die pole jin en jang, staan haar persoonlikheid ook in die teken van teenoorgesteldes: sy is tegelyk ’n afgetrokke en magnetiese persoonlikheid; ’n amateur op die terrein van die lewe en as skrywer ’n toegewyde waarnemer daarvan. Die gesprekke oor bonsai-bome en die Japannese landskapskilderkuns word ook betekenisvol van toepassing gemaak op haar skryfwerk. Aan die slot van die roman wonder sy: 'Sal sy ooit streng genoeg wees om alle oortollige groei genadeloos uit te knip? Sal sy haar werk kan terugdwing tot die gestroopte vorm van bewuste geweld teen simmetrie?'

"Met hierdie selfondersoekende vraag van die skryfster vestig Gilfillan in ’n sekere sin die leser se aandag op haar eie skryfstyl. In die geval van hierdie roman word die leser opgeval deur haar vermoë om ’n ryk tekstuur te weef met haar skryfwerk eerder as om af te stroop. Aan die eksotiese, boerse, delikate en verbeeldingryke lappieskombers wat Gilfillan met haar roman skep, behoort lesers egter baie plesier te hê."

In Beeld van 29 Desember 1997 het Fanie Olivier egter sekere voorbehoude oor Pouoogmot. Vir hom bied die gegewe van die roman baie moontlikhede, maar baie min daarvan kom tereg.

Olivier gaan voort: "Nouja: vir my is Pouoogmot se aanslag tipies politiek-korrek. Suster Precious Mofokeng is presies wat haar naam sê en boonop ook nog ’n 'balling gekom oor die oseaan' vol liefde vir Afrikaans en die ouer digters." 

"Van die vroue se stories (en/of hulle 'werklike' lewens) eggo 'die lied van ’n meisie in haar liefde verlaat' in ’n verskeidenheid gedaantes. Die romanskryfster-karakter self sukkel om rondom die WVK met haarself en die gemeenskap waartoe sy behoort vrede te maak."

"Die reënboogkleed moet ook plek maak vir Nirmala Govender wat die eksotiese Ooste kan invoer saam met haar rooi sari. Ek kan terselfdertyd geen regverdiging vind hoekom haar storie nie binne die opset van hierdie roman in Engels vertel kon word nie: die 'vertelling' daarvan in ’n tipiese Oosterse sprokie-formaat rym nie met die res van die aanslag nie."

"Ek vind verder dat Gilfillan die suggestiewe wins van die gestrenge gebruik van bywoorde en byvoeglike naamwoorde wat haar werk aanvanklik gekenmerk het (dink maar net aan die stiltes wat met die stemme saamgeklink het in haar debuut) prysgegee het. Dit dra daartoe by dat die roman (albei die 'romans', trouens) neig om by tye sentimenteel te raak."

Joan Hambidge skryf in Rapport (15 Februarie 1998) dat, soos te verwagte van Gilfillan, die aanslag van Pouoogmot liries en kompleks is. "Daar is meesterlike ingebedde verhale soos die subtiele 'Die rooi sari', ’n verhaal-binne-in-’n-verhaal, soos ons ook aantref in die 1001 nagte. Die leser(es) bevind sig in ’n labirint van komplekse verhaal-betekenisse soos in haar verhaal 'Ariadne spin ’n yarn vir Sheherazade' in Die vrank smaak van frambose. Hierdie verhaal was as 't ware die vertrekpunt vir hierdie novelle wat wil kommentaar lewer op vroue se posisie, hul rol in ’n samelewing én die ondermynende mag van die private storie.

"Die man in hierdie novelle mag byvoorbeeld nie die verhaal lees nie; tog kan een ongewenste woord haar kreatiwiteit laat stol. Hiermee lewer Gilfillan sydelings kommentaar op die mag van die manlike kritici waaraan vroueskrywers, ironies genoeg, steeds onderworpe bly. Nie om dowe neute nie duik Jung se naam op in ’n gesprek oor die politiek van die land. (Dit is wanneer die skryfster en haar man mense besoek.) Die genesende mag van vertellings/sprokies aktiveer ook Clarissa Pinkola Estés se Woman who run with the wolves en ’n mens sou ’n fassinerende ontleding kon maak van Gilfillan se novelle na aanleiding van die tipes wat Pinkola Estés beskryf.

"Die pouoogmot van die titel aktiveer die Oosterse dimensie van die boek: 'In die Ooste word die sy van een soort pouoogmot waarvan die larwes op akkerblare leef, gebruik om sjantoeng van te weef,' (p 104). Die verskillende verhale vorm dan ’n ryk geskakeerde tapisserie wat die leser help knoop."

"Pouoogmot is meer as ’n postmodernistiese toertjie of ’n steriele eksperiment met die grense van die verbeelde werklikheid. Dit is ’n novelle wat die bevrydende mag van stories ondersoek, die heling wat hierin opgesluit lê en dat vroueskrywers nie meer voëltjies in ’n kou wil wees nie. Dit is ’n boek vir nalees en nadink. Dit lewer kommentaar op die proses van skryf en vertel, en veral kritiek op ’n gemeenskap waar geweld ons daagliks al hoe meer afstomp en van mekaar vervreem. Tog lê daar heling in vertel, uitpraat. En is daar versoening moontlik as mense luister na mekaar, volgens die 'cantadora' Pinkola Estés en die skryfster in Pouoogmot."

Tien jaar na die publikasie van Pouoogmot keer Rita terug na die kortverhaal as genre met die publikasie van Glas, wat in 2007 deur LAPA uitgegee is.

In Glas is daar twintig kortverhale wat uit die vrou se oogpunt vertel word. Soms word die naïewe stem van ’n kind gehoor en ander kere weer is dit die volwasse vrou wat ondervinding van die lewe het, wat aan die woord kom. Die leser leer die karakters ken in krisisoomblikke oomblikke van siekte en ontreddering oor verhoudings wat nie die paal gehaal het nie. Die verhale beeld dus die breekbaarheid van die lewe aan die een kant uit, maar ook die mooier ander kant. Dit word alles saamgevat in die titel: Glas, volgens die uitgewers se inligtingstuk.

Vir Joan Hambidge (Volksblad, 20 Augustus 2007) keer bekende temas soos liefde, onvervulling, verraad, stiltes en die metarefleksie (’n verhaal oor ’n verhaal) terug in hierdie bundel. "Die sterkste verhale is dié waar die skrywer afstand kry oor haar emosies, en juis omdat sy oor die intiem-vroulike skryf soos klere, gevoelens, en so meer, word die verhale dikwels deur ’n soet inslag bedreig. Soms mis verhale ’n sterk(er) slot óf is die aanslag, vir hierdie leser altans, te soet. [...]

"In haar sterkste verhale is Glfillan op haar beste. Die verhale moet egter skerper gefokus word en die oordadige taal kort snoeiwerk."

Thys Human (Rapport, 23 September 2007) meen dat dit in Glas hoofsaaklik handel oor verbreekte verhoudings en mense se weerloosheid en nie soseer oor geluk of vervulling nie: "Desondanks is Glas nie ’n somber óf uitsiglose leeservaring nie. Inteendeel. Die meeste verhale werk eerder suiwerend en beswerend. ’n Belangrike rede hiervoor is Gilfillan se vermoë om karakters, situasies en insidente só helder en herkenbaar te skets dat dit soms vir die leser voel asof hy deur eenrigtingglas op mense se intiemste belewenisse inkyk.

"Gilfillan maak haar ook, anders as sommige ander skrywers, selde daaraan skuldig om menslike verhoudings vir dramatiese effek te oorvereenvoudig. Verhale soos 'Besoek', 'Kleur', 'Ek onthou vir Stoffel en tant Ellie', 'Swartvlei', 'Die brief' en 'Of Cabbages and Kings' bring ’n mens juis onder die indruk van die verwikkelde aard van verhoudings en die komplekse dryfvere wat menslike gedrag onderlê.

"Die veelseggende bundeltitel, Glas, dien as leidraad na die belangrikste tematiese elemente in die bundel. Soos glas bewerkstellig die bundel ’n kaleidoskopiese effek deur die groot verskeidenheid perspektiewe waaruit vertel word, asook die uiteenlopende invalshoeke wat daar – in verhale soos die novelle-agtige 'Die kersieboom' – op ’n enkele insident gegee word. Dit is byvoorbeeld nie moontlik om die vertellers of fokaliseerders in die bundel op grond van hul ouderdom, geslag, kleur óf sosiaal-ekonomiese agtergrond in ’n enkele kategorie in te deel nie. Op dié wyse verkryGlas ’n universele trefkrag: ondanks hul onderlinge verskille staan ál die karakters uiteindelik uitgelewer aan ander, aan pyn, siekte en sterflikheid. En soos glas blyk geluk buitengewoon broos te wees: iets kosbaars wat in ’n ommesientjie aan skerwe kan spat. [...]

"Wanneer ’n mens die verhale in Glas lees, val dit jou op dat Gilfillan nie net ’n bedrewe skrywer is nie, maar ook ’n kranige leser. En dat sy haar leesindrukke ruimskoots in haar skryfwerk aanwend. Vir ’n ingewyde leser is daar byvoorbeeld baie plesier te put uit die literêre eggo's wat in Glas weerklank vind: die skunnige inspeling op Aucamp se '’n Bruidsbed vir tant Nonnie' in 'Ant Dolly'; die kersieboom wat so sterk aan die peerboom in Opperman se 'Ballade van die Grysland' herinner of Nadia se motorneuronsiekte wat jou onwillekeurig aan die onverbiddelike Milla in Agaat laat dink. Van Eybers se 'Herinnering' is daar mooi nafluistering in 'Padkamp': 'Agter die verste rant sien sy die ronde bol van die maan loskom. Vir ’n rukkie hang dit los teen die lug, maar skuif dan agter ’n vlieswolk in. Antjie kan nog die musiek hoor met tussendeur stemme van mense wat lag. Almal is vrolik, behalwe sy.'

"Maar die bundel sal net soveel genot verskaf aan lesers wat bloot agter die storie aan lees."

Op LitNet skryf Izak de Vries: "Glas is ’n bundel oor mense en hulle geliefdes en die tien jaar van stilte sedert haar laaste boek gee ’n stem aan twintig gestroopte verhale wat konsentreer op die prag van die oomblik, die sagtheid van die liefde en die skerp prikke van die dorings waarmee ons verhoudings elke dag saamleef."

Hy eindig sy resensie op LitNet as volg: "In haar vierde gepubliseerde werk, Pouoogmot, skep Gilfillan ’n karakter wat skryf. Hierdie skrywende karakter sit voor haar rekenaar en dink: '’n Skrywer durf sy haarself nie noem nie. Nie voor daar ten minste vyf boeke uit haar hand op die rak agter haar staan nie' (Pouoogmot, 7).

"Nou ja. Ek weet nie hoe Gilfillan oor nommer vyf voel nie, maar ek wil sê: Draai om. Daar staan vyf boeke uit jou hand en hulle is goed. Jy mag jouself ’n skrywer noem."

Meer as tien jaar verloop voordat daar weer ’n bundel kortverhale uit Rita Gilfillan se pen verskyn. In 2019 publiseer Naledi Wanneer bloekoms dans – ’n bundel met 17 kortverhale waarvan twee ("Girlie" en "Wrywing" onderskeidelik in die versamelbundels Kleure van die liefde (2017) en Skarlakenkoors (2014) verskyn het).

Vir Anna Kemp (Rapport, 14 April 2019) "heers daar ’n fyn, gedempte stilte in JM Gilfillan se kortverhaalbundels. So subtiel weef sy haar drade dat die leser eers later besef hoe hard sy geslaan het, hoe diep die pyn en hoe groot die vreugde was, en hoe kompleks die lewens wat sy geskep het. In haar skrywershande verander '’n doodgewone bloekom met ’n gevlekte stam' in ’n boom wat so energiek dans 'dat die son in duisend silwer skerfies' uit haar kroon wegspat en sy tot in die punte van haar arms tril en bewe van lekkerkry (bladsy 112).

"In die 17 verhale wat opgeneem is, glip die skrywer moeiteloos onder die vel in van ’n uiteenlopende klomp karakters: mans en vroue, jonges en oues, stedelinge en plaasmense, liggaamlik en verstandelik gestremdes, buitestanders en dié wat aan die sonkant van die lewe beweeg. Daarby benut sy die moontlikhede van die kortverhaalgenre ten volle: Sy vertel, dramatiseer, beskryf in liriese sowel as saaklik-opsommende taal, speel met verhaaltitels, en vind telkens ’n slotsin wat bevredigend afsluit óf evokatief bly hang." [...]

"Wanneer bloekoms dans bied veel genot aan die leser," sluit Kemp haar bespreking af. "Die 17 verhale bewys tematies en tegnies dat Gilfillan ten volle bewus is van die kompleksiteit van menswees en dat sy al die taalinstrumente besit om dit op elke moontlike manier uit te druk."

Thys Human (Beeld, 13 Mei 2019) skryf dat dit in Wanneer bloekoms dans weer oor die kompleksiteit van verhoudings gaan, asook oor die ingewikkelde impetus wat menslike begeertes dryf. "Geluk en vervulling lê telkens net-net buite karakters se bereik. Tog word die troosteloosheid deurgaans deur onverwagse humor en onthoubare beskrywings getemper."

Vir Human kan die titel van Gilfillan se eerste bundel, Van stiltes en stemme, van toepassing gemaak word op al haar kortverhaalbundels: ná elke stilte wat volg op die publikasie van ’n bundel, kom daar ’n "glashelder stem" wat die leser lank bybly. Vir hom is Wanneer bloekoms dans ’n "voortreflike" bundel.

Op LitNet is Nini Bennett een van die resensente en sy skryf as volg: "Die skryf van ’n goeie kortverhaal vereis ’n besondere sin vir balans – iets wat Gilfillan in die meeste verhale regkry, soos 'Byeenkoms van die eensames', 'Girlie' en 'Breekgoed'. 'Die son, die maan en die sterre' is ongelukkig ’n uitsondering: die verhaal is te praterig en verloor gaandeweg momentum. In teenstelling hiermee is 'Wrywing' ’n knap vertelling wat handel oor Sabine, ’n rykmansdogter en belowende tjellis se seksuele ontwaking en begeerte na ’n jong bouer, Jans. Die sosiale taboes en inhibisies van die hoër middelklas word treffend in reliëf geplaas teenoor die vryhede van die werkersklas, en Sabine besef dat sy nie voluit lewe nie. [...]

"Gilfillan konstrueer verhale met eenvoudige intriges; biopsies oor die menslike toestand. Haar fokus is die broosheid (en wreedheid) van verhoudings en in bykans elke verhaal word die lot van vroue deur ’n Tsjechofiaanse bril bekyk."

Bennett sluit af: "Wanneer bloekoms dans is ’n welkome toevoeging tot die 78-jarige Gilfillan se oeuvre. Versuikerde segginge en New Age-retoriek, byvoorbeeld 'positiewe energie' wat uit die karakters straal, doen steurend aan, maar in die geheel is dit ’n bundel sterk en eerlike prosa waaruit ’n leser heelwat sal put."

Alet Mihalik bespreek Wanneer bloekoms dans op FMR (Fine Music Radio): "Kortverhale is natuurlik nie net heelwat korter as ’n roman of novelle nie, maar ook baie meer gekondenseerd of 'digter', en Gilfillan is ’n bedrewe meester van verdigtingstegnieke soos beelding, naamgewing en intertekstualiteit wat die gewillige leser, net soos die talle paaie en reise in die bundel, na ryk verwysingswêrelde meevoer."

"In dié opsig dien die openingsverhaal, 'Girlie', dan as ’n soort 'programverhaal' vir die werkwyse in die bundel. Girlie se besonder wit vel en steenkoolswart krulle herinner aan Sneeuwitjie, die sprokieskarakter wat onderdanige en dienende vroulikheid versinnebeeld. Die naam Girlie verteenwoordig insgelyks die tradisionele manlike chauvinisme in ’n minder-gesofistikeerde sosiale klas. Girlie se 'ongemaklike' liggaamsbou en begeerte om te 'gaan leer vir mekêniek' ironiseer egter haar naam en dien as vooruitskaduwing van die verrassende slot. Sy is haar ouers se enigste hoop op ’n nageslag en hulle skep vir haar ’n paradystuin op haar erfgrond. Op Girlie se troudag word die leser deur die tuin gelei – verby krismisrose, roomwit waterlelies en snaterende voëls. Maar dan kies die bruidsmoeder ’n smaller paadjie verby ’n groepie koorsbome met wit skoenlappers en swaar frangipani- en speserygeure, na ’n verskuilde tuin waar dit warm en vogtig is en die stamme fosforagtig en boaards glim … en dit is waar die bruidsmoeder en die leser ontgogel word deur ’n suggestiewe toneel met kaal voete as evokasiesneller. [...]

"Ruimte ontbreek om al 17 verhale sinvol te bespreek. Ter afsluiting, dus, dan net die jong Sara se beskrywing van die dansende bloekom in 'Sara en die dansende boom' as sprekende metafoor vir die genotvolle 'ontsnappingsroete' wat Gilfillan se verhale vir die meelewende leser bied:

Die bloekom wat waghou oor my pa se huis het ons nie sien kom nie. Daarom het ons haar betrap in die middel van haar dans. Op maat van ’n fris windjie het sy haar blare geskud. So energiek dat die son in duisend silwer skerfies daaruit weggespat het. Haar rok was opgetrek en ons kon sien hoe haar wit bene vol bruinerige ekseemvlekke die ritme uitstamp. Tot in die punte van haar arms het sy getril en gebewe van lekkerkry.

Maar toe sien sy die kar oor die bult aankom en op die plek stol sy. Voor my oë verander sy weer in ’n doodgewone bloekom met ’n gevlekte stam en ’n kroon van ritselende blare waarin die laaste sonstrale wegkruipertjie speel.

In Insig van Januarie 1998 vertel Rita meer van boeke wat sy wéét sy moes gelees het, maar tot op daardie stadium nog nie onder oë gehad het nie: "Dante se Goddelike komedie is een wat ek al ter hand geneem het (soos dit ’n mens betaam om met so ’n beroemdheid te doen), maar lank voor die hel se vure kon begin knetter, het die moed en die goeie voornemens my verlaat. Miskien is dit een van daardie boeke wat ’n mens in die oorspronklik moet lees, troos ek myself wanneer ek hom weglê vir daardie dag wanneer daar nie eens meer ’n ongelese Sondagkoerant in die huis sal wees nie."

"Maar daar is ’n ander boek wat ongelees by my bly spook. Alles wat ek van hom weet, spreek daarvan dat ons in werklikheid vir mekaar bestem is. Dit is die soort boek wat my sug na avontuur en misterie onmiddellik en op die mees basiese vlak sal bevredig, terwyl daar steeds ander betekenisse sal bly flikker. ’n Uitstekende resep vir ’n langtermynverhouding. En tog ken ek hom slegs tweedehands; uit die getuienis van ander."

"Dit is Moby Dick van Herman Melville. Soveel het ek gehoor oor hierdie boek, dat die woorde 'I live to sail forbidden seas, and land on barbarous coasts' dadelik ’n klokkie lui. Daarmee som Ishmael immers ook my eie leesverwagting netjies op!"

"Jare lank weet ek al van die stuurse kaptein Ahab met sy kunsbeen van ivoor. Wanneer daar van die Leviatan gepraat word wat onder die waters van die aarde hou, dan dink ek miskien eerste aan Jona en Job, maar onvermydelik ook aan Moby Dick."

"Waarom ons nooit nader kennis gemaak het nie, sal ek nie kan sê nie. Moontlik moet ons, soos dit met die opwindendste flirtasies gaan, altyd bewus bly van mekaar, sonder om intiem te raak. Daarmee bly die misterie onaangetas."

Publikasies:

Publikasie

Van stiltes en stemme

Publikasiedatum

  • 1989
  • 2004

ISBN

0798124997 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Stellenbosch: African Sun Media

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Ou Mutual-prys 1990

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die vrank smaak van frambose

Publikasiedatum

1993

ISBN

0798131098 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die verhaal van ’n vrou, ’n leeu en ’n hoenderhaan

Publikasiedatum

  • 1995
  • 2008

ISBN

  • 0798134860 (sb)
  • 9780799342345 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Pouoogmot

Publikasiedatum

1997

ISBN

0798137665 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Glas: kortverhale

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780799339208 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wanneer bloekoms dans

Publikasiedatum

2019

ISBN

 9781928426578 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor JM Gilfillan beskikbaar op die internet

Artikels deur JM Gilfillan beskikbaar op die internet

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
  • 2

Kommentaar

  • Wat 'n fyn, sensitiewe mens en woordkunstenaar is Rita. Dankie Erika vir so 'n goed nagevorsde artikel oor haar lewe en haar werk.

  • Helena Conradie

    Baie dankie vir die artikel oor 'n wonderlike skrywer in Afrikaans. Dankie Erica vir die deeglike navorsing oor Rita Gilfillan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top