FMR-resensie: Wanneer bloekoms dans deur JM Gilfillan

  • 1

Titel: Wanneer bloekoms dans
Skrywer: JM Gilfillan
Uitgewer: 
Naledi
ISBN: 9781928426578

Kortverhaalbundels word dikwels misgekyk wanneer mense iets lekkers soek om te lees, maar by die toemaak van Gilfillan se jongste kortverhaalbundel staan 'n mens oorbluf deur die wye verskeidenheid karakters, temas en aanbiedingswyses wat inderdaad iets vir elke smaak bied.

Maar hoe sluit sulke wyduiteenlopende verhale in bundelkonteks by mekaar aan? Die wasige foto op die omslag toon 'n bloekombos of -laning met 'n suggestie van sonstrale, reënslierte en sirkeltjies wat waterdruppels, seepbelle, blinkertjies of Kersboomversierings kan wees. Saam met die titel bied dit twee moontlike bindingsmotiewe, naamlik bloekoms en dans.

Bloekombome is reeds in 1828 vanaf Australië en Indonesië na die Kaap gebring en floreer sedertdien op enige plek en onder enige toestande – hoofsaaklik as windskerm op plase en lanings langs plattelandse paaie. Daarbenewens is dit 'n uitstekende lugsuiweraar en word die olie as skoonmaak- en tradisionele geneesmiddel aangewend.

Geen wonder dan dat die bloekom nostalgiese snare by Afrikaanse lesers tokkel nie. In sy MA-verhandeling getiteld “In die skadu van soveel bome” (2011, Universiteit van Kaapstad) beskryf Hennie Nortje byvoorbeeld Barend Toerien se "Bloekoms" as 'n vers vol verlange na die wêreld van die vaalblaarbloekom, en in Joan Hambidge se "Boom" word 'n gehawende bloekomboom volgens Nortje 'n metafoor vir die verganklikheid van herinneringe.

Annette Jordaan verruim hierdie metafoor in ‘n interessante artikel getiteld “Die bloekomboom as metafoor in die Afrikaanse taalruimte” (Stilet, Maart 2009) waarin sy bevind: “Binne die konteks van identiteit, gemeenskap en taal kan die bloekomboom dien as metafoor (of, meer konkreet, as simbool) van die ‘storie van Afrikaans’ – ’n verhaal wat hom in ’n bietjie meer as een eeu afspeel te midde van hewige konflikte, botsende belange, oorloë, rebellies, stakings, armoede, verkiesingsveldtogte, apartheidsbeleide, onluste, noodtoestande, tronkgeskiedenisse en, uiteindelik, ’n nuwe bedeling wat tot nog toe nie Afrikaansvriendelik blyk te gewees het nie.” As voorbeelde bespreek sy JC Steyn se verwysig na “bloekombome as rolspelers in die lewe van MER” (Die 100 jaar van MER, 2004), asook die Durbanse “Taal en Strydkongres” (April 1989) waartydens Elize Botha na haar Wes-Transvaalse grootwordwêreld te midde van die Afrikanerarmoede in die middeldertigerjare verwys as “’n bloekombos-omsoomde wêreld”, teenoor Hein Willemse se verwysing tydens dieselfde kongres na Kraaifontein se “Bloekombos”-plakkers wat gedwonge verskuiwing moes trotseer .

Gilfillan laat egter die bloekoms “dans”, wat die aandag dan vestig op verwysings na plante en voete in hierdie bundel. Sy verras met onverwagte wendings, antistereotipiese karakters, ironiese en galgehumor en onbeskaamde erotiek. Bykans tagtig jaar van fyn waarneming tydens 'n lewe wat nie die gewone gebaande weë gevolg het nie, put sy behendig uit 'n welige bloekombos van ervaring en verbeelding – met ander woorde die “brokstukke menslikheid” waarvan die karakter Dina in die verhaal “Laaste dans” getuie is.

Rita Gilfillan is op 29 April 1941 op Ermelo gebore as die oudste en enigste dogter van Hendrik en Lena Eksteen van die plaas Swartwater. Vyf jaar later sterf haar 28-jarige moeder aan hartversaking en begin Gilfillan se swerwersbestaan tussen ‘n wewenaarpa, familie en skoolkoshuise. Sy woon minstens vyf verskillende laerskole by en beland twee jaar in ‘n “aanpassingsklas” voordat ‘n simpatieke meneer Hechter haar help om haar voete te vind. Ná matriek werk sy as bibliotekaresse in Pretoria en Amsterdam en verwerf kwalifikasies in biblioteekkunde. Sy trou in 1967 met Rouston Gilfillan, en volg hom na verskeie universiteite waar hy Afrikaans en Nederlands doseer. Intussen verwerf sy ’n MA-graad met ’n verhandeling oor “Tristia-interpretasies, met toespitsing op ‘Groot ode’” en betree self die akademie as dosent in Afrikaans. Haar debuut-kortverhaalbundel, Van stiltes en stemme, wen in 1989 die Ou Mutual- en die FAK-Helpmekaarpryse.

Wanneer bloekoms dans is Gilfillan se sesde kortverhaalbundel. Anna Kemp skryf tereg in haar knap en deeglike resensie, “Gilfillan glip moeiteloos onder karakters se vel in” in Rapport (14 April 2019):

So subtiel weef sy haar drade dat die leser dikwels eers later besef hoe hard sy geslaan het, hoe diep die pyn en hoe groot die vreugde was, en hoe kompleks die lewens wat sy geskep het in haar skrywershande verander. […] Daarby benut sy die moontlikhede van die kortverhaalgenre ten volle: Sy vertel, dramatiseer, beskryf in liriese sowel as saaklik-opsommende taal, speel met verhaaltitels, en vind telkens ’n slotsin wat bevredigend afsluit óf evokatief bly hang.

Kortverhale is natuurlik nie net heelwat korter as 'n roman of novelle nie, maar ook baie meer gekondenseerd of “digter”, en Gilfillan is 'n bedrewe meester van verdigtingstegnieke soos beelding, naamgewing en intertekstualiteit wat die gewillige leser, net soos die talle paaie en reise in die bundel, na ryk verwysingswêrelde meevoer. In dié opsig dien die openingsverhaal, “Girlie”, dan as 'n soort “programverhaal” vir die werkwyse in die bundel. Girlie se besonder wit vel en steenkoolswart krulle herinner aan Sneeuwitjie, die sprokieskarakter wat onderdanige en dienende vroulikheid versinnebeeld. Die naam Girlie verteenwoordig insgelyks die tradisionele manlike chauvinisme in 'n minder-gesofistikeerde sosiale klas. Girlie se “ongemaklike” liggaamsbou en begeerte om te “gaan leer vir mekêniek” ironiseer egter haar naam en dien as vooruitskaduwing van die verrassende slot. Sy is haar ouers se enigste hoop op 'n nageslag en hulle skep vir haar 'n paradystuin op haar erfgrond. Op Girlie se troudag word die leser deur die tuin gelei – verby krismisrose, roomwit waterlelies en snaterende voëls. Maar dan kies die bruidsmoeder 'n smaller paadjie verby 'n groepie koorsbome met wit skoenlappers en swaar frangipani- en speserygeure, na 'n verskuilde tuin waar dit warm en vogtig is en die stamme fosforagtig en boaards glim … en dit is waar die bruidsmoeder en die leser ontgogel word deur 'n suggestiewe toneel met kaal voete as evokasiesneller. 

Die tweede verhaal, “Nagrit deur die Karoo”, skakel met die “koorsbome” in die eerste verhaal deurdat gemelde nagrit vir die hoofkarakter 'n “koorsdroom waarvan sy so gou moontlik wil vergeet” word met 'n ongenooide reisgenoot “wat so stil soos die dood self langs haar sit” en iets soos 'n magnetiese krag wat die motor voortstu. Ook hier dien naamgewing as verdigtingstegniek wanneer Anna Elizabeth Parker haarself na Amber Evita Parker herdoop om te pas by haar veranderde voorkoms en die superluukse motor wat sy as deel van 'n bedenklike transaksie in Sandton moet gaan aflewer. Kemp bevraagteken in haar resensie of die “op die oog af hardegat Amber wel gedagtes oor ‘haar tydruimtelike begrip’ sou kon koester, maar die ingeligte leser sal besef dat die voertuig 'n “vuurwa” genoem word wat verander in “’n skim sonder bestuurder” en dus intertekstueel heenwys na mitologiese figure soos Faust wat hul siel aan die duiwel of noodlot verkwansel, des te meer as ons let op die woorde “want in hierdie oneindigheid het haar identiteit weggesyfer en van haar is daar niks oor nie”.

Die Karoo skakel weer met Anna Benade se Karootuintjie in die derde verhaal, “Anna”. Soos haar taai vetplante, hunker die verstandelik-belemmerde Anna na aandag. By menslike aanraking word haar verwaarlooste lyf “nes ‘n bottel gemmerbier wat wil ontplof as die prop nie bietjie-bietjie skiet gegee word nie”. Die stinkblaar wat sy liefdevol versorg, kan pyn verlig, maar terselfdertyd “malpitte” voortbring wat 'n mens óf waansinnig van liefde óf dood maak. Dit word dan 'n metafoor vir versmaaide liefde en verraad. Die beskrywing van Anna se voete in die slotsin as “verbasend smal en mooi […] selfs ten spyte van die dorings wat daarin afgebreek het”, word dan 'n religieuse heenwysing na “voete was” en “doringkroon”, wat die slot ooplaat vir interpretasies van slagofferskap en skuld en die leser sodoende tot ongemaklike selfondersoek mag noop.

Die volgende twee verhale word tematies verbind deur die pad-motief. In “Byeenkoms van die eensames” word die woord “byeenkoms” skreiend ironies wanneer die eertydse vlugvoetige atleet twaalf jaar later 'n geselligheid verlaat, “so waardig soos hoë hakke en 'n lyf wat klots van wyn dit toelaat” en haar dan op 'n pad bevind wat uiteindelik “die kortpad na ontgogeling” blyk te wees. In “Breekgoed” besef die hoofkarakter ná ‘n besoek aan haar grootwordplek dat die pad wat sy gekies het, onomkeerbaar is.

Hierdie spel met skakels word egter gefnuik deur die volgende twee verhale, “Familiefees” en “Foonoproep” wat antichronologies aangebied word. Die datums as subopskrifte dien egter as aanwysing dat die eerste verhaal se oop slot deur die daaropvolgende verhaal veronderstel word. Daarbenewens verleen die datums 'n gevoel van waarheidsgetrouheid wat die indruk skep dat die verhaalgebeure outobiografies mag wees, hoewel die name fiktief blyk te wees. Die bloekomboom as metafoor vir “verganklike herinneringe” tree sterk na vore wanneer die verteller haar oorlede broer se as in 'n holte tussen die wortels van 'n oeroue bloekomboom bêre op 'n hoogte van waar die plaas na alle kante toe uitstrek.

Ruimte ontbreek om al 17 verhale sinvol te bespreek. Ter afsluiting, dus, dan net die jong Sara se beskrywing van die dansende bloekom in “Sara en die dansende boom” as sprekende metafoor vir die genotvolle “ontsnappingsroete” wat Gilfillan se verhale vir die meelewende leser bied:

Die bloekom wat waghou oor my pa se huis het ons nie sien kom nie. Daarom het ons haar betrap in die middel van haar dans. Op maat van 'n fris windjie het sy haar blare geskud. So energiek dat die son in duisend silwer skerfies daaruit weggespat het. Haar rok was opgetrek en ons kon sien hoe haar wit bene vol bruinerige ekseemvlekke die ritme uitstamp. Tot in die punte van haar arms het sy getril en gebewe van lekkerkry.

Maar toe sien sy die kar oor die bult aankom en op die plek stol sy. Voor my oë verander sy weer in 'n doodgewone bloekom met 'n gevlekte stam en 'n kroon van ritselende blare waarin die laaste sonstrale wegkruipertjie speel.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top