Wanneer bloekoms dans deur JM Gilfillan: ’n resensie

  • 0

Wanneer bloekoms dans
JM Gilfillan

Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928426578

JM Gilfillan is ’n bekroonde skrywer en ’n bekende in die kortverhaallandskap. Wanneer bloekoms dans is haar vierde kortverhaalbundel.

Die skryf van ’n goeie kortverhaal vereis ’n besondere sin vir balans – iets wat Gilfillan in die meeste verhale regkry, soos "Byeenkoms van die eensames", "Girlie" en "Breekgoed". "Die son, die maan en die sterre" is ongelukkig ’n uitsondering: die verhaal is te praterig en verloor gaandeweg momentum. In teenstelling hiermee is "Wrywing" ’n knap vertelling wat handel oor Sabine, ’n rykmansdogter en belowende tjellis se seksuele ontwaking en begeerte na ’n jong bouer, Jans. Die sosiale taboes en inhibisies van die hoër middelklas word treffend in reliëf geplaas teenoor die vryhede van die werkersklas, en Sabine besef dat sy nie voluit lewe nie. Die kortverhaal is voorheen opgeneem in Skarlakenkoors, ’n bundel erotiese stories saamgestel deur Karin Eloff en Peter van Noord (Tafelberg, 2014).

Gilfillan konstrueer verhale met eenvoudige intriges; biopsies oor die menslike toestand. Haar fokus is die broosheid (en wreedheid) van verhoudings en in bykans elke verhaal word die lot van vroue deur ’n Tsjechofiaanse bril bekyk. In "Girlie" word die lesbiese verhouding tussen Elzette en Girlie bloot gesuggereer deur die volwasse toehoorders se onbeholpe beskrywings en die dialoog van twee tienermeisies se raaiselagtige vriendskap.

In "Nagrit deur die Karoo" word die teenwoordigheid van die onbekende man in Amber se motor ’n simbool van die donker passasier (dark passenger), en Amber is op haar beurt betrokke by ’n motorsindikaat; sy help met die vervoer van gesteelde voertuie. Ongelukkig eindig die verhaal voorspelbaar en abrup en van die simboliese ontginning van die man se teenwoordigheid (as haar gewete) kom daar nie veel nie.

In "Breekgoed" sluit Gilfillan aan by ’n diskoers van vroue wat oor duur breekware skryf – soos Nicole Jaekel Strauss se kortverhaal "Koppies in die kas", of Helena Hugo se roman Fyn porselein. In hierdie narratiewe word die gebruik en erf van porseleineetserviese gesien as tekenend van die (wit) besittersklas, in teenstelling met die goedkoop of stukkende breekware van die werkersklas. Sanet, Mevrou se skoondogter, se afguns op Mimi blyk duidelik uit die wyse waarop sy Mimi se erfporsie uitbreek en weggee. Die stukkende eetservies (oorspronklik uit Engeland) simboliseer uiteindelik die sosiale skade aan die bruin gemeenskap, en die verhaal lewer indirek kritiek op die voorvaders van hierdie ongeregtighede, naamlik apartheid en kolonialisme.

"Familiefees", en die daaropvolgende verhaal, "Foonoproep", berig oor die dood van ’n geliefde broer, Rudolf. Soos in "Wie laaste lag" stel Gilfillan nie die dood as finale grens in haar prosa nie – in beide verhale is daar ’n dieper parapsigologiese inbedding wanneer oorledenes bly voortleef en vanuit ’n onbereikbare geestesfeer kommunikeer:

Maar skaars merkbaar begin ook hierdie jaar kantel, en skielik is daar ’n herfstigheid in die lug. Dit word April, haar verjaardagmaand. Op die oggend van die vyftiende, lank voor dagbreek, lui die foon, en nog half deur die slaap strompel sy uit die bed om te gaan antwoord. Lank staan sy met die gehoorstuk teen haar oor. Al wat sy hoor is ’n geruis. ‘n Gesuis van die sfere. (69–70)

’n Herhalende tema in Gilfillan se kortprosa is dié van die vrou-as-buitestander wat terugkeer van oorsee, en ná ’n katarsis, verlies, of dood van ’n geliefde haar geboortegrond weer opsoek en krag put uit die natuur (soos in "Lig" en "Breekgoed"). "Sara en die dansende boom" besin oor verbeelde wêrelde, gebore uit verlies en in tandem daarmee die ontwikkeling van skrywerskap, terwyl "Woorde bruin soos grond" binne ’n folklore-tradisie geskryf is. "’n Geruis van vlerke" se eksposisie is onbevredigend, in teenstelling met die aangrypende en poëtiese "Laaste dans". "Manouche" is ’n knap-geskrewe verhaal en die bundel eindig op ’n hoogtepunt met die versoenende "Pryslied vir Patience".

Wanneer bloekoms dans is ’n welkome toevoeging tot die 78-jarige Gilfillan se oeuvre. Versuikerde segginge en New Age-retoriek, byvoorbeeld "positiewe energie" wat uit die karakters straal, doen steurend aan, maar in die geheel is dit ’n bundel sterk en eerlike prosa waaruit ’n leser heelwat sal put.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top