Reuse, konings, cowboys en tsotsi’s, of die poësie van protes

  • 1

Die Nasionale Kunstefees in Makhanda het Sondag 3 Julie tot ’n einde gekom. Ek het vir oulaas nog twee stukke gaan kyk. Beide was protesteater, maar hulle was totaal uiteenlopend. Een was keihard en heg verweef, die ander was ’n stuk visuele poësie wat beeldskoon was, maar dalk ’n bietjie te selfvoldaan.

Emsini

Die woord emsini beteken “rook”.

In dié stuk is rook ’n metafoor vir die struggle – daardie jare toe alles gebrand het in ’n poging om vryheid en gelykheid te verkry.

Vandag, byna drie dekades ná ons uiteindelik ’n demokrasie gekry het, wonder baie jong Suid-Afrikaners waaroor hulle ouers so aangaan, want die lewe is bitter vir ’n enorme deel van die bevolking. Die jongmense is redelik dik vir stories uit die ou dae en vra hulself af: Wat het ék gekry uit hierdie sogenaamde struggle? Geen werk nie, geen inkomste nie, ’n vrot onderwys ...

Dit is dan ook een van die redes waarom soveel jongmense hulle vergryp aan onwettige bedrywighede, want hulle sien hoe die leiers luuks lewe en skynbaar nie altyd totaal eerlik is nie.

En dié wat gelukkiger is?

As jy gelukkig is om hier te lees, is jy waarskynlik baie, baie beter af as iemand wat in sy tienerjare deur die struggle is en nou, op die punt van veertig, niks het om te wys nie.

Vele van die ouer strugglegenerasie het ook nog niks nie en vandag word hulle deur jong tsotsi’s geterroriseer. Dié groep is tevore deur die regering onderdruk, nou is dit die kinders vir wie hulle vrees – aldus een van die karakters in Emsini.

Dit is die agtergrond van hierdie donker, bitter stuk wat uiteindelik ook baie goed is.

Daniel, die protagonis, is ’n ouerige man wat nou in ’n plakkershut vol boeke bly. Hy is lief vir poësie; veral William Wordsworth is ’n gunsteling.

Ons ontmoet hom wanneer hy opstaan en met ’n hamer bossies toe gaan – die hamer is om homself teen die tsotsi’s te verdedig.

Terwyl hy sy draai loop, storm ’n mooi jong meisie by sy kaia in en kruip eers onder sy tafel, dan onder die bed weg.

Kort op haar hakke is twee boewe.

Boef 1, genaamd bra Staf, is ’n imposante man, koning van sy eie mishoop. Hy weet wat hy wil hê en is gewoond daaraan om dit te kry. Hy soek seks en die meisie gaan dit vir hom gee, of sy dit wil of nie.

Sy sidekick se naam is Funnyboy en hy verskaf komiese verligting aan die keiharde gesprekke wat volg.

Bra Staf probeer sy helper imponeer en intimideer met stories oor die bendes in die tronk. Dit was interessant, want ek ken die bendes in die konteks van die Wes-Kaap – veral dan in Pollsmoor – en het al daaroor berig in resensies van Brian Fredericks se As die Cape Flats kon praat en ook Anthony Molyneaux se Last blue ride. In die Wes-Kaap vergeet ’n mens maklik dat die bendenetwerk landswyd is.

Uiteindelik is al vier die karakters in die hut vol boeke.

Wat hierna volg, wil ek nie regtig vertel nie, want ek voel mense moet die stuk gaan kyk – dit moet by feeste regdeur die land opgevoer kan word.

Van belang is egter dat Daniel, die ou man, die meisie probeer beskerm teen die boewe. Hy is klein en oud, maar slim en geleerd. Teen Bra Staf se pistool verweer hy homself met verhale uit die verlede.

Die meisie vind veel meer uit van haar gesin as wat sy sou wou, maar sy leer ook dat ’n mens keuses het.

Die einde van die stuk is verrassend en ek gaan dit nie verklap nie. Dit is werklik goeie teater en broodnodig vir die gemaklike mense, soos ek. Gaan kyk dit, voel hoe dit is om in die plakkershutte te kuier.

Dit is steeds te maklik om te maak of ons nie weet hoe “die ander” leef nie; stukke soos hierdie maak dit moontlik om te begin uitvind.

Vir die woedende jongmense wat vra waarom hulle dan niks het nie, is dit eweneens belangrik om ’n oomblik stil te staan en te onthou van die mense wat waarlik swaargekry het in die struggle – daar waar die rook dikwels gestink het na brandende mensvleis.

Mkhululi Mabija

Emsini is geskryf deur Moagi Modise en staan onder regie van Mkhululi Mabija.

Ek is baie bly ek kon dit sien en beveel dit heelhartig aan.

Ek glo nie daar is groot geld agter hierdie stuk geplaas nie, maar dit mag gerus deur ander feeste en teaters ondersteun word.

How a falling star lit up the purple sky

’n Mens kan jou nouliks ’n groter kontras indink tussen hierdie stuk en die vorige een wat ek beskryf het.

How a falling star lit up the purple sky is ’n dansproduksie in die pantsulastyl met ’n slim verhoog, puik beligting en wonderlike choreografie. Die musiek is fantasties. Alles aan die stuk spreek van kwaliteit.

In het korte is dit ’n western wat in Afrika afspeel en wat met pantsuladanspassies uitgebeeld word.

Dit is ’n visuele gedig.

Die pantsula is bekend vir die individue wat mekaar uitdaag op die dansvloer, ook vir groepe wat dans met individue wat dan solo’s doen en ander weer dan die geleentheid gee om te skitter.

Dit is alles daar in hierdie stuk. En hoe.

Boonop is daar politieke kommentaar wat subtiel gelewer word. In die Afrikatradisie, of Afrikakosmologie soos die stuk sê, besit niemand grond nie. Die grond en die mense wat daarop woon, trou met mekaar – daar is ’n verhouding tussen mens en grond.

As ons die western-genre ken, waarop hierdie hele stuk gebaseer is, weet ons die kroeks was inheemse mense, die helde altyd die wit inkommers. Hier in Afrika, veral in die Oos-Kaap, wat steeds bekend staan as “frontier country” op verskeie borde langs die nasionale pad, was en is dinge nie baie anders nie.

Op die verhoog word verskeie stereotipes aan die gehoor bekendgestel – die reus wat ook ’n cowboy is, die koning, die netjiese man, die vroue as moontlike moeders ...

Dan sien ons teen die einde van die stuk dat niemand, nie eens ’n reus of ’n koning, grond kan besit in die kosmologie van die inheemse mense nie. (Luister gerus ook na my onderhoud met Ana Klara Rosa oor haar film wat kosmologie van Suidelike Afrika bestudeer.)

Ek het ook gewonder of die koning, wat in ’n oranje oorpak dans, dalk ’n verwysing is na Nommer 1 wat die land wou kaap?

Praat van die oorpak: Die kostuums was baie goed uitgewerk. Puik. Die gebruik van komberse, ’n baie belangrike deel van sekere pantsulagroepe, is slim gebruik om sekere dele van die dans te ondersteun.

Hierdie produksie is knap en is ondersteun deur geld van Pro Helvetia, ’n Switserse groep. Meer nog, dit steun swaar op samewerking van oorsese instellings soos Kaserne Basel; Arsenic, sentrum vir kontemporêre dans in Lausanne; die Internasionale Somerfees Kampnagel; en die Wiesbaden Biënnale. Plaaslik het The Centre for the Less Good Idea in Johannesburg ook bygedra.

Wonderlik, dus, en tog ... My grootste beswaar is dat dit gewoon te lank was vir ’n fees. Ek kan glo dat iemand vir die stuk, presies soos dit is, sou betaal vir ’n aand se vermaak. Maar as jy dit tussen ander stukke moet inpas en na ’n volgende afspraak moet draf, wel, dan het dit begin herhalend raak. Elke stukkie in die vertoning is goed en deeglik afgewerk, maar dit het lank geword. Hierdie vertoning was dan ook die enigste waar ek gesien het mense staan op en glip uit.

Dalk is die stuk meer soos ’n Franse kunsfilm. Elke paar minute gebeur iets wat jou laat regop sit, dan wag jy weer ... Ek hou, terloops, van Franse films.

Is ek bly ek het dit gesien? Beslis. Elke deeltjie van hier stuk was slim en met fyn afwerking aanmekaar gesit.

Was dit ’n hoogtepunt? Nee. Maar, dit het my kop heerlik aan die dink gesit. Dit het ook gewys Afrika se talent kan op die internasionale verhoog meeding. Pantsula!

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top