
Die speelfilm, Die dekonstruksie van Retta Blom, word op 23 Mei in teaters landwyd (en ook in Namibië) bekend gestel. (Skermgreep: YouTube)
Die speelfilm, Die dekonstruksie van Retta Blom, word op 23 Mei in teaters landwyd (en ook in Namibië) bekend gestel.
Die dekonstruksie van Retta Blom is die filmverwerking van Zelda Bezuidenhout se roman met dieselfde naam. Dit is vervaardig deur The Ergo Company en Henriëtta Gryffenberg het die draaiboek geskryf.
Die sinopsis vang dadelik jou oog: “Die dekonstruksie van Retta Blom ondersoek die verbrokkeling van ’n huwelik en oënskynlik ‘perfekte’ lewe en hoe vriendskap en wraak ’n mens kan red; vernietig; of ten goede kan laat verander. Die talentvolle akteurs en filmspan het seker gemaak dat hierdie fliek ’n unieke en onvergeetlike kykervaring gaan wees.
“Op ’n doodgewone weeksdagoggend, word die mat onder Retta Blom se perfek-gekoördineerde voete uitgepluk. Tobias, haar eggenoot van 26 jaar, is op pad lughawe toe vir sy weeklikse pendelvlug Kaapstad toe. Maar hy laai sy tas ‘vreemd’ in die kattebak. Vir Retta se obsessief-kompulsiewe oog, lyk dit asof hy plek hou vir iemand anders se tas. Op daardie oomblik begin haar lewe se dekonstruksie.
“Mense wat hou van die intrige rondom liefdesverhoudings en vriendskappe, en wat moontlik hul eie verhoudings beter wil verstaan, gaan hierdie film ontsaglik geniet en waardevol vind. Die verhaal is meesleurend, met ’n skeut humor en lag-met-’n-traan hier en daar. Dit gaan oor ’n vrou se reis na haar ware self. Retta val uitmekaar, maar rekonstrueer haarself,” sê die filmregisseur, Pieter Grobbelaar.
Dit spog met ’n indrukwekkende rolverdeling, waaronder die bekroonde aktrise Antoinette Louw as Retta Blom; Hilda Cronje as haar beste vriendin, Leigh; Francois Coertze as Tobias; Christopher van der Westhuizen as Dawid; Carmen Maarman as Suria; en ook Natalia Da Rocha, Faith Beukes, David Chevers, Danica Davis, Christel van den Bergh, James Borthwick, Kevin Smith, Reem Koussa, Moshine Mametja, Isabella Mostert en André Odendaal. Pieter Grobbelaar is die regisseur en Jonathan Kovel die kinematograaf. Die beelde is mooi en die amper roadtrip-agtige aanslag maak mens skoon nostalgies oor hoe mooi ons land is en hoe lekker ’n reis deur die provinsies vir jou kop en lyf kan wees.
Voeg hierby ’n bekroonde regisseur met meer as 40 jaar se ondervinding, wat ook verskeie toekennings op sy kerfstok het, en jy is beslis in vir ’n film vol pitkos en ware kykgenot.
Pieter het op 16 verskillende TV-reekse gewerk en verskeie teaterproduksies geregisseer. Die dekonstruksie van Retta Blom is sy eerste vollengte speelfilm, maar ek hoop nie dis sy laaste nie; dit sal ’n groot verlies vir gehore wees.
Henriëtta is bekend vir haar belangrike bydrae tot Suid-Afrikaanse drama. Sy het onder meer al ’n Smeltkroes- en Kanna-toekenning ingepalm en skryf al sedert 2001 vir TV – as dialoogskrywer vir Sewende Laan.
Haar oorspronklike dramareeks, Erfsondes, het ’n speelvak van vyf seisoene op SABC2 geniet en is bekroon met ’n SAFTA-toekenning en ’n ATKV Media Veertjie vir die beste dramareeks en skryfspan van 2011 tot 2015. Die drama- en telenovelareeks, High rollers, het onder haar leierskap twee SAFTA-toekennings vir beste skryfspan gewen.
Haar empatie met die middeljarige vrou kom duidelik uit persoonlike ervaring. Sy verstaan hoe dit voel om ouer te word; hoe moeilik dit word om waardig te voel en te glo dat jy steeds iets na die tafel bring. Ek salueer hoe sagkens sy met die vroulike psige omgaan in hierdie film.
Natuurlik het sy ’n baie goeie brondokument gehad: Zelda se boek is eweneens ’n treffer. Lees gerus haar onderhoud met Naomi Meyer hier: https://www.litnet.co.za/kyknet-silwerskermfees-2024-n-onderhoud-met-zelda-bezuidenhout-skrywer-van-die-dekonstruksie-van-retta-blom/
Ek het die film se première by die kykNET Silwerskermfees 2024 gesien. Antoinette en Hilda (hier van Frankryk waar sy nou woon) was net voor die vertoning op die blou tapyt; uitgevat vir die spoggeleentheid. Hulle was oënskynlik braaf, maar ek kan myself probeer indink hoe senuweeagtig veral Antoinette moes wees oor die reaksie op haar vertoning in die rolprent, want sy het diep gedelf om Retta se seer én stukke-optel-en-heelword geloofwaardig en met die nodige diepte uit te beeld. Sy het selfs haar klere laat waai en nie in die sensuele sin van die woord met sagte beligting en romantiese musiek nie, maar in die realistiese, doodgewone manier van iemand wat lank getroud is.
........
Ek stap met dikgehuilde oë uit, maar met ’n ligte hart. Antoinette het namens elke middeljarige vrou getriomfeer. Sy het alle vrese besweer van ouer word, onaantreklik en nutteloos voel.
........
Ek stap met dikgehuilde oë uit, maar met ’n ligte hart. Antoinette het namens elke middeljarige vrou getriomfeer. Sy het alle vrese besweer van ouer word, onaantreklik en nutteloos voel. Sy was weerloos en eerlik en het die lewe vierkantig in die oë gekyk; oor begin en oorwin.
Ek kry haar later op die hotel se swemdek met ’n glas wyn. Mense maal en gesels en lag en die see raas hard net anderkant die einde van die hotelstoep. Die towerkrag van film is in almal se bloed en die opgewondenheid oor die kwaliteitfilms – kort en lank – wat in hierdie land gemaak word, loop soos statiese elektrisiteit deur die skare.
Ek loof haar waagmoed om haarself bloot te stel; nie net haar lyf nie – vir vele vroue moeilik – maar ook haar siel, want jy speel nie daardie rol sonder om iets van jou eie onsekerheid en twyfel te laat deurskemer nie. Sy erken dat sy dit vir elke vrou van ons ouderdom gedoen het. My dunk van haar as mens klim nog ’n kerfie.
Elkeen in die film het bygedra tot ’n fliekervaring wat my lank sal bybly. Ek wens ek het ook so ’n vriendin gehad soos haar Leigh, wat alles oorboord gooi om haar depressiewe vriendin by te staan. Nie heeltemal so dramaties soos Thelma en Louise nie, maar baie meer realisties!
Ek is natuurlik baie dankbaar ek is nie met Tobias getroud en moet deurmaak wat Retta deurmaak nie, maar ek vind vreugde in die feit dat daar vroue is wat namens alle vroue opstaan en ’n nuwe begin kan maak. Ouer, maar wyser.
Hierdie fliek is vele dinge vir vele mense: Dis lekker kykgenot vir almal; dis ’n ode aan vriendskap, maar dis ook ’n bron van hoop en inspirasie dat as jy jou in dieselfde bootjie as Retta bevind, dit nie die einde van die wêreld (hoef te) beteken nie. Jy kan maar uitmekaarval, maar jy kan ook weer opstaan en jouself ontdek.
Sommige verhoudings is inderdaad net seisoenaal; in hierdie geval een lang seisoen waar Retta nie gesien het die blare begin verkleur en die boom staan later heeltemal kaal nie. Wake up call vir sommige om in hul huwelikstuine rond te kyk, kan jy dalk sê ...
Ja, ek het Tobias verwens vir sy gemeenheid en die seer wat hy sy vrou aangedoen het. Ja, ek sou wou hê dat hy moes betaal vir sy dade en het geen simpatie gehad met die “ander” vrou nie, maar dat dit ’n goeie weerspieëling is van die lewe, is gewis.
Koop jou popcorn en koeldrank, bring jou vriende en geniet ’n lekker film in ’n fliekteater – ongeag of jy in Kuruman of Koekenaap woon, dié fliek wys iewers naby jou.
Die dekonstruksie van Retta Blom is moontlik gemaak deur die ondersteuning van The National Film and Video Foundation (NFVF), die DTIC, kykNET, The Ergo Company en Ergo Distro International.
Die dekonstruksie van Retta Blom sal in die volgende filmteaters vertoon word:
Ster-Kinekor
Maerua Kompleks in Namibië, Windhoek
Gauteng
Rosebank Cinema Nouveau
Cresta
Mooirivier
Vaal Mall
Brooklyn
Cradlestone
Irene
Wes-Kaap
Garden Route Mall
Somerset Mall
Tygervallei
Mpumalanga
Ilanga
Vrystaat
Mimosa Mall
Nu Metro:
Durban – Ballito Junction
Kaapstad – Canal Walk
Johannesburg – Clearwater Mall
Bloemfontein – Loch Logan
Pretoria – Menlyn Park en Woodlands
Durban – The Pavilion
Worcester
Avalon:
Kaapstad – Grand West
Road House Cinema Hermanus


Kommentaar
Ah! Wat 'n heerlike resensie wat die ware gees van die fliek verstaan! Dankie.