Resensie: Sypaadjie deur Alma Rossouw

  • 0

Skrywer: Maryke Roberts
Titel: Sypaadjie
Skrywer: Alma Rossouw
Uitgewer: Wenkbrou
ISBN: 9780799395150

Sypaadjie handel oor twee vroue, Leah en Hannah. Leah is Suid-Afrika se rykste vrou maar sy het haar lus vir die lewe verloor. Haar assistent, Ean, is verlief op haar, maar Leah is gay. Leah loop haar universiteitsliefde, Hannah, raak wanneer sy die Kaapse tak van haar onderneming kom regruk. Hannah is op die oogaf sorgeloos en geniet die lewe.

Leah dra egter 'n donkerte met haar saam en staan eintlik op die rand van die samelewing. Sy is 'n onvergenoegde voyeur. Hannah is iemand wat vir Leah weer in die kring van die lewe kan trek, maar Hannah se hart is yskoud.

Die boek word onder Lapa se nuwe druknaam, Wenkbrou, uitgegee. Dis die tweede boek wat ek onder hierdie druknaam lees. Uitgewers het met die bekendstelling van die druknaam gesê dat die mark reg is vir "aweregse stories" en ook vir stories wat nie noodwendig genre-gerig is nie. Wenkbrou "skroom nie weg van sensitiewe temas nie".

In hierdie boek kom die tema van die liefde tussen twee vroue wat baie gelowig is weer na vore, net soos in Smit Motors, die eerste boek onder die Wenkbrou-druknaam. Lesbiese liefde en seks word verwoord en kan dalk daartoe lei dat die boek se trefkrag nie so wyd strek nie.

Ek het die boek minder geniet as Smit Motors, maar bloot omdat Sypaadjie net 115 bladsye beslaan en dit vir my voel die storie teen 200 km per uur reis. Voor jy regtig kan identifiseer met elke karakter, het ons al weer aangeskuif. Dis jammer, want Alma se karakters is interessante mense en daar is beslis ruimte om baie meer oor hul kompleksiteit te vertel.

Maar dan lees ek 'n onderhoud op LitNet waarin vertel word dat Alma op haar Facebook-blad genoem het Sypaadjie is 'n "romanse, vol millenniër-kinkels". Sy vertel dat die "boek jou gaan laat ontspan, maar dit gaan jou ook uitdaag om anders oor dinge en mense te dink. Ek vermoed dit is waar die bemarking van 'millenniër-kinkels' inkom, 'n generasie wat net wil liefhê en in vrede wil leef gaan jou bietjie uitdaag om dieselfde te doen. Ek wonder of millenniërs ooit weet wat 'n millenniër werklik is. Is ek tussen 1981 en 1996 gebore, ja. Is ek verslaaf aan tegnologie en my selfoon? Ja, maar dit maak ook deel uit van my werk. Ek wil glo dat ek neig na die meer open-minded-do-gooders millenniër. Ek dink ook ek is bietjie meer hardwerkend as wat Generasie X die millenniër beskryf."

Hierdie stelling gooi my effe van spoor af: my indruk van millenniërs is dat hul fone 'n verlengstuk van hul arm is; dat hul aandagspan bitter kort is en dat hulle alles in 'n oogknip wil hê, ervaar of oordeel. Dat dinge moet gebeur soos hulle voorskryf; hulle maklik hul opinie lug en heeltemal gestroop is van die wag-voor-die-mond-sindroom wat só kenmerkend van Afrikaanssprekendes is.

Die boek slaag dalk met 'n millenniër-kinkel bloot as die millenniër die mark is, want jy kan dit binne 'n uur deurlees.

Die feit dat Alma sê hulle 'n "generasie is wat net wil liefhê en in vrede wil leef", is vir my effe vergesog.

Soos in my vorige resensie oor ’n Wenkbrou-boek genoem, het die uitgewers met die bekendstelling van Wenkbrou gesê dat hul teikenmark "mense wat lief is vir boeke buite genres" is. Maar sover is dié boeke juis weer binne hul eie genre: selfdegeslagliefde. En as dit 'n sensitiewe onderwerp is, moet dit dalk eerder in die hoofstroom gepubliseer word, sodat dit die onderwerp meer hoofstroom-verteerbaar kan raak en help om stereotipes af te breek.

Dis lekker ligte vermaak, ideaal vir jou handsak as jy in 'n lang ry moet sit en wag, by die spreekkamer vir 'n dokter wat laat is met afsprake, jou paspoort moet hernieu en binnelandse sake die ure laat draal, of 'n uur met 'n koffie en lekker boek wil ontspan.

Maar dit bied nie regtig pitkos of dieper insigte nie.

Lees ook 

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Sypaadjie deur Alma Rossouw

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top