Smit Motors deur Réney Warrington: ’n resensie

  • 2

Titel: Smit Motors
Skrywer: Réney Warrington
Uitgewer: Wênkbrou, 2019
ISBN: 9780799394566

Die persverklaring wat die boek vergesel, kom onder die titel “Die moderne dorpsroman” en beskryf die storielyn as volg: “Petra Smit erf onverwags haar oupa se ou werkswinkel in ʼn klein Vrystaatse dorpie. Daar is gelukkig kopers wat tou staan vir die gebou, maar Petra gaan, heel nuuskierig, kyk na hierdie eiendom waarvan sy nie glad nie geweet het nie.

“Daar aangekom, ontdek sy die erf vol motorwrakke wat aan die plaaslike slagter behoort. Dié einste slagter is ook die buurman, hy is ’n vroueslaner en hy skeep sy seun, Monty, af, maar hy het kontant en staan gereed om Smit Motors te koop. Petra, wat baie lief was vir haar oupa, wil nie die erflating aan so ’n persoon verkoop nie en ’n mini-oorlog breek uit.

“Dinge word nog moeiliker toe Arno, ’n reus van ’n man met die psige van ’n kind, aan haar deur kom klop. Hy wil help. Die reus maak homself tuis en word vriende met die slagter se seun, Monty.

“Petra die stadsjapie besef sy hoort nie in hierdie dorp nie. Sy mis haar mooi meisie en die roman wat sy wil skryf, bly tweede kom in die oorlog met die slagter. Die slagter hoort wel op die dorp. Hy ken die polisie en intimideer almal.

“Hierdie drie buitestaanders se diep menslike storie vervleg met dié van Susan, ’n kunstenaar wat nie meer kuns maak nie en vasgevang voel in ’n luukse Sweedse kunstepark. Gaan sy kan vrede maak met die Afrikademone wat haar al veertig jaar lank jaag?

Smit Motors is toeganklike literêre fiksie. Réney Warrington slaag daarin om die spanning snaarstyf te hou, terwyl die leser die speurwerk moet doen, wetende dat iemand se bloed sal moet vloei. Die vraag is: Wie s’n?”

Onderaan verduidelik die vrystelling dat ’n dorpsroman die kleindorpse bestaan wat stedelinge so aantrek, beskryf. “Warrington skroom nie om die mooi én die lelik van ’n kleindorpse verblyf aan die kaak te stel nie. Sy laat nooit toe dat haar karakters net stereotipes word nie.”

Ek was baie jammer dat die boek tot 'n einde gekom het. Ek hoop regtig die karakters kan dalk êrens, eendag, weer op bladsye voortleef. En daar is verskeie redes daarvoor: Ek kom self van ’n kleindorpie af; ek het mense wat vandag nog op kleindorpies woon en onder skindertonge deurloop; ek ken verskeie kleindorpies in ons land, want as reisskrywer kry ek gereeld die voorreg om hulle te gaan ontgin. Daar is iets omtrent die feit dat mense in mekaar se besigheid is wat jou ontneem van privaatheid, wat jou tegelyk bang én opgewonde maak.

Maar die hoofrede hoekom dit ’n hartseer afskeid tussen my en die boek was, is dat die karakters sulke eerlike, rou wesens is, wat deur keuriggekieste woorde byna lewend in jou geestesoog word.

Die storielyn is interessant en meesleurend in sy eenvoud: Stadsvrou gaan woon tydelik op ’n kleindorpie en worstel met twyfel oor haar lewenspad; sy was immers ’n kind wie se ma haar as baba net so laat staan het en wat nou as grootmens nie daardie verwerping heeltemal verwerk het nie. Haar pad kruis met interessante mense; maar dis eintlik haar soeke na haarself wat die ware storielyn word.

Hoe smag ek nie na ’n paar weke op ’n afgesonderde klein dorpie om agter die hekke van ’n ou motorherstelbesigheid stilte in my kop te kan kry nie, om as vreemdeling net te ervaar en gade te slaan, terwyl jou binneste tot rus kom nie.

Daar is soveel raakpunte met soveel middeljarige vrouens dat Petra Smit op die ou einde enigeen van ons kon wees.

En daarin lê die grootste genot vir my.

Die boek word onder Lapa se nuwe druknaam Wênkbrou uitgegee. Gaan lees jy op oor Wenkbrou, vertel Izak de Vries en Johan Jack Smit, die uitgewers, dat die mark reg is vir “aweregse stories” en ook vir stories wat nie noodwendig genre-gerig is nie, en voeg by: “Ons skroom nie weg van sensitiewe temas nie.”

Oor Smit Motors vertel hulle in ’n onderhoud op LitNet in Januarie vanjaar: “Dis nie noodwendig skokkend nie (benewens een of twee eksplisiete sekstonele); dit gaan ook nie noodwendig wenkbroue lig nie (behalwe omdat dit ’n fantastiese storie is), maar dit pas nie noodwendig in ’n genre nie. So ons is baie opgewonde om dit te publiseer.”

Die paar bladsye se sekstonele tussen Petra en haar lewensmaat, Cyla, is eksplisiet, ja. Beslis baie meer eksplisiet as in enige hoofstroomboeke, ongeag of die karakters van verskillende geslagte is of nie. Maar dit dra vir my tot die boek by; gee diepte wat soms in boeke ontbreek, veral wanneer dit liefde tussen persone van dieselfde geslag aanbetref.

Die Wenkbrou-druknaam laat my in twyfel: In 2019 behoort mense meer van mekaar te leer, en huwelike en verhoudings tussen mense van dieselfde geslag is aan die orde van die dag. Deur hierdie boek onder ’n druknaam uit te gee, die eerste nogal, om sensitiewe temas ook in die kollig te plaas, is volgens my ’n fout.

Die uitgewers het genoem dat hul teikenmark “mense wat lief is vir boeke buite genres” is. Ek dink dit plaas ’n etiket op ’n boek wat ’n kwessie wat klaar ’n etiket het (selfdegeslagliefde) uitlig. Hoekom nie in die hoofstroom publiseer en daarmee help om die opvoedingstaak oor diskriminasie te versterk nie?

Die boek is goed. Punt. Dit sal jou laat lag en huil. Die taalgebruik is pragtig. Die karakters is goed ontwikkel en die storielyn eenvoudig, dog baie treffend en meesleurend. En dit alles sonder dat jy dit in ’n genreboksie of onder ’n aweregse druknaam hoef te publiseer.

  • 2

Kommentaar

  • Anne-Marie Burger

    "Smit Motors" het van my 'n beter mens gemaak. Omdat ek eerlik moes antwoord op die vraag: Is ek waarlik sonder oordeel teenoor almal?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top