Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Sypaadjie deur Alma Rossouw

  • 0


LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Alma Rossouw

Alma Rossouw roem haar daarop dat sy gebore is in die Boland, maar groot gemaak is deur wêreld-se-dinge. In 2007 matrikuleer sy by die Hoërskool Gimnasium Paarl en gaan studeer B. Drama by die Universiteit van Stellenbosch. Sy vang graad en gaan werk agter die skerms saam met talle bekendes in die film- en teaterbedryf. Sy sprei haar vlerke na die Goudstad om meer korporatiewe blootstelling te kry, maar die kleigrond van die Boland roep haar terug. Tans werk sy by ’n skolenuusnetwerk as ’n inhoudsredakteur en bestuur hulle aanlynnuusplatforms. 

Alma publiseer twee kortverhale in die Sarie tydskrif, met die laaste kortverhaal wat Maart 2019 verskyn. Sy is aanvaar vir die Breytenbach Sentrum se skryfskool onder die leiding van Rachelle Greeff.


Opsomming

Sypaadjie
Alma Rossouw

Algemene fiksie
Uitgewer: Wenkbrou
ISBN: 9780799395150
R190,00

“Drawwers is die go-getters, eintlik dink ek net hulle hardloop weg van iets. Elke oggend staan hulle op en gaan draf op die donnerse selfde sypaadjie. Die dansers, soos jy, dans deur die lewe. Hulle is met min tevrede en dan dans hulle daaroor. Die drinkers sit agteroor en lag vir die drawwers en dansers.”

“Met ander woorde sit die drinkers op die kantlyn?”

“Nee, die drinkers sit in die middel van die pad en wag vir die drawwers en dansers om te besef dat almal eendag doodgaan.”

***

Leah het haar lus vir die lewe verloor. Sy is jonk, suksesvol en hardkoppig. Sy verlaat Johannesburg om een van die haar besigheid se takke in Kaapstad reg te ruk. Daar ontmoets sy weer vir Hannah, wat ’n bietjie meer as net ’n vriendin was tydens haar universiteitsdae.

Gaan sy, Hannah, ’n veilige sypaadjie wees, of ’n glibberige, maar opwindende afdraaipad?

Sypaadjie is ’n romantiese drama met ’n interessante kinkel. Die storie word vertel uit ’n tipiese millenniër se oogpunt, daar is baie vrae oor die liefde, romanse en seksuele oriëntasie. Soms is die karakters effens konserwatief en naïef, maar nooit vervelig nie. Leah worstel met vrae wat baie jong meisies deesdae mee sukkel, veral Afrikaanssprekende, Suid-Afrikaanse meisies. Hoe vind ek ’n balans tussen liefde en my loopbaan? Is dit nog die moeite werd om jou hart op die spel te plaas? Die storie herinner aan Annie on my mind deur Nancy Garden en South of Sunshine deur Dana Elmendorf.


Uittreksel

Dit is ’n pragtige windstil dag. Leah voel spanning in haar skouers waar sy by die venster uitkyk. Sy het dit probeer uit­draf vanoggend, maar dit wil nie skietgee nie. Sy is nog nie seker wat die spanning veroorsaak nie. Dit is bitter min dat dinge haar uitstres, maar hierdie spanning kan een van twee goed wees. Hannah wat vandag saam haar na die polotoer­nooi gaan of die Hendrikse wat nie hulle kontrak wil hernu nie. Twee klippies in haar skoen. Hannah kan nie met ’n klip­pie vergelyk word nie. Sy is meer soos ’n skoen wat druk. Jy trek hom uit of jy loop jou voete blase tot die skoene gerek en jou beste paar skoene word. Vandag is nie die dag om te kies nie, vandag moet sy op die klippie in haar skoen konsen­treer. Sy kyk na die tyd op haar foon en stap kamer toe om vir ’n laaste keer te kyk hoe sy lyk. Dank die sterre vir Ean wat twee jaar terug vir haar ’n stylist gekry het. Michelle word ingelig oor elke liewe geleentheid waarheen sy gaan en sorg dat daar altyd twee kledingstukke is om uit te kies. Die room­kleurige cocktailrokkie span mooi oor haar boude en stop in die middel van haar bobeen. Die halternek gee ’n elegansie aan die rok. Wel, as haar Van Jaarsveld-smile, soos Ean dit noem, nie vir Henk Hendriks woo nie, moet haar lyf maar die trick doen.

Leah stop voor die adres wat Hannah gestuur het. Die woonstelblok lyk gehawend en al die vensters is van jare se seelug aangepak. Net toe Leah uit haar SUV klim, stap Han­nah deur die stukkende sekuriteitshek van die woonstelblok. Sy het ’n blompatroonrok aan wat om haar knieë wapper as sy loop. Die bostuk beklemtoon haar borste, maar nie te veel nie. Die wye hoed pas by die rok en bring die kurwe van haar gesig uit. Leah glimlag by haarself; as sy nie die outoppie kan woo nie, sal Hannah definitief. Voor sy dink, kom die woorde. “Jy lyk baie mooi, Han.”

“Dankie. Jy lyk ook die hotness vanself. Laat ek raai, die rokkie was sommer in jou kas.”

Leah skud haar kop. “Te danke aan my stylist.”

Die eerste deel van die rit lê hulle in stilte af. Karen Zoid sing in die agtergrond. Sy wonder hoekom Hannah vandag so stil is. Gewoonlik raak sy stil as sy iets wil sê of iets wil vra. Die beste manier is om Hannah se gedagtes van die vraag af te kry wat haar so knaag.

“Ek kan nie onthou wanneer laas ek in die Paarl was nie.”

Hannah lyk verbaas dat sy praat. “Ek het ’n hele paar kliënte hier. Dit lyk altyd vir my soos ’n lekker dorp om in te bly.”

“Hm, jy het altyd gesê jy wil eendag hier bly.”

Dié keer lyk Hannah verbaas dat sy dit onthou het.

“Het vandag se ganery polo toe iets met die besigheid te doen?” Aha, hier kom die vrae nou. Solank dit oor werk gaan, sal Leah kan antwoord.

“Eh.”

“Die bietjie wat ek kon aflei uit die gesprek tussen jou en my pa is dat dit nie so goed gaan met die besigheid nie. Is daai Arnold-ou jou kompetisie?”

“Eh.”

“Jy weet eh is nie ’n antwoord nie. Dis slegte slang. Use your words, woman.”

’n Glimlag trek aan haar mondhoek. “Arnold Astrof het so twee jaar terug afgetrek van Durban af en stadig maar seker al die kleiner maatskappye uitgekoop. Wat baie slim is, want al die kleiner maatskappye saam raak toe een groot, sterk maatskappy. Sedertdien het baie van ons kliënte oorgegaan na sy maatskappy toe. Ons grootste en oudste kliënt is H&H. Henk Hendriks was my oupa se eerste kliënt, maar nou wil sy kleinseun nie ons kontrak hernu nie. Dit is seker my eie skuld, want nadat ek die kantore in Johannesburg gaan oop­maak het, het ek so daarop gekonsentreer om KVJ Holdings in die Afrika- en Duitse mark te groei dat ek die belange hieronder afgeskeep het.”

“Eerstens dankie dat jy dit so mooi verduidelik; ’n kind kon dit verstaan.”

“Dit is nie wat ek probeer doen het nie. Ek dink definitief nie jy is ’n kind nie.”

“Ek weet. Ek sal later baie graag wil weet wat jy van my dink. Maar nou eers my tweede vraag: Ek weet jou oupa het op Constantia geboer, maar hoe het dit gebeur dat hy so ’n empire opgebou het?”

“Hy het maar die regte keuses op die regte tyd gemaak. Oupa Kasper het die plaas in Constantia in die laat sestigs verkoop en skelm wyn uitgevoer gedurende die apartheidsjare. Net voor die VN weer hulle deure vir Suid-Afrika se in- en uit­voer oopgemaak het, het Oupa in ’n myn belê en ’n paar jaar later die retail-groep in Duitsland gekoop. Oupa het nooit oor die wynuitvoerstorie gepraat nie, maar ek het ’n vermoede Henk Hendriks was saam met my oupa in die ding.”

“Ek neem aan hierdie Henk gaan vandag daar wees en jy wil met hom gesels. Want ek weet jy is nie iemand wat som­mer na sulke events toe gaan indien jy nie moet nie.”

“Ja, en Astrof.”

“Dit gaan lekker wees om jou vandag in aksie te sien. Ek het altyd gewonder hoe jy lyk as jy besigheid doen. Is jy ’n bull­dozer wat mense met jou kennis oorrompel ... Nee, wag ... Ek wed jy luister net en dan gee jy so ’n one liner wat almal om jou laat buig. Weet jy al wat jy gaan doen?”

Hannah se opwinding is aansteeklik. “Nee, dit is waar jy inkom. Jy gaan die kleinseun besig hou terwyl ek ’n gat in Henk se kop praat.”

“Wat? Leah, asseblief, sê jy joke. Is daai ’n smile? Jy joke, nè?”

Leah knik. “Ek dink nie vooraf wat ek wil sê nie. Ek het agtergekom dit is beter om net te doen. Dinge werk selde uit as jy beplan.”

Hannah lyk soos ’n opgewonde hondjie wat met haar neus teen die ruit sit toe hulle Val de Vie se hekke binnery. Sy het breed gesmile toe Leah haar VIP-parkeerkaartjie uithaal en hulle verby die voetgangers ry wat doer ver moes par-keer.

Hannah wil alles inneem sonder om soos iemand te lyk wat niks gewoond is nie. Die son laat ’n mens wonder of dit nie al Desember is nie en sy probeer ongesiens aan haar onderarms ruik. Hierdie mense is net in ’n ander klas. Haar eie familie was nooit arm nie en hulle het ’n redelik gemaklike leefstyl gehad, maar hierdie klas mense straal geld uit. Dit is in die manier hoe hulle staan, hoe hulle praat, selfs hoe hulle ’n glas vashou. Hierdie is nou Leah se klas mense. Dit is verbasend hoe baie mense haar ken. Hulle is nog nie eers vyftien minute hier nie en hulle het nog nie verder as die ingangsportaal gevorder nie. Al die mans groet haar met ’n handdruk en die vroue met ’n kopknik. Die meeste van die mense groet Leah op die naam en vra uit oor die besigheid of kinders. Die res groet sy met ’n glimlag en loop verder vooruit. As dit heeldag so gaan wees, gaan dit maar lekker boring raak.

“Dit kom daarvan as jy die celeb van die besigheidswêreld se date is,” fluister ’n man in haar oor. Hannah draai om en kyk in ’n aantreklike gesig vas. Hy het twee glase champagne in sy hand en gee een vir haar. Hy drink nie van die ander een nie. Sy hou hom dop en besef sy het hom al êrens gesien.

“Skuus. Ons het nog nie ontmoet nie. Ek’s Ean Jansen. Leah se regterhand. En jy is Hannah.”

Sy knik en skud sy hand. Sou Leah hom van haar vertel het? En hy het haar Leah se date genoem, so dit beteken daar kan nie iets tussen hulle wees nie. Asof hy kan hoor wat sy dink, antwoord hy.

“Soos jy weet is Leah maar ’n stil, private persoon, maar dit is my werk om te weet wat in haar lewe aangaan. Veral as sy sê sy bring iemand saam en ewe skielik moet jy daardie iemand se naam op ’n gastelys sit.” Hy kyk diep in haar oë vir enige teken van slegte intensies met sy baas. Haar oë gaan na Leah wat so ’n entjie weg van hulle staan en in ’n diep gesprek is met ’n aantreklike ouer vrou. Sy skat haar so vroeg veertig, maar die lyfie is nog ferm en mooi versorg. Die ouer vrou se salmkleurige rok span tienerstyf en Hannah kan nie help om te wonder hoeveel keer daar aan daardie lyf genip en getuck is nie. Hannah se oë gaan terug na Leah wat ontspanne staan met ’n lui glimlag. Dit is net wanneer die voor-op-die-wa-vrou vorentoe leun en aan Leah se arm raak en iets vertroulik in haar oor fluister wat ’n mens kan sien Leah se glimlag ver­styf. Haar bene lyk blerrie goed in daardie Jimmy Choos. Die mansstudente het altyd tot haar skaamte openlik vir daardie kuite gefluit.

“Gaan dit altyd só?” en sy wys in die rigting van Leah. Hy skuif dat hy langs haar staan en Leah ook kan sien.

“Almal wil altyd ’n stukkie van haar warmte kry.”

Hannah kyk hom met ongeloof aan. Hy lag vir haar uit­drukking en gaan voort. “Sy het ’n manier met mense. Hulle ken haar nie soos ek en jy haar ken nie en daarom kan sy warm teenoor hulle wees. Gesels en luister, jy weet, small talk maak. Sy weet net genoeg oor elkeen om vinnig ’n geselsie aan te knoop by ’n funksie; sy wil nie meer weet nie, want dan gaan sy begin omgee. Die mense waarvoor sy omgee, soos jy seker weet, hou sy op ’n afstand.” Hy bring die glas nader aan sy mond en dan bedink hy homself.

“Boonop wil die snobs later skinder dat hulle met die ryk­ste vrou in Suid-Afrika gepraat het.”

“Rykste?”

“Ja, sy het al lankal vir ou Wendy verbygevat.”

“Maar ek dog daar is probleme by die besigheid?”

“Die vraag is watter besigheid. Onthou, die Van Jaarsvelds het vingers in al wat ’n pie is. Leah is bekend daarvoor om vin­nig ’n maatskappy te koop en net so vinnig weer te verkoop wanneer dit ’n kopseer raak. Maar as jy van Van Wijnveld praat . . . Volgens haar wil sy nie toemaak nie, want sy sê dit gaan haar beleggers se vertroue in die holding company skaad. Dit is sommer ’n bull-storie, want KVJ Holdings is op die oomblik een van die stabielste maatskappye op die JSE. As dit nie vir haar oor die sentiment gegaan het nie, het ek haar al lankal forseer om Van Wijnveld te laat gaan. Ek verstaan hierdie is die oorspronklike KVJ, maar op die oomblik is dit net ’n las vir die groep.”

“Vertel jy vir al haar dates van KVJ se belange?”

“Hannah, sy doen nie dates nie. En dit sê vir my net een ding en jou oë beaam dit.” Hy hou haar stip dop. “Ek gee om vir haar en jy laat haar glimlag. Dit beteken ek gee om oor jou, behalwe as jy haar gaan seermaak.” Hannah is nie seker of dit ’n dreigement of meer uitvis is nie.

Leah stap in hulle rigting en hy sê vinnig naby haar oor. “By the way, jy is die talk of the party.” Sy kan nie vra wat hy bedoel nie, want Leah neem die ander glas wat hy vir haar uithou.

“Hallo. Jy lyk mooi. Michelle het al weer ’n stunning rok gemaak.”

“Ean,” groet sy terug en draai na Hannah toe.

“Sorry,” vra sy om verskoning dat sy haar so eenkant gelos het.

“Ag, moenie worry nie, ek en Hannah is al klaar beste vriende.”

Met ’n frons kyk sy na Ean, maar hy steur hom nie daaraan nie. “Die Hendrikse is nog nie hier nie, maar kom ek gaan stel jou aan Arnold voor. Sy date het ’n shocking pienk rok aan. Daar word geskinder dat sy ’n escort is. Gossip topic number two.” Die laaste sin rig hy aan Hannah, maar Leah maak asof sy dit nie sien nie.

“Later. Ons gaan sit.” Sy druk Hannah in die rigting van die groot oop deure wat op ’n groot patio langs die veld uit­loop. Oor haar skouer sê sy terloops: “Laat weet my as Henk hier is.”

Orals staan mense in ligte somersklere rond. Aan die linkerkant kampeer groepe uit op die gras en ver regs waar­heen hulle stap, is tafels in die koelte gedek. ’n Engelse eg­paar sit aan hulle tafel. Hulle groet met ’n Russiese aksent en staar in stilte oor die mense uit. Terwyl Leah besig is op haar foon kry sy tyd om na die verskillende mense te kyk en haar aan almal se pragtige rokke te vergaap. Sy is nie besig om haarself te verbeel nie, maar elke tweede groep staar openlik na hulle. Sy is seker die klein maer mannetjie in ’n babablou pak het ’n foto van hulle geneem.

“Is jy nie bang vir wat die mense gaan sê nie?”

Leah kyk op van haar foon en Hannah wys skelm na twee meisies wat nou openlik staar.

Leah leun ’n bietjie nader en Hannah kan haar duur parfuum ruik, dit ryk skoon en vars. Sy wonder wat sal Leah doen as sy haar nou op die wang soen.

“Die Jones-susters het by al wat ’n man is in die besigheidswêreld geslaap. Dit is al hoe hulle na sulke events genooi word. Ean is vas oortuig die maer een het êrens vigs opgetel, want sy het oornag só uitgeteer.” Sy wys met haar kop in die rigting waar vier vroue om ’n tafel sit en saggies agter hulle hande praat. “Die vrou met die groot blomhoed is mevrou De Villiers. Haar man is die eienaar van O’Fish in die hawe en baie goed met sy vuiste. Ek het haar nog nooit sonder daai groot sonbril gesien nie. Hierdie ou so twee tafels agter ons is ’n Stellenbosse handkneg en het letterlik al sy geld uitgedrink. En ek kan aangaan. Beantwoord dit jou vraag?”

“Dit sluit aan by my volgende vraag. Is hulle vermoedens oor ons reg?”

Leah se blik gly oor haar gesig en land op haar mond. Han­nah streel selfbewus met haar tong oor haar onderlip. Leah verstyf effens voordat sy verder praat.

“Ek weet glad nie wat hulle vermoed nie. Hoekom ek vir die eerste keer iemand saamgebring het? Of ek gay is omdat my date ’n vrou is? Of . . .”

“Is jy?”

’n Tipiese speelsheid kom sit om Leah se mond, maar haar oë is ernstig.

“Is jy?” vra sy terug.

“Ek het eerste gevra en jy weet wat my antwoord is.”

“Dan weet jy myne ook.”

“Nee, ek doen nie.”

“Ek is seker daarvan jy onthou net so goed soos ek.” Die gesprek is afgehandel, want twee mans kom stel hulself voor. Vir die volgende uur kom en gaan die mense aan hulle tafel. Mense wat vir Leah wil ontmoet, mense wat wil kom snoop en mense wat net wil kom hallo sê. Hannah is baie dankbaar

vir Ean wat hom ook by hulle kom aansluit het. Hier en daar groet hy saam met Leah, ander kere sit hulle albei eers koppe bymekaar om iemand se naam te onthou en verder vertel hy skinderstories onderlangs vir Hannah. Hy het ’n donker hu­morsin en so ernstig soos wat hy met Leah is, so lekker lag hy saam met Hannah. ’n Mens kan sien hy is baie lief vir Leah, selfs dalk verlief. Sy moet onthou om vir Leah te vra of daar al ooit iets tussen hulle was. ’n Ou man met ’n Italiaanse ak­sent toets Leah se kennis oor die olie-industrie en Hannah gebruik die kans om verder stories uit Ean te kry.

“Hei, Ean, Leah sê hierdie ou links is ’n Stellenbosse handkneg. Wat is dit?”

Ean draai sodat hy beter kan sien: “O, John. Wel, dit is eintlik ’n outanniestorie dat die Ruperts blykbaar in die apart­heidsjare hulle werkers se bonusse met aandele betaal het. Nou praat ek van hulle laeklas-werknemers, die onderkant- van-die-treinspoortipe werker wat nog nooit eers ’n silwer le­pel gesien het nie. Só het hierdie families toe ryk geword en hulle by glansgeleenthede begin wangedra. Daar het die naam Stellenbosse handkneg vandaan gekom. Leah se pa was een van die old moneys wat hulle nie kon verdra nie. Niemand weet dit nie, maar Leah het John al baie uitgehelp.”

Hannah voel ’n steek in haar hart. Dalk is daardie warm omgee-Leah nog êrens onder hierdie koue front wat sy voor­hou.

Toe die verkeer by hulle tafel minder raak, sê Ean: “Leah, Mohammad is nou al vir ’n halfuur hier en hy gaan nie soos al jou ander fans na die berg toe kom nie.”

“Nee, maar klein Mohammad gaan.” Leah staan op en groet ’n lang, maer siel. As gevolg van haar hakke kyk sy hom reguit in sy oë.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top