Resensie: Kyk na my deur Nataniël

  • 2

Kyk na my. Herinneringe aan ’n kindertyd
Nataniël
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798179935

Min Suid-Afrikaanse skrywers het so ’n breë repertoire soos Nataniël: Hy is bekend as sanger, kabaretkunstenaar, komponis, impresario, vermaaklikheidskunstenaar, rubriekskrywer, satirikus, dramaturg, en kulinêre en leefstylkenner. Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees vereer hom in 2014 met die Afrikaans Onbeperk-prys vir vernuwende denke, ’n prys wat toegeken word aan ’n individu wie se skryfwerk as innoverend of grensverskuiwend beskou kan word. As kortverhaalskrywer is Nataniël ook gekanoniseer met die opname van sy werk in Die Afrikaanse Kortverhaalboek.

In ’n onderhoud met Remona Voges-Van Huyssteen op LitNet vertel die skrywer dat sy uitgewer hom herhaaldelik gevra het om ’n boek oor sy kinderjare te skryf – ’n werk waarna sy volgelinge dekades lank uitgesien het. En die resultaat, Kyk na my, stel nie teleur nie. Die kritiek teen sy voorheen gebundelde sketse – naamlik dat die vertellings nie werk op papier nie, maar net as die kunstenaar dit vertel en dit op die verhoog gestalte kry – is nie van toepassing op die vollengte memoir van 268 bladsye nie. Die bekroonde skrywer, Nataniël, is hier aan die woord, alhoewel die werk diep en wyd deur sy veelkantige oeuvre insny. Hierdie is ’n teks wat nie in isolasie van Nataniël die verhoogkunstenaar of Nataniël die gewilde mediapersoonlikheid gelees kan word nie. Ook die skrywer se YouTube-stories resoneer met die werk.

Die titel, Kyk na my, fokus die leser se aandag op Nataniël in die kollig; op sy wondbaarheid en triomf. Die omslagontwerp toon ’n seuntjie as fantasiekarakter met ’n punthoed en plastiekswaard. Daar is ’n superponering van ’n huis (wat ook ’n klavier is) in die agtergrond. Op p 168 word die omslag tot lewe gewek as die verteller sy verhoogervaring tydens ’n operette verwoord:

[O]ns het vir maande geoefen aan hierdie operette en die dag van die opvoering was uiteindelik hier. Ek het gebewe wanneer ek dink aan my opstap. Kan iets beters met ’n mens gebeur? Die baard wou nie sit nie, radeloos het Ma uiteindelik die gom van my ken gewas, ’n swart pen gegryp en ’n snor geteken. Sy moes dit drie keer teken, ek het gesweet soos net ’n vet kind kan. [...] Dit was die gelukkigste oomblikke wat ek nog ooit beleef het, dit was asof vriendelike elektrisiteit my met klein skokkies bly kielie het. Ek het met my plastiekswaard op die stoep gestaan en wag [...].

Aan die woord is ’n orakelagtige kind wat herinner aan Jung se argetipe(s) van die magiese of onskuldige kind. Die transformatiewe krag van die kunstenaar, wat ook ’n towenaar is, word ontsluit en die verteller besef dat kreatiwiteit selfs oor die pynlikste ervarings kan seëvier.

Humor, maar ook tragikomiese en sprokiesagtige beskrywings, kom voor soos dit insgelyks die geval met die outeur se sketse is. Die memoir is in 36 hoofstukke verdeel en die verhaalatmosfeer is dromerig en misterieus. Die skrywer lewer verslag van sy lewe as jong, sensitiewe seun; ’n leefwêreld wat gekenmerk word deur hegte bande met familie soos sy ouma, oupa, ouers, broers Erik en Ian, asook suster Madri. Die verhaal speel tydens die 60’s en 70’s op plekke soos Riebeek-Kasteel, Porterville, Wellington en Kuilsrivier af. Enkele vertellings speel egter later (in die hede) af, en as geheel beweeg die memoir op ’n anachronistiese tydlyn. Die boek is, naas ’n egodokument, ook ’n prikkelende tydsdokument.

Op p 16 sê die verteller: "Ons Wêreld en die Ganse Wêreld was slegs geskei deur silwer ogiesdraad." Die bloedjong verteller beleef alles om hom as reusagtig – ’n waarneming wat dieselfde logika volg as die digter, Hilda Smits, se digbundel Die bome reusagtig soos ons was. Nataniël is by uitstek ’n beskrywer van ruimtes, of dit nou huise, kamers, kastele, koshuise, piekniekruimtes of intieme binneruimtes, soos laaie of spense, is. Sy beskrywing van die ruimtes is hiperbolies, maar hier is ’n dubbellens-fokalisering teenwoordig: Naas die jong kind, "kyk" ook die volwasse fokalisator na die woonplekke en ander ruimtes as dioramas of pophuisagtige ruimtes van ’n verbygaande jeug, byvoorbeeld op p 128. Reële asook fantasieruimtes kom voor, en die grens tussen werklikheid en fiksie vervaag (soos op pp 130–132). Jeugherinneringe word met ’n sterk sintuiglikheid neergepen; ook die aanraking van dinge, byvoorbeeld die slag wat hy vir die eerste keer met sy ouma se juwele kennis gemaak het, word as heerlike taktiele belewenisse voor die oog geroep (pp 97–99).

Die narratief word bevolk deur ongewone fantasie-elemente (of wesens) soos die Stoepsitters, die Prins, die Soldate, die Huisengel, die Skadu’s en die Groot Grys. Die funksie van laasgenoemde is ’n kentering in die jong Nataniël se gemoed ten einde hom te slyp vir die eise vir sy latere rol as verhoogkunstenaar.

Naas die herinnering aan sy skooljare en gesinslewe bevat die memoir ook beskrywings oor die jong seun se belewenis van skolerugby, judo, sy musiek- en kunsjuffrouens, speelgrondboelies en die invloed van filmteater op die jong kunstenaar se sienswyses. Op prikkelende wyse beskryf Nataniël sy gewaarwordinge rondom die fynere nuanses van kos, modes, dekor en interieur, en selfs argitektuur. Die verteller se vader, ’n motorwerktuigkundige, besluit om predikant te word – en die gesin ervaar finansieel ’n paar maer jare terwyl hy teologie studeer.

Die skrywer lewer skerp sosiale kritiek teen lyfstraf:

Ek wil dit nie doen nie, het my pa gesê.

Dan het die geluid gevolg, die houe wat val, net ’n paar, maar onmiskenbaar die klank van barbarisme, die chaotiese geluid van generasies se onnoselheid. (162)

Asook:

Niemand slaan weer aan my nie, ek is spesiaal – beslis ongelooflik spesiaal – ek hardloop nie nou weg vir ’n pak slae nie, ek vertrek nou, ek word hopelik gevind deur my soldaat of gered deur mense wat verstaan dat ek op ’n besonderse plek moet land, ’n plek waar angs nie leef nie, waar dom reëls verbode is, waar talentvolle kinders (die orreljuffrou het óór en óór gesê ek is talentvol, is julle doof?) nie aangerand word nie. (164–165)

Die jong verteller se droomwêreld spat aan skerwe wanneer hy moet rugby speel en hy die ervaring as angsvol en dissosiatief beleef:

Ek sit agter die pastorie tot Sondagskool klaar is. Ek loop eers huis toe wanneer die strate stil is. Ek is naar. Ek bly die hele week naar, ek koop nie eens ’n worsrol of ’n pakkie sout-en-asyn nie. Die volgende Saterdag speel ons rugby in Darling. Daar is soveel mense dat sommige agterop bakkies moet staan om te sien. Almal het van my gehoor. En dat ons span die verste gaan verloor in die geskiedenis. Ons stel nie teleur nie. (185)

En:

Deesdae is dit skreeusnaaks, my manewales op ’n rugbyveld, maar as ’n kind van elf het ek dit ervaar as haat. Haat teenoor my en gevolglik haat teenoor hulle, die georganiseerde, dikvellige, kortsigtige, tradisionele, wettige, publieke boelies. Dit was die begin van my diepgewortelde renons in gesag van enige aard, my weersin in politici, akademici, kerklike konings en sosiale reuse. My onwilligheid om te buig of te volg bly steeds deure toeslaan. (185–186)

Bovermelde aanhaling is tiperend van Nataniël selfironisering – en dis sosiale kritiek par excellence. Die leser se bemoeienis met die jong seun as buitestander noop hom tot empatie met die latere, volwasse kunstenaar se buitestanderskap.

In hierdie vertelling is die standaard narratiefbindingsmeganismes afwesig en steun die verhaal op die gebruik van die bewussynstroomtegniek. Die beskrywing van indrukke, eerder as die voortsnel van verhaalgebeure, is kenmerkend van die memoir. Die skrywer is in alle opsigte ’n esteet: Kyk na my handel in wese oor die belewenis, die herkenning en die skep van estetika in alle gedaantes – die verteller verestetiseer bykans alles en die boek wemel van aangrypende poëtiese segginge, byvoorbeeld die verwysing na skeppende idees as "uit verre verbeeldings", om net een te noem.

Nataniël het vir hom ’n unieke plek in die Afrikaanse letterkunde losgeskryf. Kyk na my is ’n genietlike werk én ’n kragtoer.

Lees ook:

Skrywersonderhoud: Nataniël oor kunstenaarskap en Kyk na my

Lesersindruk: Kyk na my deur Nataniël

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Linda Zaaiman

    Is bly dat ek die boek gelees het voor die resensie. Die boek het my laat lag, geïnteresseer en my plek-plek diep geraak. Weet nie of die resensie vir akademici bedoel was nie, want dit wat my bybly, is verstrengel tussen geleerde woorde en gedagtes. Sou die boek dan nie gelees het nie.

  • Avatar
    Maureen Ferreira

    Ek het die Engelse weergawe gelees. Wat ’n ervaring! Daar is net te veel in om in een lees te belewe. Ek moet dit weer aanpak om al die diepte meer te ervaar en te geniet. Dankie Nataniel! Net ’n vragie – wat het van Ian geword?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top