Repliek op Jason Lloyd

  • 1

Prent: Canva

Hierdie skrywe is ’n repliek op Jason Lloyd se onlangse rubriek, wat kommentaar op hierdie artikel deur Kelvin Knowles gelewer het.


Aan Jason Lloyd

Dankie vir jou repliek op my artikel oor Liam Jacobs. Ek waardeer die omgaan met my stuk.

Ek wil ’n paar punte wat jy geopper het, verduidelik. Eerstens, rakende jou bewering dat my artikel "grens aan die tipiese Boesak-styl lofprysing van die ’stryd’ en die UDF" en vraag, "Waarom word daar na die UDF en die stryd verlang toe dit geboorte gegee het aan ’n muis?": Ek verlang nie na die dae van die UDF nie. Ek stem saam dat die eindresultaat van die stryd wat onder die vaandel van die UDF gevoer is, nie ten volle ‘n realisering was van dit waarvoor dit gestaan het nie. Dit mag wees dat ek, omdat ek deel was van die UDF en my politieke bewussyn destyds deur die UDF gevorm is, die luukse van nostalgie het om op so ’n jong ouderdom in iets wat progressief was te kon glo. In vorige skrywes het ek in werklikheid gepleit vir ’n nuwe bewussyn en burgerlike beweging soortgelyk aan wat die UDF was, maar een wat die die huidige gemors waarin die ANC ons land gedompel het, tromp-op kan loop.

Tweedens vind ek dit interessant dat jy voorstel dat ek "in [my] artikel strompel". Jou ontleding van Liam Jacobs se vermeende onvolwassenheid om sy lojaliteit van die DA na die PA te verander, en jou voorstel dat daar gegis word dat hy "sy besluit sal berou", is na my mening nie ter sake nie. Waarop dit dui, soos ek voorheen beweer het, is dat daar ’n vakuum is waar sogenaamde "kleurlingkwessies" voldoende aangespreek word, en die PA vul daardie leemte. Dit geld ongeag of ’n saak uitgemaak kan word rakende die PA se leierskap as outokraties, soos jy voorstel. Dit is eerder ’n aanduiding van realpolitik, gegewe waar ’n sekere groep mense (in hierdie geval "kleurlinge") hulle histories bevind het en waar hulle hulle nou bevind.

Wat Jacobs se akademiese kwalifikasies betref, noem jy sy BA Honneurs in politiek, filosofie en ekonomie (PPE) en beklemtoon die prestige van die graad. Terwyl akademiese kwalifikasies belangrik is vir die uitbou van kennis, vereis aktivisme nie noodwendig akademiese opleiding in politiek, filosofie en ekonomie nie, hoewel dit beslis voordelig kan wees.

........
Jy verwys na Allan Boesak as "vasgevang in ou en verouderde UDF-strydretoriek sonder om met enige werkbare en praktiese oplossings vorendag te kom". Hoewel dit nie heeltemal onwaar is nie, begin alle veranderinge in die politiek dikwels met ’n gesprek, baie soos die Burgerregtebeweging in die VSA in die 1960’s of die geboorte van die Anti-Apartheidbeweging.
........

Jy verwys na Allan Boesak as "vasgevang in ou en verouderde UDF-strydretoriek sonder om met enige werkbare en praktiese oplossings vorendag te kom". Hoewel dit nie heeltemal onwaar is nie, begin alle veranderinge in die politiek dikwels met ’n gesprek, baie soos die Burgerregtebeweging in die VSA in die 1960’s of die geboorte van die Anti-Apartheidbeweging. Wat nodig is, en waarna ek verwys het, is dat terwyl daar gestruktureerde debat is oor kwessies van marginalisering van gemeenskappe, dit ook intellektueel gedrewe moet wees, en menings soos joune, in antwoord op my opiniestuk, is ’n goeie begin.

Laastens stel jy voor dat ek "suggereer dat Jacobs en die Patriotiese Alliansie dinamies is". Hoe definieer ’n mens "dinamies"? As die grond dors na dinamiese personas – in die manier waarop hulle kwessies wat gemeenskappe raak, aanspreek op platforms waar sulke besprekings voorheen van weggeskram is, en waar mededingende politieke partye om hierdie kwessies suutjies trap om sekere kiesers te paai – wat is dit dan, anders as iets wat verandering of vooruitgang binne ’n stelsel of proses stimuleer? Die volhoubaarheid van sulke dinamiek en die uiteindelike uitkoms daarvan is beslis oop vir debat, asook die personas van diegene wat hul stemme laat hoor en die manier waarop dit gedoen word.

Dankie weer eens vir jou deurdagte antwoord.

Lees ook:

Dinkskrum: Is die PA ’n dinamiese en modieuse politieke party? Repliek op Kelvin Knowles se artikel

Liam Jacobs se oorloop: ’n weerspieëling van breër politieke dinamika

 

  • 1

Kommentaar

  • Barend vd Merwe

    Ek sien Jason beskryf die PA as die "ANC Light". Dis nie die eerste keer wat ek dié beskrywing hoor nie. Maar ek onthou dit as beskrywing van die DA en dit het al dikwels opgefuim just. Liam se ou party. Dit herinner my aan die uitroep wat mens soms hoor: "Black man, you are on your own". Ironies hoor mens ook presies presies dieselfde onder sekere wit groepe: "Witman, jy is op jou eie". Die voorveronderstelling, in beide gevalle, is dat daar supposed to be iemand was wat agter jou moes kyk in die lewe, bepaalde waarborge vir jou moes gee...maar die lewe werk anders...

    Jason se perspektief geval my egter, moet ek ongelukkig sê, veel meer as joune. Maar ook met 'n groot MAAR. Want ek is die laaste een om vir Liam Jacobs oor sy keuses te kritiseer. Jacobs skyn vir my in die klassieke catch 22-situasie te wees. Hy is gedoem in die DA. En waarskynlik ewe veel in die PA. Dat die PA 'n diktatorskap is, wat wentel om hulle charismatiese leier, is 'n uitgemaakte saak. Daar was onlangs 'n wonderlike bespreking op Netwerk24 waarby Heindrich Wyngaard en Tim du Plessis betrokke was:my

    https://www.netwerk24.com/netwerk24/kyk-en-luister/klankgolwe/politieke-rapport/luister-heindrich-wyngaard-gayton-sal-steun-kry-tot-die-volgende-bruin-messias-kom-20250724

    Wyngaard het die diktatorieële werkswyse van die PA goed uiteengesit. En tog...die feit dat ander partye sisteme in plek het wat veel meer demokraties skyn te wees, is geen waarborg dat hulle werklik so demokraties is nie. Die hele Suid-Afrika het demokratiese sisteme in plek, so ook hordes ander lande, maar wie trek eintlik die toutjies in 'n demokrasie? Dit maak nie regtig eintlik saak vir wie mens stem nie. Die besluite word meer bepaal deur die sakemanne se beursies as deur die kruisies by die stembussies. Baie konserwatiewe Christene het vir Donald Trump gestem. Hulle reken hy is 'n man wat hulle Christelike waardes sal help beskerm...Voorspelbaar het Trump se gewildheid vinnig begin taan. Die verwagtinge was hoog!

    Soos ek verstaan gaan Jacobs nou staan in die 2026-verkiesing as kandidaat vir Burgermeester van Tswane. Dit gaan 'n opdraende stryd wees daardie. Baie mense het in hom 'n hoop vir die toekoms gesien, 'n jong vurige politikus wat die pot roer en die demokratiese waardes skynbaar verdedig. Vir hom om by 'n openlike ondemokratiese bende soos die PA aan te sluit, is tog glo ek vir vele 'n teleurstelling. Tog het ek simpatie daarvoor en die DA, wat graag die skyn van demokrasie wil uitstraal, glo ek nie vir een oomblik is so demokraties soos hulle naam te kenne wil gee nie. Die DA gebruik net swartmense en ook die Boerkanertjies vir stemme, maar swartmense veel meer.

    Onder ons klompie Boerkies is daar ook ons eie ANC Light party. Dalk kan mens hulle eerder 'n ANC infinite laaight party noem, by name, die Vryheidsfront Plus. Gestig deur generaal Viljoen in 1994 onder die vaandel van vryheid vir die Boer, het die VF plus maar grotendeels rondgesit en slaap in die parlement vir drie dekades. Die party is ook lamgelê deur faksies wat mekaar ondermyn en dwarstrek. En in die 30 jaar sedert 1994, het die VF plus net so min bereik as die ANC self. Trouens die ANC het darem paar universiteite en heelwat huise en so gebou, so tegnies het die ANC veel meer reggekry. So het dit gekom dat die konserwatiewe wit Afrikaners beginne dros het. Opgehou stem het vir die VF plus se leë beloftes. Met hulle nuwe leier, doktor Mulder, bekend as die Michellin man, Suid-Afrika se langsdienende LP, so terloops, wil die VF plus skynbaar nou weer 'n poging aangewend om bietjie terug te keer na hulle roots toe. Mulder ondersteun byvoorbeeld openlik die Kaapse onafhanklikheid (en as ek moet raai is hy waarskynlik ook pro-Israel, nes die agbare leier van die PA). Mulder gaan nie veel uitgerig kry nie, maar hy gaan dalk so bietjie steun terug kan wen, wat hom mooi sal help so in die laaste fase van sy politieke loopbaan.

    Al hierdie politici is maar opportuniste. Wie kan hulle kwalik neem? Hulle doen maar wat hulle glo in die beste belang van hulle loopbane is.

    Ek het simpatie met die sosialiste en my eie politiek neuk waarskynlik ook in die sosialistiese rigting, maar die ANC het die land so opgeneuk dat Jason met goeie reg skryf wat hy skryf. Die UDM was maar net 'n frontorganisasie en was niks anders as die ANC self nie. Selfde ou onwerkbare sosialistiese beleide wat, soos Jason tereg opmerk, 'n muis gebaar het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top