Reisskets: Die hond van Afrika

  • 0

Mpulungu, Tanganjikameer, Zambië, 2001

Foto ter illustrasie

Ek staan saam met die malende massa en wag op die waardige ou MV Liemba toe dit skielik tussen Mbete en Krokodileiland sigbaar word. Vrydag is Liembadag in Mpulungu, Zambië se enigste hawedorp op die onderpunt van die Tanganjikameer. Die polsende klein hawe gons soos ’n bynes met mense uit elke uithoek van Afrika, en selfs van ver buite die kontinent se grense, wat wag op die groot weeklikse gebeurtenis.

Die reuse vragskip vaar sedert die Eerste Wêreldoorlog op die waters van Tanganjika. Eers was dit ’n oorlogskip, toe ’n sendingvaartuig. In 1916 het die Duitsers die skip tydens die Eerste Wêreldoorlog naby Kigoma gekelder. Die Britte het dit in 1924 ’n vlot gemaak. Deesdae deurkruis die Liemba die 680 kilometer lange vars waters. Sement, pynappels, suiker, passasiers en – so beweer mense – allerhande onheilighede word van hawe tot hawe vervoer. Liembadag is die hoogtepunt van die sosiale kalender; man, vrou en kind fleurig geklee in helder uitrustings met bypassende hooftooisels.

Die MV Liemba (foto: Wikipedia)

Ons kry spesiale toestemming om aan boord te gaan. Vanaf die boonste dek van die skip is my uitsig op Mbete-eiland ongehinderd. Ek word deur die klein eilandjie betower. Dit is skaars 300 meter weg van die vasteland en, ten spyte daarvan, totaal ongerep. Reusagtige bome en digte slingerende rankplante vorm ’n ondeurdringbare ringmuur om die eiland. Dig begroeide rotse val loodreg in die donker dieptes van die meer en hier en daar vertel ’n skoon sandbaaitjie van hoe Afrika eens gelyk het – voor plastiek en oorbenutting sy tol geëis het.

Die sustereiland, Krokodileiland, is daarenteen heelwat verder van die vasteland af, maar is totaal verwoes deur die vissermanne wat daar woon, werk en verwoes. In kontras met Mbete is Krokodileiland kaal gestroop, onooglik, vol plastiek. Op kaarte van die area word Mbete aangedui as Kumbula-eiland, maar die plaaslike Lungu’s noem dit Mbete, na hul voorvader. Dis ’n heilige plek in die Lungu-tradisie en dit is waarom die eiland, anders as Krokodileiland, ongerep gebly het, vertel iemand. Dis verbode terrein; niemand mag daarheen gaan nie.

Wanneer die Lungu’s ’n nuwe hoofman moet kies, word voorvader Mbete se goedkeuring eers gesoek. Die nuut verkose Tafuna moet vóór sy inlywing na Mbete-eiland swem. Die groot toets lê egter nie in die afstand nie. Die meer wemel van krokodille en hoewel die induna’s op bote saam vaar, mag hulle nie die jong Tafuna help nie. Kom hy ongedeerd anderkant uit, keer hy triomfantelik met die boot terug. Maak hy dit nie, was dit die wil van die voorvaders.

Illustrasie van 'n kapenta-vis

Snags, as die gewoel vanaf die hawe en die aangrensende mark na die hoofstraat met sy winkels, restaurante en huise van plesier skuif, verander Tanganjikameer in ’n betowerende spel van sirkelende ligte en verskietende sterre. Donkeraand vaar groot vissersbote een na die ander die hawe uit, tussen die eilande deur na die diep waters. Elke boot sleep ’n streep bakkies kompleet soos ’n moedereend met haar kleintjies agterna. Wanneer waters diep genoeg is, vorm die moederboot en die bakkies ’n wye sirkel en laat sak ’n reusagtige net. Donkernag kruip die bemanningslid op elke bakkie met ’n skerp lig uit sy ongemaklike skuiling. Die ligte lok die miniatuur kapenta-vissies in hul duisende na die oppervlakte. Die net word opgetrek en die kapenta aan boord geneem. Wanneer die vrag vol gelaai is, keer die moedereend en haar kleintjies terug hawe toe.

Laatnag, toe die Liemba lank reeds tussen Mbete- en Krokodileiland verdwyn het en die nagmusiek die inwoners in die rookgevulde kuierplekke vermaak, staan ek op die stil kaai en kyk na die spelende ligte. En toe hoor ek dit: ’n jammerlike gehuil. Ek luister fyn, en ja, dit is ’n hond wat huil. Die klank kom van Mbete-eiland af. Die volgende oggend voor die dorp ontwaak is ek met my verkyker terug op die kaai. Op Mbete gooi die maer Africanis-hond sy kop agteroor en kerm sy nood uit.

Toe die dorp ontwaak, begin ek soek na iemand om die hond met ’n boot te gaan haal. Ek bied goeie geld aan, maar sonder enige sukses. ’n Sekuriteitswag, ’n getroue bron van inligting, verduidelik: Die Lungu is ’n klein stam in Zambië, maar is bekend vir hul onwrikbare tradisies. Mbete was en is ’n groot leier en sy rusplek is heilig. Die ou man knyp sy oë toe teen die skerp lig en gee raad: “Jy sal nie sommer ’n Lungu kry nie. Soek ’n vreemdeling.”

Ek vind uiteindelik ’n Kongolees wat bereid is om die volgende oggend die vaart te onderneem. Die aand huil die hond steeds hartverskeurend, maar vroegoggend soek ek vergeefs met my verkyker. Die hond is nêrens te sien nie. Die hond is stil. Die ou Lungu verklaar met jare se wysheid: “Die hond was te honger en het land toe probeer swem. Die krokodille …”

Weke later, tydens ons laaste naweek in die dorpie, nooi ons ’n paar vriende vir ’n bootrit om die ongerepte eiland. Daar is Ross en Gwen van die koffieplantasie, Anthony en Belinda van die plaaslike visfabriek en Alice, ’n bejaarde non. Die stukkie ongerepte Afrika is ’n vreugde. Ons verkyk ons aan die ongelooflike digte plantegroei, vir eeue onaangeraak deur mensehande. Hier het die natuur sy gang gegaan: sporadiese brande, hewige donderstorms en die ritme van die seisoene. “This is how the Creator meant it to be,” sê Alice in haar swaar Skotse aksent.

Toe ons na ’n uur die nou poort tussen Mbete- en Krokodileiland nader, is ons nat en koud van die sproei, maar dankbaar vir die ongeskonde stukkie Afrika. En toe, eers net ’n vaal kol in die donkergroen, maar gou onmiskenbaar duidelik, sien ons ’n ontboste stuk aarde. Eers maak ons ’n paar hutte uit, toe ’n tiental mense, nog later papiere en plastiekkanne. Ons kyk in ongeloof na die skipper.

“Kongolese vissers. Drie maande gelede, toe ek laas hier was, was daar net twee mans.”

Die wind sny skerp deur ons nat klere. Ons is doodstil, koud en moeg. Alice delf diep in haar mandjie en haal ’n bottle Old Brown Sherry uit. Die bottel gaan van hand tot hand. Die kerk, getrou aan sy opdrag, red die oomblik. Maar die eiland …

Soms, in ’n donker nag, hoor ek hom onophoudelik huil – die hond van Afrika.

Lees ook:

Reisskets: Die dans van die Rooi Romp

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top