Reisskets: Die dans van die Rooi Romp

  • 0

Swaziland

Sy het by my aangekom in ware Swazi-tradisie: ’n kennis van die tuinman, en so op die vertroue af dat ek dalk mag help. Ek het Sipho skaars geken, beslis nooit gemeld dat ek ’n huishulp soek nie. Hy het nie eens vir ons gewerk nie, maar was in diens van die kompleks waar ons huur. Ek het hom bloot soggens koffie en brood gegee as hy yskoud in gietende reën en donderstorms by die werk kom. Die koffie-en-brood-tradisie het gebly toe die reënseisoen verby was. Dit het my nie armer gemaak nie en hy het kennelik die versterking nodig gehad. Hy het seker gemerk dat ek self die vloere was, die matte uitskud en die wasgoed ophang. In sy wysheid het Sipho besluit ek moet hulp kry. Dalk was hy nie so veel gepla oor my nie, maar het bloot ’n opening gesien vir sy buurvrou.

Sy het een oggend net daar gestaan, maer en uitgevat in haar Sondagbeste, skuins agter Sipho. Ek het nie regtig ’n huishulp nodig gehad vir die tweeslaapkamerhuisie nie, maar iets in haar benerige gesiggie het met my gepraat. Sy het ongenooid in my lewe ingestap en vir die res van haar lewe gebly. Haar tengerige bou ten spyt het sy hard gewerk, beddens geskuif, vloere geskrop en ruite gewas op dae dat ek skaars gesien het die ruite het ’n was nodig. Sy was doodstil en het onderlangs geloer na my borduurwerk. Soms verdiep gestaan voor die TV.

Maar dit was die dag toe ek die naaimasjien uithaal dat sy haar stilte verbreek het.

“Madam, what you do there?” Sy het nog nooit ’n naaimasjien gesien het nie. Nee, sy het ook nog nooit naaldwerk gedoen nie, het sy op my vraag geantwoord. Maar sy het ’n rok by die kerk gekry wat te lank is. Sou ek kon help?

So het die proses begin. Toe sy teen twee-uur met haar werk klaar was, wys ek haar hoe om die rok se soom in te sit. Die volgende dag het sy bly staan toe die horlosie twee-uur slaan. “Madam, I want to sew more.”

Ek het ’n mooierige stuk lap geneem, te klein vir enigiets, te mooi om weg te gooi. Sy het na ’n rukkie die elektriese masjien verbasend vinnig baasgeraak, en toe sy die drie-uur-bus neem, was die vrolike lapsak oor haar skouer. Daar was weliswaar net twee synate, ’n soompie bo en twee laphandvatsels, maar in haar oë was dit ’n Louis Vuitton.

Ek het min geduld, en die ywerigheid waarmee Rose klokslag twee-uur aangemeld het, het my onkant gevang. Ek het heen en weer begin bel en waarlik, naaldwerkklasse word heel billik aangebied drie namiddae ’n week. Die volgende kursus begin 15 November, oor ’n maand. Rose kon nie wag nie. Ons het haar benodigdhede gaan koop en sy het elke dag die pakkie in die linnekas oopgemaak, deurgekyk en versigtig gebêre. Sy het keer op keer verduidelik dat as sy vinnig stap vanaf die Sebente-opleidingsentrum, sy nog die vyfuur bus kon haal na haar dorpie, 25 km buite Mbabane. Sy sou dan betyds wees om vir haar kinders kos te gee voor slaaptyd. Haar oë het geblink en sy, wat nooit gepraat het nie, het elke dag iets te sê gehad oor die komende naaldwerkklasse.

Ek woon al lank genoeg in Swaziland om te weet baie dinge kan skeefloop, en begin November maak ons weer ’n draai by Sebente. Nee, verduidelik die dame ongeërgd, die klasse begin eers 15 Januarie. Ek praat mooi, Rose trek los in ’n vinnige Siswati, maar ons maak nie hond haaraf nie. Die klasse begin 15 Januarie.

Rose is soos ’n kind met ’n gebreekte speelding, en ek troos haar. Kom ons gaan koop Shweshwe-lap en dan maak jy vir jou ’n romp vir Kersfees.

En so begin die ritueel van die rooi romp. Klokslag twee-uur haal Rose haar lap uit, speld versigtig die panele aanmekaar – pynlik presies om die ontwerpies te maak pas. Die nege panele, die band en die soom word oor die volgende maand met die grootste sorg gestik, oop gestryk, opgehou vir bewondering en versigtig in ’n handdoek weggepak tot volgende keer.

Rose het ’n vroeë Kersfees gehad, want toe ons middel-Desember Stellenbosch toe vertrek vir ons jongste se gradeplegtigheid, draai die maer lyfie om en om in die rooi Shweshwe-romp. Sy dans op en af in die eetkamer en lig-lig die romp sodat die streep son deur die gordyn die rooi-en-wit patrone vars en skerp ets. Die swaar wangbene in die brandmaer gesiggie glinster in die skerp son, en na die vreugdepassies stap sy vlugvoetig bushalte toe.

Ek het haar nooit weer in die rooi romp gesien nie. Die naaldwerkkursus het 15 Januarie sonder haar begin. Toe ek terugkom in Swaziland, wag Sipho met die nuus: Rose is baie siek. Na twee weke gaan soek ons haar. Die pad is sleg en die laaste ent na haar kraal is feitlik onbegaanbaar. Sy is onherkenbaar verwaarloos in die donker hut. Die hare is woes sonder ’n kopdoek, die bene geswel en die lyfie maer soos dié van ’n negejarige kind.

En toe begin die stryd tussen my en haar ma. Ek wil Rose summier hospitaal toe neem. Sy wil Rose na die sangoma stuur. Die ma wen die eerste ronde en Rose gaan na ’n sangoma ver in die berge. Nee, ek mag nie daarheen gaan nie, verduidelik die ma. Drie weke later hou daar ’n bakkie voor my deur stil. Rose is in ’n koma agterop en die ma kom sê die sangoma het besluit Rose moet hospitaal toe.

Rose herstel tot so ’n mate dat sy kan eet, maar toe ek weer by die hospitaal kom, is die suster baie vies. Rose se ma het haar kom haal. Die sangoma het besluit hy wil ander behandeling toepas. Ons vat weer die verspoelde spore en donderstorms aan met kos, pynpille, toiletware en vars vrugte.

Die heuwels is toe onder die mis toe ons uiteindelik die kraal bereik. Op ’n tou gespan tussen twee bome hang die rooi Shweshwe-romp. Rose se ma se oë is bot-seer. Sy het die romp gewas vir Rose. Dis Rose se beste en hulle gaan haar daarin begrawe. Sy neem die word-gou-gesond-geskenkies en kyk verby my na die groen heuwels waar die veldblomme groei en die beeste wei.

Ek het nie die begrafnis bygewoon nie. Ek glo nie Rose sou my verkwalik nie. Ek en sy het immers die vreugde van die dans in die rooi romp gehad.

Lees ook:

Reisskets: Die dans van die riete

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top