
Prent: Canva
Leani van Niekerk praat met Naomi Meyer oor Leani se onlangse artikel wat in LitNet Akademies (Regte) verskyn het, en ook oor regstudente se toegang en sukses tot die kursus en oor hulle verlede en toekoms.
Leani, vertel asseblief vir ons lesers van jou agtergrond en jou passieprojek.
Ek is op die oomblik besig met my PhD wat handel oor "access, redress en equity in legal education". Die antwoorde wat ek op jou vrae oor my artikel gaan verskaf is eintlik ook ’n persoonlike opinie eerder as slegs ’n feitlike opinie.
Ek is baie passievol oor die verlengde program van regstudies (later meer daaromtrent hier onder), maar ek spreek ook die olifant in die kamer aan in my PhD. Hierdie olifant is naamlik dat hoër onderwys nie as die enigste uitweg uit armoede gesien moet word nie. Vaardigheidsberoepe soos loodgieterwerk (byvoorbeeld) moet meer aktief op skoolvlak bemark word.
Die verlengde program vir regstudies waarvan ek praat, is meer as net my werk. Dis vir my ’n passieprojek, en daarom beantwoord ek dus die vrae vanuit my persoonlike passie daarvoor.
Leani, jy het ’n ondersoekende artikel in LA (Regte) gepubliseer en jy raak die kwessie aan van studente wat nie net toegang tot ’n akademiese kursus moet verkry nie, maar dit ook suksesvol moet kan afhandel. Vertel asseblief vir my wat jy sien onder studente vanuit ongelyke omstandighede?
Studente vanuit ongelyke omstandighede is studente wat nie dieselfde geleenthede gekry het as ander studente nie, met ander woorde studente wie se skoolagtergrond dit vir hulle moeilik maak om te presteer. Dit is dus studente wat universiteit toe kom wat nie oor die nodige vaardighede beskik om suksesvol te wees nie. Dit is egter belangrik om kennis te neem dat wanneer ’n student uit ongelyke omstandighede kom, dit nie ’n definitiewe aanduiding is dat ’n student gaan sukkel of onsuksesvol gaan wees nie.
.........
Dit is egter belangrik om kennis te neem dat wanneer ’n student uit ongelyke omstandighede kom, dit nie ’n definitiewe aanduiding is dat ’n student gaan sukkel of onsuksesvol gaan wees nie.
............
In ’n vorige akademiese artikel skryf jy oor die moontlikheid van ’n verlengde kursus as oplossing onder studente wat sukkel om hul studies suksesvol af te handel. Wat is nou jou gedagtes hieromtrent?
’n Verlengde LLB-program is steeds ’n baie waardevolle instrument om die studente se kanse op sukses te verhoog. ’n Verlengde LLB-program spreek ook verskeie sosiale geregtigheid-beginsels aan wat kan bydra tot studente se sukses. Ek is egter van mening dat sommige verlengde programme nie die regte verlengde program-model gebruik nie. Die getal studente wat tot verlengde LLB-programme toegelaat word, moet ook drasties verminder word. Vir etlike jare was die grootste persentasie studente (hier praat ek van meer as 300 eerstejaarstudente) in die verlengde program en dit verhinder dat studente die nodige “hulp” ontvang wat so ’n program aan hulle kan bied. Om bloot toegang te bied deur middel van ’n verlengde program sonder om ondersteuning te verleen wat die student nodig het, vergroot ongelykheid.
Jy skryf in die nuwe artikel oor die toekoms van die student – en jy begin by die verlede. Studente se wegspringpunte. Die studente wat dieselfde doelwit moet bereik, maar wegspring, terwyl een verder agtertoe staan met betrekking tot geleenthede. Hoe bepaal mens wat elke student se wegspringplek is? Daar is tog geen individu wie se omstandighede volkome vergelykbaar is nie.
Ek stem 100% saam met jou. ’n Student se wegspringplek kan nie die enigste meetinstrument wees nie. Daar is baie studente wat uit gegoede woongebiede, skole en agtergronde kom wat ook nie sukses op universiteit bereik nie. Net omdat ’n student uit moeilike omstandighede toegang verkry is ook nie noodwendig ’n aanduiding dat die student gaan sukkel nie. Baie keer styg studente eenvoudig bo hulle omstandighede (en TP-telling) uit ná skool en behaal hulle graad Cum Laude – daarvan het ek meer as een getuienis. Een van die meetinstrumente is die TP-telling van die student. Die betroubaarheid van die telling is egter debatteerbaar. Die UV het ook toetse wat die studente aan die begin van die jaar afneem om onder andere hulle taalvaardighede te bepaal. Dit gee ook ’n goeie aanduiding wat die student se wegspringplek is. As die studentegetalle van die verlengde program beperk word tot maksimum 80 studente, sal dit ook makliker wees om studente se wegspringplek te bepaal deur middel van vraelyste en persoonlike onderhoude met die studente.
Gestel ’n student kry ’n beurs of ’n toelaag. Hoe kan mens seker maak die geld word vir die korrekte doeleindes aangewend? Wat is die maatstawwe vir wat die korrekte doeleindes is? Is daar ’n demokratiese reg van ’n student om te bepaal of die geld na gelang van eie keuse aangewend kan word? Dalk kan die student besluit hy gee ’n sekere bedrag van sy studiegeld vir sy familie – is dit toelaatbaar?
Tans is daar nie maatreëls in plek wat studente se spandering van beurs-/toelaaggeld beheer waarvan ek weet nie. Daar was laasjaar ’n inisiatief dat verblyfkostes direk vanaf die beurs/toelaag aan die akkommodasie betaal gaan word. Studente het protesaksie aangeteken teen die inisiatief. Die aanwending en monitering van fondse gaan deur die beurs- of toelaagadministreerders moet geskied. My regsgevoel sê vir my dat ’n student nie geld vir persoonlike doeleindes kan aanwend as dit geoormerk is vir sy/haar akademiese studies nie.
...........
My regsgevoel sê vir my dat ’n student nie geld vir persoonlike doeleindes kan aanwend as dit geoormerk is vir sy/haar akademiese studies nie.
............
Ek is nie seker wat die reëls van NSFAS of ander toelae is nie. Wat vir my meer kommerwekkend is, is dat wanneer ’n student ’n lening ontvang vir hulle studies en nie klaarmaak nie, het die student steeds ’n verantwoordelikheid om die lening terug te betaal. Dit beteken dat ’n student inkom in universiteit sonder skuld en dan hulle studies staak vir watter rede ook al en dan met studieskuld sit wat hulle nie gehad het nie. Ek dink daar moet strenger gekyk word na wie lenings ontvang.
Toegang was ’n probleem in die verlede – en dit is terugwerkend sigbaar. Dalk het ’n student nog nooit sy ouers sien studeer nie. Dalk het hy nie ’n kamer van sy eie met sy eie lessenaar waar hy kan sit en werk nie. Dalk is hy woonagtig in ’n raserige omgewing. Hoe begin mens van voor af met sulke praktiese dinge? Hoe rus mens iemand toe – van voor af? As hulle nou volwasse of ’n jong volwassene is? Gee asseblief praktiese wenke?
Dit is ’n geldige argument wat ek ook maak in my PhD. Baie studente is eerstegenerasie studente. As hulle sukkel op universiteit of vrae het, is daar niemand in hulle familie om te vra hoe om dit te hanteer nie. Een van die modules in die verlengde program is soortgelyk aan lewensvaardighede. Dit leer die studente tydbestuur, hoe om spanning te hanteer, ensovoorts. Die UV het ’n voorligtingseenheid wat studente bystaan met kwessies soos leertegnieke, loopbaankeuses, ensovoorts. Die Centre for Learning and Teaching by die UV bied ook waardevolle leiding aan studente. Die onus is egter op die studente om van die geleenthede gebruik te maak. Die biblioteek is ingerig dat studente 24 uur toegang het daartoe. Ek probeer om nie toetse of werkstukke te skeduleer voor 8:00 en na 17:00 nie. Dit gee die student geleentheid om betyds op kampus te kom sodat dit afgelê kan word in ’n omgewing waar die student kan werk en waar daar stabiele internet is. Ook word dit nie so laat gereël dat dit onveilig raak vir studente om huis toe te gaan nie. Aanlyn toetse en werkstukke word so geskeduleer dat dit vir ’n redelike tyd oop is om kwessies soos beurtkrag in ag te neem. Iets wat ek ook in my klasse toepas, is om so 15 minute met studente te praat oor algemene kwessies, soos hoe om ’n respekvolle e-pos te tik, hoe hanteer ’n mens die balans tussen kampuslewe en studeer, wat maak ’n mens as jy voel alles raak te veel en jy voel verlore, wat was my ervaring toe ek begin werk het, hoe stel ’n mens ’n begroting op. Ek het selfs toe ons “right to food” gedoen het vir hulle video’s aangestuur van hoe begin ’n mens jou eie groentetuin in ’n beperkte spasie. Ek dink die belangrikste is vir dosente om empatie te hê met die student voor hulle. Om in ag te neem dat ons baie keer voorveronderstel dat ’n student weet hoe om byvoorbeeld ’n e-pos te stuur aan ’n dosent.
...........
Iets wat ek ook in my klasse toepas, is om so 15 minute met studente te praat oor algemene kwessies, soos hoe om ’n respekvolle e-pos te tik, hoe hanteer ’n mens die balans tussen kampuslewe en studeer, wat maak ’n mens as jy voel alles raak te veel en jy voel verlore, wat was my ervaring toe ek begin werk het, hoe stel ’n mens ’n begroting op. Ek het selfs toe ons “right to food” gedoen het vir hulle video’s aangestuur van hoe begin ’n mens jou eie groentetuin in ’n beperkte spasie. Ek dink die belangrikste is vir dosente om empatie te hê met die student voor hulle. Om in ag te neem dat ons baie keer voorveronderstel dat ’n student weet hoe om byvoorbeeld ’n e-pos te stuur aan ’n dosent.
.............
Ons raak vinnig geïrriteerd as ’n student ons met disrespek hanteer, maar het iemand ooit daardie student geleer hoe tree jy op teenoor ’n dosent, hoe trek jy aan vir klas en hoe bewoord jy ’n respekvolle e-pos?
Wat kan ’n regsgeleerde vir ’n Suid-Afrikaanse samelewing beteken? Kom ons sê ’n student kom uit ’n township en hy maak sy studies suksesvol klaar. Wat kan hy binne sy gemeenskap vir sy gemeenskap beteken? Wat is met ander woorde die belangrikste gevolge van ’n student se suksesvolle studies vir die omgewing waar hy vandaan kom?
Daar is ’n groot gebrek aan kennis in die Suid-Afrikaanse samelewing of baie van die inligting wat daar is, is nie korrek nie. Ek dink die belangrikste is om te weet dat ’n mens nie al die antwoorde gaan hê nie, maar dat ’n mens jou gemeenskap en die kwessies wat jy daaruit ontvang, kan wys in die regte rigting. Om verantwoordelikheid te neem om ’n verskil te probeer maak. Dalk goedkoper tariewe te vra vir jou gemeenskapslede, ’n “paralegal”-kantoor op die been te bring, te help om geskille op te los deur middel van mediasie. ’n Gewilligheid om betrokke te raak in die gemeenskap, is wat die verskil kan maak.
Hoe bied ’n universiteit ’n student ’n billike kans tot sukses? Deur vir hom ’n stil kamer te voorsien binne ’n omgewing waar hy kan studeer? Is daar prakties die fondse hiervoor beskikbaar? Of hoe lyk die oor en weer verantwoordelikhede van student en van instelling?
Dit is beslis ’n wedersydse verantwoordelikheid. ’n Student kan die beste fasiliteite tot sy beskikking hê, as ’n student nie die interne motivering het om ’n sukses te maak van sy studies nie, gaan die beste omgewing nie die student suksesvol maak nie. Die onus is op die dosent om die student se verwagtinge te bestuur en die waarde van wat die student leer vir hulle uit te wys. Studente is gemotiveerd indien hulle verwagting korrek bestuur word en hulle die waarde besef van dit waarmee hulle besig is. ’n Gemotiveerde student is die student wat sukses gaan behaal ongeag van hulle huidige omstandighede of hulle wegspringplek. Toegang is nie net fisies nie, dit is ook epistemologies. Dit beteken dat wanneer ’n student fisies toegelaat word tot universiteit, daardie student ook toegang moet verkry tot alles wat hulle nodig het om hulle studies te voltooi, soos boeke, rekenaars, ensovoorts. By die UV se verlengde LLB-program het ons befondsing om die studente se handboeke vir hulle ontwikkelingsmodules te koop, dus het geen student ’n verskoning dat hulle nie toegang tot die handboek gehad het nie. Soos reeds genoem, is ons biblioteek so ingerig dat daar spasies geskep is waar ’n student kan studeer 24/7.
’n Regstudent in die huidige Suid-Afrika het ontsettende interessante navorsing en praktiese soort dinge om op te fokus: die verskille tussen die twee strome van die Suid-Afrikaanse regstelsel, byvoorbeeld. Die inheemse/Afrika-stroom en die Westerse/Romeins-Hollandse stroom. Dit, op sigself, is epistemologies – jou oortuigings ten opsigte van WAT jy gaan leer as jy inskryf vir die regskursus. Hoe sou mens dit kon aanspreek as daar ’n splinternuwe, voornemende student voor jou staan? Of is dit ’n onderwerp vir ’n ander keer?
Ek het deels aan die vraag geraak in my antwoord by vraag 7. In my eie lesings sal ek vir studente toelig oor wat hulle gaan leer in my module en hoe hulle dit gaan toepas in die toekoms. As hulle nie die waarde besef van dit wat hulle moet leer nie, gaan hulle dit heel waarskynlik nie leer nie. Daarom is dit ook belangrik om hulle verwagtinge te bestuur. Ek sal aan hulle verduidelik wat hulle kan verwag van my module en hoe dit inpas in die groter prentjie. Dosente verskil ook oor wat hulle aanvaar wat hulle funksie teenoor studente is, party wil net bloot teorie oordra, ander wil agendas dryf en ander wil studente meer leer as net die inhoud van die module, soos hoe tree jy op in ’n hof, hoe trek jy aan vir klas, hoe lyk en tree ’n etiese student op, wat is etiese gedrag, ensovoorts. Ek is per slot van sake ’n dosent 😉
Lees ook:
Help hulle inkom én deurkom: Sienings oor studentetoegang en -sukses in regsopleiding in Suid-Afrika


Kommentaar
Is daar enige databasis vir Afrikaansmagtige kandidate wat klerkskapsposte soek?
Die probleem met oneweredigheid in regsopleiding strek verder as die universiteite. Die wanbalans was ook sigbaar in die uitslae van die balie-eksamens soos geadministreer deur die eksamenraad. In die dekade voor 2004, byvoorbeeld, was die druipsyfer in daardie eksamen deurgaans van die orde 40%, en van daardie 40% was ongeveer 90-95% swart Afrikane wat uit mindere universiteite en skole gekom het. 'n Afstigting het gedreig omdat swart advokate en studente geglo het die eksamenraad se klem op sogenaamde "standaarde" was daarop gerig om swart LLB's uit die beroep te hou.
In 2003, na die publikasie van my teksbook, Litigation Skills for South African Lawyers - tans 4de druk by LexisNexis - het die Algemene Balieraad my genader om 'n program vir die opleiding van alle pupil-advokate op te stel, om in 2004 geïmplementeer te word. Ek was op daardie stadium 'n instrukteur by die Institute of Professional Legal Studies in Nieu-Seeland. Daar het ek beide die probleem en die oplossing vir die 40%-druipsyfer kon sien.
Die probleem was dat dit van pupil-advokate verwag was om praktiese vaardighede en tegnieke uit boeke te leer, of deur iemand anders dop te hou wat dit uitvoer. Niemand leer om 'n fiets te ry deur 'n boek te lees of iemand anders dop te hou wat ry nie. Die oplossing was 'n program wat pupil-advokate aan die werk gesit het, met 'n werkopdrag elke dag. Elke pupil moes self op die fiets klim en ry en val en ry en val tot hulle die betrokke vaardigheid bemeester het. Die program het so gewerk:
Daar was 5 vakke. Aan elke vak is vir die duur van die pupilskap 'n spesifieke dag toegeken. Dinsdag, byvoorbeeld, was vir Legal Writing. 'n Item is uit die eksamenraad se sillabus geneem en behandel, bv., Drafting a Plea, gevolg deur die voorgeskrewe studiemateriaal, plus my opsionele studiemateriaal. Op die betrokke onderwerp was daar dan 'n verpligte oefening, wat die pupil die volgende week moes inhandig in ruil vir 'n model-antwoord. Die oefening is telkens uit 'n vorige eksamenvraestel gekies.
Die program bekend as die Workbook Programme het goed gewerk. In 2004, sy eerste jaar, het die druipsyfer gedaal tot 20%. Die volgende jaar tot 10%, en van daar af was dit tot en met 2012 onder 5%. (Ek het nie die syfers daarna nie.)
Alhoewel dit nooit uitdruklik so gestel is nie, was die Workbook Programme daarop gerig om die las vir LLB's wat as gevolg van ongelyke omstandighede swaargekry het te verlig.
Om die probleem met ongelyke kanse in die reisberoep aan te spreek, is dit na my mening net nodig om die oorsaak van die probleem te identifiseer, en dan 'n program op te stel wat 'n praktiese oplossing daarvoor vind en dit met mening implementeer.