Puik geselskap, kos en skryfgeheime aan Douw en Frederik se tafel

  • 4

Melt Myburgh het met Douw Steyn van The Talking Table gesels oor die skryfskole wat hulle vanjaar in Maart en April op Stilbaai en Oulap aanbied.

............

The Talking Table

“The Talking Table se kerngedagte is om kreatiewe denke te stimuleer in die gemak en bonhomie rondom ’n langtafel in ’n veilige omgewing,” vertel Douw Steyn, wat dié reeks werkswinkels sedert 2016 saam met Frederik de Jager reël. In Maart en April bied The Talking Table vier opwindende slypskole in Suid-Afrika aan vir skrywers wat hul instrumente vlymskerp wil kry.

Douw Steyn (Foto: The Talking Table)

Die Winnie Rust Skryfskool vind van 5 tot 10 Maart op Stilbaai plaas, draaiboekskrywers kan van 8 tot 14 April op Jans Rautenbach se Oulap hul vernuf opskerp, en Engelse skryfstudente word van 25 tot 30 April deur Bronwyn Law-Viljoen onder hande geneem. ’n Vierde werkswinkel vir gevorderde skrywers in die tweede helfte van Maart onder leiding van Frederik de Jager is reeds verlede jaar volbespreek.

Frederik en Douw het die Talking Table-inisiatief in Molyvos op die Griekse eiland Lesbos van stapel gestuur, en dit later na Suid-Afrika uitgebrei. Spesialiste uit verskeie kreatiewe omgewings bied die werkswinkels aan. Marita van der Vyver en Frederik het die leisels geneem tydens die eerste Talking Table-slypskool vir Afrikaanse skrywers. Daarna het Engelse skryfskole en kunswerkswinkels in fotografie, kos en filosofie gevolg, met aanbieders uit Suid-Afrika, Europa en die VSA.

Klik op die foto om te kyk na The Talking Table se promosievideo oor hul aanbiedings in Molyvos. (Foto en video: The Talking Table)

“Ons het so drie jaar gelede die idee gekry om in die Europese winter, oftewel ons somer hier, ’n Afrikaanse skryfskool aan te bied,” vertel Douw. “My familie het so ’n wonderlike ou strandhuis op die see in Stilbaai wat ons huur.”

Winnie Rust Skryfskool

Winnie Rust  (Foto: Naomi Bruwer)

In 2018 het Douw en Frederik vir Ingrid Winterbach, Eben Venter en Kerneels Breytenbach genader om die eerste Winnie Rust Skryfskool in die strandhuis aan te bied. “Rust was ’n vriendin en inspirasie vir ons, en haar familie laat ons ook hulle wonderlike ou strandhuis, Lenatjie, in Stilbaai gebruik.” Die Woordfees het Douw-hulle genader om die skryfskool as deel van hulle voorfees te akkrediteer.

Die moord op die Wellingtonse skrywer in 2016 het skokgolwe deur die land gestuur. Toe Douw en Frederik Rust se familie nader om haar nagedagtenis te eer deur die skryfskool na haar te vernoem, het hulle dadelik ingestem. “Die Rust-familie is baie ou vriende en groot ondersteuners van The Talking Table. Na haar dood was ons ten gronde,” vertel Douw. “Deel van die Winnie Rust Skryfskool se aantrekkingskrag lê in die gebruik van die ikoniese ou strandhuise op Stilbaai. En Lenatjie van die Rust-familie is meer as 100 jaar oud. Daar gaan ons aanbieders tuis en van die werksessies word daar aangebied.”

By ’n vorige skryfskool op Stilbaai. Agter: Irna van Zyl, Frederik de Jager, Japie Gouws en Henk Crouse; voor: Lyzette Barwise, Susan van Rooyen en Karin Brynard. (Foto: The Talking Table)

In Maart vanjaar is die gesoute Sonja Loots en Kerneels Breytenbach saam met Frederik verantwoordelik vir die begeleiding van kursusgangers. “Die idee is om te leer by talentvolle skrywers, maar ook om met hulle om te gaan. Saam eet, gesels en lag,” verduidelik Douw. Frederik is ’n ou hand in die uitgewersbedryf – daarvan getuig sy gewilde Skoon wasgoed-rubriek op LitNet, waarin hy sy wedervaringe in die bedryf met lesers deel. Kursusgangers verfyn dus nie net hul skryfvaardighede nie, maar leer ook binnegeheime op die pad na publikasie.

Sonja Loots en Frederik was hoeka destyds vir ’n jaar of twee kollegas by Random House, en Kerneels Breytenbach het op sy dag diep spore by NB-Uitgewers getrap. “Ons kan dus steeds die vak aanbied vanuit diep ervaring, beide van skryf en publiseer. Dit is belangrik dat die inhoud van die skryfskool van hoogstaande kwaliteit is. As jy wegstap van die skryfskool, wíl jy skryf,” sê Douw.

’n Toneel wat kursusgangers op Stilbaai begroet. (Foto: The Talking Table)

Kerneels Breytenbach is natuurlik ook welbekend as smulpaap en kosskrywer. En by The Talking Table is lekker eet net so belangrik soos skryf. Frederik en Douw se hande staan vir niks verkeerd wanneer dit by die kospotte kom nie. Op Lesbos het hulle kookkursusse mense tot die fyner kuns van Griekse gastronomie ingelei. Douw vertel: “Man, ons is huiskokke. So ons kook wat vars en beskikbaar is. Ons is wel sterk beïnvloed deur ons Griekse ervaring en probeer ons bes om die wonderlike, eenvoudige dog unieke geregte hier in Stilbaai ook voor te sit.

“Stilbaai het baie vars vis en groente, asook ’n wonderlike slaghuis, so ons gebruik wat ons kry en bak en brou te heerlik in die kombuis. Frederik spesialiseer in uitsonderlike Mediterreense disse. ’n Paar van ons gewilde geregte is soutzoukakia (gegeurde langwerpige frikadelle in ’n tamatiesous), imam baildi (’n gereg van eiervrug, tamatie, uie, baie knoffel en feta), papoutsakia (gevulde eiervrug), gemista (gevulde tamatie en soetrissies) en kolokithakia (zucchini-pastei).”

Analize Theron. In Stilbaai word daar uit baie glase gedrink. (Foto: The Talking Table)

Dat kursusgangers nie alleen versadig van gees gaan wees nie, maar ook met ’n ekstra kilogram of twee van die kursus gaan wegstap, is ’n gegewe. Maar so tussen die etery deur word daar hard gearbei. “Ons werk in die oggende in die ou strandhuis op die see. Tot so rondom 13:00. Dan is almal vry om die see en dorp te geniet of net te ontspan.”

Soggens is vryskryfoefeninge eerste op die program. “Skryfkandidate moet net pen op papier sit na aanleiding van onverhoedse porre wat Frederik gee. Dit is groot pret en maak die kreatiwiteit lekker los. Dan volg Sonja en Kerneels afwisselend met sessies oor sake soos karakter, dialoog en ruimte, asook ander ratwerk van romanskryf, soos struktuur, beginne en eindes.” Saans kom almal bymekaar om ’n lang tafel en lê weg aan die geregte uit Douw en Frederik se kombuis.

Draaiboekskryf op Oulap

Louis Pretorius, skrywer en vervaardiger van trefferreekse soos Die boekklub en Fynskrif, het in 2020 The Talking Table se eerste draaiboekskryfwerskwinkel op die rolprentmaker Jans Rautenbach se plaas naby De Rust in die Klein-Karoo aangebied. Dié geleentheid was so gewild dat dit vanjaar weer plaasvind – van 8 tot 14 April.

Talking Table-gaste op Oulap. Agter: Almeri Rautenbach (Jans se weduwee), Douw Steyn, Frederik de Jager en Louis Pretorius; voor: Hanné Koster, Susan van Rooyen, Elsa Raubenheimer Lilienfeld, Rozaan de Wet Boer, Wicus Pretorius en Marida Swanepoel. (Foto: The Talking Table)

Douw onthou hoe die idee hiervoor ontstaan het. “Die mense wat The Talking Table bywoon, raak ons vriende. Dit is die wonder van dié klein onderneminkie. So het twee van ons gaste wat in Molyvos en toe weer op Stilbaai by ons was, Ben en Dora van Rensburg, ons genader met die idee om iets op Oulap aan te bied.

“Ben het voor die Rautenbachs grootgeword en hy het gevoel ons aanbieding sal goed werk op Oulap. Ons het Jans se weduwee, Almeri, gaan besoek en die idee aan haar voorgestel. En natuurlik is Jans se teenwoordigheid oral aanvoelbaar in daardie unieke huis.”

Die mikpunt is dat kursusgangers ná ses dae ’n goeie wegspringpunt het vir ’n volledige TV-drama- of komedievoorstel, asook die beginsel van ’n loodsteks. “Ons kyk na die hele TV-skryfproses aan die hand van die basiese boustene. Ons bespreek kreatiwiteit in televisie met die klem op struktuur, logika en sielkundige motivering. Ons leer uit die verskil tussen film, drama en TV om die unieke aard van stories vir televisie te verstaan.”

Oulap (Foto: The Talking Table)

Die werkswinkel is geskik vir sowel beginners as meer ervare skrywers. “Ons vorm en skaaf dit waaroor elke deelnemer reeds beskik, en gee vingeroefeninge om jou gewoond te maak aan die spesifieke uitdagings van skryf vir TV,” verduidelik Douw. “En hoewel daar beduidende verskille tussen TV en die rolprent is, is daar basiese werk aan karakterontwikkeling, die uitvoer van tonele en die visuele basis van die narratief wat met vrug aangeleer kan word. Dit alles word saamgetrek binne die spesifieke projek waaraan elke deelnemer werk.”

Terwyl kursusgangers vanuit die groot kliphuis bo-op ’n koppie uitkyk op die magiese vlaktes van die Klein-Karoo, word voorbeeldtekste gelees, video’s gekyk en oop gesprekke gevoer. En tussendeur wy Douw en Frederik hulle aan kulinêre towerkuns in die Oulap-plaaskombuis.

Creative Writing Masterclass met Bronwyn Law-Viljoen

Die Covid-19-pandemie het Douw en Frederik se heen-en-weer tussen Lesbos en Suid-Afrika ietwat belemmer, maar dit het die geleentheid gebring om meer Talking Table-werkswinkels tydens die eerste helfte van die jaar plaaslik aan te bied.

Bronwyn Law-Viljoen (Foto: Bernard Voges)

Bronwyn Law-Viljoen, die bekroonde skrywer en professor in kreatiewe skryfkunde by Wits, se meesterklas vir Engelse kursusgangers is een daarvan. Dit is in 2019 vir die eerste keer in die Oos-Vrystaatse dorpie Rosendal gehou, en word vanjaar van 25 tot 30 April op Stilbaai aangebied.

“Bronwyn het doktorsgrade in Engelse letterkunde én kreatiewe skryfkunde, en sy lei haar klas met die beste voorbeelde van kortverhale en kort prosa,” sê Douw. “Jy lees en skryf baie in haar werkswinkel. Jy leer en luister hoe van die grotes die kuns bemeester.”

Hoewel dié spesifieke Talking Table in Engels aangebied word, is mense wat in Afrikaans skryf ook welkom. Bronwyn lees Afrikaans met gemak, maar die fokus is op Engels, sê Douw. “Ons bied die meeste van ons Talking Tables in Griekeland in Engels aan en het gevoel ons wil graag vir die Engelse opkomende skrywers in Suid-Afrika ook iets bied.”

Bronwyn se aanbiedingstyl is speels, en alles vind in ’n ontspanne en ondersteunende atmosfeer plaas. En die Stilbaai-omgewing bied heerlike moontlikhede aan kursusgangers tussen die werksessies. “Gaste kan die dorp met sy vele winkels en restaurante verken, asook die nabygeleë Jongensfontein. Daar is ongelooflike mooi staproetes op Stilbaai en ook die betowerende Goukourivier wat verken kan word. Die olyfplase en gin-brouery in die omgewing is ook ’n gewilde bestemming.”

  • 4

Kommentaar

  • Melt, soos altyd 'n lekker gesels-artikel vol nuttige inligting. Ek was daar en wil veral beklemtoon dat die “leerdery” met groot pret plaasvind, daar is absoluut geen druk nie. Die baie lag gaan gepaard met groot bewondering vir almal om die tafel. Iets wat ek altyd sal onthou, wat hier beslis deur Frederik en Douw nie genoeg beklemtoon word nie, is soos jy dit noem, "die kulinêre towerkuns". Dit is hemels en laat jou ander lande proe! En dit is 'n belofte!

  • Die eerste kursus met Frederik begin Februarie is reeds vol. Maar kyk na die tweede een met die drie skrywers as aanbieders. Ek hoor graag van jou. Groete, Douw.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top