Winnie Rust (1939–2016)

  • 0
winnierust280
Foto: Naomi Bruwer

Gebore en getoë

Winnie Rust is gebore as Wilhelmina Rust op 14 April 1939 op die Swartlandse dorp Moorreesburg. Haar vader was destyds Afrikaans-onderwyser aan die hoërskool in die dorp. Sy was die middelkind van drie kinders. Haar jongste broer is CN (Chris) van der Merwe, wat professor in Afrikaans by die Universiteit van Kaapstad was en haar oudste broer CP van der Merwe, wat ’n huisdokter in Kaapstad was.

Winnie het uit ’n skrywersfamilie gestam. Haar vader, CP van der Merwe, se oudste broer was die bekende skrywer Boerneef. CP van der Merwe was in sy lewe ’n baie bekende opvoedkundige en was eers dosent en later hoof van die eertydse Onderwysopleidingskollege op Wellington in die Boland. Hy was ’n baanbrekerskrywer van taalhandboeke en opvoedkundige artikels.

Winnie het in Die Unie van Desember 1959 ’n terugblik op haar pa geskryf wat weer in Die Unie van November 2005 geplaas is: "My kleuterherinneringe van hom is vol kindervreugdes: daar was groot blydskap as ons die bekende staccato-fluite met sy tuiskoms van die skool af hoor (toe nog hoërskool-onderwyser op Moorreesburg). Saans was daar heerlike Boplaasstories van Joors Jorrie en Dirk Ligter en Pensie. As ons motor ry, het vier pronk-Boplaasperde die motor getrek: Meerlus, Also, Netso, Stokwil. Pa het hulle van agter die stuurwiel luidrugtig aangemoedig: 'Kom nou julle swartes, Meerlus, Also, Netso – hoo-o my o-l-e!'

"Ek was saans bang vir die donker, maar was nie meer as Pa langs my kom lê het nie. Pa was altyd daar, en hy het vir ons tyd gehad: in my kinderdrome uitgekristalliseer tot ’n groot, sterk man wie se hand ek kon vashou. Hy was nie ’n vreemde skim-figuur wat ons net van die nodige tasbare, materiële dinge voorsien het nie. Hy was ’n aktiewe opvoeder, ’n wesenselement van ons huisgesin. Pa was dáár, en Pa was vaste vesting."

Winnie het haar as kind altyd meer met haar pa vereenselwig en sy het hom beskryf as haar "rolmodel", terwyl haar ma haar meermale in die verleentheid gestel het met ondeurdagte opmerkings. Maar nadat haar ma oorlede is, het sy aan Suzette Kotzé-Myburgh vertel dat sy baie maal gedink het aan die aanhaling wat Karel Schoeman in Die laaste Afrikaanse boek geskryf het, soos Marcel Proust dit gestel het: "When you have become accustomed to the dreadful truth that the time when you still had your mother is banished forever in the past, you will find her gently returning to life, coming back to take her place, her whole place, beside you. The eyes of memory see nothing if we strain them too hard. Only try to live, to survive, leave the beloved images to grow in you without the help of your conscious will, and they become reborn never to leave you again."

Winnie het aan Suzette Kotzé-Myburgh vertel dat sy in ’n "geborge ouerhuis" grootgeword het. Haar ouers het heelwat verskil wat betref agtergrond en persoonlikhede, maar het tog ’n baie goeie huwelik gehad.

Winnie se ma was Margery Norden en Winnie het later meer oor haar vertel in die verhaal “Margie” in Margie van die Seminary. "My ma was presies soos wat ek in die verhaal beskryf: half-Boer gebore, maar meer Engels in opvoeding en styl. Verder borrelend, spontaan, lief vir die lewe, lief vir aantrek, lief vir juweliersware. Later jare, toe haar oë al swak was, was daar altyd ’n rooi smeersel oor haar wange en spatsels poeier. Sy het niks 'klein' gedoen nie. My kinders was dol oor haar. Die lewe het haar kwaai knoue toegedien: sy het haar man oornag verloor, kort daarna kolonkanker opgedoen, ’n mislukte katarak-operasie gehad wat die een oog half blind gelaat het, ek kan nie eers tel hoeveel valle gehad nie, maar het voortgegaan met lewe. Ek het haar feitlik nooit hoor kla nie." Op 87-jarige ouderdom is sy ouetehuis toe en sy is op 98-jarige ouderdom oorlede.

Winnie het verder aan Kotzé-Myburgh vertel dat sy haarself nog altyd daaroor verwyt dat hulle haar ma in ’n ouetehuis gesit het, want sy het nie daar gehoort nie. "Aanvanklik het sy dapper haar ou lewenstyl probeer voortsit, maar algaande al meer vereensaam. (...) Die laaste klompie jare was ontsettend eensaam. Dit was feitlik net ek wat nog daar gekom het. En sy was haar lewe lank so sosiaal, lief vir onthaal en lief vir mense.

"Met haar 90ste verjaardag het ek besluit om ’n boek oor haar lewensloop saam te stel. Die begin van die verhaal het dus werklik gebeur: ek het met haar gaan sit, ou foto’s gewys, en uitgevra. Haar lewe het toe op wonderbaarlike manier in my gestalte gekry; anders sou ek seker die verhaal nie na haar dood só kon beskryf nie.

"In die laaste jare van my ma se lewe, het ek die boek vir iemand gegee om na te kyk. Haar kommentaar was: die storie van jou ma is nog nie voltooi nie. Jy het nog nie oor die laaste jare – dit is die eensame jare ná 90 – geskryf nie. Eers ná haar dood het ek ’n aparte boekie oor die laaste jare saamgestel. Dié het ek gebruik toe ek Margie se verhaal geskryf het."

Winnie was ses jaar oud toe hulle Wellington toe getrek het. Daar het sy haar hele skoolloopbaan deurgebring en in 1956 aan die Hugenote Hoërskool matriek gemaak.

Sy het reeds as jong kind al in die skryfproses belanggestel en van haar verhaaltjies het in Die Jongspan verskyn.

Verdere studie en werk

Ná skool is Winnie na die Universiteit Stellenbosch, waar sy in 1959 haar BA-graad met Afrikaans en Duits as hoofvakke verwerf het. In 1960 het sy haar as onderwyseres bekwaam. Sy het daarna aan die Hoër Meisieskool Rustenburg in Rondebosch in die suidelike voorstede van Kaapstad begin werk.

Aan die einde van 1961 is Winnie en Manie Rust, ’n mediese dokter, ook van Wellington, getroud. Drie dogters – Anna (Grietjie), Helena en Winnie) – en een seun – Hugo – is uit hierdie huwelik gebore. Winnie het haar onderwysloopbaan vaarwel toegeroep en het die vier kinders grootgemaak.

Sy was in 1965 die stigterslid van die Wellington Besprekingsgroep – nou die Gesprekskring. Eugenie Wiggens skryf in PEN Afrikaans se nuusbrief van Junie 2016 dat Winnie destyds glo gesê het sy wil so iets begin om bietjie weg te kom van “babas en bottels”. Die hele idee was dan ook dat die lede self moes oplees en navors oor ’n onderwerp wat hul interesseer en dit dan met die ander kom deel sodat almal se brein gestimuleer kon word en hulle horisonne kon verbreed.

Winnie was gedurende haar leeftyd ’n baie betrokke en aktiewe deelnemer aan die verskillende aktiwiteite in Wellington. Sy en Manie was in 1975 stigterslede van die Wellington Museum en het deur die jare ’n baie aktiewe rol gespeel in al die projekte wat die museum aangepak het. Sy het ’n rol gespeel in die dramavereniging, was lid van die Marturia-koor en was ook betrokke by die kategese, asook Bybelstudiegroepe vir vroue op die dorp, "waardeur ek die Bybel beter leer ken het, en wat vir my baie gehelp het met die opstel van Aangeraak deur die liefde" (Die Burger, 4 November 1982).

In 1997, op 58-jarige ouderdom, het sy weer begin studeer en het aan die einde van 1998 haar honneursgraad in Afrikaans en Nederlands verwerf en in 2000 haar meestersgraad. Haar verhandeling is getiteld “Limietberge. Die fiksionalisering van die kleingeskiedenisse van enkele vrouefigure van my dorp”. Een afdeling van haar meestersgraad was kreatiewe skryfwerk en Martha, haar eerste boek, het ’n onderafdeling vir hierdie graad gevorm.

Voordat Winnie se werk waarvoor sy onthou sou wou word, Martha: ’n verhaal oor Martha Solomons, Countess of Stamford, in 2004 gepubliseer is, was sy al bekend vir baie ander publikasies:

  • Twee destydse Bybelkorgidse (tans Bybel-Media): een vir tieners (Liewe dagboek – 1983) en een vir vroue: Vrou 2000 (1994).
  • Sy was medeskrywer van ’n rubriek in Die Kerkbode getiteld “Stilhouplek”, asook medeskrywer van die “Post Scriptum”-rubriek in die Paarl Post.
  • Vir Carpe Diem-uitgewers het Winnie deur die jare heelwat bydraes vir dagboeke vir vroue geskryf.
  • Twee van haar verhale wat in Literator verskyn het, naamlik "Queen Elizabeth" (1999) en "Trek aan jou klere, Boeta" (2001) is met die Literaprys vir debuterende skrywers bekroon. Hein Viljoen, redakteur van Literator, beskryf "Queenie" as ’n verhaal met "bedrieglike eenvoud, met agter die nugter feite 'n ontroerende realiteit. Dit is 'n verbeeldingryke inlewing in die gemoed van 'n ou mens."
  • Deur die jare is baie van Winnie se kortverhale in Sarie gepubliseer en in 1992 is "Die Maartblom" (onder haar nooiensvan, Van der Merwe) in Sarie se liefdestreffers opgeneem. "Lei, vriend'lik lig" is opgeneem in Die melkweg het ’n ster laat val wat saamgestel is deur Riana Scheepers en "John" is opgeneem in Bloots, ’n bundel erotiese kortverhale (samestellers Peter van Noord en Karin Eloff) .
  • Deur haar baie nou betrokkenheid by die museum op Wellington was sy ook medewerker aan Bainskloof- en ander bergstories in 1999 wat deur die museum bemark is. Dit is ook in Engels vertaal.
  • Winnie het ook begin om verhaaltjies oor plaaslike persoonlikhede op te teken en in 2003 het sy vir Charlotte Cupido gehelp om gebeure uit haar lewe saam te stel wat gepubliseer is as Vra na die ou paaie (2003). Sy was in Augustus 2004 ook die samesteller van Vrouedagstories, ’n dramatisering van die lewens van gewone vroue wat op Vrouedag met ’n groot mate van sukses in die Wellington Museum opgevoer is.
  • Winnie was deur die jare nie net verantwoordelik vir oorspronklike werk nie, maar het ook vertaal- en radiowerk gedoen, en in 2003 is twee reekse radiopraatjies onder die titel Die hartklop van God deur Lux Verbi uitgegee. Dit is dagboekstukke van Andrew Murray. Die destydse SAUK het haar radioprogram Die vrou met die verfynde gees oor Vrouerubriek uitgesaai en dit is in 1982 in boekvorm onder die titel Deur die liefde aangeraak deur NG Kerk-uitgewers gepubliseer. Haar reisverslag oor ’n bootreis op die Franse kanaal, ’n Reis met ’n verskil, is in September 1995 op die radio uitgesaai.
  • Winnie was een van die persone wat ’n aandeel gehad het in die stigting van die plaaslike Afrikaanse leeskring in 1994 en sy was ook aktief betrokke by ander poësie- en leeskringe. Ook was sy lid van die Afrikaanse Letterkundevereniging.

En toe, in 2004, gee Hemel & See Boeke Martha: ’n verhaal oor Martha Solomons, Countess of Stamford uit. Dit was op die kortlys vir die Jan Rabie-Rapport-prys vir 2005.

Oor die agtergrond en ontstaan van Martha het Winnie aan die Kaapse Bibliotekaris (Julie/Augustus 2006) vertel dat sy saam met ander mense gewerk het aan die optekening van die geskiedenis van Wellington voor 2000 en dat dit haar verantwoordelikheid was om die verhale van Wellington op te teken.

"Met die opskryf van die verhale, kry ek ’n nuwe perspektief op my dorp, soos hy vroeër gelyk het: die strate, die mense, die geboue. Ek kyk op ’n nuwe manier na die berge. Ek kyk op ’n nuwe manier na my dorp, en die verlede word deel van my daaglikse bestaan. Die verlede word ’n wonderlike verruiming van dit wat jy is; dit begin as ’t ware in die hede invloei en neem elke dag baie van jou gedagtes in beslag.

"So ontmoet ek toe vir Martha. Martha was die dogter van ’n slaaf met die bynaam 'Queen' Rebecca, ’n eksentrieke straatkarakter van die laat 19de eeu. Waarskynlik – en hiervoor is daar geen bewyse nie – het sy op Wellington skoolgegaan, aan een van die allereerste skole waar slawe onderrig gekry het in die Bovlei, distrik Wellington. Voor Martha se 33ste jaar het sy verskillende kinders by verskillende mans. Haar van word in die geslagsregisters opgegee as Solomons, seker die laaste van die baie mans voordat sy vir Harry Grey, die remittance-man ontmoet."

In ’n artikel in Die Burger (17 September 2005) vertel Winnie dat die uitdrukking “remittance-man” gebruik is vir wanneer ’n man hom nie volgens die etiese kode van die Britse adel gedra het nie en dan weggestuur word. ’n Gereelde toelaag, of remittance, is dan aan hom betaal om hom te help om aan die lewe te bly.

Harry Grey was ’n Anglikaanse predikant en sy pa, ook Harry Grey, was ’n vervreemde Anglikaanse predikant. Harry junior was ’n alkoholverslaafde toe hy in 1854 in die Kaap aangekom het. Hy het aanvanklik in Wynberg in die Kaapse suidelike voorstede gebly voordat hy na Namakwaland is. In Suid-Afrika het hy steeds voorkeur aan sy losbandige lewe gegee. Hy was nie net lief vir drank nie, maar ook vir vroue. Hy het dan ook ’n liefde vir vroue van "nederige afkoms" getoon. Dit is nie alte seker hoe Harry en Martha mekaar ontmoet het nie, maar Harry is intussen met Annie MacNamara getroud en die storie lui dat Martha by hulle ingetrek het om te help met die verpleging van Annie tot haar dood.

Harry en Martha het vir dr Philip Faure, predikant van die NG Kerk in Wynberg, ontmoet en hulle was op goeie voet met hom en sy opvolger, ds Strasheim. ’n Seuntjie en ’n dogtertjie is vir die twee gebore wat albei deur ds Strasheim gedoop is. In 1880 het hy hulle oorreed om te trou en die seremonie is in die Wynbergse pastorie gehou. Daarna het hulle nog ’n dogtertjie gehad.

In 1883 sterf ’n neef van Harry onverwags. Omdat dié nie kinders gehad het nie, het Harry, wat die volgende in die ry vir die titel was, die agtste graaf van Stamford geword. Hy het ook die eienaar geword van eiendomme in Engeland, en het ook sitting in die Engelse parlement gehad. Martha het die gravin van Stamford geword.

Hierna het Harry ook ’n hele ommekeer in sy lewe gehad. Hy het in die bou van groot eiendomme in Muizenberg en Claremont belê en het ook vir arm mense huise gebou en baie geld vir die kerk gegee. Maar ongelukkig is hy sewe jaar later aan longkanker oorlede. Martha, wat toe die meeste van die eiendomme in haar naam gehad het, was ’n welvarende vrou, maar het haar nederigheid behou. Sy het grond vir die Wynbergse kerk gegee om ’n skool op te rig – ’n skool wat, soos Martha dit wou gehad het, bedoel was "vir die opvoeding van die kinders van Wynberg". Alle kinders moes toegelaat word. Hierdie skool het later die Battswood-kollege geword met onder andere Richard van der Ross wat sy vader as hoof opgevolg het.

En dit is dan wat Winnie se boek Martha is: die verhaal van ’n ongelooflike vrou wat van nederige afkoms uitgestyg het en nooit haar eie mense vergeet het nie. Die eerste bruin vrou met ’n titel.

Madeleine van Biljon beskryf Winnie in Die Burger (22 November 2004) as iemand met ’n "fenomenale skryftalent", wat tot die leesbaarheid van die roman bygedra het. "So verweef raak die leser in Martha se sonderlinge lewensloop dat jy meer wil weet, meer wil leer van die mense wat rolle speel."

Vir Van Biljon was dit veral Rust se beskrywings van Wellington van vroeër dae wat haar tot haar reg as skrywer laat kom het. Haar beskrywings is "liries" en nooit "soetsappig" nie. "Dis ’n ryk geskakeerde tapisserie van ’n boek, louter plesier om te lees. Mag Rust die louere kry wat haar toekom en mag sy in haar toekomstige boeke die pas kan volhou. Watwou, dalk oortref!"

In Beeld (13 Desember 2004) skryf Jo-Ann Floris dat Martha "uiteindelik ontplooi as die storie van menige vrou wat krag diep uit haarself moet put om ’n gesin aanmekaar te hou, al tel alles teen hulle."

Vir Joan Hambidge was daar aangrypende gedeeltes in Martha, maar was die storie te "tydskrifagtig", omdat daar nie ’n duidelike afwisseling tussen ’n "meer beheerste stem en die naïewe verteller" was nie.

Barend J Toerien het in Rapport van 1 Mei 2005 geskryf: "Winnie Rust ’n buitengewone vertelvermoë: die onmiddellike aspekte van die verteller, die spontane, helder taal."

Oor Margie van die Seminary en ander verhale (Human & Rousseau, 2011) het die uitgewers geskryf: "Ses fenomenale vroue se verhale het oor Winnie Rust se pad gekom en sy kon nie anders as om dit op te teken nie. Só is haar kortverhaalbundel, Margie van die seminary, gebore. Al die vrouekarakters in die bundel het hulle op een of ander tyd in Wellington bevind en, soos die titel aandui, staan die Seminary op die dorp sentraal tot die vertellings. Rust is al jare lank by die Wellington Museum betrokke waar hulle elke jaar op Vrouedag probeer om ’n vrou uit Wellington se geskiedenis te vereer. Sommige van die karakters het deur haar werk by die museum oor haar pad gekom en ander se verhale is deur hul familielede aan haar vertel. Die bundel begin by haar eie ma, Margie, se verhaal. Daar is in die bundel ’n 'sinkronistiese vloei' van die een verhaal na die ander. Om dit te bewerkstellig het Rust ’n skrywerskarakter geskep wat tussen die verhale in beweeg."

Die vroue in die verhale van Margie van die Seminary is Margie (haar ma, hoewel dele van die verhaal gefiksionaliseer is), Elizabeth Rolland, Emma Murray, Celestine Schoch, Abbie Ferguson en Louisa, ’n onderwyseres aan die Seminary. Al ses hierdie vroue was op een of ander manier aan die bekende Huguenot Seminary op Wellington verbonde.

Elizabeth Rolland was die oumagrootjie van Adrienne Joubert wat 40 jaar lank orrelis van die Moederkerk op Wellington was. Sy is in 1829 as sendeling deur dr Philip van die Londense Sendinggenootskap na Suid-Afrika gebring. Sy was met Samuel Rolland, ook ’n sendeling, getroud en die lewens van sendingvroue het altyd vir Winnie gefassineer. In The recollections of Elizabeth Rolland is ’n sin – “In after years it was when, under the pressure of the cruel disappointment, I discovered that my marriage was a grave mistake” – wat Winnie laat besef het dat daar in die lewe van Elizabeth genoeg is om ’n roman te skryf. Sy het egter toe nog nie weer kans gesien vir ’n roman nie en het ’n lang kortverhaal geskryf. Toe het Janita Holtzhausen van Human & Rousseau die voorstel gemaak dat sy die ses verhale oor die vroue aaneen moet skakel met ’n "skrywer-persona" (Winnie self) wat die vroue as ’t ware besoek.

Emma was met die bekende Andrew Murray getroud en deur briewe van Emma aan haar man wat in boeke opgeneem is, het Winnie ’n heel ander sy van Andrew Murray leer ken en kon sy ook die mens Emma Murray aan mense bekendstel.

Celestine Schoch was lid van ’n groep mense wat onder die charismatiese prediker Wouter Groenewoud vanuit Nederland na Suid-Afrika gebring is. Hulle het vanaf 1868 tot 1872 op Wellington in die White House (later die eerste skool, die Seminary) gebly. Celestine was ’n verfynde vrou van half-Franse afkoms wat op 60-jarige ouderdom na Suid-Afrika gekom het. Haar man is jonk oorlede en sy moes hulle vyf seuns alleen grootmaak. Sy het soms aan depressie gely, en die feit dat sy vatbaar was vir die charisma van Groenewoud, kan dalk hieraan toegeskryf word.

Andrew Murray het in 1871 twee onderwyseresse uit Massachusetts in Amerika na Suid-Afrika gebring om sy skool op die grondslag van die Amerikaanse model te stig en Abbie Ferguson was een van die twee. In haar verhaal oor Abbie laat Winnie Abbie aan die einde van haar lewe terugkyk. In ’n boek van haar broer George Ferguson, Builders of Huguenot, beeld hy Abbie se laaste jare op aarde uit en dit was die inspirasie vir Winnie.

Die laaste vrou in Margie van die Seminary is Louisa, wat ’n afgestudeerde onderwyseres van die Seminary was. Sy was getroud met ’n man wat ontrou aan hulle huwelik was, maar ten spyte daarvan het sy hom telkemale vergewe en oral saam met hom gegaan in sy soektog na avontuur en rykdom. Edie, Louisa se dogter, het die storie aan Winnie vertel en Winnie het die kinkel van ’n kleinseun van Louisa wat dieselfde swakheid as sy oupa gehad het, self bygewerk.

In Rapport van 6 November 2011 skryf Annemarié van Niekerk dat "met ’n skerp historiese sintuig en ’n fyn literêre aanvoeling, passende vertelstyl en taalgebruik, Rust dit regkry om die gees van hierdie era soepel te vertolk en die vroue ’n eie stem te gee. Rust se bundel verhale is ’n stimulerende leeservaring, literêr en histories. Ek kan nie wag om weer deur die strate van Wellington te gaan stap nie. Dié keer met ’n ander kyk."

In 2013 verskyn Winnie Rust se volgende roman, Trek. Soos beide haar vorige twee boeke speel ook Trek meestal in Wellington af. Winnie het aan JB Roux (Die Burger, 25 Maart 2013) vertel dat die boek aanvanklik geskryf is as ’n bundel kortverhale, maar dat die uitgewers nie baie entoesiasties daarop gereageer het nie.

"Ek het ’n hele kartonboks vol navorsing en herskryf en oorskryf," vertel sy aan Roux. "Mense dink altyd as jy ’n skrywer is, dan skryf jy ’n boek een keer en dan's dit klaar. Dit werk nie so nie, dis ’n baie lang proses."

Die gedwonge verskuiwings van bruin mense uit onder meer Fontein- en Hopestraat in Wellington, asook die familie op die plaas Bovlei en die intriges aldaar, dien as agtergrond vir Trek. Die hoofkarakter in die verhaal is Miss Girlie, wat Winnie losweg geskoei het op haar jare lange vriendin, Charlotte Cupido, wat ook op Bovlei onderwys gegee het. Maar, het Winnie aan Roux gesê, "Miss Girlie se verhoudings is my versinsels en hou geen verband met Charlotte nie."

Vir geloofwaardigheid het Winnie sterk gesteun op die vertellings oor Bovlei van Christine Siebrits en die baie goeie navorsing wat Anna-Rita van der Westhuizen oor die Italiaanse krygsgevangenes gedoen het. Met die hulp van die oudburgemeester van Wellington, Herman Bailey, is gespreksgroepe gehou en dit het Winnie gehelp om die geweldige invloed wat die Groepsgebiedewet op mense gehad het, beter te verstaan.

Die meeste karakters in Trek is deur Winnie geskep; die storie is net teen die agtergrond van die plaaslike geskiedenis gesitueer. Sy het onder andere datums van werklike gebeure verander om te verseker dat die geskiedenis by haar storielyn kon aanpas.

Toe hierdie verskuiwings in die laat 1950's plaasgevind het, was Winnie ’n student op Stellenbosch en het sy nie geweet van wat op haar tuisdorp gebeur het nie, het sy aan Roux vertel. "Nou, ná 50 jaar, speel die hartseer-tonele voor my af. Ek kan my voorstel dat die intimiteit van buurskap tussen wit en bruin ’n lelike knou gekry en ’n nasmaak gelaat het. Die intieme kennis van mekaar se lewe is grootliks weg. Ek hoop die boek dra iets universeels oor. Trek gaan vir my oor wat mense of groepe mekaar kan aandoen. Die motief is gewoonlik mag of baasskap. Die 'trek' wat die bruin mense in die 1960's beleef het, verwys ook na die hedendaagse trek landuit."

In Kerkbode van 17 April 2013 vertel Cecile Cilliers die storie van Trek: "Van Bovlei en die plaas Weltevrede trek hulle weg, uit hartseer, vrees of opstand teen Boeta se hardhandige optrede. En onder hulle tel Miss Girlie en Lambert, Hanna en haar kinders, en eindelik selfs Magriet. Dié wat dorp toe trek, sluit hulle aan by die ander inwoners van Wellington, waar wit en bruin saamwoon, en in mekaar se lief en leed deel. Om dan deur die geweld van apartheid uit hulle rustige woonbuurte geskeur te word – om in huisies buite die dorp te gaan woon. Die Sendingkerk word gesloop.

"Die verhaal word vanuit verskillende karakters se blikhoek vertel: Miss Girlie, die slim bruin onderwyseres wat gesien het wat die gedwonge verskuiwings beteken: 'Die hartseer van die forced removals was daai community wat opgebreek is' (bl 45); Boeta se broer, Lambert, wat Miss Girlie sy hele lewe lank liefgehad het, en eindelik die een word wat die geskiedenis van die plaas en sy mense op skrif stel; en Let, Boeta se vrou. Hulle dogter, Magriet, se stem word deur briewe gehoor."

Vir Cilliers is Trek ’n leeservaring wat haar tevrede gestel het en wat die leser dieper laat nadink.

Annemarié van Niekerk (Rapport, 5 Mei 2013) beskryf Trek as ’n roman met ’n interessante struktuur. Dit kan toegeskryf word aan die feit dat dit nie chronologies vertel word nie en dat dieselfde gebeurtenis uit verskillende oogpunte vertel word. "Die wisseling in die verskillende linguistiese registers ondersteun die perspektiefwisseling. Dit tesame met Rust se empatiese en humoristiese vertelstyl dra by tot die polsende lewensgetrouheid van die karakters. Deurgaans waak Rust teen stereotipering. Wat soms effe pla, is dat die geskiedenis plek-plek 'sigbaar' bygewerk word.

"Hoewel Rust se roman veel kompakter en minder ambisieus is as Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena, sou Girlie binne ’n groter opset tot ’n soort bruin variant van die Poppie-verhaal kon uitgroei. Girlie en haar mense se storie is beperkter, meer gelokaliseerd, maar Poppie en Girlie se verhale sou susterstories kon word. Juis hier lê Rust se narratiewe kwaliteit: om verbande en dialoog te skep tussen karakters, gemeenskappe en historiese tydperke."

In 2005 is Winnie en haar man, Manie, aangewys as die Rapportryers se Wellingtonners van die jaar. Hulle is vereer vir hul betrokkenheid en bydraes op verskillende terreine.

Tydens 2008 se Woordfees is twee eenvrouvertonings wat deur tragiese gebeure geïnspireer is, opgevoer. Albei stukke is deur Winnie Rust geskryf en Juanita Swanepoel was die regisseur.

Marianne Kitching vertolk die rol van Alexa Kirsten in die eerste stuk, ’n Venster vol son. Kirsten was die buurvrou van Lisbé Smuts-Smith wat op 7 Februarie 2005 in haar huis in Wellington vermoor is. Alexa het haar gaan help en is self wreed aangerand en vir dood agtergelaat. Die stuk beeld Alexa se verhaal uit en haar tydsame pad na gesond word, asook haar geloof en uiteindelike vergifnis.

In die tweede stuk, ’n Mens is ’n mens ..., is Estie van Heerden te sien in die rol van Marie Aggenbach, ’n ­inwoner van Winterbachstraat, Carletonville, “’n plek waar die ordinary en die poor people bly in sulke klein opslaanhokkies”. Theresa, Marie se dogter, het vyf kinders by vyf mans gehad en Marie moes na hulle kyk, tesame met haar eie, sowel as haar oorlede suster se drie kinders. Nadat Theresa aan vigsverwante oorsake oorlede is, neem Marie vigswesies by haar in en versorg hulle met groot liefde en deursettingsvermoë. (Die Burger, 25 Februarie 2008)

Op 11 Mei 2016 is Winnie Rust in haar huis op Wellington vermoor terwyl haar man in die slaapkamer geslaap het. Nigel Plaatjies, ’n 18-jarige jong man wat in 2015 aan die Hoërskool Hugenote op Wellington gematrikuleer het, is later saam met sy 34-jarige oom, Johannes, in hegtenis geneem vir hierdie misdaad. Nigel Plaatjies was ’n baie goeie atleet en een van die uitblinkerleerlinge vir wie Winnie Rust finansieel ondersteun het.

Winnie se begrafnisdiens op 20 Mei 2016 is waargeneem deur ds Lettie Buchner en ’n vriendin, Eugenia Wiggens, en haar broer, Chris van der Merwe, was die enigste ander sprekers tydens die diens. Die Hoërskool Hugenote se skoolkoor het ’n Xhosalied aan Winnie opgedra. Winnie was tot haar dood aan die skool verbind, waar sy verskeie leerlinge finansieel gesteun het. Begrafnisgangers het ’n erewag gevorm en blomblare oor haar kis gestrooi.

Huldeblyke

  • Eugenia Wiggens: "Winnie Rust het tot en met haar dood gehelp om die kloof tussen verskeie rasse en mense van verskeie agtergronde op Wellington te vernou. Die gemeenskap sukkel nog om sin te maak van die sinneloosheid van haar dood. Sy het ’n hart vir Wellington en al sy mense. Sy het haar hand en hart oopgemaak vir die gemeenskap. Min mense kon hul woorde so kies soos sy." (Die Burger, 14 Mei 2016)
  • Manie Rust (in ’n spesiale gedenkboekie): “Jan Rabie het gesê: Sonder Afrikaans is ek niks. Sonder Winnie Rust is ék niks.” (Die Burger, 14 Mei 2016)
  • Een van haar dogters, Helena Reid, het geskryf: “Ek vat elke tou waarmee hulle jou gewurg het en gee jou ’n string pêrels gemaak van blink oë vol liefde van almal wat vir jou omgee ... Ek ruk die pleister van jou mond en jy sing soet saam met kwikkies en tinktinkies.” (Die Burger, 14 Mei 2016)
  • Chris van der Merwe: "Sy het altyd moeite gemaak om die familie bymekaar te kry en ons het gedurig kontak met mekaar gehad. My suster was ’n vrou met baie fasette wat ’n wonderlike balans tussen haar skryfwerk en gesinspligte kon handhaaf. Sy was ook ’n vrou wat diep gelowig was en elke dag met stiltetyd en gebed begin het. Dit was haar roetine.” (Die Burger, 14 Mei 2016)
  • Lettie Buchner, leraar: “Winnie het gehou van stilte, klassieke musiek en lig. Uit haar lewe het net lig gekom." (Die Burger, 14 Mei 2016)
  • Suzette Kotzé-Myburgh: "Winnie was ’n voorvrou. Van Wellington, spesifiek. Bolandse Boereadel. En sy was ’n scholar, in die outydse sin van die woord. (...) Winnie Rust kon die innerlike lewe, die binnewêreld van ’n karakter, uitbeeld soos min ander – haar taalgebruik fyn, haar beskrywings ontroerend. Dít is ook wat haar beweeg om te skryf, het sy gesê: dat sy ontroer moet wees deur iets. (...) Winnie was by uitstek ’n meelewende mens en ’n gemeenskapsmens. Wat ’n bitter ironie dat Winnie in soortgelyke omstandighede moes sterf (as Lisbé Smuts-Smith), watter ontsettende verlies. Haar plek in haar huis en haar dorp en in ons literêre wêreld is leeg, maar die herinneringe en haar boeke bly – dit bly." (LitNet)
  • Cecile Cilliers: "Winnie was ’n geliefde vriendin, ’n geesgenoot. 'Verslae' is ’n toepaslike woord. Meelewing en troos haar familie toegebid." (LitNet)
  • Anette van der Spuy: "'Ouma Winnie' was vir die eerste paar jare van my kinders se lewe vir hulle soos 'n spesiale-geleentheid ouma – hulle boesemvriende in die huis langsaan was gelukkig genoeg om haar as regte ouma te hê, en my twee het die lekker gehad om dan soms saam te gaan kuier in Wellington. Hulle onthou nou nog die betrokkenheid; die stappies tweede tol toe, die konserte by die huis, die ou karavaan in die tuin, spesiaal ingerig vir die kleinkinders om ook te kan speel, haar lekker mieliepap met die baie suiker. So 'n wonderlike en warm mens. So 'n onsinnige einde." (LitNet)
  • Lizette Murray: "Wanneer ek die berigte sien en na die foto's kyk, weet ek dat dit waar is, maar in my gedagtes leef Winnie Rust. Ek sien haar in die wintersonnetjie in haar dogter, Winnie, se huis sit, kop effens skuins soos sy luister. Wanneer sy praat, weeg sy haar woorde. Ek onthou 'n oggend toe 'n klompie van ons saam met haar op 'n 'Martha-stap' deur Wellington gegaan het en kon hoor en sien waar haar Wellingtonkarakters leef en geleef het. Sy ontvang ons by haar aan huis. Dis 'n feesmaal. Ook 'n gedagtenismaal. Dit was goed om Winnie Rust ’n bietjie te kon ken." (LitNet)
  • Rensia Robinson: "Vandag, presies een maand gelede op 13 April, stuur ek vir Winnie die volgende wense vir haar verjaarsdag die volgende dag: 'Saam met jou geliefdes vier ons graag jou verjaarsdag omdat ons bly is oor jou. Soos die jare vermeerder, word die betekenis en inspirasie van geesgenote net groter en die waarde van elke geleentheid vir van hart tot hart gesels al kosbaarder. Hoe graag sou ons dus meer sulke goue ure met jou wou deurbring ...' Die 'afsluit-gedagte' van my skrywe lui soos volg: (Spreuke 22:12) 'Die Here sorg dat die regte insig behoue bly.' Soos ons albei weet, vra dit die gevoelige oor. Ons bede vir jou nuwe jaar is dat jou talent hiervoor jou rykdom en vreugde sal wees, sowel as die verryking van jou vriende/geliefdes.'
    Winnie se 'woorde' bly die koestering midde-in die hartverskeurende 'afwesigheid'. Ek hou haar styf in my gedagtes-oog vas terwyl ek haar geliefdes toevou met liefde en simpatie.
  • Magda Kotzé: "My onthou gooi die volgende draai ... Ek was Winnie se buurvrou vir 22 jaar. Derdelaan 12 in ons geliefde Wellington. Saam met Manie, die kinders, kleinkinders, en die hele Wellington is ons harte stukkend ... stukkend ... stukkend. Sy was die een wat ons met die gasvryste skinkbord tee en koekies verwelkom het in die Boland. Met tyd en gesels oor haar liefde vir ons taal het sy eendag opgemerk: 'Magda, jy roep nie skryf nie, skryf roep jou ...' (...) Baie spesiaal was ons Sondae-aande saam as ons in die Kollege se ouditorium met Ds Fanie Marais se aanddiens vol diep emosie ’n kersie brand vir ons geliefdes. Willem se geselsie met haar as sy en Manie met die honde gaan stap het, sal ons altyd bybly. Winnie was die buurvrou wat ons kinders sou voorkeer en inspireer met ’n vinnige geselsie, altyd die scholar, om te hoor van Jac, Alana en Maree se doen en late. ’n Mens met tyd en empatie vir almal. Sy het een jaar onder in haar tuin by die groot boom, met die kleinkinders se swaai, die hele erf toegesaai met groot warm rooi poppies ... indrukwekkend skildermooi. Sy sal ons altyd bybly ... adel voorwaar." (LitNet)
  • Danie, Oude Westhof: "Dit is verskriklik dat mense in hul huis vermoor word. Maar dat ’n weldoener soos Winnie Rust so uit haar gemeenskap geruk moet word, maak dit skokkender. Sy was ’n fyn en volronde mens wat vir haar medemens omgegee het – vir almal, van die vernaamstes tot die nederigstes. Sy het dekades lank ’n ryke en veelsydige rol op Wellington gespeel. Sy was ’n omgeemens wat swaarkry help verlig het. En sy het die kultuurlewe verryk – ook as skrywer. Dit is pynlik dat juis ’n vriendelike, bekwame mens op so ’n skokkende manier weggeruk word en nie tevrede haar interessante vaarstroom kon betrag nie." (Volksblad, 18 Mei 2016)
  • Janita Holtzhausen van Human & Rousseau-uitgewers: "Winnie Rust was ’n saggeaarde en wyse mens, nederig en beskaaf. Haar deernis en respek vir mense, ongeag ras, stand of agtergrond, is in haar romans en verhale sigbaar." (Volksblad, 13 Mei 2016)
  • Rachelle Greeff: "Ek kan aan geen woord of sin dink om iets te sê oor wat in die Breytenbach-sentrum-gesin en groter Wellington-familie gebeur het nie. Ek wil vanoggend (gisteroggend) soos Ryk Hattingh ’n huilboek skryf. Nie van ’n ander land nie, maar van net hier, ons land van moordenaars, vermoordes en verminktes. Vanoggend sien ek niks anders raak nie. Maar my oë sal weer sag word, ek weet.” (Volksblad, 13 Mei 2016)
  • Mellétta Louw, ’n vriendin: "Daar waar ’n saak is wat die dorp kon bevorder, daar sou jy vir Winnie kry. Sy het ’n fyn oog vir onreg en die beleweniswêreld van die vrou gehad. Sy was nie ’n mens wat op podiums of in koerante oor ’n saak sou veg nie, maar het dit op haar sagte manier op papier neergelê. Sy het kinders gehelp om hul skool- en universiteitsgeld te betaal sonder dat enigeen daarvan geweet het, want dit is wie sy was.” (Volksblad, 13 Mei 2016)
  • Anne-Ghrett Erasmus, die bestuurder van die Breytenbach Galery: "Om hierdie baie besonderse mens te beskryf, is so maklik en tog ook so moeilik as gevolg van haar geweldige teenwoordigheid en bydrae op soveel vlakke. Nie net was sy deur en deur ’n dame, raakvatvrou, grapjas met ’n skerp intellek, vrou vir haar man, moeder vir haar kinders, ouma vir haar kleinkinders, skrywer nie, maar ’n rots so groot soos die Hawekwa vir soveel mense en instansies." (LitNet)

Publikasies

Publikasie

Deur die liefde aangeraak: gedagtes rondom die Christenvrou vandag

Publikasiedatum

1983

ISBN

(sb)

Uitgewers

Kaapstad: NG Kerk-uitgewers

Literêre vorm

Godsdienstige publikasies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Martha, ’n verhaal oor Martha Solomons, Countess van Stamford

Publikasiedatum

2004

ISBN

0620324767 (sb)

Uitgewers

Hermanus: Hemel & See Boeke

Literêre vorm

Historiese roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Margie van die Seminary en ander verhale

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780798152617 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Trek

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780798159333 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Winnie Rust as medeskrywer:

  • Bainskloof- en ander bergstories. Wellington: Wellington Museum, 1999 (vertaal in Engels as Bain's Kloof and other mountian tales)

Winnie Rust as samesteller:

  • Cupido, Charlotte: Vra na die ou paaie, 2003
  • ’n Lewe suid van Markstraat (saam met Herman Bailey). Wellington: Wellington Museum, 2013
  • Vrouedagstories, 2004

Artikels oor Winnie Rust beskikbaar op die internet:

Artikels deur Winnie Rust beskikbaar op die internet:

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top