PEN Afrikaans Nuusbrief: Junie 2016

  • 0

Beste lid van PEN Afrikaans

Hierdie nuusbrief word opgedra aan Winnie Rust, 'n geliefde skrywer en 'n formidabele Wellingtonner, wat een van die Breytenbach Sentrum se lojaalste ondersteuners en medewerkers was.

Hier is Winnie (heel regs) saam met vriende by die Tuin van Digters 2015, die poësiefees wat jaarliks by die Breytenbach Sentrum aangebied word:

Hierdie foto is deur Madelie Coetzee geneem by die bekendstelling van Winnie se mees onlangse boek, Trek (2013) - 'n roman wat onder meer handel oor die onreg wat die bruin mense van Wellington in die vyftigerjare met die Groepsgebiedewet aangedoen is. Winnie is in gesprek met die uitgewersredakteur Suzette Kotzé-Myburgh, wie se mooi huldeblyk aan Winnie hier gelees kan word.

 
Anne-Ghrett Erasmus, die bestuurder van die Breytenbach Galery, sê Breyten het haar die beste opgesom deur haar as "landelike adel" te bestempel.

"Om hierdie baie besonderse mens te beskryf," sê Anne-Ghrett, "is so maklik en tog ook so moeilik as gevolg van haar geweldige teenwoordigheid en bydrae op soveel vlakke. Nie net was sy deur en deur ʼn dame, raakvatvrou, grapjas met ʼn skerp intellek, vrou vir haar man, moeder vir haar kinders, ouma vir haar kleinkinders, skrywer nie, maar ʼn rots so groot soos die Hawekwa vir soveel mense en instansies."

Manie Rust, Winnie se man, het dit só gestel:
Jan Rabie het gesê: “Sonder Afrikaans is ek niks.” Sonder Winnie is ék niks.

Ons plaas graag die volgende dankbrief aan Winnie deur Eugenie Wiggens:

Liewe Winnie

Ek skryf hierdie brief aan jou namens almal wat jou liefhet in “het lieve Wellington” soos dr. Andrew Murray altyd ons dorp genoem het.

Ons sukkel nog om sin te maak uit die sinlose gebeure en mens steier onder skok, afgryse, woede, verslaentheid en matelose hartseer. Maar later sal daar wel ook ʼn ander emosie opdaag, naamlik dankbaarheid vir jou en jou lewe.

Breyten Breytenbach het gesê: "My hart is in die Boland / en niks kan dit ontwy nie / dis gebêre in ʼn kissie in Wit Wellington."

Winnie, Wellington was jou tuiste en passie. Soos jy tereg in jou laaste artikel in die tydskrif Leef geskryf het, jou hartland word jou hartstog. Jy het ʼn hart vir Wellington en sy mense gehad – en dit was nie in ʼn kissie nie; jy het jou hart en lewe en hand wyd oop gemaak vir Wellington en sy mense.

Daarom wil ons vanoggend vir jou kom dankie sê. Jou oop hart en hand het oor alle grense heen gestrek – jy het mense in nood gehelp met geld en aardse middele as hul dit kort gekom het. Maar jy was ook ʼn omgeemens wat altyd daar was vir mense. Baie dankie vir jou deernis en respek vir mense ongeag hul ras, stand of agtergrond.

Baie dankie, Winnie, vir jou skryfwerk waarin jy veral onbekende of vergete verhale gaan opdiep het en lewe gegee het – en so die geskiedenis van Wellington en veral ook vroue van Wellington weer oopgeskryf het. Ons onthou die spesiale moeite wat jy gedoen het met Vrouedagvierings wat by die Museum gehou is en die nougesette navorsing om aan mense soos Abby Ferguson, Anna Bliss en Emma Murray erkenning te gee. Jy was ʼn metodiese, harde werker met ʼn streng werksdissipline as dit by jou skryfwerk gekom het. Jy het altyd ʼn projek met passie en entoesiasme aangepak en deurgesien; veral ook by die museum met die vele projekte waarby jy daar betrokke was. Jy het nooit nee gesê as ons jou gevra het om iets te doen nie.

Een van die projekte waarby jy betrokke was en wat jou besonder na aan die hart gelê het, was die optekening van die verhale van die Wellingtonners wat in die 50er- en 60er-jare ontwrig is deur die gedwonge verskuiwing uit die middedorp. Jy was die samesteller van die boek wat daaruit voortgevloei het, ʼn Lewe suid van Markstraat. Dit was regtig ʼn behoefte by jou om die kloof tussen die mense van Wellington kleiner te maak.

Jou liefde vir die kunste en veral klassieke musiek was opvallend. Jy en Manie was sedert die beginjare van die Kunstevereniging en Musiekvereniging getroue ondersteuners.

Jou entoesiasme vir die Breytenbach Sentrum was tasbaar en jou optredes daar, veral in die begin van die Sentrum se bestaan, het die hoë standaarde gestel wat ons nou nog nastreef. Dankie dat jy altyd uit jou pad gegaan het om die Sentrum en sy bedrywighede te ondersteun.

Jy was die stigterslid van die Wellington Besprekingsgroep in 1965 – nou die Gesprekskring. Blykbaar het jy destyds gesê jy wil dit begin om bietjie weg te kom van “babas en bottels”. Die hele idee was dan ook dat die lede self moes oplees en navors oor ʼn onderwerp wat hul interesseer en dit dan met die ander kom deel – als om jou brein aan die gang te hou en horisonne te verbreed.

Jy het ook later die Afrikaanse Leeskring begin en aan ʼn poësieklub behoort. En dit is presies wat jy deur die jare gedoen het – jou horisonne verbreed, nuwe projekte aangepak en in die proses ander mense geïnspireer.

Jou passie vir die dorp en sy geskiedenis het jou ʼn kundige op die gebied gemaak en dit het eintlik al ʼn gewoonte geraak om te sê: "Vra vir Winnie." As iemand as segspersoon op TV moes optree oor byvoorbeeld Bainskloof, groepe moes toespreek oor ons kerk of dorp se geskiedenis of oor die radio iets moes vertel, was jy altyd die outomatiese keuse, want, behalwe vir jou kundigheid, was jy ook so mooi en het mens gevoel dat jy ʼn mooi en gepaste beeld van ons dorp sou uitdra – ons het geweet jy sou die taak met waardigheid verrig. Daar is min mense wat so goed hul woorde bedink soos jy het, Winnie, asof jy altyd bewus was van die waarde van woorde.

Maar Winnie, bo alles wil ons vir jou dankie sê en huldig vir die besonderse mens wat jy was. Dis net reg dat jy, wat die grootste waardering vir ander mense gehad het, in baie van Wellington se kringe as ons dorp se eerste vrou beskou is, ʼn ikoon.

Die afgelope tyd het baie mense weer van jou gepraat. Dan het hulle nie verwys na feite soos byvoorbeeld dat jy hoofdogter van die hoërskool was nie of dat jy en Manie in 1975 stigterslede van die Museum was, of dat julle twee ’n paar jaar gelede aangewys is as Wellingtonner van die Jaar nie of al die projekte waarby jy betrokke was nie. Nee, almal het gepraat oor jou besondere en unieke kwaliteite en menswees. Jou fyn aanvoeling en empatie met mense sal ons altyd bybly. Jy kon op jou sagte, innemende manier mense moed inpraat, komplimenteer, ondersteun – deur ʼn mooi kaartjie of blomme om dankie te sê, geluk te wens, te simpatiseer, selfs met ʼn dierbare hondekind se dood of iemand se persoonlike hartseer of verlies. Soos iemand tereg opgemerk het: Ek dink nie ek het al ooit iemand geken wat deel van so baie mense se lewens was nie. Jy was altyd, al was jy ook tussen hoeveel mense, of hoe kort die ontmoetings ook al, ingestel op elke individu.

Iemand anders het gesê: Wat ek altyd van Winnie waardeer het, is dat sy nie net gepraat het nie, maar gedoen het. Sy sou inspring en begin help met die bemarking van die klassieke musiekreeks of aanbied om sop en brood te maak vir die kunstenaars. Sy sou dadelik instem vir enige vergadering oor watter projek ook al en voorbereid kom, en altyd dadelik vra hoe sy kan help.

Winnie, ons sal jou onthou as ʼn sprankelende, energieke, nederige, verfynde, mooi vrou met ʼn jonkheid van gees op wie die ouderdom blykbaar geen invloed gehad het nie; dit was amper asof die ouderdom jou heel onaangeraak gelaat het.

Benewens Eybers en Breyten het jy ook baie van die werk van Emily Dickinson gehou. Die eerste reëls van haar gedig “Because I could not stop for Death” het onwillekeurig by my opgekom:

Because I could not stop for Death -
He kindly stopped for me
The Carriage held but just ourselves -
And Immortality
 
In ons jong dae het ons nog regte egte briewe met ʼn vulpen geskryf en dan het baie mense die brief geëindig met “En nou groet ek met die pen, maar nie met die hart nie.” En dis hoe ons jou nou groet, Winnie – want jy sal altyd in ons harte bly.

Met baie liefde van
Eugenie Wiggens - namens almal op Wellington wat Winnie liefgehad het

*****
Die literator Ampie Coetzee – ’n mede-Wellingtonner, een van Winnie se groot vriende en eweneens ’n skrywer wat nou bande met die Breytenbach Sentrum het, het 'n volledige uiteensetting van Rust se debuutroman, Martha (2004) geskryf, ten einde ’n aanduiding te gee van die reikwydte van haar skrywerskap en belangstelling in die geskiedenis van Wellington en veral sy gemarginaliseerde gemeenskappe en figure. Vanweë die lengte van hierdie bydrae kan ons dit nie by die nuusbrief insluit nie. Belangstellendes is egter welkom om 'n e-pos na penafrikaans@gmail.com te stuur en dan sal ons met graagte Ampie se skrywe aanstuur. 

Die kaalvoetheld van die Comrades, Izak de Vries

Izak de Vries, 'n bestuurslid van PEN Afrikaans, het hierdie naweek die Comrades Marathon oor 89,3 km tussen Pietermaritzburg en Durban sonder skoene gehardloop om borge te werf vir skoolskoene vir die inwoners van die Durbanville Kinderhuis.

Hier's ons man en sy voete ná die Comrades:


FOTO: Marianne de Jager

Baie geluk, Izak. Ons is diep beïndruk en baie trots op jou.

Izak het egter 'n dankie van sy eie aan ons lede en ander boekmense:

Ek wil graag PEN Afrikaans se lede bedank vir die steun die afgelope naweek toe ek my tiende Comrades gedoen het. Ja, dit was kaalvoet en, ja, dit was om mense bewus te maak van die werk wat die Durbanville Kinderhuis doen. Wat ek nie voorsien het nie, was hoe oorweldigend boekmense die projek sou omarm. Die Comrades se leuse is “izokuthoba”, die Zoeloe vir “dit sal jou nederig maak”. Wel, ek voel nederig ná al die goeie wense en die donasies wat die afgelope naweek ingestroom het. Amptelik is daar reeds betaal vir 78 pare skoene. Die meeste van daardie geld kom van skrywers en boekliefhebbers. Dankie. Baie dankie.

Potgooi van 'n RSG-onderhoud met Bettina Wyngaard oor Trippel-7

Dat die eerste fase van ons Trippel-7-projek onder die dinamiese leiding van Bettina Wyngaard 'n klinkende sukses was, het ons reeds in ons Mei-nuusbrief berig. (Klik hier vir meer inligting oor dié projek.)

RSG het op 23 Mei met Bettina gesels oor hierdie pioniersprojek en haar ervarings in die Noord-Kaap. Die potgooi kan hier as MP3 afgelaai word. (Let wel: Die MP3 is 9 MB groot. Moet dus nie op die skakel klik as jou data beperk is nie.)

PEN Afrikaanse se AJV 2016

Hiermee 'n vriendelike herinnering aan PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering (AJV) 2016.

Ons AJV word gehou op Saterdag, 20 Augustus, om 14:30, by die City Lodge Lynnwood in Pretoria tydens vanjaar se BoekeJol.

Ons sal nader aan die AJV 'n agenda vir al ons lede stuur asook die finale program van die BoekeJol.

Toegang tot die vergadering is uiteraard gratis, maar wees asseblief so vriendelik om te laat weet of jy beplan om die AJV by te woon. Ons sal graag wil seker maak dat daar genoeg sitplek vir almal is. RSVP na penafrikaans@gmail.com

Voorstelle vir die agenda kan ook na penafrikaans@gmail.com gestuur word.

Klik op hierdie skakel vir die adres en aanwysings na die City Lodge Lynnwood.

Nuwe boeke in Junie 2016

Laastens is dit altyd 'n plesier om die lys van nuwe Afrikaanse publikasies te deel. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het. Junie se publikasielys kan hier afgelaai word.

Hartlik geluk ook aan ons lede wat vir die 2016 Media24-boekpryse gekortlys is. Dié pryse word op 22 Junie in die Kaap toegeken. Klik hier vir meer inligting oor die boeke en skrywers op die kortlyste.

Met vriendelike groete
Danie Marais
Bestuurder: PEN Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top