Praktykgerigte kernelemente van 'n navorsingsvoorstel: 'n onderhoud

  • 0

Titel: Praktykgerigte kernelemente van 'n navorsingsvoorstel
Skrywers: Chris-Mari le Hanie en Jo-Riëtte Jacobs
Uitgewer: Fontein Uitgewery
ISBN:: 9780639813042

Hierdie boek se publikasie is moontlik gemaak deur befondsing van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.


Praktykgerigte kernelemente van 'n navorsingsvoorstel deur Chris-Mari Le Hanie en Jo-Riëtte Jacobs is onlangs deur Fontein Uitgewers gepubliseer. Naomi Meyer en Remona Voges het hulle oor die boek, en oor navorsing in Afrikaans, uitgevra. 

Chris-Mari en Jo-Riëtte, sal julle asseblief albei uitbrei op julle onderskeie navorsingsagtergronde?

Chris-Mari: Ek is 'n lektor in navorsingsteorie en navorsingspraktyk by Aros. Ek het ook navorsingsprojekte van die NWU (Potchefstroomkampus) op honneursvlak gemodereer. Verder het ek ook as 'n deeltydse lektor opgetree by die aanbieding van bepaalde navorsingslesse by die NWU (Potchefstroomkampus) vir honneursstudente. Ek was ook werksaam by Aros as die bestuurder van Institusionele Kwaliteit en Akademiese Steun waar ek gereeld institusionele navorsing uitgevoer het en onderwysprogramme ontwikkel het wat baie navorsing verg. Ek is tans besig met my PhD in kurrikulumstudies aan die Noordwes-Universiteit en beplan om in 2020 my PhD vir assesseringsdoeleindes in te dien.

Jo-Riëtte: Ek het my MA in 2017 aan die NWU (Potchefstroomkampus) voltooi in Afrikaans en Nederlands (Prosa). Ek is vanaf 2018 betrokke by die navorsingsmodules wat by Aros aangebied word. Ek was ook saam met Joyce West medeskrywer van die boek Navorsingswoordeskat van A tot Z vir onderwysers wat in 2018 gepubliseer is.

Julle boek Praktykgerigte kernelemente van 'n navorsingsvoorstel word in hierdie tyd bekendgestel. Het julle tydens die skryf daarvan baie ander Afrikaanse boeke teëgekom wat oor hierdie onderwerp handel, of was die betreklike afwesigheid van sulke boeke juis een van die redes waarom julle julle s’n geskryf het?

Daar is beslis 'n hiaat in die Afrikaanse mark vir boeke wat oor 'n navorsingsvoorstel handel. Ons boek is gerig op 'n spesifieke nismark waar praktiese riglyne vir die skryf van die navorsingsvoorstel voorsien word. Daar word dikwels gefokus op die teoretiese begronding van ʼn navorsingsvoorstel, maar praktiese voorstelle vir die skryf daarvan ontbreek dikwels. Ons boek lewer 'n unieke bydrae om vir studente riglyne te gee vir die skryf van 'n navorsingsvoorstel. Aan die einde van elke hoofstuk word ʼn afmerklys verskaf wat die student dan tydens sy/haar navorsingsreis begelei. 

Sou julle sê die boek is toegespits op jong nagraadse studente, soos honneursstudente, of is dit geskik vir meerstersgraad- of PhD-studente wat met meer omvangryke navorsing te doen het?

Enige studente kan die boek gebruik om verdere navorsing in die toekoms aan te pak. Die fokus is egter veral op voorgraadse studente gerig. Vir ʼn voorgraadse student dien die boek dus as grondslag wat die student met basiese wenke vir die skryf van ʼn voorstel toerus. Nagraadse studente kan wel die boek gebruik, maar dit sal dan meer met die oog op hersiening van navorsingselemente (waarmee hulle reeds op voorgraadse vlak kennis gemaak het) wees.

Kan ook dosente of studieleiers die boek as 'n gids of hulpmiddel aanwend?

Akademici kan wel die boek gebruik as hulpmiddel wanneer hulle studente tydens die skryfproses van 'n navorsingsvoorstel begelei. Die afmerklys aan die einde van elke hoofstuk sal vir akademici waardevol wees wanneer hulle byvoorbeeld aan studente riglyne moet voorsien tydens die skryf van die navorsingsvoorstel. Verder verskaf hoofstuk 7 ‘n rubriek vir die assessering van ‘n navorsingsvoorstel. Hierdie rubriek kan vir assesseringsdoeleindes vir dosente en studieleiers nuttig wees.

Het julle in julle navorsing vir die boek 'n idee gekry van die stand van akademiese Afrikaans en wil julle iets hieroor sê?

Dit was duidelik dat publikasies in akademiese Afrikaans besig is om af te neem. Ons het al ervaar dat studente nie aangemoedig word om in Afrikaans te publiseer nie. Studente word afgeraai, en die verlies van internasionale erkenning indien die studie in Afrikaans gepubliseer sou word, word as rede voorgehou.

Daar is heelwat gidse, maar hoofsaaklik in Engels, vir vakgebiede soos ingenieurswese of regte. Is die voorbeelde wat julle in hierdie boek gebruik, hoofsaaklik op taalwetenskappe of die letterkunde toegespits, of kan mens dit nie so afbaken nie?

Die boek het aanvanklik ontstaan met die oogmerk om onderwysstudente te ondersteun. Tydens die skryfproses is daar egter besluit om studente vanuit alle vakgebiede te ondersteun. Dus is die voorbeelde wat verskaf word, nie beperk tot 'n spesifieke vakwetenskap of fakulteit nie.

Taal is nie staties nie. En die manier om navorsing te doen het ook verander. Proefskrifte is deesdae dalk korter en die aanbied van inligting is dalk meer kompak. Daar is dalk 'n wegbeweeg van omslagtige tesisse. Of hoe? Indien julle saamstem, dink julle dat julle voorbeelde kan noem?

Taal en navorsing is inderdaad glad nie staties nie en behels 'n deurlopende transformerende proses in die 21ste eeu. Chris-Mari se PhD behels 'n metastudie van meesters- en doktorale studies. Vanuit haar ontleding met die metastudies is dit duidelik dat die lengte van studies wissel na gelang van die riglyne van verskillende universiteite en die fakulteit waarin die studie onderneem word. Chris-Mari is egter van mening dat die fokus nie noodwendig op kwantiteit moet wees nie, maar eerder op die kwaliteit van die uitgevoerde navorsing. Studente het die neiging om te vra of 'n bepaalde aantal bladsye genoeg is. Dikwels wil hulle die moontlike punt wat hulle sal behaal, dienooreenkomstig daaraan koppel. Dit moet egter vermy word. 

'n Navorsingsvoorstel kan baie oorweldigend wees. Dink julle dit is noodsaaklik vir jong akademici om uit die staanspoor van so 'n gids gebruik te maak, eerder as om 'n voorstel uit die duim te suig, by wyse van spreke?

Daar word voorgestel dat enige beginnernavorser die boek vooraf sal raadpleeg as hulpbron vir die strukturering en skryf van die navorsingsvoorstel. Die boek beklemtoon praktiese kernelemente vir die skryf van die hele navorsingsproses. Dus het ons die boek so probeer skryf dat dit as waardevolle gids voor, tydens en na die skryf van ʼn navorsingsvoorstel kan dien.

Vooraf kan die student byvoorbeeld ons boek gebruik om hom van belangrike navorsingsbeginsels tydens die skryf van ʼn voorstel te vergewis. Dit is dus nodig vir die student om reeds vooraf so 'n gids te raadpleeg, sodat hy met belangrike navorsingsbeginsels toegerus kan wees wanneer die skryfproses begin. Dus is ons aanbeveling dat die gebruik van so 'n gids sinvol kan wees voor die skryf van ʼn navorsingsvoorstel.

Bied die boek 'n paar wenke ten opsigte van kortpaaie – of is daar nie kortpaaie as dit kom by akademiese navorsing nie?

Daar is nie “kortpaaie” in navorsing nie. Navorsing is 'n deurlopende sistematiese en wetenskaplike proses wat baie tyd verg en die student op ʼn hoë kognitiewe denkvlak uitdaag. Dit behels die skryf en herskryf van inligting, baie leeswerk en die deurlopende seleksie van relevante inligting. Die navorsingsfokus, -vrae en -doelwitte moet deurgaans in gedagte gehou word ten einde die navorsingsprobleem effektief aan te spreek. In die konteks van die Vierde en Vyfde Industriële Revolusie verander inligting teen 'n geweldige spoed en dus sal beginnernavorsers gedurig bewus moet wees van die nuutste navorsingstendense. Navorsing behels 'n goedbeplande strategie wat buigsaam moet wees tydens die navorsingsproses soos wat die navorsingmilieu transformeer. Ten slotte is die boek nie geskep om vir die student “kortpaaie” te verskaf nie, maar wel om kernbeginsels te voorsien wat die student kan gebruik om ook deurlopend die gehalte van sy eie navorsingsvoorstel te evalueer.

Is julle boek bedoel vir enige Afrikaanssprekende, ongeag die taal waarin hulle navorsing gedoen word?

Die boek word aanbeveel vir enige Afrikaanssprekende navorser, al word die navorsing in ʼn ander taal uitgevoer. Die boek wil juis Afrikaanssprekende studente ondersteun wat studies in ander tale doen ten einde hul eie navorsing beter te verstaan.

Wat die aantal studies in Afrikaans aanbetref, neem die getal wel af. Organisasies soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ken egter beurse toe vir studies wat in Afrikaans gepubliseer word. Dus is daar nog organisasies wat studente aanmoedig om in Afrikaans te publiseer wanneer hulle nagraadse studies uitvoer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top