Piet van Rooyen se Hinterland, ’n lesersindruk

  • 1

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

André du Pisani
Hinterland
Piet van Rooyen
Gansbaai: Naledi, 2025
ISBN: 9781067235048

Hinterland is ’n meditasie, ’n filosofie van die ontdekking van ’n landskap, mense en hoër primate wat die skrywer diep liefhet. Die boek skuif die grense van die empatiese verbeelding. Laasgenoemde is ’n noodsaaklike kapasiteit vir ’n vry gees en denke.

Die titel dra meer as een betekenis. Geo-polities speel die verhaal af in Wes-Afrika se tropiese woude. Metafories verwys dit na ’n tyd en ruimte ryk aan herinnering, drome en verhale, waarin mense en die verteller die historiese epog kies waarin hulle/hy graag sou wou leef. In die geval van die skrywer is dit voor-koloniale Afrika met sy primitiewe ritme, gelowe en rituele. So gesien, herinner Hinterland aan die bekroonde Bulgaarse skrywer Georgi Gospodinov se werk Time shelter, waarin die karakters hulle eie tyd kies om in te leef; ’n tyd om volledig mens te kan wees. ’n Tyd om vry te wees in ’n eie ruimte, ’n eie utopie.

Die werk bestaan uit drie dele. Die eerste is “See”, waarin die kosmopolitiese lede van die ekspedisie onder leiding van ene generaal La Paz bekendgestel word. Die ekspedisie is op soek na die laaste oorblywende berggorillas in die immergroen woude van Wes-Afrika. Hier word die gevaarlike, epiese vaart met ’n afgeleefde houtboot – die Gilbert Guy – uit die laat veertigerjare van die Kaapse hawe tot in Wes-Afrika geskets. Die skuit doen ook Walvisbaai aan, waar ’n professionele jagter opgelaai word. Van meet af aan is alles nie pluis nie. Die dokumentasie van die blougeverfde vistreiler wat in Hamburg gebou is, is gebrekkig. Die onstuimige see en storms skep spanning wat die leser vroeg boei. Spanning bereik ’n breekpunt wanneer Mateo (die jong seun van ’n idiosinkratiese skipper) spoorloos verdwyn – dalk oor boord geslinger of self van die skip afgespring?

Die tweede gedeelte “Die woud” is die langste en mees diepgaande. Die skrywer wys sy begronde kennis van die immergroen woude in die nabyheid van die ewenaar wat oor Gaboen, die Republiek van die Kongo, die Demokratiese Republiek van die Kongo, ’n deel van Wes-Tanzanië en dele van Mosambiek, Guinee en Ghana strek. Die reënwoude van die Kongo en Guinee deel vele biotiese kenmerke, insluitende hoë gemiddelde temperatuur en ’n jaarlikse reënval wat wissel van 1 400 mm (55 duim) tot meer as 5 000 mm (200 duim). Die woude van Afrika het normaalweg ’n drievlaktopografie, met enkele buitengewone hoë bome soos die mosbedekte Hagenia hypericum in die Virunga Park in Uganda (so hoog as 50 m), ’n digter middeldak van ineengestrengelde boomtoppe en takke, asook ’n bodemvlak van korter bome en struike. Die biodiversiteit van die woude is ryk aan voëls, diere, insekte, reptiele en enkele hoër primate.

Die skrywer stel dit grafies as volg op bl 65: “Die stamme van antieke bome omlyn ons prosessie, soos pilare van ’n dak.” Verder op bl 66:

Die boskaas waardeur ons ploeter is uitbundig in sy malse wasdom, ’n ekstase van groei: bome, bosse, dorings, spinnerakke, liane, kruipers, rankers, xerofiete, blomme, parasiete, alles deurmekaar gestrengel en massaal in die kruis en dwarste verbind.

In die derde, korter gedeelte “Die gorillas” ontvou die verhaal dramaties. Hier gryp die noodlot bloedig in en kulmineer in die ontmoeting met die gorillas. Die vroulike dierkundige Annegret se kommunikasie en saambly met die grootste, skaarste en kragtigste primaat op die planeet, die gorilla, is soos die crescendo van ’n oratorium. Sy is ’n soort koningin wat oor die gorillas heers – en herinner hier aan die befaamde koningin van Skeba. Die agentskap van sterk vroulike karakters gryp terug na ander sulke karakters soos /Asa in Die olifantjagters (1997) en Maria in Gif (2001). Die ontluikende veld van kriptodierkunde, die studie van vreemde bedreigde spesies, kom na vore, terwyl die taalinstink – ’n neurologiese instink by die mens en dier – ’n gemeenskaplike draad rondom ’n gesamentlike noodlot tussen mens en dier daarstel. Dis etologie en diepekologie in suiwerste vorm. Ons is per slot van sake diermense: die guerrillas, mensape.

Gorillas bewoon die woude van tropiese Afrika oor ’n gebied wat strek vanaf die westelike laaglande digby die kus van die Kameroen tot en met ’n hoogte van ongeveer 3 000 m (10 000 vt) in die sentrale hooglande van die Demokratiese Republiek van die Kongo en Uganda. Drie tipes kan geografies onderskei word: die Westerse laelandgorilla, die Oosterse laelandgorilla en die berggorilla. In Hinterland gaan dit oor laasgenoemde.

Min was bekend oor die lewe van die gorilla tot en met 1963 met die publikasie van die Amerikaanse dierkundige George B Schaller se boek The mountain gorilla: ecology and behavior. Sy pionierswerk is opgevolg deur nog ’n Amerikaanse dierkundige Dian Fossey. Fossey het die gorillas bestudeer en saam met hulle gebly in Rwanda van 1963 tot en met haar dood in 1985. In die 1970’s, nadat navorsers sukses behaal het om met sjimpansees te kommunikeer, het hul navorsing na gorillas verskuif. Met behulp van Amerikaanse gebaretaal, het een gorilla meer as 100 woorde bemeester. Die skrywer verwys na die Koko-taal van ’n gorilla in gevangenis om die enge genetiese verbintenis tussen die mens en die gorilla te benadruk.

Hinterland stap op die spore en artefakte van die koloniale nalatenskap in Afrika met die slawehandel, die sending, die vroeë ontdekkingsreisigers, die murasies van vervalle geboue as agtergrond. Maar van veel meer belang is die kennismaking met die mense – die pigmee, waterboesmans, melaatses, spelende kinders. Op bl 170 staan:

By die primitiewe inwoners van hierdie gemeenskap het ek weer die waardes gevind wat ek uit die storieboeke en vertellings onthou van hoe die wêreld was toe mense nog in mekaar geglo het, tesame met die geloof in die bonatuurlike: ’n wêreld waar die een nog op die ander kon reken vir voorspoed, koestering en bevrediging.

Bogenoemde aanhaling gryp terug op ander werke van die skrywer, waaronder Die spoorsnyer (1994), Agter ’n eland aan – een jaar in Namibië (1995) en Die olifantjagter (1997), en reflekteer die kosmologie van Van Rooyen: die vry, selfaktualiserende mens, bewus van die self, die ander, wat met eerlikheid, deernis en in vertroue leef, wat put uit diepekologie en meelewing van die natuur, geanker in ’n outentieke Afrika-mensgebondenheid.

Oppervlakkig gesien, herinner Hinterland aan die vele reisbeskrywings deur Europese en ander ontdekkingsreisigers in Afrika so vroeg as voor 1500, maar veral sedert 1800 deur onder meer James Bruce (1790) op soek na die oorsprong van die Nylrivier, Mango Park (1796) se verkenning van die Nigerrivier in die teenswoordige Mali, Heinrich Barth (1821–1865), David Livingstone (1875) en Henry M Stanley (1849). Al resoneer sulke reisbeskrywings met die lees van Hinterland, sou dit ’n fout wees om Piet van Rooyen se jongste roman in dieselfde kategorie te plaas. Hinterland is nie ’n soeke na die “donker hart” van Afrika en sy mense nie. Die werk het ’n heel ander doel: Dit is ’n soeke na die wese van menswees, na vryheid, na die waardes wat die “moderne” mens van homself en van die natuur vervreem. Die boek is ’n kritiek op modernisme, ’n korrektief op die “verligte” filosofie en ideologie van Voltaire (16941778), Georg Wilhelm Friedrich Hegel (17701831) en Immanuel Kant (17241834). Anders as hierdie filosowe, sing die skrywer ’n ode aan die “primitiewe” lewenswyse van Afrika se mense, hulle geskiedenis en waardes, veral in die voor-koloniale tyd.

Lees ook:

Hinterland deur Piet van Rooyen: ’n lesersindruk

Piet van Rooyen (1953–)

  • 1

Kommentaar

  • Piet van Rooyen

    Ek lees vandag weer Marquez se 'The General in his Labyrinth' en vìnd hierdie aanhaling:

    "That day we rescued a German who had been abandoned on an island of sand ... When he came on board he represented himself as an astronomer and a botanist, but in conversation it became evident that he knew nothing about either science. On the other hand, he had seen with his own eyes the men with rooster claws, and he was determined to capture one alive, put it in a cage, and exhibit it in Europe as a phenomenon comparable only to the Spider Woman of the Americas, who had caused such sensation in the ports of Andalusia a century before.

    "Take me instead," the General said.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top