Persvrystelling: Terugvoer oor Maartmaand se SBL-verkiesings

  • 0

Baie dankie aan al die ouers, familielede, organisasies en ander aandeelhouers wat nie net hul kind se toekoms nie, maar ook die toekoms van onderrig in Suid-Afrika ’n prioriteit gemaak het tydens die skoolbeheerliggaamverkiesings (SBL-verkiesings) in Maartmaand. Ons glo dat julle stemme die regte kandidate bemagtig het en sodoende die welstand van jou skool verseker het.

Die SBL-verkiesing is die laaste paar maande deur twee afsonderlike bemarkingsveldtogte bemark naamlik, die I Love My School- en School Elections-veldtogte. Hierdie twee veldtogte het albei dieselfde mikpunt gedeel maar het wel van verskillende strategieë gebruik gemaak om hul doelwit te bereik. Hul gesamentlike doel was om mense aan te moedig om hul stem te laat geld tydens Maartmaand se SBL-verkiesing.

Daar was goeie teenwoordigheid by die SBL-verkiesings by baie van die skole in die land.

Vir ’n SBL-verkiesing om geldig te wees moet daar ’n kworum van 10% (Wes-Kaap) of 15% (die ander provinsies) van ouers deelneem aan die verkiesing. Dit het wel gebeur by baie skole.

Soos genoem was daar baie suksesvolle resultate by ’n groot aantal skole. Van hierdie positiewe uitslae is:

  • Uit Mpumalanga word daar berig dat 30% van die ouers by laerskole CR Swart in Middelburg en Laeveld in Nelspruit gestem het.
  • In die Noord-Kaap by Oranje Noord Skool in Upington het ’n groep van meer as 450 ouers gestem.
  • In die Vrystaat by Fichardtpark Primêre Skool in Bloemfontein het 781 ouers hul stemme uitgebring.
  • In Noordwes by Laerskool Ottosdal was 73% van die ouers teenwoordig by die verkiesing.
  • In Gauteng by Laerskool Fairlands is ook meer as die kworum bereik met ’n groot groep ouers wat gestem het.
  • In die Suid-Kaap is goeie en positiewe terugvoer ontvang van George Voorbereidingskool waar alles seepglad verloop het, asook by Laerskool Sedgefield waar die kworum ook bereik is.

Indien jou skool nie die kworum bereik het in Maartmaand se verkiesing nie, sal daar nog ’n verkiesing geskeduleer word. Dit is uiters belangrik dat hierdie verkiesing hoog op jou prioriteitslys verskyn aangesien daar nie ’n kworum is vir die opvolgverkiesing nie. Dit sal dus bitter maklik wees vir jou skool om in die verkeerde hande te beland.

Dit is bekend dat FEDSAS-ledeskole daarin slaag om ’n groter ouerbetrokkenheid tydens die SBL-verkiesings te bewerkstellig. Hoe meer ouers aan die verkiesing deelneem, hoe hoër is die gehalte van skoolbestuur.

Ouers kry die geleentheid om insette in hul kind se opvoeding te lewer deur betrokke te wees by hul kind se skool en spesifiek om een keer in elke drie jaar deel te neem aan die SBL-verkiesing. Dit is ’n wonderlike geleentheid wat nie elke jaar plaasvind nie.

Maak die meeste van jou geleentheid om betrokke te wees by jou kind se opvoeding en help jou haar/hom om ’n merkwaardige toekoms vir hulself te bou. Wees aktief betrokke en wees lief vir jou kind, jou skool en jou land.

Ouers, familielede en organisasies kan betrokke raak deur al die nuus oor die beweging te volg op die webtuistes www.liefvirmyskool.co.za / www.lovemyschool.co.za en www.skoolverkiesings.co.za / www.schoolelections.co.za. Besoek ook die Facebook-blaaie vir beide I Love My School (@LoveMySchoolZA) en School Elections (@SchoolElections). Vir meer inligting, kan u ons gerus gaan volg op ons Instagram (@schoolelections en @ilovemyschoolza) en Twitter (@schoolelections en @ILoveMySchoolZA) bladsye.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top