Persvrystelling: Bekroonde drama vanaf die Woordfees in Stellenbosch, In Slavenhuis 39, by Kunstekaap te sien

  • 0

In Slavenhuis 39 kom uit die kreatiewe pen en interessante jong brein van Meestersgraad-student by die Universiteit van Stellenbosch, Herschelle Benjamin, wenner van ’n Kunste Onbeperk Teksmark Beurs in 2018, en onlangse wenner van die Jakes Gerwel-stigting se skryfprojek vir Jong Sterre.

Die storie handel oor vier bruin eerstejaarstudente in Stellenbosch wat ’n woonstel deel wat jare gelede slawe gehuisves het.

In Slavenhuis 39

Die vier het diverse agtergronde – Wilden studeer teologie, Chester is rugby-mal en het ’n gegoede hoërskool bygewoon, Adam is gay en treur oor ’n wit eks, en Nathan het ’n groot geheim wat dreig om sy lewe uitmekaar te skeur.

Soos hulle deur hul eerste jaar probeer kom, bots hulle dikwels met mekaar en besluit om aan die universiteit se toneelfees deel te neem om nouer bande met mekaar te smee.

Met ’n blik op die toekoms – hier waar hulle ’n nuwe lewe vir hulself probeer bou – moet hulle hul individuele en kollektiewe verlede probeer versoen met hedendaagse kwessies soos manlikheid, bendes, geloof, rassisme, en homoseksualiteit.

Dít als in die slawehuis – ’n konstante herinnering aan hul gesamentlike, pynvolle verlede. Die stuk bied ’n blik op vier jongmense van vandag, en vra wat bruinwees nou eintlik beteken.

Die bekroonde teaterskepper Philip Rademeyer (Klippe Wat Val, Wild, The View, As), behartig die regie en ontwerp.

Die dinamiese jong geselskap bestaan uit Stefan Erasmus (Fiela se Kind, 2017 wenner van ’n KykNET Fiësta vir Beste Akteur), Eldon van der Merwe (Ouboet en Wors), Cantona James (binnekort te sien in Arendsvlei) en Stephren Saayman.

Van links: Eldon van der Merwe, Cantona James, Stephren Saayman en Stefan Erasmus

In Slavenhuis 39 het in Maart by die Toyota US Woordfees in Stellenbosch gedebuteer, waar dit die Woordtrofee vir Beste Opkomende Kunstenaars ontvang het.

In Slavenhuis 39 is ’n koproduksie tussen die Toyota US Woordfees en Kunstekaap. Dit word in die Kunstekaap Arena opgevoer vanaf 10 tot 14 September.

Kaartjies, teen R130 is beskikbaar by Computicket of Kunstekaap dial-a-seat deur 021 421 7695 te skakel. Die vertoning op Dinsdag, September 10 het ’n spesiale aanbod van twee kaartjies vir die prys van een.

  • Foto’s is beskikbaar indien benodig. Uitgereik namens Kunstekaap-teatersentrum. 
  • Vir verdere inligting skakel Simone Heradien, Senior Bestuurder: Kommunikasie by 021 410 9800 of 021 410 9812 (direk) of 073 207 1558. E-pos: simoneh@artscape.co.za.
  • Besoek gerus www.artscape.co.za vir meer inligting aangaande ander produksies by Kunstekaap. 
  • Foto’s: verskaf
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top