Persverklaring: Wenners van die 2026 UJ-debuutprys en die 2026 UJ-prys

  • 0

Die wenners van die 2026 UJ-debuutprys en die 2026 UJ-prys vir Afrikaans is pas bekend gemaak. Boeke in alle genres wat in 2025 verskyn het, het in aanmerking gekom vir albei pryse.

Ten opsigte van die debuutprys is dit die eerste keer dat uit al die inskrywings daar slegs poësie op die kortlys was. Al drie titels op die kortlys het ook by kleiner, onafhanklike en relatief jong uitgewers verskyn. Hoewel dit nie die eerste inskrywing van meertalige of tweetalige bundels is nie, is die wenner die eerste sodanige inskrywing om die UJ-debuutprys te verower.

Die UJ-pryse is vanjaar aangewys uit 65 boeke wat meegeding het, waarvan 15 debute was.

  • Die 2026 UJ-debuutprys word toegeken aan Shane van der Hoven vir Kruiper-Crawler, ʼn digbundel wat by Uhlanga Press verskyn het.
  • Die 2026 UJ-prys word toegeken Antjie Krog vir Binnerym van bloed, uitgegee deur Penguin.  

Shane van der Hoven is in Benoni gebore, het in die Laeveld grootgeword en woon tans in Kaapstad. Hulle is benewens digter ook vertaler, redakteur en dosent aan die Universiteit van Kaapstad. 

Kruiper-Crawler is uitgesonder as ’n waardevolle toevoeging tot die gesprek binne die (Suid-)Afrikaanse poësie, spesifiek met betrekking tot Van der Hoven se spel met tweetaligheid, die spreektaal wat “vars” voel, en bowenal vir die intieme gevoeligheid vir die eietydse kulturele oomblik.

Die bundel staan uit onder meer vanweë die treffende estetiese aanbod van die teks en die digter/spreker se bereidwilligheid om ongemak te verwoord. Die simboliese wêreld van ondergrondse ekostelsels keer deurgaans terug en bied ’n raamwerk waardeur kweerheid en intimiteit ondersoek word. Die “kruiper”-figuur word sodoende ’n metafoor vir marginaliteit en nie-behoort, veral in verhouding tot kweer- en transbeliggaming. Die vloeibaarheid van taal kan gelees word as deel van ’n breër kweer poëtika van weerstand teen normatiewe strukture.

Standaardafrikaans word herhaaldelik gedestabiliseer deur fonetiese transkripsie en kodewisseling, en die wisselwerking tussen Afrikaans en Engels lees as herskrywings eerder as direkte vertalings.

Kruiper-Crawler is die debuut van ’n belowende digterlike stem wat nie huiwer om risiko’s te neem en gevestigde literêre en linguistiese grense te bevraagteken en oorskry nie.

Antjie Krog is op ’n plaas buite Kroonstad gebore en is ’n gerekende digter en skrywer. Verskeie universiteite het eredoktorsgrade aan haar toegeken (verlede jaar ook van die Universiteit van Johannesburg), en van die pryse wat sy ontvang het, sluit in die Stockholm-prys, die Open Society-prys en die Nederlandse Gouden Ganzenveer.

Krog was in 2001 die eerste ontvanger van die UJ-prys, toe nog die Mardene Marais-RAU-prys, vir haar digbundel Kleur kom nooit alleen nie, en in 2023 is die UJ-prys aan haar toegeken vir haar bundel Plunder.

In Binnerym van bloed, ’n outobiografiese roman, word twee skrywende vroue, ma en dogter, intiem met mekaar in gesprek plaas.

Krog is ’n skrywer wat verstaan dat die subjektiewe opskrywing van ware gebeure dit noodwendig van feit na fiksie laat beweeg. Binnerym van bloed is ’n literêr-selfbewuste boek waarin die grense tussen herinnering en die interpretasie daarvan doelbewus vloeibaar hanteer word. Die kompleksiteit waarmee die verhouding tussen ma en dogter uitgebeeld word, is merkwaardig: die teks weerstaan die versoeking om die dinamika te vereenvoudig tot bewondering of wedywering en wys eerder hoe die twee vroue mekaar se taal, denke en skrywerskap oor jare help vorm en ontvorm het.

Daarby vang Krog die tydsgees van die land vas. Deur die briewe tussen Krog en Serfontein te lees, lees ’n mens terselfdertyd die geskiedenis van Suid-Afrika. Die leser beleef hoe sommige wit mense gevoel en gereageer het op ’n veranderende Suid-Afrika, en hoe Krog haar stem teen ongelykheid laat geld het.

Binnerym van bloed is ’n merkwaardige en vindingryke toevoeging tot die Afrikaanse letterkunde.

*

Die UJ-pryse vir Afrikaans word later vanjaar by die Universiteit van Johannesburg aan die wenners oorhandig.

Die beoordelaars vir die 2026 UJ-pryse was Reinhardt Fourie (Unisa), Mercy Kannemeyer (UJ), Dewald Koen (NMU), Janien Linde (NWU), Elodi Troskie (UK) en Karen de Wet (UJ), die sameroeper.

Lees ook:

Aftrek, a(a)ntrek, optrek en uittrek van metafore in Kruiper-Crawler: ’n onderhoud met Shane van der Hoven

Binnerym van bloed deur Antjie Krog: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top