Persverklaring: Vrede in aksie, vroue neem voortou vir eenheid en genesing by Kunstekaap

  • 0

Anroux Marais, Wes-Kaapse LUR vir polisietoesig en gemeenskapsveiligheid (voorste ry, 3de van links) het ook die bekendstelling op 10 Julie bygewoon.

Die Kunstekaapteater, in samewerking met Woman Zone, is druk besig om vere reg te skud vir hul jaarlikse Artscape Women’s Humanity Festival te midde van al die geweld, oorloë en verdeeldheid wat gemeenskappe wêreldwyd bedreig, hierdie keer met die tema: Vrede in aksie – kom ons werk saam!

Dié vrouefees wat regdeur Augustus – alombekend as Vrouemaand – plaasvind, doen vanjaar ’n beroep op vroue én mans om saam te kom in die gees van menslikheid, samewerking en moedige deernis.

“In ’n wêreld waar konflik en verwydering hoogty vier, kies ons om te luister, om te gee en saam te werk,” sê Marlene Le Roux, uitvoerende hoof van die Kunstekaap-teatersentrum. “Kunstekaap, in samewerking met Woman Zone, is ten volle daartoe verbind om vrede deur dade te bevorder – nie net om vroue en hul lewensreise te vereer nie, maar om alle mense te verenig in die stryd teen geweld in al sy vorme. Nou, meer as ooit tevore, moet ons doelbewus strewe na vrede. Dit moet begin met die begrip van ‘die ander’ en aangekweek word deur vriendelikheid, storievertelling en dade van menslikheid.”

’n Simboliese opmars na Wire Woman teen GBV en vir vrede in aksie by die bekendstelling van die Artscape Women's Humanity Festival op 10 Julie

Vanjaar se Vrouefees bied ’n kragtige tapisserie van stemme, kunste, musiek, literatuur en geleefde ervarings, met aktiwiteite wat regstreeks fokus op die dringende behoefte aan genesing en hoop. Besoekers kan uitsien na ’n groot verskeidenheid – van feministiese teater en literêre aktivisme tot gemeenskapsuitstallings, storiekafees en inklusiewe intergeloofseremonies; elke geleentheid is ’n bousteen om brûe help te bou in ons verdeelde wêreld.

Ses Ikone van Vrede word by vanjaar se fees vereer – individue wie se lewenswerk waagmoed, dialoog en genesing beliggaam:

  • Oudregter Albie Sachs, veteraanaktivis en een van die skrywers van ons SA Grondwet wat ook in die eerste Konstitusionele Hof van Suid-Afrika gedien het.
  • Virginia Davids – bekroonde operadiva wat haar operadebuut in die titelrol van Verdi se Aida in 1988 in die destydse Nico Malan-teater gemaak het en mettertyd vele operasterre opgelewer het by die UK se College of Music as operadosent.
  • Thembi Mtshali-Jones – bekende sangeres, dramaturg en veelbekroonde aktrise, veral bekend vir die hoofrol in die musiekspel Ipi Tombi en vele TV-sitkoms.
  • Sue Williamson – internasionaal-bekroondeeb visuele kunstenaar en skrywer wat veral bekendheid verwerf het vir haar uitbeelding van vroue wat betrokke was in die land se politieke stryd om vryheid.
  • Fahruq Valley-Omar – ikoniese internasionale akteur, regisseur, spraak-en dramadosent, beoordelaar by vele eisteddfods, veral bekend vir sy rol as Damaka in District Six: The  Musical en Selling in die verhoogproduksie van Dalene Mathee se boek Fiela se Kind
  • Wyle Nomvula Mthethwa – gerespekteerde akademikus, anti-apartheidsaktivis en gemeenskapsleier.

Hierdie ikone sal gevier word deur middel van hoofgeleenthede, optredes en gesprekke wat die fees se waardes anker in die geleefde wysheid van baanbrekers.

Vainola Makan van Ubuntu Rural Women praat oor die fotografiese uitstalling wat Weskusvroue se stryd teen ontginningsaktiwiteite uitlig

Die Kunstekaap-vrouefeesprogram word bekendgestel op Donderdag 10 Julie om 18:00 in die Marmerportaal. Dit sluit die volgende in:

  • Toesprake deur Marlene le Roux (Kunstekaap se uitvoerende hoof), feesikone Thembi Mtshali-Jones, Sue Williamson en Virginia Davids of Ernestine Nur Stuurman, haar operastudent.
  • ’n Video-/fotografieuitstalling van die Ubuntu Rural Women and Youth-beweging wat toon hoe ontginningsbedrywighede aan die Weskus die gemeenskappe daar affekteer. Aangebied deur Vainola Makan.
  • Boek- en kunsbekendstellings deur Woman Zone, met medeskrywer Xolisa Guzula en kunsaktivis Sue Williamson.
  • Musiekuitvoerings, insluitend ’n mannekoor wat Marvin Weavers koördineer.

Ernestine Stuurman in Journey Through Song (Foto: Monray Classen)

Feeshoogtepunte sluit in:

  • Journey Through Song – ’n kragtige musiekteaterstuk geïnspireer deur Ernestine Nur Stuurman, 25–26 Julie
  • This bra is a psycho – ’n prikkelende toneelstuk wat trauma, liefde en queer-identiteit ondersoek, 28 Julie–2 Augustus
  • I Want to Call You Daddy – ’n eenvrou-opvoering wat poësie, storievertelling, sang en beweging saamsmelt om enkelmoederskap in post-apartheid Suid-Afrika te verken. Geskryf en opgevoer deur Marcé Underwood, 6–9 Augustus
  • Bespreking met Marlow Valentine van IAM (Inclusive and Affirming Ministries – vier 30 jaar op die kruispunt van geloof en queer-heid wat gegroei het van ’n eensame stem tot ’n toonaangewende krag vir queer-geloofsinsluiting in Afrika – nou in samewerking met Kunstekaap om queer-vroue se stories van veerkragtigheid, weerstand en waarheid te vereer, 8 Augustus
  • Sister Dinges en Mr Isaacs– 2 kortfilmvertonings met V & A, voorafgegaan deur ’n paneelbespreking met die filmvervaardiger en regisseurs. In Sister Dinges veg ’n bedroefde queer-man, Marshall, teen familieteenstand om sy ma se verassingswens te vervul. ’n Homofobiese aanval ontketen wraaksug wat die pyn van diepe verlies verbloem. Mr Isaacs vertel die verhaal van ’n talentvolle jong sokkerspeler, Tauriq Isaacs, wat worstel met ’n familiegeheim wat hom op ’n vernietigende pad lei en dreig om sy belowende toekoms en die verhoudings wat hy koester, te vernietig, 8 Augustus
  • Woman Zone se dagprogram op FMR 101.30 van 12-1nm, 8 Augustus
  • 1000 Women-funksie – ’n kragtige byeenkoms wat vroue se vordering in die bekamping van geslagsgebaseerde geweld vier en verenig om toekomstige oplossings te bewerkstellig, 8 Augustus
  • Please don’t call me moffie – ’n diepsinnige en kragtige eenmanopvoering oor toksiese manlikheid, geestesgesondheid en homofobie, 8 – 9 Augustus
  • Vrouedag, 9 Augustus – ’n voldagprogram, insluitend die openingstoesprake deur Marlene Le Roux en oudregter Albie Sachs, met musiek deur Thandi Swaartbooi en Women Unite-marimbaorkes; intergeloofsgebede deur die Cape Town Interfaith Initiative, oorhandiging van die STEP-UP FOR PEACE-rol voor Wire Woman geklee as die Boodskapper van vrede, die onthulling van ’n mosaïek-muurskildery wat deur gestremdes geskep is, en die ikoniese vroueoptog deur die Kunstekaapgebou; stalletjies en gesondheidsondersoeke in die voorportaal, dokumentêre filmvertonings: die werk van Ubuntu Rural Women and Youth Movement, en Lief en Leed Mamre: Ons is wat ons is. Die dag se feestelikhede sal afsluit met ’n Women in Jazz-konsert ter ere van Bush Radio se 30ste bestaansjaar, met o.a. Babalwa Mentjies, Lady Day Big Band, Auriol Hays.
  • Voices in Union-koorkonsert, 10 Augustus
  • “Three Unique Generations, One Stage” Pass the Flame – ’n eenmaal-in-’n-leeftyd musiekkonsert met Mabongi Thusi en Thembi Mtshali-Jones, begeleiding deur Bheki Khoza en Kujenga, 15–16 Augustus
  • Woman Zone Book se boekbekendstelling en -uitruil vier literêre aktivisme asook hul vrouebiblioteek se 10de verjaarsdag, met die boek Together Apart: The story of Living in Apartheid, deur medeskrywer en letterkundige aktivis Xolisa Guzula, gevolg deur ’n paneelbespreking met kunsaktivis Sue Williamson, 16 Augustus
  • Radio Tygerberg se Sis’ters-vrouekonferensie – kom ervaar kragtige boodskappe en getuienisse deur Benescke Janse van Rensburg, Rouchelle Liedemann, Liomee Vosloo, Rosebud Tsobane, Karlien van Jaarsveld, Lynette Beer en die lieflike Elwira Standili 16 Augustus.
  • Story Café: Ode to Sara and Isidudla: Sara Baartman and Cultural Body Image – ’n bespreking oor liggaamsvoorkoms en -voorstelling met filmmaker en vertolker Nomandla Vilikazi, 23 Augustus.

Belanghebbendes en welstandsaktiwiteite

Besoekers kan gerus inloer by die Teaterportaalruimte vir die interaktiewe gemeenskapstalletjies met kunsvlyt en aktiverings asook brei- en hekelaktiwiteite deur Knit & Natter, en ’n privaat ruimte vir gesondheidsondersoeke deur die Cancer Alliance.

Die Fees nooi Suid-Afrikaners van alle geslagte, agtergronde en oortuigings om deel te neem aan hierdie belangrike saak van eenheid, want vrede is nie passief nie. Vrede is aksie. Vrede is werk. Vrede is luister.

Kunstekaap bedank hul borge en vennote, die Stad Kaapstad, die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, die nasionale departement van sport, kuns en kultuur en die Suidoostefees wat hierdie impakvolle werk moontlik maak deur hul volgehoue ondersteuning.

Vir meer inligting, besoek gerus www.artscape.co.za. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets.  Besoek ook artscapetheatre op Instagram, ArtscapeTheatre op Facebook, artscapetheatre op TikTok en ArtscapeTheatre op X.

Lees ook:

Vrede in aksie teen GBV

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top