
Kunstekaap se uitvoerende hoof, Marlene le Roux maak stem dik teen GBV by Wire Woman tydens die bekendstelling van die Artscape Women’s Humanity Festival 2025.
Die heldhaftigheid van die meer as 20 000 vroue wat nee gesê het vir die dompas met hul opmars na die Uniegebou op 9 Augustus 1956 inspireer ons by Kunstekaap om hierdie heldemoed van sterk vroue gedurende ’n donker tyd van ons land se geskiedenis lewendig te hou en te vereer met ons jaarlikse Artscape Women’s Humanity Festival (AWHF) in Vrouemaand.
Hoe doen ons dit? Deur nie net die prestasies en bekwaamheid van fenomenale vroue te vier nie, maar ook ’n kragtige en duidelike beroep te doen vir daadwerklike optrede teen die sosiale euwels wat vroue daagliks ervaar om sodoende ’n vreedsamer en mensliker samelewing te help skep.
Met geslagsgebaseerde geweld (GBV) wat deur baie Suid-Afrikaners as een van die belangrikste menseregtekwessies vir vroue beskou word volgens StatsSA, het ons met die AWHF-tema van verlede jaar – “#Step-Up for Change” – besoekers aan die Vrouefees en Kunstekaap-produksies genooi om by Kunstekaap en Woman Zone aan te sluit om die vloek van GBV te help bestry deur die #Step-Up for Change-belofte te onderteken en saam te staan teen die onaanvaarbare hoë vlakke van GBV wat steeds ons gemeenskappe teister. Hierdie handtekeninge het ons onlangs op ’n spesiale lap laat druk wat ons tydens vanjaar se AWHF op 9 Augustus, Nasionale Vrouedag, aan die Wes-Kaapse Premier, Alan Winde, gaan oorhandig in ’n poging om die regering aanspreeklik te hou.
Verloor ons die stryd teen GBV?
Al het die regering die wetlike raamwerk in plek om hierdie plaag uit te roei, lyk dit asof ons nie hierdie oorlog teen vroue en kinders wen nie, veral omdat ons steeds in ’n patriargale samelewing leef wat beïnvloed word deur kulturele en sosiale norme. ’n Studie deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) wat fokus op die voorkoms van GBV in al nege provinsies in Suid-Afrika en op 18 November 2024 aan die departement van vroue, jeug en persone met gestremdhede oorhandig is, onthul onrusbarende statistieke. Dit het bevind dat 33,1% van alle vroue van 18 jaar en ouer fisieke geweld in hul leeftyd ervaar het – ’n verstommende 7 310 389 vroue! 4,3% van hierdie getal is vroue met ’n gestremdheid. Volgens die studie het 9,9% van vroue seksuele geweld in hul leeftyd ervaar; dit kom neer op 2 150 342 vroue. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is die risiko vir GBV selfs groter vir vroue met gestremdhede, met ’n hoër koers van seksuele geweld in vergelyking met diegene sonder gestremdhede. Die RGN-studie noem die oorsake van GBV as “diepgewortelde geslagsnorme en magsdinamika, met sterk kulturele versterking van tradisionele geslagsrolle en ’n kommerwekkende aanvaarding van manlike aggressie en oorheersing”. Hierdie studie het ook aan die lig gebring dat 70% van mans steeds die siening huldig dat vroue hul mans moet gehoorsaam; 10% van mans glo dat vroue die skuld moet kry as hulle verkrag word. Hierdie bevindinge toon duidelik dat sistemiese verandering nodig is, en veral die taal van godsdiens en kultuur. Ek moet egter beklemtoon dat GBV nie net algemeen in arm gemeenskappe voorkom nie, maar op alle vlakke van die samelewing.
Kulturele, godsdienstige en sosiale praktyke wat móét verander om GBV te help voorkom en bestry
Die sosiale praktyk van pa’s wat vele kinders by verskillende vroue het, wat dan lei tot die afwesige-pa-sindroom en ’n gebrek aan leiding vir hul seuns, moet eindig! Hierdie euwel gee dikwels aanleiding tot GBV teenoor hul vriendinne met wie hulle in ’n liefdesverhouding verkeer of hul lewensmaats. Dieselfde kan gesê word van die hoë vlakke van tienerswangerskappe: Dit is die samelewing wat moet verander. In sekere godsdienste word vroue steeds gekasty as hulle swanger is voor die huwelik, waar die kerk die vrou onder dissipline plaas, maar nie die man nie. In sommige kulture is lobola hoër vir ’n vrou wat nog ’n maagd is, en so gaan dit aan.
Dit is van kardinale belang dat groter pogings deur alle belanghebbendes aangewend moet word om geslagsnorme te verander en omskep om dit sodoende in ooreenstemming met wetgewing te bring, om nie-regeringsorganisasies te ondersteun wat met gemeenskappe, tradisionele leiers, jeugsentrums en skole saamwerk om ’n veilige ruimte te skep waar oortreders bygestaan word om hulself te rehabiliteer.
Implementering by Kunstekaap skep ’n menslike werksomgewing
By Kunstekaap werk ons hard daaraan om die valse persepsie uit te roei dat slegs mans sekere werk kan doen. Ons het die status van ons vroulike personeel verhoog tot ’n vlak van gelykheid met mans. Vir die eerste keer sedert die stigting van ons instelling 54 jaar gelede het ons ons eerste vroulike elektrisiën in ’n man-gedomineerde omgewing aangestel wat ewe hard werk en die werk gedoen kry. By Kunstekaap glo ons in positiewe kulturele en positiewe godsdienstige praktyke. Ons laat byvoorbeeld ons vroue wat vas toe om ’n korter dag tydens Ramadan te werk. Ons het ’n Salah-kamer vir gebede. As ’n personeellid se jong volwasse kind vir inisiasie moet gaan, maak ons voorsiening vir spesiale verlof vir daardie personeellid om die nodige voorbereidings te kan doen. Ons voer gesprekke met ons manlike personeel oor die betaling van onderhoud vir hul kinders.
Om bewustheid van die behoeftes van persone met gestremdhede te verhoog, bied ons deurlopende opleiding vir ons personeel en het ons ’n spesiale luisterstelsel vir gehoorgestremdes (loop system), ’n spesiale badkamer en makliker toegang geïmplementeer. In die algemeen trek persone met gestremdhede steeds aan die kortste ent. Mense wat fisiek of op ander maniere gestremd is, behoort byvoorbeeld ook toegang te hê tot KI wat hulle met alledaagse tegnologie kan help om ’n funksionele lewe te kan lei soos hul nie-gestremde eweknieë, sowel as opgeleide versorgers en bystand vir gemeenskapsgesondheidsorg wat hulle onder meer help met die invul van vorms vir hul maatskaplike toelae, vervoer na gesondheidsklinieke en vermaaklikheidsruimtes soos Kunstekaap, gelei deur etiese kodes. Ongelukkig toon die werklikheid dat persone met gestremdhede steeds agtergelaat word.
As Kunstekaap – ’n regeringsagentskap – die grondwet kan implementeer om ’n meer menslike werk- en vermaaklikheidsomgewing te verseker, behoort die regering met al die hulpbronne tot hul beskikking selfs meer te kan doen. Die president se dialoog vroeër vanjaar, wat die pilare van die grondwet geïgnoreer het, het ongelukkig getoon dat persone met gestremdhede nog ’n lang pad het om te loop.
Jaarlikse Artscape Women’s Humanity-fees beklemtoon vrouekwessies
Kunstekaap is verbind tot die volgehoue ontwikkeling van ’n menslike samelewing deur middel van die kunste. Met vanjaar se AWHF-program, wat die tema “#PEACE IN ACTION – Working Together” beliggaam en daadwerklike aksie koppel aan verlede jaar se tema “#Step-Up for Change” teen GBV, beklemtoon ons ons standpunt dat 9 Augustus nie net ’n dag vir herdenking moet wees nie, maar wel ’n oproep tot aksie. Kunstekaap is nie net ’n gebou nie, dit staan vir aksie teen GBV; vir vrede; vir inklusiwiteit; vir gelykheid; vir menseregte vir persone met gestremdhede en ander; vir die bemagtiging van vroue, die jeug en kinders die hele jaar deur. Dis ’n staatskunsinstelling wat die kunste gebruik as ’n medium om ’n stem te gee aan die pilare van ons visionêre grondwet en as ’n krag vir verandering waardeur ons ’n meer menslike samelewing bou.
Vir hierdie doel sal ons ses Ikone van Vrede by vanjaar se AWHF vereer: individue wat diep omgegee het vir ons samelewing deur hul werk in hul onderskeie beroepsvelde en steeds doen:
- Oudregter Albie Sachs – Suid-Afrikaanse prokureur, aktivis, skrywer en wat deur Nelson Mandela in SA se eerste konstitusionele hof aangestel is.
- Virginia Davids – sopraan en medeprofessor in sang aan die Universiteit van Kaapstad, wat haar debuut by die destydse Kruik gemaak het met die titelrol in Verdi se opera AIDA.
- Thembi Mtshali-Jones – een van Suid-Afrika se mees bekroonde akteurs met verskeie rolle in gewilde televisiereekse sowel as verhoogopvoerings.
- Sue Williamson – Suid-Afrikaanse kunstenaar wat kunstemas van herinnering en maatskaplike geregtigheid ondersoek oor vyf dekades heen.
- Farouk Valley-Omar – gerespekteerde plaaslike en internasionale verhoog-, film- en TV-akteur en regisseur vir meer as vyf dekades wat onlangs 80 geword het.
- Wyle Nomvula Mthethwa – sy word onthou as ’n simbool van veerkragtigheid teen apartheid, wat gemeenskapsentrums opgerig het in gebiede waarheen swart mense met geweld verskuif is.
Die fees se produksies, geleenthede en die dagprogram op 9 Augustus, wat ’n gesprek met oudregter Albie Sachs insluit, spreek tot die tema “#PEACE IN ACTION – Working Together” om vroue op alle vlakke te bemagtig, met spesiale fokus op landelike vroue en servikale kanker. Ons het alle geslagte nodig met die nodige dryfkrag en kapasiteit om die onmenslike, wrede aanvalle op vroue en kinders te stop.
Sluit dus by ons aan op 9 Augustus terwyl ons dapper vroue herdenk wat opgeruk het teen die dompas en die euwel van apartheid. Laat ons hierdie nalatenskap met daadwerklike aksie eer. Laat ons stap teen GBV. Laat ons stap vir vrede in aksie. Hou op toekyk van die kantlyn af. Kom neem deel!
*
Marlene le Roux is Kunstekaap se uitvoerende hoof en die kurator van die Artscape Women’s Humanity Festival.
Lees ook:
Persverklaring: Vrede in aksie, vroue neem voortou vir eenheid en genesing by Kunstekaap

