Persverklaring: Stuur ’n brief uit die toekoms vir jou kans tot groot pryse

  • 0

Deel jou visie en droom oor hoe ’n kunstefees, en spesifiek die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in die toekoms lyk, en staan ’n kans om fantastiese pryse te wen, met ’n totale waarde van R60 000.

Future Festivals South Africa: Possibilities for the Age of COVID-19 is ’n internasionale samewerkende navorsingsprojek, ontwikkel deur King's College in Londen (Verenigde Koninkryk) en Rhodes Universiteit (Suid-Afrika). Die studie word befonds deur die Britse Kuns- en Geesteswetenskapperaad (British Arts and Humanities Council).

Die doel van die studie is om die impak van COVID-19 op kunstefeeste te ondersoek en om ’n nuwe kennisbasis –  sowel as ’n samewerkingsnetwerk – op te bou om feeste in staat te stel om hierdie uitdagende tye te oorleef en in die toekoms te floreer.

“Die KKNK is besonder bevoorreg om deel te wees van dié navorsingsprojek en ons moedig al ons betrokkenes en ondersteuners aan om aan die studie deel te neem: van feesgangers tot borge, kunstenaars én Oudtshoorniete is almal welkom om deel te neem. Ons wil graag jou toekomsdroom vir die KKNK hoor: Verbeel jouself jy is by die KKNK in 2030. Skryf nou ’n brief uit die toekoms aan jouself in 2021 en verduidelik wat jou ervaring van die fees in 2030 is,” vertel Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, oor dié projek.

Deelnemers se briewe is ’n belangrike deel van die datastel vir hierdie navorsingsprojek. Elke brief, gedig of idee kan so kort, of lank wees as wat die skrywer dit wil maak. Klankopnames, of video's kan ook gemaak word, waar deelnemers met hulself vanaf die KKNK in 2030 praat. ’n Skets kan ook gemaak word. Bydraes in Afrikaans én Engels word aanvaar.

Riglynvrae word aan deelnemers gestel, om te help om die brief te skryf, of die opname te maak of ’n beeld/skets te skep.

“Deelnemers staan ’n kans om ongelooflike pryse te wen, waarvan die totale waarde R60 000 is. Wenners word na afloop van ’n gelukkige trekking op 17 September 2021 aangekondig,” sluit Theart af.

Die pryse is:

  • ’n Naweek vir twee na Oudtshoorn om Coenie de Villiers en Deon Meyer se Karoo Kersfees by te woon, met akkommodasie by Buffelsdrift Game Lodge. Akkommodasie sluit ontbyt en aandete in; ’n safari, olifant-ervaring en ’n spa-sessie; ’n Cango Volstruisplaastoer; ’n rit in ’n lugballon; ’n Klein Karoo-geskenkpak; en ’n Ons Karoo-boek. Retoervlugte na George en ’n huurmotor is ingesluit by die prys.
  • ’n Naweek vir twee na Oudtshoorn om Dowwe Dolla: Nou of nooit! (haar laaste toer) by te woon, met akkommodasie by Berluda Farmhouse & Cottages met ontbyt en aandete ingesluit. Ook ingesluit is ’n meerkattoer; ’n Karusa wynproe-ervaring; ’n besoek aan die Cango Wildlife Ranch; en ’n Klein Karoo-geskenkpak. Retoervlugte na George en ’n huurmotor is ingesluit by die prys.
  • ’n Naweek vir twee na Oudtshoorn om Dowwe Dolla: Nou of nooit! (haar laaste toer) by te woon, met akkommodasie by die Queen's Hotel met ontbyt en aandete ingesluit, sowel as ’n Karusa wynproe-ervaring; ’n besoek aan die Kangogrotte; en ’n Klein Karoo-geskenkpak. Retoervlugte na George en ’n huurmotor is ingesluit by die prys.
  • Vyf geskenkpakke wat ’n Klein Karoo-geskenkpak; ReWOLusie-produkte; ’n Maskers en Mure digbundel; en vier kaartjies na die KKNK se aanlyn teaterproduksies insluit.

Om in te skryf, besoek www.future-festivals.org/KKNK-Letters-from-the-Future.html. Alle riglyne vir briewe is ook hier beskikbaar.

  • Kuns verskaf deur die KKNK, die kunstenaar is Nana Maria.
Sien ook:

KKNK-persverklaring: ReWOLusie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top