Persverklaring: Skrywersverblyf wink vir opkomende skrywers van fiksie en niefiksie in 2024

  • 0

Die deelnemers van die Bosberg-boekskryf-mentorskapprogram : Hakkiesdraad Hartman, Adele Ross, Thato Rossouw en Theolla Langenhoven (foto's: verskaf)

Die Jakes Gerwel Stigting (JGS) en NB-Uitgewers kondig met trots die opkomende skrywers van fiksie en niefiksie aan wat gekies is om in 2024 deel te neem aan hul Bosberg-boekskryf-mentorskapprogram.

Die skrywers is Hakkiesdraad Hartman, Theolla Langenhoven, Adele Ross en Alfred TM (Thato) Rossouw.

Theolla en Thato was albei voorheen by Paulet Huis toe hulle onderskeidelik in 2020 en 2023 deelnemers aan JGF, LitNet en Huisgenoot se Kommadagga-slypskool vir kortverhaalskrywers was. Hierdie keer is hulle deur Kwela (’n druknaam van NB-Uitgewers) gekies om hul manuskripte te ontwikkel onder leiding van gesoute redakteurs/mentors Suzette Myburgh (Afrikaans) en Angela Briggs (Engels).

Die Bosberg-deelnemers sal vier keer (in Maart en einde Mei, Augustus en November) na KwaNojoli reis om saam met hul mentors te werk. Hulle manuskripte sal aan die einde van die jaar teruggaan na NB-Uitgewers, wat dit vir publikasie sal oorweeg.

Vir die uitvoerende kunstenaar Hakkiesdraad Hartman, wat reeds naam gemaak het in poësie- en kletsrymkringe, bied die Bosberg-program ’n geleentheid om sy manuskrip te voltooi. “Ek geniet dit om te skryf en wil graag ’n boek/manuskrip voltooi. Ek het iemand nodig wat my werk kan proeflees en vir my raad en leiding kan bied soos ek vorder met die skryf van die manuskrip.”

Met kreatiwiteit sonder perke werk Hartman ook tans aan ’n TV-draaiboek, ’n digbundel en ’n stand-up-komedie-draaiboek.

Theola is werksaam by die Departement Maatskaplike Werk aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy is ook ’n nagraadse student en ’n bekroonde digter en kortverhaalskrywer. Dit voel nog vir haar onwerklik dat sy eersdaags na Paulet Huis sal terugkeer.

“Dit voel steeds asof ek droom, alhoewel ek die nuus ’n paar dae gelede gekry het. Ek probeer nog werk deur my gevoelens, want dis ’n once-in-a-lifetime-geleentheid en ek, die meisie van Belhar, is gekies! Wow! Wow! Wow!”

Theolla gaan skaaf aan haar manuskrip Hou jou man dop, ’n versameling kortverhale wat sy op Kwela se aanbeveling as ’n roman gaan herskryf. “Ek erken dat ek mentorskap nodig het tydens die skryf- en proefleesfases. Ek is gretig om te leer, veral omdat ek ’n opkomende skrywer is met geen akademiese agtergrond in kreatiewe skryfkunde nie. Dit laat my soms voel asof ek tekort skiet,” sê sy.

Adele Ross is ’n kopieskrywer vir Britse maatskappye, ’n reklameteks-skrywer vir boeke op Amazon en ’n blogger vir Cape Town Insider, Beauty SA en Women24. Sy glo haar liefde vir Engels en skryfwerk sal vlerke kry wanneer sy eersdaags Oos-Kaap toe vlieg.

Haar reis na hierdie mentorskapprogram het vier jaar gelede begin toe sy haar manuskrip by Kwela ingedien het in die hoop dat dit vir publikasie aanvaar sou word. Sy het onlangs verdere veranderinge aan haar manuskrip gemaak en sê: “Ek hoop dat my manuskrip in boekvorm gepubliseer sal word en uiteindelik verwerk sal word as ’n minireeks vir televisie.”

Vryskutredigeerder en skrywer Alfred TM (Thato) Rossouw keer vier maande ná sy vorige verblyf terug na Paulet Huis. “Om eerlik te wees is dit die beste nuus wat ek tot dusver vanjaar ontvang het. Ek het nie gedink dat enigiemand in my werk sou belangstel nie, wat nog te sê dat my manuskrip beskou sou word as iets met publikasiepotensiaal waarin ’n redakteur en uitgewer sou belangstel. Soos ek ná die Kommadagga-slypskool gesê het, het die Jakes Gerwel Stigting my gehelp om ’n beter skrywer te word. Die wete dat ek op die meriete van my skryfwerk teruggaan Oos-Kaap toe gee my meer selfvertroue ten opsigte van my skryfwerk.

“Ek sukkel om die regte woorde te kry om te beskryf hoe dit voel wanneer iemand dink jou skryfwerk is goed genoeg. Ek bewe nog steeds terwyl ek probeer neerskryf hoe dit my laat voel,” sê Thato.


Skrywersbiografieë

Hakkiesdraad Hartman

Hakkiesdraad Hartman

Hakkiesdraad Hartman (1975) kom van George op die Tuinroete, maar woon tans in Mosselbaai. Hy het sy ma op die ouderdom van 16 aan die dood afgestaan en sy visuele en uitvoerende kuns is beïnvloed deur sy swerftog deur die Oos- en Wes-Kaap. Skryf en optree is vir hom terapeuties en dit help hom om die trauma van sy verlede te verwerk. Hy wil ’n suksesvolle skrywer word en sodoende van armoede ontsnap en vir sy seun ’n beter lewe bied.

Theolla Langenhoven

Theolla Langenhoven

 Theolla Langenhoven (1982) werk tans by die Universiteit van Wes-Kaapland na jare in die staatsdiens. Sy wil haar skryfwerk gebruik om haar gemeenskapswerk, haar liefde vir administrasie en haar kennis van sielkunde en kriminologie te kombineer en lig te werp op die maatskaplike kwessies wat gemeenskappe in die gesig staar. Van haar kortverhale en artikels is in Kuier gepubliseer. Haar gedigte het in die Lekka Poems-bloemlesing verskyn en in 2023 het sy ’n gebedsboek vir tieners, Die Here kom sterk deur, gepubliseer. Sy beskou dit as ’n voorreg om in 2020 te kon deelneem aan die Kommadagga-slypskool vir kortverhaalskrywers. In 2023 het sy ’n AfriCAN Honoree Authors’ Award ontvang.

Adele Ross

Adele Ross (1984) het as kind haar skryfvaardighede begin ontwikkel toe sy vir haar ma, wat as nagverpleegster gewerk het, briewe geskryf het om te vertel hoe haar dag was en haar op hoogte te hou van alles wat sy mis. Haar passie vir vertelkuns het posgevat terwyl sy nog op skool was en gedigte en kortverhale geskryf het om die trauma van afknouery by die skool te verwerk. Dit het aanleiding gegee tot haar eerste ongepubliseerde boek. Sy het aanhou skryf en werk tans as blogskrywer vir Cape Town Insider, Beauty SA en Women24. Sy skryf ook kopie vir Britse maatskappye en reklameteks vir selfhelpboeke op Amazon.

Alfred TM (Thato) Rossouw

Alfred TM (Thato) Rossouw

Alfred TM Rossouw (1991) is ’n Suid-Afrikaanse skrywer en redigeerder met meer as vyf jaar se ondervinding as skrywer, redigeerder, blogger en boekresensent. Hy het al in verskeie industrieë in beide die openbare en privaat sektor gewerk, insluitend in die kunste. Hy werk tans as ’n vryskutredigeerder en -skrywer vir onder andere FunDza Literacy Trust en Gecko Publishing. Hy het onder die pennaam Thato Rossouw artikels vir publikasies soos News24, Mail & Guardian, Africanah Magazine, Art State, Huffington Post en Sunday Times geskryf.

Lees ook:

Persverklaring: Kortverhaalskrywers van LitNet se Kommadagga-slypskool is bekend

LitNet se Kommadagga-slypskool in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting en Huisgenoot

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top