Click here for the English version.
Die Jakes Gerwel Stigting (JGS), in medewerking met LitNet en Huisgenoot, verwelkom opkomende skrywers om aansoek te doen vir die vierde jaarlikse Kommadagga-slypskool vir kortverhaalskrywers.
Die mentorskapskursus vind plaas vanaf 16 Oktober tot 5 November 2023 in die vorm van ’n residensie in Paulet Huis, die Stigting se skrywershuis wat geleë is in die sjarmante Somerset-Oos in die Oos-Kaap.
Fourie Botha, gesoute uitgewer en deesdae literêre agent, en Thabiso Mahlape, baanbrekende uitgewer en eienaar van Blackbird Books, sal die suksesvolle kandidate touwys maak oor die fyn kuns van kortverhale skryf.
Fourie sê:
Skrywers het almal stories. Wat skrywers nie het nie, is tyd. Min skrywers kry die geleentheid om vir ’n week of twee of drie onverstoord te werk om hul stories op papier te kry. Dit is ’n geskenk en ek gaan skrywers help om hierdie tyd so effektief moontlik te benut. Verskillende skrywers benodig verskillende dinge op verskillende tye: ’n klankbord, ’n cheerleader, ’n ekstra paar oë. Ek wil probeer om al hierdie dinge vir hierdie paar mense te wees.
Aansoeke vir die program moet teen 31 Julie 2023 per e-pos gestuur word aan die uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, Theo Kemp, by theo@jgf.org.za.
Aansoeke moet die volgende insluit:
- ’n Kortverhaal van 2 000 woorde in Afrikaans of Engels, getik in Times New Roman met dubbelspasiëring en 12 pt-teksgrootte
- ’n Kort CV van die kandidaat
- ’n Motiveringsbrief vir deelname aan die program.
Die name van die vyf suksesvolle kandidate sal op 15 September 2023 bekendgemaak word.
Waarna die skrywers kan uitsien:
Die drie-week-residensie in die 200-jaar-oue Paulet Huis met sy lowerryke tuine en die bonus van die geselskap van medeskrywers sluit in:
- nasionale retoerkaartjies na Gqeberha (Port Elizabeth), indien nodig
- vervoer tussen die lughawe en Somerset-Oos
- ’n gerieflike, eie “kamer met ’n uitsig”
- die Stigting se inwonende sjef se heerlike maaltye
- skoonmaakdienste
- onbeperkte toegang tot die internet
- genoeg spasie vir skryf
- ononderbroke skryftyd sonder kragonderbrekings.
Na die mentorskap in Somerset-Oos:
- Huisgenoot bied aan die kandidate die geleentheid om hul kortverhale in die gedrukte tydskrif te publiseer.
- Dit sal ook op https://www.netwerk24.com/huisgenoot/vermaak/kortverhale
- Huisgenoot sal die kandidate betaal vir hul stories.
- Stories wat in Engels geskryf is, sal in Afrikaans vertaal word.
- Skrywers moet Huisgenoot se publikasieriglyne, soos uiteengesit op die webwerf, volg.
- Edna Ellman, Huisgenoot se Fiksie-redakteur, sal die skrywers lei gedurende die publikasieproses.
- Kandidate sal ook die geleentheid kry om vir LitNet, die aanlyn literêre joernaal, te skryf.
Meer oor die mentors:
Fourie Botha het die afgelope twintig jaar in uitgewerskantore gewerk – die laaste nege as Penguin Random House se fiksieuitgewer. Onder drukname soos Umuzi het hy en sy span redakteurs die werk van menige bekende Suid-Afrikaanse skrywers uitgegee en tientalle debuutskrywers tot publikasie begelei. Sy publikasies by Penguin en Umuzi het vir agt jaar in ’n ry Suid-Afrika se belangrikste Engelse boekprys, die Sunday Times-prys, ingepalm. Hy werk in beide Afrikaans en Engels en was ook vir twee jaar deel van ’n internasionale dinkskrum van redakteurs. Hy is tans ondervoorsitter van Khula Cape, ’n stigting vir die bevordering van letterkunde, die kunste en die omgewing. Fourie is self ook ’n digter met twee digbundels, Donkerkamer en Krap uit die see, op sy kerfstok. Sy debuutbundel is vir die Ingrid Jonker-prys benoem. Tans werk hy as agent vir ’n literêre agentskap.
Thabiso Mahlape is ’n baanbrekeruitgewer en die eienaar van Blackbird Books. Dié uitgewery, in 2015 gestig, is die eerste uitgewery in swart besit in Suid-Afrika. Die bekendstelling van Blackbird Books het die Suid-Afrikaanse literêre landskap getransformeer en sedert 2015 het Blackbird baie moeite gedoen om ’n tuiste te vestig vir nuwe Afrika-narratiewe en -verhale wat die Afrika-ervaring weerspieël. Mahlape het ’n baccalaureusgraad in Inligtingkunde aan die Universiteit van Pretoria verwerf.
Oor die vennote:
Die Jakes Gerwel Stigting bou voort op die aansienlike nalatenskap van wyle Jakes Gerwel, wat uitgeblink het as opvoeder, bevryder, beskermheer van die kunste en sakepersoon.
Die Stigting se doel is om Suid-Afrikaanse letterkunde in die algemeen te bevorder en uit te brei. Lees meer oor Jakes Gerwel Stigting by www.jgf.org.za.
Die Stigting is trots op hul vennootskap met LitNet en Huisgenoot.
Lees meer oor die vennote:
- LitNet: www.litnet.co.za
- Huisgenoot: www.netwerk24.com
Lees ook:
Kommadagga-skrywers skrik nie vir moue oprol ten bate van gemeenskappe nie