Die Jakes Gerwel Stigting, LitNet en Huisgenoot maak graag die name bekend van die vyf kortverhaalskrywers wat gekies is vir die vierde jaarlikse Kommadagga-slypskool.
Alfred TM Rossouw, Daneel Jantjies, Susan Meiring, Theresa de Necker en Tshegofatso Nkwane is binnekort op pad na die laaste residensie vir hierdie jaar by Paulet Huis, die bekoorlike “ander tuiste” vir skrywers wat die Jakes Gerwel Stigting geskep het in die oase-dorpie van Somerset-Oos in die Oos-Kaap.
Na afloop van die mentorskap, sal die skrywers se kortverhale in die Huisgenoot plaas word en hulle sal ook in aanmerking kom om te mag bydra tot die aanlyn literêre tydskrif LitNet.
Die skrywers sal intensiewe mentorskap ontvang in die fyn kuns om kortverhale te skryf oor ’n tydperk van drie weke onder leiding van Fourie Botha en Thabiso Mahlape. Oor die afgelope twintig jaar het Fourie Botha die respek verdien van bekroonde skrywers, eers as redigeerder en toe as uitgewer by Penguin Random House waar hy ook ’n hele aantal skrywers se loopbaan met sukses geloods het. Hy het ook twee digbundels van sy eie, Donkerkamer en Krap uit die see, gepubliseer en werk tans as literêre agent. Thabiso Mahlape is die baanbreker-uitgewer van Blackbird Books. Nadat sy haar loopbaan by Jacana Media begin het, het sy die eerste swart vrou geword met haar eie drukkersnaam. Sy het haar kundigheid gebruik om Blackbird Books suksesvol te laat groei sedert sy stigting in 2015 en het sodoende haar merk gemaak in die uitdagende uitgewersbedryf terwyl sy ook gesorg het dat swart stemme, stories en talente ontwikkel, gesien en gehoor word.
Die gekeurde kandidate se entoesiasme oor hul kans om hulle skryftalent te ontwikkel onder die leiding van ervare mentors borrel oor en hulle is vasbeslote om die kans aan te gryp.
Terwyl Susan Meiring verwys het na die uiteenlopende geleenthede wat die Jakes Gerwel Stigting vir kunstenaar daar gestel het om te groei, het Theresa de Necker haar verwondering uitgespreek oor hoe ver die Stigting gaan om leergeleenthede vir skrywers te fasiliteer. Soos baie ontluikende skrywers sê Tshegofatso Nkwane dat sy altyd geweet het sy wil skryf, maar haar persoonlike reis om haar passie te begin uitleef was stadig omdat sy nog altyd skaam was vir haar eie stem.
Daneel Jantjies het vir die Kommadagga-mentorskap aansoek gedoen as ’n soort uitdaging aan haarself om haar unieke manier te vind om haarself uit te druk: “Ek sien definitief uit na die stilwees om ten volle op my skryfwerk te fokus. Ek weet die slypskool is nie ’n kortpad na sukses nie, maar dit sal my ’n stappie nader bring. Ek sien myself nog nie as ’n skrywer nie, maar ek het werklik ’n liefde vir die kunste. Ek wil net hê my werk moet lewe kry en iemand help wat met dieselfde dinge as ek worstel.”
Alfred T. M. Rossouw wat homself as ’n selfgeleerde skrywer beskryf, het opgemerk: “Daar kom ’n punt in mense se reis as skrywer waar professionele hulp en blootstelling aan medeskrywers nodig word. Daar is net soveel wat jy kan leer uit boeke oor, sê maar, karakterbeskrywing en storielynontwikkeling. So, om die oor, oog en begrip van ’n mentor tot jou beskikking te hê en in die geselskap van ander skrywers te wees wat uitstekend is met wat hulle doen, sal sekerlik help om die gate op te vul wat jy nie uit jou eie weet hoe om op te vul nie.”
Meer inligting oor die skrywers
Alfred TM Rossouw
Alfred TM Rossouw is ’n vryskutskrywer en -redigeerder van Klerksdorp met meer as ses jaar se ondervinding in skryf, blog, boekresensering en redigering. He het reeds geskryf vir, onder andere, die Sunday Times, die FunDza Literacy Trust, Africanah.org, die BKO Poetry & Literature Magazine en ART STATE, ’n aanlyn kunsplatform vir Mangaung. Naas die kopieredigering wat hy doen, was hy ook een van die redigeerders van die boek Sankomota: An Ode in One Album wat deur Geko Publishing in 2018 gepubliseer is. As ’n ywerige blogger wat intens geïnteresseerd in die letterkunde en die kunste is, is dit vir hom belangrik om ’n liefde vir lees en die kunste in kinders te kweek. In 2021 is hy dus ’n medestigter van die Black and Bookish Literacy Project, ’n organisasie wat ten doel het om skoolbiblioteke in die Klerksdorp-omgewing in vriendelike leesruimtes te omskep en wat onderwysers help met lees- en skryfprojekte vir leerders. Hy is tans ook besig met deeltydse studies in filosofie, ekonomie en politieke wetenskappe by Unisa.
Daneel Jantjies
Daneel Jantjies is ’n gebore Swellendammer en beskryf haarself as ’n “small town girl met groot drome”. Sy skryf hoofsaaklik gedigte en kort skryfstukke wat deur haar omgewing en sy mense geïnspireer word: “Klein dorpies dink ek, is enige skrywer se droom. Daar is altyd iets wat jy sien of hoor, en die semi-stilte van die platteland gee net soveel meer skryf-inspirasie.” Sy is baie geheg aan haar familie en hulle vorm ’n groot deel van wie sy is. Ook die gedeelde liefde vir lees en skryf, vir letterkunde en taal, is iets wat haar van jongs af voed. Hoewel Daneel, die skrywer, en Daneel, die gewone mens, nie altyd ooreenstem nie, weerspieël haar skryfwerk dieselfde mensgerigtheid as wat sy in haar daaglikse omgang met mense toon: “Die lewe kom met snaakse draaie, so as my skryfkuns vir iemand kan help of ’n inspirasie kan wees, dan slaag ek in my doel.”
Susan Meiring
Susan Meiring is gebore te Klawer in die Vanrhynsdorp distrik, het grootgeword in Retreat en woon tans in Delft. Haar skrywersloopbaan het in 2012 afgeskop toe ’n plaaslike koerant van haar kortverhale geplaas het. In 2016 is haar eerste Afrikaanse fiksieboek Dogters van die Sahara (Reach Publishers) gepubliseer. Haar tweede boek Tiaan en die Jagtersbende (2018) is deur ’n ruim skenking van die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika moontlike gemaak. In 2020 word hierdie boek gekies vir die Funda Mzantsi Kampioenskap, waaraan talle boekklubs jaarliks deelneem. Sy is tans ook ’n vryskutredigeerder en -veldberiggewer. Hierdie ondernemende ma en ouma leer graag basiese Khoesan woorde en klikke vir die jongspan sodat hulle hul erfenis kan behou. Sy sien die geleentheid om die Kommadagga-slypskool by te woon as kardinaal vir haar skrywerstoekoms: “Die waardevolle leiding sal my help om my potensiaal ten volle te ontwikkel. Ek glo dat my toekomstige skryfwerk, hetsy boeke of kortverhale, daarvan sal getuig. Baie dankie aan almal wat dit vir my moontlik maak om op hierdie manier gebrei te word.”
Theresa de Necker
Theresa de Necker het in 1991 haar B.A.-graad in die regte aan RAU voltooi. Tydens haar studiejare was sy ’n ywerige joernalis vir die kampuskoerant asook redaktrise van haar koshuis se tydskrif. In haar tweede jaar het sy die eerste plek in ’n skryfkompetisie behaal met ’n Engelse kortverhaal wat sy reeds op skool geskryf het. Na haar studies het sy ’n ruk lank gewerk en het toe oorsee gereis en gewerk, onder andere as ’n plaaswerker op ’n moshav in Israel. Terug in Suid-Afrika het sy haar eie onderneming begin en haar honneursgraad in menslike hulpbronontwikkeling in 2001 verwerf. Oor die volgende 22 jaar skryf sy besigheidsverslae, vakhandleidings en -boeke, koerantberigte, akademiese stukke, blogs en stories. Die Jakes Gerwel Stigting se kortverhaalresidensie is vir haar die geleentheid om haar vaardigheid in stories vertel op te skerp asook om te werk aan die “finesse” van skryfstukke en die dissipline om produktief te skryf. Sy is mal oor geskiedenis, argeologie, spookstories en katte en hoop om eersdaags haar eerste boek te publiseer.
Tshegofatso Nkwane
Tshegofatso Nkwane is ’n 26-jarige skrywer van Naledi, Soweto. Nadat sy in 2019 haar studies in Engelse letterkunde en internasionale betrekkinge by Wits Universiteit voltooi het, het sy vir ’n paar jaar by Reos Partners, ’n internasionale organisasie vir maatskaplike transformasie, as konsultant, fasiliteerder, verslagskrywer en redigeerder gewerk. Twee hoogtepunte gedurende hierdie tyd was om ’n projek teen rassisme van Médecins sans Frontières te bestuur en die redigering van die NSOO (PSET) scenario’s saam met JET Educational Services. Sy het besef dat sy township-stories wil vertel en oor maatskaplike geregtigheid wil skryf en is nou ’n voltydse skrywer en aspirant-romanskrywer. Die oproep van die Jakes Gerwel Stigting vir aansoeke vir die kortverhaalslypskool het vir haar “meer as enigiets anders, gevoel soos ’n uitnodiging om vir leiding te vra. As ’n opkomende skrywer weet ek dat ek ’n tweede paar oë nodig het en dis wat die Kommadagga-slypskool bied. Ek het nog altyd geweet dat ek wil skryf, maar ek was altyd skaam en bang vir my eie stem. Ek hoop dat blootstelling aan anders skrywers en die mentorskap tot my groei as skrywer sal bydra en my in staat sal stel om in te beweeg in die ruimtes waarvoor ek ’n passie het.”